Wednesday, 31 March 2010

Evolusieteorie kan nie engele verklaar

In haar artikel, "Nog 'n spesie van die genus Homo gevind" (DB,27.03), propageer Elsabé Brits andermaal openlik die evolusieteorie.

Ek daag die ghoeroes van die evolusieteorie uit om die volgende verskynsels in terme van hul teorie te verklaar:

'n Plaasvrou in Zimbabwe werk in haar tuin toe 'n vreemde gevoel van onrus haar oorval. Sy is haastig huis toe, sluit die deure en begin bid. Algaande word sy rustig en hoor later 'n voertuig buite stilhou. Dit was lede van die weermag met enkele gevangenes by hulle.

Dié gevangenes vertel hulle wou die vrou en die plaashuis aanval, maar toe hulle op elke hoek van die huis 'n buitengewoon groot man, geklee in blinkwit klere en elk met 'n swaard in die hand, sien staan, het hulle gevlug en hulself aan 'n weermagpatrollie daar naby gaan oorgee.

Onlangs het Les en Liz (skuilname) en hul dogters (Engelssprekend), hier van Uitenhage, gebruiklikerwys aandgodsdiens gehou. In háár gebed vra een van die dogters die hand van veilige bewaring oor hulle vir die nag. Die volgende oggend vra Les se buurman of hulle die vorige nag enige probleme ervaar het. Natuurlik wou Les weet waarom dié vraag.

Die buurman vertel die vorige nag het sy hond onbedaarlik geblaf sodat hy genoodsaak was om te gaan kyk waaroor dié dringende geblaf. Hy het 'n buitengewoon groot man, geklee in blinkwit klere, net buite Les se erf sien staan met 'n blink voorwerp in sy hand. Les het hom glimlaggend verseker dat dit 'n engel was.

Evolusie-teoretici, sal julle dit asseblief vir ons verklaar?

Dié brief is gepubliseer in Die Burger (Oos-Kaap) van 31-03-2010.

Monday, 29 March 2010

Steun alle bruines taalkreolisering?

Jaco Fouché se brief, "Laat eerder toe dat Afrikaans groei" (DB,27.03), verwys. Hierin sê Fouché: "Ek stem saam met bruin mense wat voel dat Afrikaans 'n kreoolse...fase moet betree...(want) deel van die geneuk is dat baie wit mense vrek bang is iemand verdink ons van verwantskap met bruin mense."

Dis jammer dat Fouché wit-bruinverhoudinge by die taalkwessie betrek. Elke geleentheid word benut om dié verhoudinge te vertroebel, maar gelukkig verskyn die meer realistiese artikel, "Afrikaans nie net vir straatdeuntjies nie" (DB,27.03), bokant sy brief.

In hierdie artikel verwys Magdel Fourie na die menings van Ettienne van Heerden, Christo van der Rheede en professore Ampie Coetzee, Hermann Giliomee, Willie Burger, Joan Hambidge en Theo du Plessis oor die toekoms van Afrikaans.

Dit is duidelik dat die gesprek oor Afrikaans op minstens twee vlakke gevoer word: op die vlak van "Straatafrikaans" vir "straatdeuntjies", asook op universiteitsvlak wat betref sy hoër funksies. Hieromtrent sê Van Heerden: "...die sterfte lê op die hoër vlak, eerder as straatvlak."

Waar Fouché se mening in hoofsaak op "straatvlak" lê, lê dié van Van Heerden op die vlak van die hoër funksies van Afrikaans.

Dis géklik-absurd om te dink dat jy mense intellektueel kan ophef ("bemagtig") deur die verlaging van taalstandaarde. "Straatafrikaans" verteenwoordig laevlak-denke; universiteitstaal verteenwoordig gespesialiseerde vaktaal op hoëvlak-denke.

Kundiges van vroeër het gesê: die (hoëvlak) denke kan nie ontwikkel as die denkinhoud en denkresultaat nie in (hoëvlak) taalvorm gegiet word nie, en : niemand kan ook "verder" (hoër) dink of "anders" dink as wat sy taal hom toelaat nie.

