Thursday, 30 December 2010

Mensbeskouing wat ras wil manipuleer

In sy artikel, "Wie is 'ons' en wie is 'julle' in die reënboog?" (DB,28.12), hou Le Cordeur die rassevlam steeds brandende. Wanneer hy prof. Carstens aanhaal wat sê dis "tyd om eens en vir altyd ontslae te raak van wit, swart, bruin", is dit duidelik dat hy nié die kleureverskeidenheid van die reënboognasie duld nie. En, ironies genoeg, moet 'n reënboog juis sy kleure behou om reënboog te wees, of is sommige besig met 'n bedriegspeletjie?

Om die "ons-julle"-gedagte te probeer vernietig, is 'n onhaalbare droom, nee, nagmerrie. Ontkenning van die universele "ons-julle"- fenomeen is 'n ontkenning van die Godgeskape menslike werklikheid. So is die ontkenning van ras 'n ontkenning van die rassewerklikheid   -   'n simptoom van 'n rassepsigose. 

Is iemand 'n vrek bloot vanweë sy besparingsbewustheid? Is iemand 'n rassis bloot vanweë sy rasegtheidsbewustheid? Wie gee enigeen die reg om enigeen van rassisme te beskuldig bloot omdat hy sy suiwerheid van ras wil behou?

Dit is die gedagtes wat Le Cordeur by my laat opkom by die lees van sy artikel waarin die reënboog simbolies, saam met die "ons-julle"-gedagte, sentraal figureer.

Wat Le Cordeur vergeet, is dat die reënboogkleure hul oorsprong in wit lig (fisies-opties), soos sonlig, het. Om dié kleurespektrum te vernietig, moet jy daarom wit lig vernietig, 'n absurde idee. Dieselfde geld die menslike rasseverskeidenheid waarop dié beeld betrekking het. Rasseverskeidenheid (kleurespektrum) is Godgeskape (wit lig).

Wat betref die "ons-julle"-gedagte: By geboorte bevind elke mens homself onmiddellik in 'n ek-jy-verhouding met die moeder. Hiervandaan brei dié verhouding uit tot 'n ek-julle-verhouding wanneer die vader, boetie(s), sussie(s) en familielede ook daarby betrek word. Nog later brei dit uit tot 'n ons(gesin)-julle(familie, vriende,ens.)-verhouding. Die ons-julle-verhouding is onontkenbaar deel van menswees.

Hoe lyk die kind- en mensbeskouing van Le Cordeur, opvoedkundedosent, wat die menslike ras wil manipuleer?                        (ngn)

Monday, 27 December 2010

Lees skrywe maar met knippie sout

Ek deel in Abbott se sentimente wat hy uitspreek in sy brief (DB, 27.12) betreffende Glynis Pieterse se skrywe, "Dink aan statistiek in debat oor kleur" (DB,24.12). Uit Abbott se brief is dit duidelik dat ook hy meen dat Pieterse se skrywe maar met die spreekwoordelike knippie sout gelees moet word.

Pieterse se brief skep die indruk dat dit uit 'n dampkring van ek-weet-van-beter geskryf is wanneer sy sê dit is "...amusant om te lees hoe die gewoonte-skrywers...hul name vir 'n ses slaan deur hulself breedvoerig uit te laat oor dinge waarvan hulle gevaarlik min weet."

Dit lyk asof iemand besig was met statistiese gewigte in die gimnasium vir intellektuele oefening   -   waar gewoonte-skrywers kwansuis dan nie kom nie   -   en, o jinne, daar val toe van die statistiekgewigte op Pieterse se voet. Abbott het dit reeds baie mooi uitgewys met sy voorbeeld van die Spaans-Amerikaanse minderheidsgroep as grootste tronkbevolking in Miami-tronke in die VSA.

Wat ons eie nasionale tronksituasie betref, berig Die Burger onder die opskrif, "Meer bruin mense in SA tronke as ander bevolkingsgroepe" (DB,27.11.2008,p.6) : "Daar is gemiddeld meer bruin mense in Suid-Afrikaanse tronke as enige ander bevolkingsgroep." Pieterse sal weet dat ook hierdie beriggewing nié haar statisties-intellektuele prentjie pas nie. En nee, dit is maar bloot my eie verbeelding wat maak dat ek 'n resonerende snaar op die rassisme-kitaar uit Pieterse se skrywe hoor.

In Pieterse se bravade van haar statisties-intellektuele oefening skuil daar toe al die tyd ook maar 'n "gevaarlik min weet" soos, volgens haar, by die gewoonte-skrywers. Kan ons ons nie in die nuwe jaar eerder beywer vir groter beskeidenheid en eerlikheid, met 'n waarheidsoekende ingesteldheid, as om onsself grootdoenerig naas gewoonte-skrywers te kom stel wat "gevaarlik min weet (en) hul name vir 'n ses slaan", terwyl ons die risiko loop om uiteindelik self ook binne dié skrywersliga gereken te word nie?

Monday, 20 December 2010

Kersfees met krip onder kruis gevier

Een van Adri Theron, gospel-liedjieskrywer en -sanger, se heel mooiste treffers heet "Running under His cross". Hy vertel hoe dié liedjie sy ontstaan gehad het.

Theron het hom met groot versigtigheid en sorg in een van Kaapstad se voorstedelike woonbuurtes voorberei vir deelname aan die Comrades-marathon. Op die wedloopdag het hy vir 30 km langs 'n oorborrelend-getuigende Engelssprekende Christengelowige van Pretoria gehardloop. Dié persoon het die hele wedloop 'n kruis, gemaak van twee aanmekaar gebinde stokke, met hom saamgedra.

Op 'n stadium vra die kruisdraende atleet vir Theron om die kruis tydelik by hom oor te neem. Theron was egter baie skaam en selfbewus om met die kruis te hardloop, en het dit daarom laag onder sy heupe gedra, totdat die omstanders die kruis opgemerk en spontaan begin hande klap het. Toe hy dit besef, het hy die kruis telkens hoër gelig totdat dit bokant sy kop was en hy daaronder gehardloop het. Vandaar sy liedjie, "Running under His cross".

Dit stem beslis tot nadenke. Is daar enigiets onder die son wat Christene nié onder Sy kruis kan doen nie? Selfs die Betlehemskrip staan onder die Golgotaskruis. En wat van kersfeesvier, kan dit dan nie ook onder Sy kruis geskied nie? Ruil daarom die krip terug vir die kersboom, en Christus terug vir kersvader.

Die baie prominente kerssimbole, die kersboom en kersvader, is beide nie-Christelike simbole. Vir Christene is die kersgety juis 'n periode op ons geloofskalender wat dinamies voortbeweeg vanaf krip na kruis en vandaar na die leë graf van Christus, by uitstek dié simbool van die Christendom.

Waarom dan nie kersfees met 'n krip onder 'n kruis vier eerder as kersvader met 'n kersboom nie? Ook hierdie kersgety toets opnuut weer ons egtheid van deelname aan òf 'n Christusfees, òf 'n wêreldlike fees. 'n Geseënde Christusfees vir u.

Friday, 17 December 2010

'n Dankbare volk onthou sy geloftes

Dankie aan al die volksfeesgemoeide Despatchers, die Piet Meys en die Griebenows, vir die soveelste geslaagde aanbieding van 'n Geloftedagprogram in die saal van die Hoërskool Despatch met Flip Buys van Solidariteit, Afriforum en Helpende Hand-faam, as geleentheidspreker. Synde 'n jaarlikse instelling, neem dit ongetwyfeld toe in statuur, en diegene wat dié geleentheid bywoon, ryker laat soos in die Leipoldt digterlike idioom: Gister was ek arm; vandag skatryk (aan volksgees).

In sy feesrede het Buys die tydsdimensies van verlede, hede en toekoms sinvol met mekaar verbind. Sy vertrekpunt hiertoe was die bekende woorde van wyle pres. Kruger wat gesê  het: Haal alles wat goed en mooi is uit die verlede; vorm u ideale daarvolgens, en bou u toekoms daarop.

Buys se voortreflike aanbieding  het rondom vyf kenmerkende waardes, eie aan die Afrikanervolk, sentreer. 'n Christelike roepingsbesef, soos herleibaar na Kolossense 3:23 : "Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie."

Die strewe na selfstandigheid soos vergestalt in vryheid en veiligheid. Deur selfstandigheidsinstellings, soos Helpende Hand, moet die Afrikaner sy toekoms verseker. Wat ons vandag doen, bepaal ons volksmôre.

Navorsing het aangetoon dat suksesvolle vooruitgang op kulturele vooruitgang berus, soos deur individue, en groepe, se innerlike ingesteldheid bepaal. Buys sê onsuksesvolles vra: Wat het hulle aan òns gedoen, en wat kan ons aan hùlle terugdoen? Suksesvolles, daarteenoor, spreek die probleem aan. Dié Afrikaner-volkswaarde noem Buys kulturele kapitaal.

Die vierde waarde is daadkrag  waarvan daar voldoende historiese bewyse is van wat ons voorgeslagte deur innerlike daadkrag tot stand gebring het. Die vyfde Afrikanerwaarde noem Buys gemeenskapsbewustheid, en beweer dat ons voorsate méér omgegee het vir mekaar, en daar ook nie so 'n sterk onderlinge klassebewustheid was nie.

In die hieropvolgende preekboodskap het teologiese student, Adrian Bester, gesê: 'n Dankbare volk is 'n volk wat onthou   -   ook sy geloftes.

Monday, 13 December 2010

Kernafrikaners hou Geloftedag in ere

Gedurende die eindfase van die "ou S.A." het die destydse regering aanspraak gemaak op 'n "totale aanslag" op S.A. en sy mense. Vele het dié aanspraak egter as belaglik afgemaak. Vandag is baie steeds oortuig van dié aanslag en die voortsetting daarvan; veral gerig teen die Christen-Afrikaner.

Eersdaags gedenk ons weer Geloftedag, waarskynlik dié kernnalatenskap van die Voortrekkers aan die Afrikanernageslag. Ook op hierdie erfenis word 'n aanslag geloods, en, tragies om te sê, kom dié aanslag veral uit Afrikanergeledere self.

