Monday, 10 November 2003

Afrikaans se groot vyand

Die verskerpte aanslag teen Afrikaans is geen toeval nie. Watter doelgerigte motief dien as dryfkrag in die geteikende vernietiging daarvan?

Engelstaliges was en is vyand nommer een van ons taal. Anne Pakir, 'n Singapoerse taalkundige, beskryf Engels as 'n "killer language". Daarbenewens beweer Ngugi wa T'hiongo, 'n Keniaanse skrywer, dat Engels "on the graveyard of other people's languages" floreer.

Deur te onderskei tussen 'n taal en sy gebruikers, blyk dit duidelik dat dit die gebruikers van Engels is wat dié taal aanwend as 'n "killer language"   -   ook wat Afrikaans betref.

Afrikaans blyk kontekstueel afhanklik van Engels te wees, byvoorbeeld binne die internasionale ekonomiese en handels- en sakekonteks. Sodanige kontekstueelbepaalde taalafhanklikheid beteken egter nie 'n taalonderhorigheid nie. En derhalwe is daar nie 'n legitieme rede om Afrikaanstaliges en kontekstueelbepaalde taalafhanklikheid uit te buit, en daarom die Engelse taalvlag annekserend te kan plant binne die ruimte van die Afrikaanstaliges se soewereine taalgebied nie.

Voorgenoemde is juis aan die orde van die dag en taaluitbuiting deur Engelstaliges   -   en hul gedienstige Afrikaanse taalmeelopers   -   vind plaas. Hierdie opportunistiese besetting van die Afrikaanse taalruimte kan beskou word as 'n vorm van imperialistiese taalaggressie.

Hierdie Engelse taalimperialistiese motief het, willens en wetens, as teiken die vernietiging van die Afrikaanse denkwyse met as kern die Calvinisties-Protestantse Christelike bewussynsingesteldheid   -   ten einde dit te vervang deur die sinkretisties-georiënteerde sekulêre humanisme waarvan die Engelse taal by uitstek die draer geword het.

Dié berekende aanslag teen ons taal is derhalwe gerig teen die kern van ons gees om, deur die afbinding van ons geestelike naelstring, ons uiteindelik in geestelike bankrotskap te laat verval.

Thursday, 4 September 2003

Wat is waarheid oor taal?

Hoewel deur eeue geskei, was die Egiptenaar, Ptolemaeus, en die Pool, Copernicus, wetenskaplikes wat in die hemelliggame 'n gemeenskaplike ondersoekterrein gevind het. Gegrond op die eietydse raamwerk van teoretiese aannames, het albei die "sonopkoms"-verskynsel waargeneem, geïnterpreteer en uitsprake daaroor gelewer.

Volgens Ptolemaeus was die aarde die onbeweeglike middelpunt van ons sonnestelsel waaromheen die planete, insluitende die son, wentel. Daarom kon die son "opkom". Hierteenoor was die son vir Copernicus die standvastige middelpunt waaromheen die planete, insluitende die aarde, wentel. Dus kon die son nie "opkom" nie. Die waarheid is dat dit die bewegende aarde se horison is wat wegsak onder die son en só die indruk en illusie skep dat dit die son is wat "opkom".

Hoewel albei presies dieselfde verskynsel waargeneem het, was hul uitsprake botsend en teenstrydig. Ons kan aanvaar dat albei daarop aanspraak sou maak dat die eie uitspraak werklikheidsgetrou en derhalwe waarheidsverteenwoordigend was. Dit impliseer 'n waarheidskonflik. Die toetsvraag is egter : Wie van dié twee het hom op waarheidsgrond bevind?

Dit is duidelik dat Copernicus se uitspraak gegrond was op werklikheidsooreenstemmende waarheid, terwyl Ptolemaeus se stelling onderlê is deur illusie.