Verteenwoordig Fouché se bedenklike standpunt oor taalkreolisering die mening van alle bruin mense? (ngn)

Hou vas aan die eie identiteit

Trotse Bruin Man skryf in sy brief, "'n Mens moet trots wees op identiteit" (DB,25.03), "Vir die kennisname van alle belangstellendes en in die besonder vir T.C.Breitenbach."

Ek vind dié brief   -   in besonder vir my kennisname   -   ewewigtig, realisties, hand-in-eie-boesem-stekend en nie-aanvallend, kenmerke van 'n volwasse perspektief op ons samelewing en die eie plek daarbinne ; meer as wat van sommige ander bruin skrywers gesê kan word.

 Verskil in ras of kleur beteken nie dat mense nié eenders oor sekere sake kan dink en voel nie, veral nie oor daardie dinge wat ons almal wesenlik raak soos, byvoorbeeld, Trotse Bruin Man se ingesteldheid teenoor die eie identiteit nie.

Trotse Bruin Man sê: "Wat ek uiters beledigend vind, is dat as 'n bruin man iets bekom of geld besit, hy oor die kleurlyn heen trou, asof bruin meisies nie goed geag word nie...waar is die liefde vir dìt wat naaste aan jou is?"

Beter kon ek dit self nie stel nie. Ek weet presies hoe hy hieromtrent voel, want dit is ook my siening van Afrikaners wat "...oor die kleurlyn heen trou..." Verhoed kán ons hulle nie, maar dis vir beide myself én Trotse Bruin Man nie die ideaal met die behoud van ons mense se identiteit in die gedagte nie.

Alles staan vandag in die teken van 'n toenemende onverdraagsaamheid teenoor identiteit-skeppende entiteite soos ras, volk ('n gewraakte begrip wat verskraal word tot "etnisiteit"), taal en godsdiens, eeue-oue boustene van identiteit.

Die kontemporêre identiteitsrowende proses beoog ontheemde identiteitloses, dobberende op die lewensoseaan as maklike prooi vir "New Age"-kaperskepe.

Trotse Bruin Man, laat ons vashou aan ons identiteite wat vir ons albei kosbaar is.

Friday, 26 March 2010

Zuma kan dalk munt slaan hieruit

In sy Maandag Aktueel-artikel, "Net dan sal die bruines se agterdog verdwyn" (DB,22.03), stel Heindrich Wyngaard die aktuele vraag: "Hoe definieer 'n mens...'Afrikaanse' kwessies?"

Wyngaard vra dié vraag na aanleiding van 'n ontmoeting tussen Zuma en 'n groep "uitgesoekte" Afrikaanssprekendes (breër konteks), dog "...die name wat bekend is, is slegs dié van Afrikaner-individue" (enger konteks).

Zuma beoog die samestelling van 'n komitee "...om na 'Afrikaanse kwessies' om te sien." Tereg vra Wyngaard derhalwe na 'n definisie vir "Afrikaanse kwessies". Aangesien definisies kontekstueel-bepaald is, is Wyngaard geregtig om te vra of dié definisie binne die breër konteks (bruines ingesluit) of binne die enger konteks (bruines uitgesluit) val. Ek sou dieselfde vra.

Die enigste een wat dié vraag kan beantwoord, is Zuma self. 'n Verdere vraag is óf Zuma nie dalk iets in die mou voer nie, soos om wit en bruin teenoor mekaar af te speel om munt daaruit te slaan nie. Waarom? Verdeel en heers!

My indruk is dat bruines, soos Afrikaners, óók onderling verdeeld is, daarvan getuig hul (soos by Afrikaners) behorendheid tot verskillende politieke-, kerklike- en taal-affiliasies. Daarom is dit jammer dat sommige bruin skrywers spanningskeppend-kwetsende uitlatings oor Afrikaners maak, en só in Zuma se hande speel.

Boesak, byvoorbeeld, verwys agtingloos na Afrikaners se "...etniese mobilisering   -   hard en skaamteloos". Verbied die onderhandelde Grondwet Afrikaners dan om hulself as volk te handhaaf? Moet Afrikaners dan nou die "riel" dans wat "kitaarslanende" Boesak, ongevraag, vir hulle wil uittokkel?