In "Die Gelofte:Steeds in Gedrang", beweer Stini Vorster dat daar elke Desember valse bewerings gemaak word oor die Bloedrivier-gelofte. Sy verwys na prof. A.D.Pont se artikel, "Die Gelofte in Gedrang" (1986), waarin hy vyf twyfelsaaiende vraagstukke bespreek: Wie almal moet die gelofte nakom en in ere hou? Wonderwerk (God) of krygsmanskap (mens)? Geloftedag: Sabbat of Sondag? Geloftedag slegs 'n godsdienstige dag? Geloftedag: Versoendag?

In sy "Journaal" skryf Jan Bantjes dat in die gelofte belowe is: "...dat wij den dag der oorwinning, in een boek zullen aanteekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten..." Andries Pretorius het gesê dat hulle die oorwinning "...aan den Heer willen toewyden, en vieren met Dankzeggingen."

In 1880, 42 jaar later, het 10 000 burgers by Paardekraal, op die vooraand van die Eerste Vryheidsoorlog, die gelofte van 1838 herhaal en opnuut toegeëien. In 1948 is Geloftedag as kerklike feesdag deur die Afrikaanse susterkerke gelys.

Vorster sê daar is "...teoloë en kerkmanne wat beweer dat Geloftedag slegs uit 'n erediens moet bestaan en dat volksgeskiedenis en kultuur nie by hierdie dag hoort nie." In haar skrywe kom Vorster tot twee gevolgtrekkings: "Die aanval op Geloftedag word grootliks geloods deur mense wat hulself Afrikaners noem", en "Dis veral gemik teen ons kinders."

Kernafrikaners   -   Gods- en volksmense   -   eerbiedig Geloftedag; randafrikaners nie.

Wednesday, 1 December 2010

Jesus HIV-positief verklaar

Fanatieke gelowiges huiwer nie om hul geloof gewelddadig te verdedig nie. Die Christendom word egter nie, sonder meer, deur  fisieke geweld gekenmerk nie.

In Getsemane beveel Jesus vir Petrus, nadat hy Malchus se oor afgekap het, om sy swaard te bêre. Dog, daar ìs 'n swaard wat Christengelowiges móét opneem, "die swaard van die Gees, dit is die Woord van God" (Efesiërs 6:17) wat "skerper is as enige tweesnydende swaard" (Hebreërs 4;12).

Onder "The Last Crusade" op "Google" beweer pastoor Xola Skosana, van die "Hope for Life Ministry" in Kaapstad, dat Jesus HIV-positief was, en steeds is. Hy regverdig dié bewering uit Jesaja 53. Twee van sy susters is dood aan vigs. Skosana sê: "The best gift...to people..is to help de-stigmatize Aids...where they know God is not against...(or) ashamed of them."

Vuyiseka Dubula, algemene sekretaris van die "Treatment Action Campaign", sê: "Pastor Skosana's sermon takes away the stigma that HIV is a sin...To associate Jesus with HIV is powerful..." Eerwaarde Siyabulela Gidi, Wes-Kaapse direkteur van die SARK, sê: "What pastor Skosana is clearly saying is that Christ at this point in time would be on the side of the people who are HIV-positive."

Uit hierdie uitsprake word dit duidelik dat Jesus se natuur van sondeloosheid baie ernstig aangetas word. Dit blyk dat Skosana, Dubula en Gidi nie mooi begryp dat juis die sondelose Christus vir ons sondes kom sterf het nie. In sy boek, "Why Revival Tarries", sê Leonard Ravenhill: "This generation of preachers is responsible for this generation of sinners." Dit stem tot ernstige nadenke.

Wie gaan Hom, ons Verdediger teen Satan, nie-gewelddadig verdedig met die "swaard van die Woord"? Sal kerkleiers van geaffilieerde kerke by die SARK, soos die NG Kerk, nie teregwysend tussenbeide tree om Sy eer onthalwe nie?                   (ngn)

Tuesday, 23 November 2010

Bang beursies sal uit kerk padgee?

Iemand merk onlangs soos volg op: Die pad na die hel is geplavei ook met (dwaalleer-) predikante. Hieromtrent sê die Bybel baie duidelik in, onder meer, 2 Petrus 2:1,17: "...en so sal daar ook onder julle vals leraars kom...Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou."

In sy tyd reeds het Jeremia gesê: "...die profete tree vals op, die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan! (5:30,31) Hulle sê net: 'Alles is reg! Alles is reg! Maar niks is reg nie.' " (6:14)

Dat daar sodanige woelinge in NG Kerkgeledere is wat daarop dui dat alles daarbinne nie pluis is nie, is seker en gewis. Dit gebeur vandag maklik dat, sou daar op kommerwekkende dinge in dié kerk gewys word, jy summier daarvan beskuldig word dat jy "negatief" is. Kerkbode se Jean Oosthuizen verwys sarkasties op Kletskerk na diesulkes as " 'n Groepie godsdienstig-ver-regse fundamentaliste in die NG Kerk..."

Daar bestaan 'n ontkenningsindroom; daarom word lidmate ook nie aangemoedig om te vra na die ware toedrag van sake nie. Ek noem twee voorbeelde wat dit weerspieël.

Op 'n onlangse versoek van die Oos-Kaapse streeksinode aan gemeentes om kommentaar te lewer op hul dokument, "Parallelle Strukture Rondom Kerkhereniging", reageer slegs twee lidmate in 'n gemiddelde-grootte gemeente. Waarom só min? Om verskeie redes, een waarvan dat lidmate vanweë oningeligtheid nié in staat is om kommentaar te kán lewer nie   -   'n reeds gevestigde patroon waarmee die kerk homself tevrede stel?

'n Versoek om die boek (vroeg-Desember beskikbaar), "Die Trojaanse Perd in die NG Kerk  -  die kanker van evolusie en liberalisme", onder die aandag van lidmate te bring, word geweier. Daar bestaan dan glo reeds só baie "negatiewe" geskrifte oor dié kerk. So word lidmate daarvan weerhou om sélf te oordeel of sodanige kritiek geregverdig is of nie.

Bestaan die kommer dalk dat die waarheid lidmate, en hul beursies, kan laat padgee?

Friday, 12 November 2010

Christenmartelare nog steeds gedenk?

Op Sondag 14 November word die vervolgde kerk van Jesus Christus wêreldwyd herdenk.

Tans bevind meer as 400 miljoen Christene hulself wêreldwyd onder 66 regerings wat hulle vervolg, en word nagenoeg 200 000 Christene jaarliks doodgemaak.

Die apostels was die eerste martelare. Die verhaal van Stefanus is goed bekend. Petrus is onderstebo gekruisig in Rome. Johannes die Doper is onthoof. Johannes is in kokende olie gedompel en ook na die eiland Patmos verban. Andreas is in Griekeland gekruisig. Philippus sterf 'n martelaarsdood in Klein-Asië.

Nathaniël is eers lewendig afgeslag en daarna onthoof. Thomas is doodgekap. Matteus is verbrand. Jakobus (die jonge) is gekruisig. Simon die yweraar is middeldeur gesaag. Matthias is gekruisig. In 2 Korintiërs 11:23-28 vertel Paulus van sy persoonlike ontberinge vir sy geloof in Jesus Christus.

Ignatius van Antiochië is deur keiser Trajanus ter dood veroordeel. Polycarpus van Smirna is deur wilde diere in 'n arena verskeur. Die Waldense is in hul duisende deur die Rooms Katolieke Kerk vermoor. Johannes Hus is in 1415 lewendig verbrand. In die nag van 24 Augustus 1572 (Bartholomeusnag) is duisende Protestantse Christene vermoor.

Gedurende die 20ste eeu het meer Christene vir hul geloof gesterf as in die voorafgaande 19 eeue. Minstens 28 miljoen Christene het in dié eeu vir hul geloof gesterf. Sedert 33 na Christus is ongeveer 43 miljoen Christene deur sekulêre regerings vermoor. Ongeveer 6 miljoen is deur Islam-regerings vermoor, terwyl ongeveer 4 1/2 miljoen Protestantse Christene deur Rooms Katolieke vermoor is.

Die doel is nie soseer om Christene dood te maak nie, as om hulle tot stilswye te intimideer en tot kompromiemaking te beïnvloed sodat hulle nie langer Christus se opdragte gehoorsamend sal uitvoer nie. Is daar enige ánder geloof ter wêreld wat tot dié mate vervolg is as wat Christene vervolg is? En word hulle nagedagtenis nog gereeld van ons kansels gedenk?

Wednesday, 3 November 2010

Jansen : vreemdeling, of studentewerwer?

In sy artikel, "Oë gaan oop as jy uit jou kringetjie beweeg" (DB,02.11), skets prof. Jonathan Jansen 'n kontrasterende prentjie tussen SA en die VSA. Hiervoor gebruik hy die terugvoer van slegs drie van 71 eerstejaarstudente   -   na afloop van hul besoek aan "top-universiteite aan die Amerikaanse ooskus"   -   asof dié drie se ervaringe hoegenaamd verteenwoordigend van al 71 sou wees!

Die vermoede bestaan dat Jansen in sy artikel vooropgeset selektief met dié studente-terugvoer werk om sy eie versweë oogmerke daarmee te bereik.

Jansen het "...iets taamlik dramaties ontdek in die lewensveranderende ervarings van dié (drie) jongmense..."  tydens hul besoek aan die VSA. Jansen wou van dié drie weet wat "...die een ding in jou buitelandse ervaring (was) wat jou verander het?" Die antwoorde van dié drie studente beskou Jansen as "...die aangrypendste verhaal van veranderde lewens wat ek in 'n baie lang tyd gehoor het."

Die eerste student sê hy is bekeer van sy verafskuwing van gays en lesbiërs. Hy het sy vooroordeel teen diesulkes in die VSA ontdek en voel nou baie skaam daaroor.

Die tweede student het haar siening verander dat "...nie alle blankes...slegte mense (is) nie...", die resultaat van "...saamleef met en gekoester word deur 'n blanke gesin..."