In die lig van die voorafgaande kan ons vra : Wat is die werklikheidsgetroue waarheid oor Afrikaans, en wat is illusie? 'n Standaardverlaging van ons taal impliseer 'n standaardverlaging van ons denke. Nie alleen sal Afrikaans sy status finaal as wetenskapstaal binne 'n aggressief-mededingende akademiese taallandskap verloor nie, maar dit plaas ons ook op 'n glybaan van beskawingsagteruitgang, omdat dit ons dan   -   deur ons verlaagde taal- en denkstatus   -   ontmagtigend strem tot vooruitgang.

Soos wat ons tot mensopheffende kultuurskepping in staat is, so is ons ook in staat tot mensdegraderende kultuurskending   -   waaronder ook taalskending.

By wie soek en vind ons die taalwaarheid   -   by die taalptolemaeusse, of by die taalcopernicusse van ons dag?

Wednesday, 27 August 2003

Antwoord in húl hande

EK vra my gereeld die vraag af: Sou jeughelde soos Dirkie Uys, Japie Greyling en Racheltjie de Beer vandag ook na die buiteland uitwyk soos ons jeug toenemend doen?


Dit is geen veroordelende vraag nie -- ek weet ook nie wat die antwoord is nie.

Wat ek wel weet, is dat van my kinders (heel begryplik) ook al na dié moontlikheid verwys het. Ek maak 'n gebedsaak daarvan.

Vir die Duitse jeug het Bismarck drie woorde van raad gehad: Werk, werk, werk. Dié raad pas dalk nie ons situasie nie, want ons jeug soek juis werkgeleenthede, maar vind dit nie. Nog later kon Bismarck dieselfde jeug slegs bloed, sweet en trane belowe. Daardeur het hy Duitsland verenig.

Dit laat my dink aan die verhaal van die gemeenskap aan die voet van 'n berg waarop 'n kluisenaarwysgeer gewoon het. Twee jongelinge wou hom as onwys ontmasker. Met 'n lewende voëltjie versteek agter die rug, besoek hulle hom en vra: "Lewe die voëltjie, of is dit dood?" As hy sou antwoord: "Die voëltjie lewe", sou hulle die voëltjie doodmaak. As hy sou antwoord: "Die voëltjie is dood", sou hulle hom lewend te voorskyn bring.

Die raadgewer het bedaard geantwoord: "My liewe jong vriende, die antwoord lê in jul hande."

Ouers moet seker maak dat hul kinders se name in Sy handpalms gegraveer is. In hierdie hande is ons hoop veranker.

Thursday, 21 August 2003

Gaan Afrikaans oorleef?

In sy werk, Man's search for meaning, beskryf Viktor Frankl   -   mediese dokter en psigiater   -   die haglike konsentrasiekamplewe in die Tweede Wêreldoorlogse Duitse uitwissingskampe.

Hy onderskei drie reaktiewe ontwikkelingsfases in die psige van die kampbewoners : Die opname-, vestigings- en bevrydingsfase.

Die opnamefase is gekenmerk deur haas onverwerkbare skok en daaropvolgende traumatisering van die psige. Die psige kon die afgryse van die gaskamers en verbrandingsoonde net stapsgewys verwerk.

Vanweë sy beskermingsmeganisme het die insig dat alles verlore was, nie onmiddellik tot die psige deurgedring nie. Die traumatiese besef van totale uitwissing is vertraag.

Die verdwyning van gewaande hoop het daarna plek gemaak vir 'n siniese humorsin. Hiermee saam het 'n vreemdsoortige nuuskierigheid sy verskyning gemaak   -   'n weetgierigheid ingestel op die allesoorheersende vraag : Sal ek oorleef?

Vanweë die hopelose situasie het die vrees vir die dood verdwyn en het selfmoordgedagtes verskyn : Die dood bied uitkoms en die geëlektrifiseerde kampomheining is die roete daarheen. Die psige was toe voorberei vir die tweede fase   -   relatiewe apatie, 'n tipe emosionele dood.