Zuma is beslis nie hieromtrent oningelig nie, en hy mag dalk net dié situasie uitbuit om politieke gewin.

Thursday, 25 March 2010

Jansenprentjie word algaande duideliker


Prof. Jonathan Jansen se artikel, "Soort soek soort, in 'n nuwe sin van die woord" (DB,23.03), verwys. Hiermee verskaf hy nóg 'n legkaartstukkie waardeur hy besig is om vir lesers uiteindelik die finale "Jansenprentjie" te laat sien.

Die jongste legkaartstukkie is Jansen se besoek aan die Hoërskool Witteberg te Bethlehem. Volgens hom sou "...die naam Swartberg...meer geneë (wees) vir rasse-integrasie..."   -   asof dìt die primêre funksie van 'n skool kan wees!

Aan die einde van die verrigtinge sê die hoofmeisie vir Jansen: "U universiteit is uitnemend (aan wie te danke?)...ons sal na u toe kom. Soort soek tog soort." Hiervan sê Jansen: "Ek het nooit gehou van die woorde 'soort soek soort' ...nie...Maar op dié aand het dit volmaakte sin gemaak."

In "'n Hartsverhaal uit die hart van ons land" (DB,08.09.09), vertel Jansen van "...'n jong, wit vroulike student (wat) op en af gespring (het) uit protes teen die planne vir integrasie", en later vir hom kom sê het: "Maak my deel van die oplossing." Ek herhaal die vraag : is integrasie ook universiteite se primêre funksie?

In sy artikel, "Ras is maar 'n maaksel, eerder as wet van God" (DB,15.07.08), sê Jansen beskuldigend van Afrikaners : "Dié vier (bevolkings-)groepe durf ook nie   -   die gruwel van alle gruwels   -   saam slaap nie." 'n Besondere legkaartstukkie.

In sy brief, "Jansen se optrede is oëverblindery" (DB,03.11.09), verwys Wessel Ebersohn na Chris Louw wat in Rapport(25.10.09) van Jansen se uiteindelike doelwit sê: "Hoe kan die oorwonne Afrikaner-gemeenskap gelei word om sonder verset 'tuis te voel' in die transformasie-agenda?"

Hou gerus dié interessant-ontwikkelende Jansenprentjie dop.                                   (ngn)



Afrikaners moet suiwer ideale stel


Dat daar vir geruime tyd reeds, oor 'n wye spektrum, 'n felle en volgehoue aanslag op die Afrikaner se gevestigde identiteit geloods word, sal net deur gebreinspoelde Afrikaners ontken word wat tevergeefs in 'n "Afrikaner-dormante" Grondwet hul geborgenheid soek.

Op watter grondslag het die identiteitsbewuste, -besorgde en -handhawende Afrikaner derhalwe die beste kans op identiteitsoorlewing : in (volkse) groepsverband, of in individuele verband? Die eeue-oue beeld van die saamgebinde stokkies wat nie maklik gebreek word nie, dui in die rigting van eersgenoemde.

Waarom dan nie van die handhawing van ons Afrikaner-identiteit 'n ideaal (nie afgod) maak nie; nie net vir onsself nie, maar ook vir ons kinders en komende geslagte.

Sonder ideale is enige volk se voortbestaan gedoem. Volk en ideale is sinoniem. 'n Volk sonder ideale is 'n volk sonder toekoms. Sonder ideale tree stagnasie en verrotting in.

Een van die sekerste aanduidings van 'n gesonde volkslewe is die aanwesigheid van rigtinggewende ideale   -   volksideale   -   wat sodanig verwoord word, dat die hele volksgemeenskap daarvan kennis dra en dit gesamentlik nastreef ter realisering daarvan.

Hoe lyk die ideale van Afrikaners vandag? Is daar 'n bewusmaking van ideale by ons Afrikanerjeug? Het álle Afrikaner-volksideale verdwyn met die vertrek van die "ou SA"?

Diegene wat ons identiteitsondergang soek, verag kompromiemakers, oorlopers en verraaiers in Afrikanergeledere, maar toon wel agting vir diegene van wie Jan F.E.Celliers gesê het: "Ek hou van 'n man wat sy man kan staan..."