Die derde student het sy siening verander dat probleme slegs deur te baklei en eise te stel, opgelos kan word, na probleemoplossing deur middel van logiese denkredenering.

Ek glo vir geen oomblik dat dié studente-ervaringe so uniek en eie is, en hul veranderde ingesteldhede slegs gewyt moet word aan VSA-blootstelling nie. Indien Jansen bereid is om navraag te doen, sal hy dieselfde "aangrypende verhale" van "veranderde lewens" ook in SA self aantref.

Is Jansen dus die spreekwoordelike "vreemdeling in Jerusalem", of is dit bloot 'n subtiele reklamefoefie met die oog op studentewerwing vir sy universiteit in 'n sterk mededingende universiteitsomgewing?

Monday, 25 October 2010

Beskerm kind teen Halloween-invloed

Op 31 Oktober word Halloween (Allerheiligeaand!) weer wêreldwyd gevier en kinders aangemoedig tot deelname daaraan deur die dra van maskers en uitrustings van hekse, monsters, bose geeste, vampiere, ens.

Kinders is entoesiasties ingestel op die dra en vertoon van Halloween-drag met géén idee waaroor dit werklik gaan nie. Sou volwassenes weet waaroor dit régtig handel? So, vanwaar Halloween, en wat beteken dit?

Hierdie jaarlikse Halloween-"fees" het sy oorsprong in die Keltiese godsdiens van Ierland, Noord-Europa en Engeland, by geleentheid waarvan Keltiese- of Druïde-priesters diere-  en menseoffers aan hul god, Shamhain,   -   Engel van die Dood en hoof van al die bose geeste (Satan)   -   gebring het. Dié "fees" is die grootste jaarlikse "fees" deur sataniste en okkultiste gevier tot eer van Satan.

Die geeste van dooies "besoek" tydens dié nag hul families; vandaar die vermomming in kostuumdrag. Deelnemers dans van huis tot huis en vra offergawes vir Shamhain in die vorm van 'n "Trick or Treat". Diere-  en menseoffers was 'n "Treat", en 'n uitgeholde pampoengesig agtergelaat om 'n woning teen bose geeste te "beskerm". Waar daar nié aan Druïde-eise voldoen is nie, is heksagramme op voordeure geteken en huise en  -bewoners vervloek.

Ouers, onderwysers en kinders besef waarskynlik nie altyd die implikasies en gevare verbonde aan kinderdeelname aan Halloween nie. Baie mag dink dat 'n "oppervlakkige, nie-ernstige" deelname daaraan eintlik net onskuldige kinderpret beteken. Deur deelname aan dié sataniese ritueel, word kinders blootgestel aan die risiko van bose beïnvloeding.

Deelname aan Halloween hou die gevaar in van prikkeling deur, aangetrokkenheid tot en belangstelling in riller-  of gruwelfilms, die geheimsinnige okkultiese wêreld, blootstelling aan gewelddadige optrede en selfs die gevaar van demoniese bindinge.

Is kinders nog kosbaar vir ouers sodat hulle hulle teen dié gevaar sal beskerm, of is ons só "modern" en "verlig" dat ons die idee van kinderbeskerming bespot?

Thursday, 21 October 2010

Noem ook oorsaak, nie net reaksie

Hoe hipokrities kan 'n sakeonderneming nie wees nie, in dié geval die Woolworths-kettingwinkelgroep. Laasgenoemde beweer dit wil nie aanstoot gee met Christentydskrifte nie, asof halaal-produkte nié ook aanstoot-potensiaal inhou nie. Christentydskrifte sou dan aanstoot gee, maar wat van halaal-produkte?

As Christengelowige het halaal-produkte in 'n openbare onderneming my nog nooit aanstoot gegee nie, maar my daaraan herinner dat elke landsburger oor die grondwetlike reg van geloofskeuse en  -uitdrukking beskik wat óók deur die sakewêreld eerbiedig moet word. Maar dan moet sodanige keusereg en uitdrukkingsreg oral konsekwent respekvol toegepas word. Woolworths se, nou teruggetrekte, besluit dui op 'n vorm van geloofsdiskriminasie en, derhalwe, op  -onverdraagsaamheid.

Indien Woolworths sy besluit nié herroep het nie, sou my besoek aan 'n winkeltak my telkens daaraan herinner het dat Jesus Christus nié binne dié winkelruimte welkom is nie. Waar Hy nie welkom is nie, is ek, as Sy volgeling, ook nie welkom nie.

My persoonlike reaksie hierop sou een wees nié van boikot of "dreig" nie, maar eerder van vermyding van dié winkels. Christene wéét dat die "dreig"-gedagte nêrens 'n plek het binne dié geloofsraamwerk nie. Om na Christene te verwys wat "dreig", is misplaas   -   protesteer, ja wel.

Iets wat dus pla, is Die Burger se plakkate teen lamppale met die bewoording "Christene dreig Woolies". Hierdie bewoording is nié goed gekies nie, maar baie eensydig en raak die beeld van Christene in ons samelewing. Hoewel protesterend, is ware Christenskap nie gewelddadig-konfrontasioneel nie. 'n Sensitiewer bewoording sou dus meer aanvaarbaar wees.

'n Oppervlakkige ontleding van dié aangeleentheid dui tog duidelik op oorsaak en gevolg. Dit is immers duidelik dat Woolworths die oorsaak is van die protes-reaksie van Christenklante. Waarom dan net die "dreig"-reaksie in die openbaar beklemtoon  en nié ook die oorsaak in balans daarmee stel nie?

Thursday, 14 October 2010

Waarheidsoomblik vir NG Kerklidmate

Martie Retief Meiring se boekresensie oor "Praat Verby Grense  -  uit die e-pos van Laurie Gaum en Frits Gaum", deur Laurie en Frits Gaum, stoot ander maal onderwerpe soos apartheid, bevrydingsteologie, Belydenis van Belhar, Allan Boesak en sonde na vore (DB,11.10).

Dit is interessant dat Meiring se resensie saamval met 'n skrywe van die Oos-Kaapse streeksinode getitel, "Parallelle Strukture Rondom Kerkhereniging", wat aan NG-gemeentes uitgestuur is om kommentaar daarop te lewer. Dié sinodale skrywe bestaan uit 'n kort opdragformulering, 'n kort voorstel   -   albei bestaande uit slegs 'n enkele sin   -   en 'n motivering van 21 hoof- en submotiveringspunte wat oor drie bladsye strek.

Nodeloos om te sê dat dit die motiveringsgedeelte in dié dokument is wat die aandag beklemtonend fokus op dié streeksinodale voorstel "...om dringend met die Sinode van die VGK Kaapland asook met die ander lede van die Familie van NG Kerke in gesprek te gaan oor die tot stand bring van 'n parallelle sinode en ringe binne die sinodale gebied van die NG Kerk in Oos-Kaapland."

Vanweë beperkte ruimte, reageer ek slegs op drie van dié 21 hoof- en submotiveringspunte. Punt 3.10, onderverdeel in vier onderafdelings, hou die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) voor as 'n navolgenswaardige ideaal-model. Vroeër vanjaar is berig dat ds. Klaas Hendriks, 'n selferkende ateïs-predikant, met die goedkeuring van die PKN "...in sy amp mag aanbly en van die preekstoel mag verkondig dat God nié bestaan nie" (DB,06.02). Is die NG Kerk met dié PKN-model op die regte spoor?

Punt 1.1 onder punt 3.11 verwys na "...gegrond op die Bybel..." Wátter Bybel, moet ons vandag vra, na so vele veranderinge daaraan?
Punt 1.2.3 onder punt 3.11 sê die NG Kerk erken "Die Belydenis van Belhar as 'n gereformeerde belydenisskrif van die hede." Regtig? Verskeie belydenisskrifte, soos nodig, word voorsien.

NG Kerklidmate staan nou voor 'n oomblik van waarheid.         (ngn)







Monday, 11 October 2010

Afrikaner-kerklewe in tragiese verval?

Neels Jackson se artikel, "Nuwe denke oor kerkwees nodig" (DB,09.10), wat handel oor dr. Wim Dreyer van die Hervormde Kerk se siening oor Afrikaners, die Christelike geloof en kerke, het betrekking.

Jackson se artikel is een wat elke Christen-Afrikaner behoort te lees en baie ernstig oor moet besin. Gedurende die afgelope twintig jaar het die Afrikaanse susterskerke se lidmaattal met ongeveer 35% gedaal. 'n Dalende geboortesyfer is één rede, maar nié die enigste nie.

Lidmate distansieer hulself nié net toenemend van 'n susterskerk nie, maar sommige selfs van die Christelike geloof. Hulle beweeg weg van dié kerke en "privatiseer" hul geloof deur in klein groepies byeen te kom. Sulke groepies identifiseer sterk met die kerk van die vroegste eeue omdat die huidige kerke die essensie van Christenwees verloën het.

Dreyer onderskei die volgende drie kerklike groeperinge: tradisioneel-georganiseerde kerke, met daarbinne die "transformasionele" kerke, en (derdens) die post-institusionele groepering.

Wat is die posisie van Afrikaners in dié verband? Dreyer noem drie redes waarom daar "...nie van Afrikaners as 'n Christelike volk..." gepraat kan word nie. Hieromtrent mag ons saamstem óf verskil.

Volgens Dreyer is daar, ná 'n steekproef-ondersoek, 'n paar jaar gelede bevind dat, in Alberton, 50% van Afrikaanssprekendes "...geen verbintenis met 'n kerk het nie." In sensusopnames speel "desirabilty bias" 'n rol deurdat mense antwoord volgens hulle dink hoe hulle behóórt te antwoord. Vir die werklike prentjie kan dié syfers halveer word.

Afrikaner-kerkbywoning staan tans op tussen 25% en 30%. Daar kán dus nie "...van Afrikaners as 'n Christelike volk..." gepraat word nie. Gevolglik dwing dit Afrikaanse kerke om te herbesin oor maniere van kerkwees.