Hoe lyk die psige van die Afrikaanssprekende? Sal ons taal oorleef? Is die Afrikaanssprekende se apatiese ingesteldheid teenoor sy taal nie 'n barometer van sy psige nie? Frankl kom tot die slotsom : Om te lewe, is om te ly, en om te oorleef, is dit nodig om sin te vind in dié lyding. Hieruit ontwikkel hy sy bekende logoterapie. Wat gaan Afrikaanstaliges uit hul taalsituasie leer en ontwikkel?

Friday, 25 July 2003

Taal lê al op sy sterfbed

Daar kan beweer word dat Afrikaans as akademiese taal in sommige tersiêre instellings op sy sterfbed lê. Die inkorporering en samesmelting van tersiêre instellings moet die laaste asem uit dié taal wurg.

Synde 'n draer van Afrikaans en in daaglikse kontak met dié stilsterwende taalpasiënt in sy akademiese sterfkamer, geniet ek dieselfde status as dié terminale pasiënt.

Jan Rabie het gesê : "Sonder Afrikaans is ek niks." Sterf my taal as akademiese taal, sterf ek en taalgenootlike kollegas. En nêrens sien ek dat enige trane in eie taalgeledere gestort word nie. Dis blykbaar die bedoeling dat Afrikaans moet sterf.

En dit alles geskied te midde van die betreding van die beloofde land   -   'n land waar ons daagliks gevoer word met menseregtebeloftes. Ons vra : Gee ons vandag ons daaglikse beloftes   -   ook taalbeloftes in taalbeleidvorm   -   maar lei ons tog nie in die versoeking om te wil glo dat enige taalbeleidbelofte geïmplementeer sal word nie.

In die beloofde land is beloftes nie geloofwaardig nie ; ook nie die taalbeleidbeloftes binne tersiêre taalkonteks nie. Wie nog taalore het wat hoor, moet luister na die stilte van ons taal in sommige van ons akademiese instellings en voorbereid wees op die taal-doodsberigte wat ons in die toekoms daaruit te wagte kan wees.

Friday, 20 June 2003

Toekomsdenke ontbreek

BRIEFINHOUDE in koerante of tydskrifte bly die prerogatief van die skrywers wat hul denkbeskouinge as menings na buite weergee deur middel van 'n vrye, openbare pers.

Briewe, as denkbeskoulike menings, is besonder betekenisvol  - ook in terme van die tydsdimensies van verlede, hede en toekoms. Nie alleen reflekteer briewe bepaalde denkfokusse nie, maar dit weerspieël ook die besondere tydsdimensie waarbinne die denke opereer.

Te oordeel aan briefinhoude van die dag, kom dit voor asof die hedendaagse openbare denke grootliks sentreer rondom die kort- en mediumtermyn en nouliks die grens oorsteek na die langtermyntoekomsdenke aangaande, onder meer, ons kulturele volkserfenis. Hieronder tel ons taal en die beskerming daarvan.

Het die huidige geslag van Euro-Afrikaners "hier en nou"-mense geword wat hul selfstandige toekomsdenke prysgegee het aan ander om namens en vir hulle te dink terwyl hulle self slegs inkomste- en oorlewingsgerig dink?

Het 'n pligsversakende denkingesteldheid van "If you can't win them, join them" van ons besit geneem?

Het ons kontemporêr te make met kultuurgestremde denkkreupeles op soek na denkkrukke by Euro-Afrikaner denkmakelaars, sommige van wie se denkpraktyke verskuif het na 'n nuwe ideologiese adres? En die denkleiers wat nie dié denkskuif meegemaak het nie, het hulle hul geestesenergie verloor?

Daar blyk 'n kommerwekkende apatiese denkingesteldheid en 'n gebrek aan toekomsdenke oor sy taal by die gemiddelde Afrikaanssprekende te wees. By gebrek aan verantwoordelike toekomsdenke oor ons taal, godsdiens en geskiedenis, staar die gevaar van kulturele agteruitgang ons in die gesig en dra ons self by tot ons volksondergang.

Friday, 25 April 2003

Dit gaan nie net oor kennis

IEMAND het gesê: "Die tragedie van ons wêreld is dat mense nie weet wat (en dat) hulle nie weet nie, en hoe minder hulle weet, hoe sekerder is hulle dat hulle wel alles weet."