Laat Afrikaners vir hulself suiwer ideale daarstel, en, wie weet, deur die voorbeeldige nastrewing daarvan, ook ander kultuurgemeenskappe inspireer om dieselfde in eie kultuurkonteks te doen.

Wednesday, 24 March 2010

Afrikaner-ontrou 'n rede tot skaamte

Johan de Lange se brief, "Briefskrywer moet hom hieroor skaam" (DB,20.03), verwys.

De Lange sê: "Die arrogansie van die man (Breitenbach) bly verstommend". Ek wil vir De Lange sê : skaam jóú om so blatant van die onaanvaarbare inlees-tegniek gebruik te maak. As dít nie 'n vorm van arrogansie is nie, wat is dit dan?

De Lange moet sê waar ek in my brief beweer, of suggereer, dat "...bruinmense wit Afrikaner-belange (moet) ondersteun of in die algemeen goedgesind...teenoor hulle (moet) wees...(en) van die mense (te) verwag om jou ter wille te wees." Is dit De Lange se eie heimlik gekoesterde verwagtinge van bruin mense teenoor hóm wat hy op my brood wil smeer?

De Lange sê dat "...'wit Afrikaners' (het) dié mense...verneder deur hulle van hul basiese menseregte te ontneem..."   -   en hy noem dan voorbeelde. De Lange is gedeeltelik reg, maar is sy voorstelling verteenwoordigend van die volle waarheidsverhaal?

De Lange maak hom skuldig aan historiese kortsigtigheid. Hoe ver strek sy visie terug op die ontwikkelingsgeskiedenis van die verhouding tussen bruin mense en Afrikaners   -   1994, 1948, of tot by hul eerste aanraking in 1652? En verreken hy die invloed van die internasionale gemeenskap oor 'n tydperk van 360 jaar op dié verhouding?

'n Mening wat op oningeligtheid berus, herinner aan die Engelse gesegde: "Ignorance is bliss, but how embarrassing." Het om "willingly ignorant" te wees 'n kenmerk van ons "demokrasie" geword?

Ek sal my inderdaad skaam   -   nie om die redes wat De Lange aanvoer nie   -   indien ek ontrou aan my Afrikanerskap sou wees.

Tuesday, 23 March 2010

Wil nie in aanvalle op Afrikaners deel

Emile Koen se brief, "Speel die bal, nie die man nie" (DB,20.03), verwys.

Ek stem beginselgewys met Koen saam om die bal en nie die man te speel nie, dog Koen sal óók weet dat 'n bal nie sonder baldraers hanteer word nie. Om balbesit om te keer, bring jou noodwendig by die baldraer uit.

Wil Koen nie maar vir ons volledig uitspel wat dié "bal" vir hóm behels nie? Ek vermoed dat ek en Koen met verskillende "balle" te make het en derhalwe met verskillende kontekstuele "spelsoorte" soos bepaal deur elkeen se "bal", Koen s'n oënskynlik "rasse-harmonie", en myne "Afrikaner-verweer".

Koen sê: "Die sentimente wat hy (Breitenbach) uitspreek doen bitterweinig om rasse-harmonie te bevorder...(en) Dat Breitenbach nou nog in kleurhokkies dink..." Moet ek, ter wille van "rasse-harmonie", toesien hoe, deur aanvalle, ons Afrikanerskap afgebreek word? Bevorder negatiewe dinge wat bruines van Afrikaners kwytraak   -   met verwagte stilswye van Afrikanerkant   -   hoegenaamd rasse-harmonie? Watter soort logika is dit dié? Verbied die Grondwet dan die voortbestaan van Afrikaners?

Koen wil ook graag my mening verneem oor "...die wanbetaling van dienstegelde...(en) Boesak se benadering tot sleutelkwessies." Vir dié doel verwys ek hom na Erika Ochse se brief, "Dié saadjie van wanbegrippe is Boesak glad nie waardig nie" (BY,20.03) waarmee ek identifiseer.