Volgens Dreyer blyk desentralisering, as teenvoeter vir die huidige sentralisering, na 'n lewensvatbare moontlikheid in kerkwees. Hy voorsien ook 'n fase van "...groot verskuiwings in die denke oor wat kerkwees behels."

Wat 'n tragedie in Afrikaner-volksgeledere!                (ngn)

Thursday, 7 October 2010

Kotze se stap wys op erns van omgee

A.Kotze se brief, "Boek toon evolusie is onmoontlik" (DB,02.10), verwys. Hierin sê Kotze dat hy dr. Hennie Mouton se boek, Verken Lewenswetenskappe verder  -  'n kritiese evaluering van evolusie, "...aan 'n paar skole geskenk en die terugvoering...was dat die boek 'n wonderlike hulp is om die waarheid aan die kinders te leer  -  soos vervat in die Bybel."

Wat Kotze gedoen het, berus op 'n briljante gedagte. Ek verseker hom graag van my volle ondersteuning. Organisasies van welke aard wat hulle vir die toekomstige welsyn van die Suid-Afrikaanse jeug beywer, kan gerus oorweeg om Kotze se voorbeeld te volg.

Enigeen wat wil weet hoe om Mouton se boek(e) te bekom, is welkom om met my te skakel ter wille van ons kinders. Dieselfde geld ook indien belangstellendes die boeke van P.J.Pelser, soos Die Evolusie Illusie en The Hoax of Darwinism and The African Eve  -  a challenge to the minister of education, wil bekom.

Ons moenie dié boeke sien as plaasvervangend van die Bybel, as ons primêre Bron oor die skepping, nie, maar eerder as aanvullend en toeligtend daartoe. Die Bybel staan beslis in die voorste linie in Christene se verdediging teen evolusie-aanslae. Efesiërs 6:17 sê juis vir ons: "...vat die swaard van die Gees, dit is die Woord van God" as deel van ons wapenrusting.

Op grond waarvan beweer ek dat die Bybel ons primêre Bron in ons verweer teen evolusionisme is? Jesus self het vir ons dié voorbeeld gestel. Toe Jesus by drie geleenthede deur Satan versoek is, het Hy Satan telkens vanuit die Skrif geantwoord en só op sy plek gesit (Lukas 4:1-13). Dawid het Saul se krygsharnas uitgetrek en Goliat "...in die Naam van die Here die Almagtige verslaan..." (1 Samuel 17:45).

Kotze besef beslis hóé gebrekkig ons kennis van die Bybel is; vandaar sy stap wat dui op die erns van sy omgee.

Tuesday, 5 October 2010

Onwaar:Kotze kies, besluit nié vir jou

Onderwyser asook ouer se brief, "Moenie vir ander kies oor evolusie" (DB,05.10), verwys. Hierin sê die skrywer: "Evolusie word deesdae in skole op vergelykende vlak met godsdiens onderrig."

Ek vind dié bewering besonder veelseggend. Wat bedoel die skrywer met die uitdrukking, "vergelykende vlak"? Sou ons aanvaar dat "gelyk" die grondwoord in "vergelykende" is, laat dit 'n interpretasie toe waarvolgens die skrywer mag bedoel dat evolusie en godsdiens op 'n "gelyk(e) vlak" verkeer.

Indien dit die skrywer se bedoeling is, stem ek daarmee saam. Evolusie is inderdaad 'n vorm van godsdiens, van geloof. Soos wat ek glo in die Bybelse skeppingsverhaal, so glo ander in evolusie. Beide is 'n uitdrukking van geloof en, wat my betref, wedersyds uitsluitend.

Om na ander te verwys, soos dr. Louw Alberts, is 'n persoonlike keuse om die eie standpunt te probeer regverdig. Indien nodig, doen dit gerus. Ek lees in die Woord dat ek juis daartéén gewaarsku word, soos in Jeremia 17:5 wat sê: "So sê die Here: Daar rus 'n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai..."

Dit verbaas my dat 'n onderwyser kan sê: "Evolusie word...op vergelykende vlak met godsdiens onderrig." Ek was nog altyd onder die indruk dat godsdiensonderrig op skool onderskeibaar is van die Lewenswetenskappe-leerarea waarbinne dié leerinhoude in terme van evolusie aangebied word. Word evolusie dan ook deesdae as deel van die multi-religieuse godsdiens-leerarea aangebied?

Ek verskil van die briefskrywer dat Kotze probeer "...om vir ander te besluit deur evolusie as 'n onwaarheid af te maak..." Kotze is geregtig op sy standpunt soos die briefskrywer op syne.

Volgens die briefskrywer se standpunt oor evolusie is hy, as onderwyser, iemand aan wie ek my kind nié ongekontroleerd wil blootstel nie. Ander ouers voel dalk ook so.

Monday, 4 October 2010

Durf Christene dié gebeure ignoreer?

In, "Moenie dink kiesers se lojaliteit is outomaties" (DB,01.10), berig Leopold Scholtz dat die Partij voor de Vrijheid (PVV) die nuwe Nederlandse koalisie-regering gaan help om 'n parlementêre meerderheid te verkry. In ruil hiervoor word "...sterk optrede teen toekomstige Moslem-immigrasie...(en om) die Islam as godsdiens, en Moslems as sodanig, in dié land tot die minimum te beperk", van PVV-kant verwag.

Dié PVV-ingesteldheid is nié sonder rede nie. In, "Terreurplan in Europa gefnuik" (DB,30.09), berig Scholtz: "'n Grootskaalse terreuroperasie waarin Moslem-terroriste teikens in Duitsland, Frankryk en Brittanje sou aanval, is pas verydel..."

Die aanvalle van jihad-Moslems op die "Twin Towers" in New York, met 'n lewensverlies van nagenoeg 3 000 onskuldiges, is relatief vars in ons geheue. Newt Gingrich berig dat Moslems beplan om 'n mega-moskee van dertien verdiepings   -   Cordoba House   -   binne sigafstand van Ground Zero (waar die Twin Towers was) op te rig, terwyl daar alreeds 'n honderd moskees in New York bestaan.

Rick Mather, sendingwerker onder gevangenes in VSA-tronke, sê hy moes onlangs 'n jaarlikse sessie bywoon ten einde sy werk onder gevangenes te kon voortsit. Tydens dié geleentheid het ook 'n Moslem-imam 'n inset gelewer waarna vrae toegelaat is. In antwoord op vrae het dié imam toegegee dat die meeste imams en geestelikes 'n heilige oorlog (jihad) teen alle nie-Islamgelowiges verklaar het; dat Moslems opdrag ontvang het om "nie-gelowiges" te dood,om, sodoende, 'n plek in die hiernamaals te verseker.

Geert Wilders, leier van die PVV in Nederland, verwys na die "Islamisering" van Europa. Hy sê 'n massa-Moslemmigrasie vind plaas en Moslemwoonbuurtes spring soos paddastoele op in Europese stede. As minderheidsgroepe stel dié immigrante eise, terwyl hulle weier om tot die gebruike van hul gasheerland te konformeer.

Durf Christene dié gebeure ignoreer? Swyg hulle hieroor omdat die geloofsout in hulle laf geword het?  (ngn)

Wednesday, 29 September 2010

Laat kerk en ouers kinders in steek?

My vorige brief het, volgens Brieweblad se keuse, onder die opskrif, "Mag leerkragte kinders so mislei?" (DB,22.09), verskyn. My voorstel vir 'n opskrif was, "Gee ouers nie meer om vir kinders nie?", om daarmee aan te dui dat my brief aan ouers eerder as leerkragte gerig was.
Van die Lewenswetenskappe-leerkrag se onbenydenswaardige situasie is ons wel deeglik bewus. In "Evolusieleer in skole is realiteit wat bly  -  Hanekom" (DB,15.11.08), sê mnr. Derek Hanekom, adjunkminister van wetenskap en tegnologie, "...dat (die) evolusieleer in Suid-Afrikaanse skole geleer word en daar aangehou sal word om dit te doen."

Met hierdie uitspraak gee die ANC, deur Hanekom, nie net toestemming aan leerkragte om evolusie te onderrig nie, maar inderdaad die opdrag daartoe. Derhalwe is daar begrip vir die posisie van dié leerkrag in die klaskamer.

Brieweblad se briefopskrif óf leerkragte kinders mag mislei, is egter geweldig belangrik. Vanuit beide 'n opvoedkundig-onderwyskundige én Christelike perspektief, is die antwoord ondubbelsinnig, nee! Vanuit 'n ANC-perspektief is die antwoord egter ondubbelsinnig, ja!

Die vraag aan predikante, ouers en leerkragte is: By watter van hierdie standpunte skaar u uself? In my skrywe van 22.09 het ek gewys op die standpunt van enkele Christenleerkragte hieromtrent, wat Christenouers tot nadenke behoort te stem. Uit sodanige standpunt van sommige Christenleerkragte is dit nie duidelik of hulle wel evolusie-georiënteerde Christene, of Christelik-georiënteerde evolusioniste is nie. Hoe dit ook al sy, volgens wat die Bybel ons leer, is dit nié moontlik om tegelyk Christus en die evolusieleer aan te hang nie.

Waaroor dit wél hier gaan, is die beskerming van Christen-verbondskinders teen die evolusieleer en die rol daarin van, spesifiek, Christenleerkragte, maar óók hul blootstelling aan nie-Christenleerkragte.

Met die duidelike tendens dat die kerk nie langer waak oor die onderwys van sy doop- én belydende lidmate nie, is die vraag of ook óúers nie toenemend hul kinders in die steek laat nie.

Tuesday, 21 September 2010

Gee ouers nie meer om vir kinders nie?

Gedurende die afgelope eksamen moes matrikulante weer eens vrae beantwoord oor evolusie in die leerarea Lewenswetenskappe, Vraestel 2.
Die verandering van die vaknaam Biologie na Lewenswetenskappe verteenwoordig 'n paradigmaskuif binne dié vakgebied. Die wetenskapsfilosoof, Thomas S. Kuhn, vergelyk 'n paradigmaskuif met 'n "bekeringservaring", wat dit inderdaad ook is wat betref sommige leerkragte binne dié vakgebied.