Met die lees van Nandie Bahlmann se brief (Brieweblad, 17/4) het bogenoemde my getref: Die tragedie om, begryplikerwys, nie te weet nie; die tragiek waardeur ons almal  - ek inkluis  - gekenmerk word, want sien, daar is kennis, maar ook "kennis-as-wete".

Om oor ongetoetste kennis te beskik, beteken nie noodwendig om te weet nie; so simplisties is kennis nie. 'n Voorbeeld is die antiek-Griekse denkdwaling van: "Kennis van die goeie lei tot die doen van die goeie." Met ander woorde, vertel kinders ook alles van vreemde godsdienste en dit sal hul eie geloof nie beïnvloed nie.

Kennis is iets waarmee ons iets kan doen, maar kennis is ook iets wat met ons iets kan doen.

Elke gegenereerde kennissoort het 'n bron of oorsprong sowel as 'n doel of bestemming. Geen kennisblootstelling is neutraal en sonder 'n risiko-element nie. Daarom word daar onder meer op 'n kennisgedifferensieerde wyse met skoolgaande kinders in hul ontwikkelingsgang gehandel volgens 'n beplande kurrikulum  - synde geag as waardevolle kennis- en leerinhoud  - geweeg aan die hand van 'n bepaalde waardestelsel en voorgeskryf deur 'n besondere geloofs- of ideologiese oortuigingsraamwerk.

Kennis is daarom nie so "onskuldig en onskadelik" as wat dit vir die persoon sonder insigtelike kennis dalk mag voorkom nie.

In ons kritiek op die besware van Christene wat gekant is teen onderrig in 'n godsdiensteverskeidenheid, behoort ons te onderskei tussen wat die Christen-verbondskind met kennis van verskillende godsdienste kan doen en wat sodanige kennis aan die kind kan doen  - en albei dan volgens Skrifbeginsels, en nie sinkretisties nie, teenoor mekaar opweeg.

Wednesday, 16 April 2003

SA geloofsbeeld moet val

Daar is 'n simboliese ooreenkoms tussen die Brits-Amerikaanse koalisiemagte se verowering van Irak in die tweede Golfoorlog en die transformerende koalisiemagte in ons land. Irak is verslaan, Bagdad verower en Saddam Hoesein se standbeeld omgegooi. Plaaslik is soveel reeds onomkeerbaar getransformeer.

Ook ons reformatoriese geloofsbeeld, die Christusbeeld, moet val deur middel van 'n getransformeerde godsdiensbeleid vir skole. Steek ons die hand in eie boesem, kan ons nie die gesamentlike koalisiemagte van sowel die vorige as die huidige regering in die voorbereiding van ons Christelike geloofsbeeld se val ontken nie.

In 1982 het die Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike opvoeding en onderwys (AOV) tot stand gekom. Op 22 April 1984 het die  "vader"  van dié vereniging, dr. S.J.Eloff, predikant in diens van die Algemene Sinode van die NG Kerk, met opdrag opvoeding en onderwys, my meegedeel dat die gesindheid in regeringskringe jeens die AOV een was van : "Indien ons dit nie (polities) kan beheer nie, moet ons dit vernietig."  Dit ís vernietig!

Sensusopnames toon dat die meeste landsburgers Christene is, maar die Christelike fondament van die vorige grondwet is by Kodesa deur onderhandeling vernietig. Aan die vooraand van die referendum wat op dié onderhandelinge gevolg het, het mnr. F.W. de Klerk 'n beroep op kiesers gedoen om  "ja"  te stem. Hy het daarop gewys dat die oorgrote meerderheid van die land se inwoners Christene is en dat ons derhalwe nie anders kan as om 'n Christelike regering te kry nie   -   na my mening was dit politieke uitbuiting van die Christelike geloofsentiment.