Dit is my keuse om by die verguisde Afrikaners van ons dag te staan. Ook sal ek een van die eerstes wees om hul foute van die verlede te erken, maar deel hê aan die aanvalle om hul ondergang te bewerk?
Aikôna! 

Tuesday, 16 March 2010

Bruines span saam teen Afrikaners

Dit is opmerklik hoedat bruin skrywers in dieselfde week, 08.03 tot 13.03.2010, hulself onbeskroomd uitlaat oor wit mense, en in die besonder oor Afrikaners, terwyl die omgekeerde nie gebeur nie.

Eers braak Henry Jeffreys gal in sy Maandag Aktueel-artikel, " 'n Middelklas-glybaan na sedisie en anargie"(DB,08.03), oor die weiering "...van (meestal) wit inwoners om hul plaaslike belastings te betaal..."

Vervolgens word, in "Malema 'word dalk nog SA se president' "(DB,10.03), berig prof. Jonathan Jansen "...klop jeugleier (Julius Malema) weer in openbaar op die skouer", Malema van wie Willem van Vuuren in sy brief, "Jansen se tong in sy kies oor Malema" (DB,13.03), sê dat "...Malema (het) blykbaar met 'n eenvoudige oplossing van die Universiteit van die Vrystaat teruggekeer : Peter Mokaba se 'Maak die Boer dood'." 'n Klop op die skouer hiervoor?

In sy artikel, "Wit mense toi-toi mos nie" (BY,13.03), vind dr.Allan Boesak direkte aansluiting by Jeffreys se galbraak-onderwerp van vroeër die week. Oor inwoners wat weier om oor swak dienslewering plaaslike belasting te betaal, sê Boesak : "...dis 'n Boere-aksie, vir 'blankes alleen'...(en) Afrikaner-etniese mobilisering...vir hul eiesoortige agenda..."

Voorgemelde skrywes is geen toeval nie, maar bruin samespanning om wittes, veral Afrikaners, te diskrediteer   -   met watter oogmerke nóg behalwe om hulle, opsigtelik, uit die samelewingshoofstroom (uiteindelik SA?) soos "melaatses"   -   wat nie aan bruin "eise" wil toegee nie   -   te verdryf? Moet Afrikaners dus, volgens dié bruin skrywersvisie, òf toegee òf dalk landuit? Waarom Afrikaners nie toets aan die grondwet nie?

Wednesday, 10 March 2010

Redakteur kan gerus stoele ruil

Die voorspelbare Henry Jeffreys braak andermaal gal teen wit mense in sy artikel, " 'n Middelklas-glybaan na sedisie en anargie" (DB,08.03).

Wil dié heer, in sy "hogere joernalistieke stoel", nie tog afkom aarde toe en hom kom vergewis van die verskille tussen appels en pere nie, want hy is duidelik nie in staat om appels van pere te onderskei nie.
Jeffreys beweer: "Die weiering van (meestal) wit inwoners om hul plaaslike belastings te betaal, is 'n onding". Hy erken darem dis nie "...(uitsluitlik) wit inwoners..." nie. Wie, volgens, Jeffreys, is die "res" dan   -   dalk bruines en/of swartes?

En hét Jeffreys en kie. hulle tog nie besònder navolgenswaardig gedra "...in die stryd teen apartheid...(en) die ou Konserwatiewe Party in Boksburg wat Klein Apartheid heringestel het..." nie? Meneer die redakteur, jy en jou kamerade se stryd was duidelik polities gemotiveer!

Wat u ongelukkig nie kan/wil raaksien nie, is dat "Die weiering van (meestal) wit inwoners..." nié primêr polities gedrewe is nie, maar wel deur ANC-onbekwaamheid tot dienslewering aan àlle plaaslike inwoners, en ook nie net in belang van bepaalde politieke ondersteuners nie.

Hierteenoor stel Jeffreys die roekeloos onverantwoordelike alternatief met sy opmerking: "Die arm belastingbetaler wat nie geld vir 'n trustfonds het nie, begeef hom op die afbrand van openbare geriewe." Impliseer Jeffreys dat laasgenoemde die meer aanvaarbaar geworde norm is as weerhouding van belastinggeld?