Uit gesprekke met leerkragte wat hierdie vak aanbied op skool, blyk daar nie eenstemmigheid te wees oor die wenslikheid van die ongekontroleerde blootstelling van kinders aan evolusie-inhoude nie. Van hierdie leerkragte, ook as belydende Christene, is heel gelukkig om te aanvaar dat hulle van aapagtiges afkomstig is. So beweer een leerkrag: Niemand het God nog ooit gesien nie; hoe kan daar dan bewys word dat God nie ook maar soos 'n aapagtige voorsaat lyk nie? Hierdie Christen-leerkrag het duidelik vergeet dat Jesus gesê het: "En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het" (Johannes 12:45).

God, 'n Wese wat kwansuis "evolueer"? Is dit wat die Bybel ons leer? Nee! Maleagi 3:6 sê: "Ek, die Here, het nie verander nie..."

Meer as een van dié evolusie-ondersteunende Christen-leerkragte beroep  hulle ook op hul skoling deur Christendosente synde "pragtige Christengelowiges" te wees. Wil hierdie leerkragte te kenne gee dat hulle veel eerder hul opleiers glo as die Woord van God?

Indien leerkragte, as volwassenes, dan só maklik vatbaar is vir beïnvloeding deur "wetenskaplike leermeesters", hoeveel te meer nie ons kinders nie? En die ouers? Wat onderwysers sê, is mos onaantasbaar, of hoe? Durf ouers onderwysers teengaan?

Sommige vakklaskamers het inderdaad geestelike oorlogzones en slagvelde geword. Statistiek uit sowel die VSA (dr. Kent Hovind) as SA (prof. Branch) bevestig dit. Leerkragte mag wel glo wat hulle wil, maar mag hulle kinders mislei? En ouers   -   is hulle self nie meer waarheidsoekend ingestel nie, en/of gee hulle net nie meer om vir hul kinders nie?

Tuesday, 14 September 2010

Verwaarloos jeug, en vernietig die toekoms

'n Besoek aan die kinderafdeling van 'n klerewinkel vestig opnuut die aandag op die "boodskappe" wat kinderklere "adverteer".
"The last hope for humanity rests in the hands of an alien"; "Ben 10 Alien force"; "The whole planet is mine!!! And you should please me!!!"; "Batman Dark Knight"; "The secret Saturdays"; "Evolution" en "Serpiente (slang) Revolution", is maar enkele van dié boodskappe wat kinderklere "adverteer".

Myns insiens, is hierdie "advertensies" voorbeelde van "boodskappe" vanuit 'n oord wat op subtiele wyse op geestelik-weerlose en hedendaags-kwesbare kinders gemik is. Dit is ongetwyfeld deel van die volgehoue bombardemente op ons Christelike geloofsvesting met die jeug as uitgesoekte teiken.

Gemelde voorbeelde is waarskynlik nog "mak" in vergelyking met wat elders ter wêreld vir dié doel van kindermisleiding     -   deur middel van allerlei variasies van okkultiese en demoniese simbole   -   gebruik word om die kind weg te lei van Jesus Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker.

Volwassenes wéét hoe beïnvloedbaar en vatbaar kinders is vir dié voorstellings van karakters wat maklik tot navolgenswaardige "held" verhef en spontaan mee geïdentifiseer word. Ouers versterk dit verder deur 'n verjaardagpartytjie rondom so 'n "held" in te klee.

Waarom sal 'n ouer voorkóm dat sy kind aan 'n giftige slang blootgestel word, maar nié teen geestelike vergiftiging nie? In Lukas 11:11-12 vra Jesus: "Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee...of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?"

Is daar ouers wat besig is om vir hul kinders "slange en skerpioene" te gee wanneer hulle om "vis of 'n eier" vra wanneer dit kom by die voorsiening in die kind se behoeftes?

Die hand wat die wieg skommel, bepaal die toekoms. Verwaarloos die jeug, en vernietig só ons geloofstoekoms.

Friday, 3 September 2010

Los staking en veg ANC by die stembus

In opvoedkundig-onderwyskundige kring ken ons die waarheid én trefkrag van die uitdrukking : Woorde wek, maar voorbeelde trek. Daar is ongetwyfeld inherente gesag, én mag, opgesluit in voorbeelde. Die huidige staking is grootliks toe te skryf aan die invloed van die voorbeeld van die selfverrykende ANC-leiers.

Vir etlike jare reeds sien ANC-ondersteuners toe hoedat hul leiers hulself verryk terwyl hulle, die lojale ondersteuners, net dieper in armoede versink. Daar móét 'n keerpunt kom én 'n verskuiwing plaasvind. Ongelukkig vind dié verskuiwing nie plaas volgens die tipiese Afrika-idee van "ubuntu" nie, maar in navolging van die eiebelang-voetspoor van die ANC-base se voorbeeld van persoonlike selfverryking.

Die huidige staking moet hoofsaaklik voor die deur van die ANC se inhalige leierskorps, en die invloed van hul korrupte voorbeeld, gelê word. So beweer die Cosatu-leier, Zwelinzima Vavi, dan ook tereg dat "...Suid-Afrika se  'korrupte politieke elite'  besig is om die land in 'n  'volbloed-roofdierstaat'  te omskep...politieke hiënas (wat) die staat toenemend gebruik om ryk te word..." (DB,27.08).

Volgende in dié selfverrykende ANC-leiersvoetspoor, vind ons in die staking tegelyk ook 'n uitdagende werkersmagsvertoon binne ons demokratiese vryemarkstelsel. Dié staking blyk méér as net 'n konflik van belange tussen werker en werkgewer te wees. Dit bevat ook 'n sterk element van "werkers-regstellende-aksie". As die ANC-base dan die gans wat die goue eiers lê kan beroof, waarom dan nie ook die ANC-klase nie?

Alhoewel daar begrip is vir die werkers se frustrasie en woede met hul leiers, is die meganismes waarvan hulle gebruik maak om hul doel te bereik  -   geweld, intimidasie, infrastruktuur-vernietiging en onskuldiges se dood in hospitale   -    onaanvaarbaar en verwerplik. Die aanvaarbare weg is om die ANC-selfverrykendes by die stembus te beveg.

Monday, 30 August 2010

Dankie aan DA vir 'n spoedige antwoord

Dankie aan mnr. Athol Trollip, parlementêre leier van die DA, vir sy direkte skakeling met my in antwoord op my vraag soos in my brief, "Kosrantsoenering 'n DA-alternatief?" (DB 25.08), aan die DA gerig rakende dié se grondhervormingsbeleid.

My brief was in reaksie op media-beriggewing waarin dit gestel is dat me. Zille voorgestel het "...dat boere aan hul werkers 'n aandeel van 50%  in hul belange gee." My vraag aan die DA het gekom vanuit die kwelvraag van "gee", soos deur die media gerapporteer. My vraag is geïnisieer eerder deur onvolledige media-beriggewing as misverstaan.

Die gemiddelde persoon besef dat grondbesit 'n baie kontensieuse, sensitiewe én emosionele aangeleentheid is waaromtrent verskillende kultuurgemeenskappe ook uiteenlopende perspektiewe nahou.

Naas die voortplantingsdrang is die drang na grondbesit   -   primêre voorwaarde vir lewe en voortbestaan   -   een van die heel sterkstes by die mens. 'n Belangrike oorsaak vir die Tweede Wêreldoorlog is juis die feit dat die Geallieerdes ná die Eerste Wêreldoorlog Duitsland van gedeeltes van sy grondgebied ontneem het en Hitler dit vir die Duitse volk wou terugwen.

Etlike duisende S.A. boere is al tydens plaasaanvalle vermoor, 'n nasionale tragedie waarvoor die ANC oogluikend vere voel en, daarteenoor, Robert Mugabe vrye teuels laat in sy onteiening van wit Zimbabwiese plaasboere met rampspoedige gevolge soos hongersnood en ekonomiese agteruitgang. Watter seine stuur dit vir ons eie wit boerderygemeenskap en ons land?

Terwyl sommige swart Afrika-state suidwaarts na ons wit boere as produktiewe voedselverbouers kyk en hulle noordwaarts probeer lok, is dieselfde boere egter 'n bedreiging vir óns land se kleptokrate,magsvrate en nepotiste in regeringsposisies. Sonder enige sweem van rassisme kan gesê word dat dit in hoofsaak die wit boerderygemeenskap en hul plaaswerkers is wat tussen ons en hongersnood staan.

Onsekeres kan gerus me. Zille se "Suksesvolle en produktiewe grondhervorming is moontlik in Suid-Afrika" aanvra en bestudeer. 

Thursday, 26 August 2010

Geweldsperspektief is vals, verwronge

Prof. Jonathan Jansen se artikel, "Leiding vereis liefde asook onversetlikheid" (DB,24.08), verwys.

Jansen plaas die blaam vir die huidige deur gewelds-gekenmerkte staking voor die deur van die vorige regering. Hy vertrek vanuit ene Mahmood Mamdani se stelling: "Die hede is nie sy eie verklaring nie", en vertolk dit sodanig dat hy tot 'n vals en verwronge gevolgtrekking kom.

Jansen ly duidelik aan historiese miopie én kontekstuele blindheid; vandaar sy onvermoë tot 'n insigtelike perspektief op die huidige geweldsoorsake.

Die volgende getuig van Jansen se simplistiese perspektief wanneer hy sê: "...ons land (is) eeue gelede uit geweld en verowering gebore. Die apartheidsregering het mense met reëlmaat gemartel en doodgemaak, en geweld deel van ons sosiale kultuur gemaak...(sodat dit) in ons samelewing geïnstitusionaliseer geraak (het)."

Kan Jansen gemesmeriseer wees deur die Franse Rewolusie-filosowe se valse bon savage-idee? Hy kan homself gerus opnuut weer vergewis van Afrika se eie geweldsgeteisterde verlede vóór die koms van die Europeërs hierheen; asof dit Afrika ontbreek aan sy eie geweldsbloedspoor en selfs kannibaal-diktators soos 'n Idi Amin.