Leerlinge van die Hoërskool Despatch het nou in die strate gestap om openlik hul teenkanting teen die voorgestelde godsdiensbeleid vir skole te demonstreer (DB,11.04.2003), want die ouerhuis, skole, gemeentes en gemeenskappe swyg terwyl ons Christenjeug in 'n koalisie-oorlog gewikkel is om geloofsoorlewing.

Monday, 31 March 2003

US se Bartolomeusnag?

TRANSFORMASIE, 'n eufemistiese verwysing na revolusie, is waaroor dit in Suid-Afrika gaan. Ook tersiêre instellings is die teiken van revolusionêre transformasie. In berigte is lesers ingelig dat die US se transformatiewe konsep-diversiteitsplan hierdie inrigting tot in sy fondamente gaan skud.

Dié mooi fondamentbeeld roep, onder meer, wyle dr. D.F. Malan se fundamentele stelling "Stellenbosch staan vir 'n idee" na vore. Het hierdie "idee-karakter" van die US eksklusief net met Afrikanersentrisme saamgehang, of was dit ook 'n kaart en kompas op 'n Skrifverligte, akademiese beskawingsroete in en vir Suid-Afrika? Terwyl ras en geslag versoenbaar is met voormelde roete, is 'n diversiteit van geloof en seksuele oriëntasie, wraaknemende diskriminasie en die miskenning van pionierskap nie daarmee te versoen nie.

Wat is die huidige voorneme met die fundamentele "Stellenbosse idee" ?

Die "verligte" Euro-Afrikaner moet nie gerieflikheidshalwe vergeet van sy eie instrumentele aandeel aan die posisie waarin hy homself tans bevind nie. Hy het by die stembus goedkeuring gegee vir die inwerkingstelling van 'n grondwetlike proses waarvan hy die gevolge nie voorsien het nie.

Parys het twee Bartolomeusnagte beleef. Op 24 Augustus 1572 is die Protestantse Hugenote deur die geloofsonverdraagsame Katolieke in 'n vervolgingswaansinnige poging tot geloofstransformasie uitgemoor. Op 4 Augustus 1789, bekend as Bartholomeusnag van Eiendom, beëindig (transformeer) die Franse revolusionêre die Ou Orde. Die wetgewing waardeur maatskaplike gelykheid ingestel is, hoewel prinsipieel lofwaardig, het Frankryk in langdurige chaos gedompel.

Staan die Stellenbosse idee ook op die vooraand van sy Bartolomeusnag?

Monday, 17 March 2003

Drietaligheid kan later bereik word

Dit is met waardering dat ek van Maria Oewwels (Brieweblad, 06.03.03) en dr. Gerrit Brand (Brieweblad, 11.03.03) se taalstandpunte kennis neem. Ongetwyfeld sal daar sowel raakpunte as verskilpunte in ons onderskeie standpunte wees. Solank ons nie toelaat dat verskilpunte in geskilpunte ontaard nie, is en bly Afrikaans aan die wenkant.

Ek bly oortuig dat die gedagte van taaldwang met groot versigtigheid hanteer moet word. Ek is ten gunste van 'n vertrekpunt van tweetaligheid (in welke kombinasie ook al) ; dat mense sonder enige benadeling taalkeuses mag uitoefen ; dat verpligte drietaligheid realisties eers oorweeg kan word indien tweetaligheid aanwysbaar gevestig is ; dat sodanige taaldwang dan konsekwent van toepassing sal wees op almal en, voordat enige skoolgaande kind tot drietaligheid verplig word, die relevante owerhede eers sélf daartoe verplig word om hierin 'n lewende voorbeeld in die praktyk te stel.

Die blootstelling van leerlinge aan 'n swart streektaal op skool, mits die reg van ouers en leerlinge gerespekteer word, kan op lang termyn net beter verhoudinge bevorder. Alles sou egter nie pluis wees indien dit in 'n eensydige taalaanleer-aangeleentheid sou ontwikkel nie.

Kyk ons na die 1991-statistieke van die elf huistale, vind ons géén meerderheidstaal tussen hulle nie. Selfs die talrykste huistaal, Zoeloe (22%), is 'n minderheidstaal. Xhosa (17%) beklee die tweede, Afrikaans (15%) die derde en Engels (9%) die vyfde plek.