Meneer Jeffreys, ek dink u persoonlike uitlatings oor u eie politieke oortuigings pas beter in 'n parlementêre stoel as in 'n redakteurstoel. Waarom nie dié ruiling oorweeg nie?

Monday, 8 March 2010

Kerksang in Engels - vrug van NG Kerk self?

Tannie Ann se brief,  "Taal van kerksang nie só belangrik"(DB,03.03), verwys.

Is die maatstaf vir aanddienste, Tannie Ann, "...om teen ooms en tannies se wense..." te gaan? Geld  "...ooms en tannies se wense..." dan, by implikasie, vir oggenddienste? Is ooms, tannies of énigeen se wense hoegenaamd die maatstaf vir kerksang?

Die toenemende Engelse liederesang in ons kerke is, onder meer, die vrug van die toegelate jeugsang van die verlede. In die 1970-ger jare vervoer ek kinders vanaf 'n (A)CSV-naweekkamp te Jeffreysbaai huis toe. Hulle sing een Xhosaliedjie, twee in Afrikaans en dertien in Engels. Die taalskrif was aan die sangmuur.

Hierdie kinders is vandag in hul laat veertiger-  en vroeë vyftigerjare, en   -   as't ware "geskool" in Engelse sang deur 'n NGK-jeugbediening   -   is dit vandag vir hulle as volwassene lidmate, waaronder ook predikante, die "sangformaat" waarvolgens hulle groot gemaak is.

Ek het geen erg aan die Engels-gesingery nie (later ook Engelse Bybel?), maar kan ons die huidige geslag lidmate verkwalik dat hulle daartoe gelei is deur 'n jeugarm van die NGK? Met dié onvergenoeglike gevolge, móét ons vra na die ware oorsake daarvan.

'n Vriend vertel   -   of dit so is, weet ek nie   -   dat voor Lucifer se opstand teen God, hy die sangleier in die hemelse lofprysingsbedeling was. Indien wel, kén hy mos die strategies-verdelende potensiaal van kerksang. Het kerksang in Engels ons verdeel? Wie verdeel en heers by uitnemendheid? U ken die antwoord.

Is die verdelende effek van taal regtig onbelangrik in die NGK?                                 (ngn)

Wednesday, 3 March 2010

NGK-leier betrokke by voorvadergeeste

Op 27.09.07 berig Beeld oor ANC-vryheidsvegters wie se geeste in Tanzanië gaan haal is vir hul laaste rus hier in SA.

Daar is berig dat familielede van ANC-kaders na Morogoro in suid-Tanzanië reis om rituele uit te voer en hulde te bring aan gestorwe geliefdes. 'n Afvaardiging, onder wie ds.Andre Bartlett - NG-predikant van die gemeente Aasvoëlkop, Johannesburg, en voorsitter van die Gautengse tak van die SARK - het dié reinigingseremonie bygewoon.

Genl. Lehlohonole Moloi, voorsitter van die Vryheidspark-trust, het gesê: "...ons (het) besluit om die geeste van die dooies van Tanzanië na...Suid-Afrika te vervoer. Dit sal simbolies na die Vryheidspark vervoer word, waar hulle finaal tot ruste sal kom."

Vyf en twintig mense het aan 'n seremonie by die Mazimbu militêre basis in Morogoro, basisse van Apla en Umkhonto we Sizwe, deelgeneem. Bloed van 'n bok en hoender is oor die grafte gesprinkel. In fluisterstemme is aan die geeste verduidelik dat hul familielede hul kom haal het. Daarna is dié geeste, simbolies, in 'n kleipot met 'n wit lap daaroor geplaas.

Onder ds.Bartlett se leiding het die religieuse leiers gebid vir die sukses van die rouseremonie. Bartlett het gesê: "Dit wat in die verlede gebeur het, moet ons verenig en nie verdeel nie. As die Kerk...moet ons (ons) deel bydra in die herdenking van die verlede. Ons moet ons mense herinner dat die vryheid wat ons vandag geniet, ander se lewens gekos het" (net aan ANC kant?).

Is hierdie NGK-betrokkenheid by voorvadergeeste volgens Bybelse lering? Besluit self.            (ngn)