In sy boek, Fool's Gold for Africa, deel dr. Bruno Bandulet in 'n afsonderlike hoofstuk, Death in Africa, sommige van dié vasteland se gewelddadige verlede-wreedhede, met sy lesers.

Bandulet sê: "...the question of democracy is not on the African agenda...(they) are only similar to Western democracies in their outward form, not in the content of the political system...The real scourge of the continent is...violence and murder, to which millions have fallen victim since independence."

In ons eie land "...Chaka paid homage to his dead mother by clubbing  7 000  prisoners to death."

Jansen se geweldsperspektief is ongetwyfeld vals en verwronge.                                         (ngn)

Monday, 23 August 2010

Is kosrantsoenering 'n DA-alternatief?

Daar is in die media berig dat me. Helen Zille, DA-leier, voorgestel het dat boere 'n 50%-aandeel in hul boerderybelange aan hul werkers moet oordra. Hiervoor het sy applous ontvang van me. Joemat-Pettersson, ANC-minister van landbou, asook van plaaswerkers en afgevaardigdes tydens 'n onlangse spitsberaad oor plaasarbeid op Somerset-Wes.

Lesers van hierdie beriggewing vind dit moeilik om te glo; daarom sien ons graag dat dié voorstel óf bevestig óf as onwaar deur die DA verwerp word. Indien waar, moet die DA ook die kort-, medium- en langtermyngevolge wat voorsien word (soos die moontlikheid van toekomstige kosrantsoenering) uitspel.

Indien van boere verwag kan word om 50% van hul boerderybelange in landelike gebiede af te staan, waarom kan daar dan nie ook van huiseienaars in dorpe en stede verwag word om 50% van hul woonerwe vir plakkers beskikbaar te stel, en, nog later, selfs 50% van hul woonhuisruimte aan dakloses af te staan nie?

'n Belangrike vraag wat uit so 'n potensiële scenario voortvloei, is óf die implementering van dié Zille-voorstel die breë S.A.-samelewing "vorentoe" of agteruitwaarts sal laat beweeg. Sal dit bestaande probleme oplos, of net verder vererger?

Sien die DA die onteiening van plase, volgens die Zimbabwiese-model, as onvermydelik ook op die pad van S.A.-boere te wees, en derhalwe dié tydige voorstel, asook potensiële steunwerwing onder die kieserskorps met die oog op die volgende algemene verkiesing? Dalk moet die DA herinner word aan die spreekwoord: Gee jou pinkie, en jou hele hand word gegryp.

As Christengelowige onderskryf ek die apostel Jakobus (1:27) se definisie van egte en suiwer godsdiens wanneer hy sê: "...om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan...", asook Jesus se uitspraak: "Die armes het julle altyd by julle.." (Matteus 26:11).

Met verminderende skaars hulpbronne, wonder ek of DA-ondersteuners hulself kosrantsoenering as moontlike alternatief vir die huidige bedeling kan voorstel.

Monday, 9 August 2010

Hoe lyk predikante-opleiding vandag?

George Claassen, selfverklaarde ateïs en evolusionis, se voordrag gelewer tydens die heropening van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria, asook die onlangse standpunt van prof. Piet Strauss, NGKerk-moderator, oor evolusie, het dié kerk skerp in die openbare kollig geplaas.

Hierdie kerklike gebeure dien as groot bron van kommer vir sommige lidmate oor die koers wat sommige NGKerk-teoloë tans inslaan. Een so 'n besorgde lidmaat is dr. Hennie Mouton wat 'n stuk getitel, "Teologiese opleiding: 'n al groter wordende krisis", opgestel en aan die Kuratorium van die NGKerk voorgelê het.

Hierin wil Mouton, heel tereg, weet waaraan teologiese studente toenemend blootgestel word in ons kweekskole. Benewens ander geloofstandpunte van sommige UP-teoloë, stel Mouton ook spesifiek hul Bybelstandpunte.

So sê prof. Julian Müller, "...ek aanvaar doelbewus dat daar 'n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het" en dat hy "...onherroeplik aanbeweeg het en gefassineer en geïnspireer word deur nuwe denkraamwerke oor God."

Van prof. Willie Esterhuyse se boek, "God en die gode van Egipte", waarin Esterhuyse sê hy "...neem finaal afskeid van...die 'wil' of die 'hand' van God, die lang godsdienstige tradisie waarmee hy grootgeword het", sê prof. Gerda de Villiers dat Esterhuyse se boek "...beslis 'n aanwins (is) in die eenogige geloofslewens van die Afrikaanse Christendom."

Dr. Ben du Toit, skrywer van die Andrew Murray-bekroonde boek, "God? Geloof in'n postmoderne tyd", verklaar daarin dat hy baie groter geloof het in evolusionistiese oorsprongswetenskappe as in die oorspronggegewens van Genesis 1 tot 3." Prof. Jurie le Roux sê hy kan nié oor Abraham preek omdat hy Abraham "nie histories kan 'bewys' nie."

Mouton spreek sy diepe kommer uit wanneer hy sê dat "...gelowiges al meer en meer (moet) besef dat hierdie dosente wat die toekomstige predikante oplei, en selfs sommige van die huidige predikante mislei, besig is om grootskaalse dwaling te saai met die dodelike gevolge   -   ongeloof."

Thursday, 5 August 2010

Ondersteun Strauss se Skrifbeskouing


Afgetrede Dominee se skrywes, "Gelowiges kan ook wetenskap beoefen" (DB,05.08) en "Nuwe vertaling van Bybel is dalk nodig" (DB,28.07), verwys. Dit is met groot skok én teleurstelling dat ek dit gelees het en wonder terselfdertyd waarom hy agter 'n skuilnaam wegkruip.

Die evolusiegesprek betrek onvermydelik die Bybel én God as die outeur daarvan. Uit sy skrywes word dit duidelik dat Afgetrede Dominee God as Skepper erken, maar nié vir God as Geïnspireerde Skrywer van Sy Woord erken nie. Dit blyk dááruit dat hy verwys na "...die mitiese karakter van...die Ou Testament (waarin die Skeppingsverhaal beskryf word)...", en hy wil hê dat dit "...hervertaal moet word, binne die jongste wetenskaplike konteks..." waaronder ook evolusie as "wetenskap" gereken word.

Hy vra dan ook of prof. Piet Strauss, NGK-moderator, "...so totaal oningelig kan wees oor die moderne wetenskap, wat ...evolusie...insluit." Verder sê Afgetrede Dominee, Strauss se "...spesifieke Skrifbeskouing is baie verdag en Middeleeus dogmaties"; daarom "...dat hedendaagse (ingeligte) Christene hul toevlug neem na 'n kerkdiens in die Thirst Pub & Grill in Pretoria..."

Afgetrede Dominee, u standpunt oor die Bybel en evolusie verteenwoordig maar slegs één van vele standpunte. George Branch, emeritus-professor in Dierkunde aan die UK, onderskei vier sulke tipes standpunte. Ook André van Zyl, in sy artikel, Evolusie op skool - Wat staan 'n Christenouer te doen?, onderskei óók vier standpunt-tipes.

Ek neem kennis van u standpunt, maar deel dit nie en verwerp dit geheel en al. As NGK-lidmaat is dit vir my belangrik om te verneem na die standpunt van die NGK-leierskap. Selfs hierdie standpunt van 21-22 Junie 2009 van die Moderamen wat lui: 1. evolusie is 'n wetenskap; 2. evolusie mag maar in skole onderrig word, en 3. lidmate moet maar sélf oor evolusie besluit, vind ek bedenklik.

Tans skaar ek myself volledig by die, volgens u, "Middeleeuse" Skrifbeskouing van prof. Strauss.

Friday, 30 July 2010

Mág ons weet wie Tutu wérklik is?

Neels Jackson se artikel oor Tutu, "'n Profetiese stem gaan rus" (DB,29.07), herinner aan die uitdrukking: Van die hand na die mond val die pap op die grond. In dié artikel het heelwat Tutu-pap op die grond geval wat nie by die mond (die lesers) aangeland het nie. Mág ons vra wié Tutu wérklik is?

In sy artikel, Praat die Kerk die taal van Babilon?, op 22.07.2010 in JUIG! Tydskrif gepubliseer, sê Errol Naidoo die volgende van Tutu: "Baie mense is deesdae nie seker of hy (Tutu) 'n spreekbuis vir die Kerk of vir die wêreld...is nie. Hy het nou al male sonder tal Bybelse konsepte soos geestelike weergeboorte, redding deur Jesus Christus alleen, sondebelydenis en straf as absolute twak afgemaak. Tutu het selfs so ver gegaan as om die term 'homofobies' ...te gebruik om die God van die Hemel te dreig.

Hy het male sonder tal in sy veroordeling van die Anglikaanse Kerk gesê dat hy beslis nie 'n 'homofobiese' God sal dien nie...(want) sou God nie hierdie sonde van Sy veroordeling van homoseksualiteit bely nie, die grote Tutu, die liefling van die sekulêre media, Hom nie langer sal dien nie!" God wat Sy sonde moet bely volgens Tutu?

In sy boek, NGKerk:Reformeer of...Disintegreer?, sê Pieter Pelser: "Die absolute gelykmaking van alle godsdienste is reeds deur Aartsbiskop Desmond Tutu gepromoveer toe hy gesê het, 'God does not only belong to Christians', en 'God is clearly not a Christian." Pelser haal ook die Britse Daily Telegraph van November 1984 aan wat rapporteer dat Tutu gesê het (soos vertaal): "Jesus was 'n revolusionêr. Ek is 'n revolusionêr. Elke Christen moet 'n revolusionêr wees...Een jong man met 'n klip in sy hand kan veel meer bereik as wat ek met 'n honderd preke kan bereik."

Kan die media ons dan nie maar vertel wié die wáre Tutu is nie?                              (ngn)

Monday, 26 July 2010

Dié kritiek lyk nie goed deurdink nie

Dewald Strydom sê in sy kritiek op my brief, "Onderwys 'n groter prioriteit as sport" (DB,21.07) : "T.C.Breitenbach, jou siening dat onderwys 'n groter prioriteit as sport is, is niksseggend. Maak liewer 'n paar uitvoerbare voorstelle as om met groot woorde te speel..." (DB,24.07).