Hierdie taleminderhede skep 'n dilemma vir nasionale kommunikasie. Daarom maak die regering Engels tot nasionale voorkeurtaal ten koste van die ander tale. Die bedreiging vir Afrikaans is dus nie in die swart tale self opgesluit nie, maar in hierdie tale se "opting for English"-benadering.

Tuesday, 4 March 2003

Taaldwang is nie die antwoord

Maria Oewwels (Brieweblad, 18.02.03) "...kan nie glo dat 'n swart taal...nog nie in skole verpligtend is nie." Ook dr. Gerrit Brand (Brieweblad, 20.02.03) wil sien dat "...dit verpligtend gemaak word om minstens drie amptelike tale op skool te leer."

Oewwels en Brand verdien steun vir hul ideaal van meertaligheid. Drietaligheid het reeds   -   hoewel sporadies   -   ongedwonge en natuurlik ontwikkel waar die lewensvatbaarheidsfaktore gelyktydig aanwesig is en dit spontaan momentum kry.

Twee belangrike vrae is egter : Hoe riskant is die toepassing van taaldwang by wyse van verpligte onderrig in 'n swart taal op skool, en watter soort implikasies hou sodanige taaldwang, soos wat Oewwels en Brand voorstaan, in?

Die aandeel van (die Afrikaanse) taal in die dramatiese Soweto-gebeure van 16 Junie 1976   -   as 'n voorbeeld van die riskantheid van taaldwang   -   is steeds relatief vars in die geheue.

Moontlike implikasies van dié taaldwang sou waarskynlik, onder meer, kon behels die genoodsaakte wysiging van die Grondwet en Handves van Menseregte, die onderwyswet, die bestaande kurrikulum, onderwysersopleiding en onderwysfinansiering.

Die Soweto-gebeure en enige moontlike implikasies van taaldwang behoort nie ligtelik deur voorstanders daarvan opgeneem te word nie   -   tensy daar beproefde strategieë is om plofbare taalsituasies wat kan ontwikkel, suksesvol te ontlont.

Waarom 'n drang tot drietaligheid as tweetaligheid nog nie eens gevestig is nie? Waarom nie eerder daaraan werk om van tweetaligheid 'n sukses te maak as 'n logiese vooraf stap onderweg na drietaligheid nie? Aanvaar die eeue-oue uitdaging om die tipies-stedelik, obstruktiewe Engels-eentaligheidsmuur eers suksesvol af te breek ter voorbereiding vir tweetaligheid waarop drietaligheid dan kan volg.

Engelssprekendes verlaat die skool met oorwegend Afrikaans as hul tweede taal. Hierdie taaltoerusting, baie langtand verwerf, word egter by die skoolhek uitgetrek en agtergelaat wanneer hulle daar uitstap. Presies dieselfde kan gebeur met die gedwonge aanleer van 'n swart taal. Taaldwang blyk daarom nie die antwoord te wees nie.

Friday, 21 February 2003

Dié taalbeleid lyk soos 'n taaltruuk

Die gemiddelde Afrikaanssprekende student, dosent en ouer smag, om verskeie redes, na die erkenning én implementering van meertaligheid binne die deur Engels-oorheersde tersiêre taalgemeenskap.

Henry Ford sou glo gesê het dat elkeen geregtig is om die kleur van sy motor te kies mits dit swart is. Geld iets van dié Ford-voorwaarde nie dalk ook wat betref die voorgestelde taalbeleid vir hoër onderwys nie, naamlik : Enige taal is toelaatbaar, mits die student en dosent uiteindelik alles slegs in Engels doen?

Dit kan nie buite rekening gelaat word dat die ministerie van onderwys met sy voorgestelde meertaligheidsbeleid vir hoër onderwys "gepaarde" tweetaligheid as die oplossing sien nie. Etlike van hierdie "tweetaligheidspare" binne 'n tersiêre instelling sou ongetwyfeld uitdrukking gee aan die beleid van meertaligheid.

