Ek vind aansluiting by J.Viljoen (DB,29.03) se bewering dat: "...ons volk al hoe meer afvallig geword het..." Laat ons toegee dat dit, enersyds, nie alle volksgesinde Afrikaners geld nie, en, andersyds, dat afvalligheid van die Afrikanervolkslewe nog altyd 'n kenmerk van wit Afrikaners was. Die Afrikanervolk word, histories gesien, gekenmerk deur 'n duidelik tweekantige volkskarakter soos geopenbaar in 'n siklies-herhalende ontwikkelingspatroon.
In sy vroegste voorvolkse ontwikkelingsfase word wit Afrikaners reeds gekenmerk deur 'n tweekantigheid op grond waarvan onderskei kan word tussen Kompanjiesamptenare en vryburgers; trekkende veeboere en gevestigde koring- en wynverbouende landbouers, en, nog later, (Voor-)trekkers en agterblyers tydens die Groot Trekbeweging. Die geskiedenis leer dat die vryburgers, die veeboer-trekboere en die Voortrekkers gekenmerk is deur 'n sterk vryheids- en onafhanklikheidsdrang.
In die nageboortelik nasionale volksfase is bittereinders en joiners tydens die ABO te onderskei; Afrikanernasionaliste en "empire"-gesindes tydens die 1914-rebellie, WO 1 en WO 2; die verligtes en verkramptes tydens die sewentigerjare van die vorige eeu, en die jongste indeling wat ek die "volksbehoudendes" en die liberale "volksrugdraaiers" noem - hulle wat die Afrikanervolk die rug toekeer. Soos wat ons verneem van kinders wat hul ouers by ouetehuise aflaai en daarna nie weer opsoek nie, so is dit ook die geval met die "volksrugdraaiers" wat deel in volkwees waarwel toegeroep het.
Daar was nog altyd spanning tussen dié twee Afrikanergroeperinge soos veral blyk op politieke en kerklike terrein. Met die politieke mag reeds verloor, staar wit Afrikaners ook kerkskeuring in die gesig. In 'n vroeëre skrywe, "NG Kerk keer rug op Afrikanervolk" (DB,06.10.2011), het ek daarop gewys hoedat dié kerk, as voorbeeld, reeds sy rug op die Afrikanervolk gedraai het, en dit terwyl volke en 'n volkereverskeidenheid 'n Goddelike instelling is. Viljoen is reg met sy bewering oor volksafvalligheid.