My prioritisering is vermoedelik net vir Strydom "niksseggend"; vir die meerderheid dalk veelseggend. Prioritisering is nasionaal-belangrik. So het ons almal met skok ontdek dat misdaad en -voorkoming onder 'n korrupte en misdadiger-bevriende polisiehoof, Jackie Selebi, nooit 'n ANC-prioriteit was nie.

Strydom se opmerking oor "uitvoerbare voorstelle" antwoord ek graag. Hiervoor vind ek aansluiting by kritiek op die vorige bedeling toe kritici gesê het: "No normal sport in an abnormal society." My vraag is of ons nóú 'n normale samelewing het soos gekenmerk deur onaanvaarbare korrupsie-, misdaad-, moord-, verkragting- en werkloosheidsyfers.

Is sport, as voorbeeld, nóú genormaliseer en 'n ware weerspieëling van 'n genormaliseerde nasionale samelewing, of bly sport steeds aan die knelband van 'n "nuwe samelewingsketting"? Vind ons in die huidige "genormaliseerde" bedeling wel die heilige graal waarna daar in die verlede gesoek is? "Uitvoerbare voorstelle" moet teen dié agtergrond gesien word.

Wat Strydom miskyk, is dat "uitvoerbare voorstelle" onderlê word deur 'n voorwaardelike lewensvatbaarheid daarvoor binne 'n genormaliseerde omgewing. Alle regerings-onaanvaarbare voorstelle in 'n ANC-daargestelde wanbalansig-geprioriseerde abnormale bedeling, is blote wensdenkery, sinloos en tydverkwistend.

Ek daag Strydom uit om, by wyse van voorbeeld, "uitvoerbare voorstelle" vir die herinstelling van die doodstraf binne die huidige ANC-klimaat te formuleer. Ek onderneem om sy vordering daarmee te moniteer. Daar is 'n groot verskil om op die kantlyn te staan en raas, en om 'n aktiewe speler op die speelveld te wees waar jy deur die reëls van die dag (owerheid) gebind word. Om die reëls te verander, moet die reëlmaker eers vervang word.

Dié Strydom-kritiek lyk vir my ondeurdag.

Tuesday, 20 July 2010

Onderwys 'n groter prioriteit as sport

Weinig openbare reaksie, ook in brieweblad, op die mislukte UGO-stelsel, is tegelyk ontstellend én veelseggend. Ontstellend omdat daar afdoende bewys is dat die ANC nie langer met ons S.A.-onderwystoekoms vertrou kan word nie. Die plofpotensiaal van mislukte onderwys, ons grootste nasionale bate, is geweldig. 'n Nasionale debat oor onderwys is, daarom, verreweg veel dringender as 'n rassismedebat.

Veelseggend omdat die onderwysfront-aanvoerders, van sowel die hede as die verlede, deur uiterste swygsaamheid gekenmerk word. Die algemene publiek, op sy beurt, aanvaar skynbaar dié mislukking as net nog maar die soveelste ANC-gewoonteflater, en besef nie die implikasie-omvang van mislukte onderwys vir ons land en sy toekoms nie.

Selfs in gevestigde en sterk mededingende demokrasieë besit 'n onderwysinploffing die potensiaal om - vanweë die krities-belangrike nasionale funksie van onderwys - 'n regering tot 'n val te bring.

Die ANC se erkenning dat sy onderwysstelsel misluk het, is geen waarborg vir 'n suksesvolle onderwystoekoms nie. Die gebrekkige belangstelling in en apatiese ingesteldheid van ons samelewing teenoor onderwys - soos ook die geval is met Afrikaans as onderrigtaal op skool én universiteit - is 'n groot bron van kommer. Ons sal ons móét tevrede stel met dit wat ons verdien.

Die ANC se tydsberekening vir die bekendmaking van sy onderwysmislukking was goed beplan. Dié aankondiging is gemaak toe die WB-sokkertoernooi, met sy euforie en oordonderende vuvuzela-geraas, onderwys tot agter die horison van nasionale verantwoordbaarheid verding het.

Gaan die ANC toegelaat word om sy impotensie tot die verskaffing van gehalte-onderwys agter die skerms van swyende onderwyskritici, samelewingsapatie en slim ANC-skuiwe te verberg? Wat sê dit van onderwys as 'n nasionale prioriteit, ons posisie in 'n mededingende wêreldgemeenskap, interne nasionale stabiliteit, ons plig teenoor toekomstige geslagte, ons werksetos en nasionale trots (bestaan daar so iets?) en algemene beskawingsvooruitgang?

Ons grootste uitdaging lê daarin om ons sportmal S.A.-menseskaar daarvan te oortuig dat onderwys 'n groter nasionale prioriteit as sport is - eers onderwys, dan sport.

Saturday, 17 July 2010

Jansen was reg in sy kritiek op UGO

Prof. Jonathan Jansen lig in sy artikel, "Die argitekte van UGO het nou skielik verdwyn" (DB,13.07), ses verwoestende gevolge van dié "...verderflike proefneming...(en) die ramp wat..(dit) oor ons kinders gebring het..." as gevolg van "...die ideologiese projek van die ANC-regering", uit.

Om Jansen verkeerd te probeer bewys, kan alleen vanuit 'n indoktrinerend-ideologiese vetrekpunt gedoen word wat nié opvoedkundig-onderwyskundig verantwoordbaar is nie.

Jansen stel dit egter eufemisties as hy oordeel dat slegs UGO misluk het. Die onderwysstelsel, bestaande uit veel méér as nét UGO, het in sy geheel misluk. Om die Jansen-vermelde   -   soortgelyke én selfs erger   -   gevolge in die toekoms te vermy, moet ook die oorsake deeglik ondersoek word.

Jansen meld die volgende oorsake: 1. "...die gebruik van internasionale kundiges (onkundig oor S.A. se unieke onderwyssituasie en -behoeftes)...(wie se) deftige konstruksieteorieë talle van (ons kinders) ongeletterd gehou het." 2. Die UGO-promoverende "...senior burokrate...het (geen) kundigheid gehad in die teorie, ontwerp of inwerkingstelling van die kurrikulum nie...'n kurrikulum wat 'n brose leeromgewing nog slegter gemaak het...(vir) reeds benadeelde kinders..." 3. Die talle wat "...UGO verwelkom (het) as die kuur vir apartheidskennis...", is gekenmerk deur onbeholpenheid.

Benewens hierdie oorsake, kan nog vele meer bygevoeg word, soos: aannames aangaande die mens (algemeen) en die kind (besonder) se potensiaalontsluiting is van 'n pseudo-aard;  die implimentering van UGO is nié voorafgegaan deur 'n loodsprojek om proefondervindelik vas te stel of dit geskik is vir S.A.-behoeftes nie;  kultuurverskille en -behoeftes is irrelevant geag;  oorbeklemtoning van die groep ten koste van die individuele presteerder;  nie-leerondersteunende huislike agtergronde word onderskat;  onderwysersopleiding word nie vooraf gegaan deur deeglike beroepsvereistelike keuring nie;  afdwinging van Engels as onderrig-leertaal. Verdere onderwyskundig-legitieme oorsake is ook ter sprake.

Jansen móét gelyk gegee word dat hy korrek is in sy UGO-kritiek.

Saturday, 10 July 2010

Hoe rasioneel is swart solidariteit?

Daar is twee kenmerke betreffende ons swart landgenote wat my nog altyd fassinerend oor hulle laat verwonder het, en dit is, eerstens, hul oënskynlike blymoedigheid ten spyte van die haglikste omstandighede, en, tweedens, hul onwrikbare solidariteit met hul eie mense, ongeag sulke omstandighede.

Enkele jare gelede het prof.D.F.M.Strauss, van die Departement Filosofie aan die Vrystaatse Universiteit, 'n artikel geskryf oor "kritiese solidariteit" waarbinne hy drie fases onderskei. Eerstens is mense solidêr met mekaar aangaande 'n bepaalde saak. Algaande begin hulle verskil en noem hy dié fase kritiese solidariteit. Nog later vergroot dié verskille sodanig dat kritiek breek met solidariteit en in die laaste fase net kritiek oorbly.

In die 70-ger en 80-ger jare van die vorige eeu is swart onderwysgriewe der mate ideologies uitgebuit dat dit tot grootskaalse boikotte en vandalisme sou lei om 'n dekade later die apartheidsregering omver te werp. In dié polities-gedrewe onderwysstryd teen "gutter education", is 'n ganse geslag van die swart jeug opgeoffer na wie as die "lost generation" verwys is.

Ironies, én tragies, genoeg, het die toenmalige bevrydingslagspreuk van "liberation before education" egter in die gesigte van die huidige geslag van die swart jeug ontplof in die vorm van hul eie, plaasvervangende, dog mislukte, onderwysstelsel   -   'n tweede geslag van die swart jeug is opgeoffer vir swart ideologiese ideale.

In die lig van Strauss se fases van solidariteit, kan 'n mens net wonder of dié mislukte swart onderwysstelsel swart mense enigsins sal laat beweeg na kritiese solidariteit, al dan nie   -   en daarmee saam na kritiek teen die ANC   -   en of hulle steeds onwrikbaar aan swart solidariteit gaan vasklem, ongeag hul eie benadeling.

Indien die swart meerderheid bly vashou aan lojale solidariteit teenoor 'n mislukkende regering, noem ek dit irrasionele solidariteit wat ons land gevange gaan hou in agteruitgaande verval en die daaropvolgend verknegtende armoede van alle landsburgers.            (ngn)

Monday, 21 June 2010

Fifa wys hierdeur dubbele standaarde

Vanweë die agtergrondsgeskiedenis van 16 Junie   -   deur die ANC tot Jeugdag verklaar   -   was my indruk nog altyd dat dit eintlik maar 'n dag is waarop die swart jeug spesiaal in die kollig kom, en nié soseer die wit-, bruin- en Indiërjeug nie. Geniet laasgenoemde dieselfde mate van regeringsaandag, of is dit maar 'n taamlik eensydige dag?