Tweetaligheidspare ontstaan deur elke nie-Engelse taal met Engels "af te paar" : Afrikaans met Engels, Xhosa met Engels, Zoeloe met Engels, en so voorts. Elkeen van hierdie tale word aan Engels gekoppel om mettertyd hul selfstandigheid prys te gee.

En die doel hiervan? Die antwoord is: Om "oorgangstweetaligheid" te bewerkstellig sodat die finale oorgang vanaf die moedertaal na Engels as die nasionale voorkeurtaal en transformasietaal   -   taaleenwording in diens van nasiebou   -   gemaak kan word.

Baie eenvoudig en nie onreëlmatig nie, nie waar nie? En hoe moeilik gaan dit wees om, wanneer dié transformatiewe taaloorgang na die nasionale voorkeurtaal eers gemaak is, studente permanent van hul moedertaal te vervreem?

Word dié taalbeleid nie dalk geskoei op die lees van die Ford-voorwaarde nie? Dit kan nie ontken word dat die meertaligheidsbeleid inherent die potensiaal bevat om in 'n taaltruuk aangewend te word vir taaleenwording en die Angliserende nasionalisering van die tersiêre taalgemeenskap nie. Binne die ideologiese magspel van ons dag lyk dit na 'n baie sterk moontlikheid.

Monday, 10 February 2003

Globalisering eis dat taal sterf

Dit verg geen apokaliptiese visioen van 'n Nostradamus of 'n Siener van Rensburg om te begryp waarom Afrikaans moet sterf nie.

Reeds sedert 1795, met die koms van die imperialisties-gedrewe Engelse taal na die Kaap, was die Afrikaanse taalfetus, ontwikkelend in die baarmoeder van die Nederlandse taalmoeder, bestem vir vernietiging. Die koloniale gesindheid teenoor taalmoeder en taalkind was: "If you can't speak it, kill it."

Die Britse ryksbouers sou hul koloniale ryk ook op taalholisme vestig. Aan ywerige taal-  en volksmoordenaars soos die Somersets, Milners en Kitcheners het dit Brittanje nie ontbreek nie.

Bekoor deur Britse imperialisme, en bekeer tot die holistiese filosofie, sou verraad vanuit eie geledere teenoor volk en taal nie uitbly nie. Die gepropageerde versoening met die vyand moes ten koste van taal en volk geskied.

Vandag neem die voortgesette vernietigingsaanslag globale afmetings aan en kan dit deur die multikulturalisme, assimilasionisme en liberalisme teruggespoor word na die humanisme as Skeppernegerende en skepsel-vererende denkraamwerk.

As 'n oorwegend transenderende reformasietaal   -   en nie 'n transformasietaal nie   -   is die psige en aura van Afrikaans veel meer kansel-, onderwys- en volksgeoriënteer as geld- en wêreldmag-georiënteer. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Die gedyende globale dorp duld nie tale, soos Afrikaans, wat nie konformerend teenoor globalisering staan nie. Eentaligheid is 'n kragtige gelykmakingsagent. Taalmonopolie lei tot denkmonopolie, en dié twee saam tot beheer oor die manipulering van die getransformeerde bewussynslewe.

Omdat Afrikaans die taal-, denk- en bewussynstransformering van die globale dorp in die weg staan en vertraag, het dit nie plek in die nuwe Suid-Afrika nie. Daarom moet dié taal sterf.

Saturday, 25 January 2003

Normaliseer taalgemeenskap

Die ANC-slagspreuk dat geen normale sport moontlik is binne 'n abnormale samelewing nie, is suksesvol in die verlede gebruik.

Dié slagspreuk blyk ook toepaslik te wees op die onderwysdepartement se voorgestelde taalbeleid vir hoër onderwys. Hoewel dit oënskynlik meriete het, ontbreek dit aan nugtere realisme in minstens een belangrike opsig: die vereiste van taalharmonie tussen die breë samelewing en die tersiêre gemeenskap.

Die lofwaardige ideaal van 'n taalbedeling aan tersiêre inrigtings waar al ons tale, insluitend Afrikaans, 'n gelykwaardige taaltuiste sal vind, klink egter na lippediens binne 'n onhaalbare taalpraktyk   -   vir so lank as wat die openbare taalgemeenskap, vanweë regeringsinmenging, uitgelewer is aan die onbeskaamde aggressie van verengelsing.

Die Afrikaanse taalruimte moet eers bevry word van die deur staatsgesanksioneerde Engelse taalaggressor binne die makrokonteks van die breë samelewing, alvorens Afrikaans ware vryheid en gelykheid binne die mikrokonteks van 'n tersiêre instelling kan geniet.

Wie hom blind hou vir die voorwaarde van taalharmonie tussen die breë samelewing en die tersiêre gemeenskap, sien 'n woestynlugspieëling illusionêr vir water aan.

Die posisie van Afrikaans buite ons tersiêre instellings moet eers genormaliseer word alvorens normaliseringspogings van ons taal binne dié instellings enige geloofwaardigheid kan geniet.

Dit is nie sonder waardering dat daar van die taalbeleid kennis geneem word nie. Dog, die minister behoort sy kollegas te versoek om hom te help om sy taalbeleid te laat slaag deur ons nasionale tale, waaronder ook Afrikaans, se ondergeskiktheid aan Engels onmiddellik te beëindig. Eers met die normalisering van ons openbare taalgemeenskap buite opvoedingsinstellings kan 'n genormaliseerde taalbedeling daarbinne te wagte wees.

Tuesday, 14 January 2003

US-posmeester is 'n vriend vir taal

Vanweë die Universiteit van Stellenbosch se gradeplegtigheid bevind ek my vroeg in Desember op Stellenbosch.

Die daaropvolgende week span die ANC-kongres sy veiligheidsnet oor die US-kampus.

Gedurende die kongresweek bevind ek my in die Neelsie se Matieland-poskantoor, omring deur sestien advertensie-plakkate   -   alles slegs in Engels. Op versoek ontmoet ek die posmeester, mnr. Geduld, om navraag te doen oor dié onaanvaarbare taaldominansie en  -diskriminasie.

In reaksie word ek voorgestel aan mnr. Maanda Manyatshe, hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Poskantoor en ook 'n kongresafgevaardigde   -   wat hom toevallig in die poskantoor bevind het   -   om my navraag eerstehands te beantwoord.

Die gesprek verloop in polities-korrekte Engels. Ek maak beswaar en verneem waarom 'n veeltalige gemeenskap onderwerp word aan advertensies uitsluitlik in Engels. Ek kry die standaard-antwoord: Advertensies kan nie in al elf landstale gedruk word nie. Ek verwerp dié antwoord en skets die taalwerklikheid van streekstale en verwante behoeftes.

Sonder om kommentaar te lewer, volg die tweede stereotipe antwoord: die geldelike onhaalbaarheid van meertalige advertensies. Die besparing wat die eentaligheidsbenadering meebring, maak dit glo moontlik om posgeriewe in die landelike gebiede te verskaf.

My verweer dat taal nie in geld omgedink moet word nie, het slegs hul lagspiere geprikkel. Met handgebare is duidelik aangetoon dat kosvoorsiening aan die hongerlydendes belangriker is as taal. Hiermee verskuif die klem van voorsiening van posgeriewe, na kosvoorsiening.

My standpunt dat mense in taalvriendelike, openbare diensverskaffingsplekke hulle met die eie taal behoort te kan identifiseer, is afgemaak as emosionaliteit.

Belangriker dalk as dié gesprek is die Matieland-posmeester se raaksien en benutting van die geleentheid tot beswaarmaking. Hy verseker my dat weens soortgelyke vroeëre taalbesware, hy aan sy poskantoor 'n meer taalverteenwoordigende karakter kon gee. Die nuutste besending advertensies laat hom egter geen keuse nie.

Afrikaans het beslis 'n taalvriend in dié Matieland-posmeester.