Maar is dit egter net die ANC wat realisties verdink kan word van dubbele standaarde wat die SA-jeug betref? Wat van FIFA en die wêreld-sokkergemeenskap? Kom ons kyk.

Daar word berig dat AfriForum Jeug enkele dae gelede 'n internasionale bewusmakingsveldtog oor FIFA, Peter Mokaba, plaasmoorde en HIV/VIGS geloods het en wat dusver reeds wye steun geniet.

In dié veldtog beweer AfriForum Jeug dat die ANC-regering en FIFA 'n onregverdigbare heldeverering vir Peter Mokaba het. FIFA het, op versoek van AfriForum Jeug, geweier om sy heldeverering vir Mokaba van sy webblad te verwyder; vandaar die internasionale bewusmakingsveldtog.

Wie was Peter Mokaba nou weer? Hy was 'n voormalige president van die ANC Jeugliga en word veral onthou vir sy sing van "Kill the Boer, kill the farmer!", die aanhitsing van sy ondersteuners tot rassegeweld en plaasmoorde, asook sy beïnvloeding van die ANC-regering om HIV/VIGS te ontken, en hom só aandadig gemaak het aan die dood van duisende mense.

Billikheidshalwe vra AfriForum Jeug óf FIFA en die sokkerspelende lande sal toelaat dat sokkerstadions na diktators en mensemoordenaars, soos vroeër in Duitsland (Hitler), Serwië en Argentinië, vernoem word? FIFA en wêreldsokker het egter géén probleem met die naam van Peter Mokaba vir die Polokwane-stadion nie.

Is dit nie 'n voorbeeld van onverbloemde dubbele standaarde van FIFA en wêreldsokker nie?

Saturday, 19 June 2010

Ons opdrag om te vergewe

Freddie se brief, "Engelse, 'joiners' gaan nog boet" (DB,19.06), moes almal wat dit gelees het waarskynlik tot diepe nadenke gestem het. Hy sê: "...ek (het) nie van die Engelse gehou nie, en so sal dit wees tot my dood...(oor) wat hulle aan ons gedoen het..." Die versoeking is groot om ongekwalifiseerd saam te stem.

Onvergewensgesindheid is iets waarmee ons almal die een of ander tyd worstel. En tog, Christengelowiges staan onder die baie duidelike Bybelse opdrag om mekaar te vergewe. Om voor dié opdrag te buig, is seker een van die moeilikste dinge; veral sewentig maal sewe keer.

In die "Onse Vader"-gebed vra ons juis om van ons skulde vergewe te word na die mate wat ons ons skuldenaars vergewe. Aan die kruis vra Christus Sy Vader om Sy moordenaars te vergewe tot voorbeeld vir ons.

Nader aan ons eie tyd gee die Godsman, Bybelvertaler, Psalmberymer en digter   -   Totius   -   uitdrukking aan die belangrikheid van vergiffenis in sy "Vergewe en vergeet", 'n tydlose gedig wat juis na die ABO verwys en, derhalwe, die Engelse impliseer.

Ek behoort tot 'n geslag opgevoed deur gelowige Christenouers wat, paslik, troosvolle wyshede aan 'n kindergemoed kon oordra   -   dikwels in gesinsverband   -   soos: Die wiel sal draai. God slaap nie. God's meule maal langsaam, maar gewis. God sê aan Hom kom die wraak toe.

Mag ons vergewensloos bly teenoor hulle wat lank gelede dalk reeds deur God vergewe is? Kan ons die dood tegemoet gaan en mense onvergeef agterlaat?

Christus is die Man vir Vergiffenis; Satan nié. Om nie te vergewe nie, is deel van die geestelike oorlogvoering van ons dag. Kom ons vergewe hulle wat ons verontreg het, en put besieling uit ons voorgeslagte wat wél húl vyande kon vergewe.

Tuesday, 15 June 2010

Is daar niks goeds in die verlede nie?

Christian Martin se brief, "Indoktrinasie so oud soos volkere" (DB,11.06), verwys.

Dankie, Martin, dat u in u kritiek, waarop u geregtig is   -   en ongeag dat ons skerp mag verskil betreffende die ANC   -   die integriteit openbaar om tussen debat (saak) en debatteerder (persoon) te onderskei. Dit is meer as wat van my felste kritici gesê kan word wat baie duidelik nié oor dié onderskeidingsvermoë beskik nie. Volle krediet hiervoor aan u wat nie die menswaardigheid van diegene, van wie u verskil, aantas nie.

Onlangs lees ek 'n brief van u aangaande 'n kind wat iewers met sy plakkaat sit en bedel het. U het met dié kind gesels, die bewoording op sy plakkaat verander, en só 'n positiewe ingesteldheid by dié kind bewerkstellig. Dit beklemtoon juis u persoon-in-debat.

In u brief erken u die positiewe deur te sê : "...julle indoktrinasie het so goed gewerk dat...selfs van my eie volksgenote, apartheid...as goed en beter beskou." Treffend hiervan is nié, primêr, sommige bruin mense se mening oor apartheid nie, maar die feit dat u na hulle as "my eie volksgenote" verwys. Ek aanvaar dus dat u begrip het oor hoe ek oor my volksgenote voel.

U sluit u brief af met : "Jy (Breitenbach) is nie altyd verkeerd in sekere van jou sieninge nie." Hierdie toegewing verg beslis baie om dit van jou teenstander te sê.

Geeneen van ons kan die verlede ongedaan maak nie, maar kan daaruit leer. Nog minder begeer enigeen 'n terugkeer na 'n ongewysigde verlede. Hóé dié wysiging egter teweeggebring word, is van deurslaggewende belang vir die toekoms van vreedsame naasbestaan in 'n multikulturele samelewing.

Is daar dan níks goeds in die verlede, vir die ANC, waarop die toekoms voortgeset gebou kan word nie?

Saturday, 12 June 2010

Hou maar eerder by stadions verby

Gedurende die 2006 Wêreldbeker-sokkertoernooi was ons op 'n vlugtige toer deur Duitsland, Oostenryk, Italië en Switzerland. Die grootskerm TV-uitsendings in plekke soos die Marien-platz in München, Salzburg en Innsbruck, was 'n belewenis om lewenslank te onthou. Die "sokkergees" en -geesdrif het werklik 'n aansteeklike uitwerking gehad. Met Duitsland, die gasheerland, se sokkeroorwinnings, kan ek self getuig van die waarneembare Duitse opgewondenheid waarna die pers verwys het as een van die eerste tekens van die herlewing van die Duitse volksgees ná die Tweede Wêreldoorlog.

Daar is dus onteenseglik groot geesdrif   -   wat ook kan oorspoel na die nasionale terrein   -   waardeur so 'n internasionale toernooi gekenmerk word. In dié opsig is Zelda Jongbloed reg as sy in haar artikel, "Almal moet SA se groot prestasie erken" (DB,07.06), sê : "Dit gaan óók...vir ons as 'n nasie om ons volkstrots te vind..."

Wat Suid-Afrika se aanbieding van dié toernooi betref, is daar egter één ding wat my ernstig pla   -   en ek sê dit vanuit die perspektief van 'n Christengelowige   -   en dit is die sogenaamde "seëning" van alle sokker-stadions deur toordokters en tradisionele genesers waartydens die voorvadergeeste se welwillendheid in gebede aangeroep is.

So berig Buks Viljoen van Beeld (26.05) in "Ox killed to bless stadiums" : "An ox was slaughtered at the Soccer City stadium...to bless the country's stadiums for the FIFA World Cup...the stadium was blessed by about 300 sangomas (diviners) and inyanga (traditional healers)...(who) called on African ancestors and God to ensure a successful World Cup. They also communicated...the proceedings to the other stadiums in the country 'spiritually'."

Ek sal maar eerder by die voorvaderlik-geseënde stadions verby hou en die "jolkolle"   -   soos in 2006 in Europa   -   oorweeg.

Wednesday, 9 June 2010

ANC indoktrineer met oorlogsfoto's

Die Burger-berig (29.05), "Oorlogsfoto's in vraestel laat kinders huil", verwys.

Hierin word berig dat kinders "...erg ontstel (is) deur grusame foto's uit die Tweede Wêreldoorlog wat deel van hul geskiedenis-vraestel uitgemaak het." Dis duidelik; dié foto's moet méér as 'n historiese doel dien.

Die geskiedenis-gedeelte van die vraestel vir graad 9-leerders weerspieël 'n subtiele kontrastering van die apartheids- en ANC-ideologieë. Aan die hand van prentevoorstellings moet leerders apartheidswetgewing   -   soos dié op afsonderlike geriewe, verbod op gemengde huwelike en instromingsbeheer   -   kan identifiseer én ook kan verduidelik hoedat weerstandsbewegings en Umkhonto Wesizwe apartheid beveg het.

Op subtiele wyse word die apartheidsvergrype gekoppel en gelykgestel aan die gruweldade van die Nazi-bewind. Dis duidelik hoedat die NP- en Nazi-bewinde saam gegroepeer, en die S.A.-anderskleuriges en Jode saam gegroepeer word, 'n flagrante wanvoorstelling van onvergelykbare historiese gebeure; doelbewuste misleiding van kinders.

Dis tog bekend dat die "struggle"-vriende en bondgenote van die ANC in hoofsaak kommuniste is. Die ANC-onderwysowerhede durf dit nie waag om soortgelyke gruwelfoto's van kommunistiese gruwels onder Stalin, Mao Tse Tung en Pol Pot gepleeg, in vraestelle op te neem nie; dit sal hul eie ideologie ontmasker. Nazisme is lankal verslaan; kommunisme nie. Dit is steeds mét en tússen ons.

Onderriginhoude, soos weerspieël in gemelde vraestel, is opsigtelik van 'n breinspoelende aard met die doel van die jeug se aanvaarding van die ANC-ideologie. Hierdie inhoude dien die doel van ideologiese indoktrinasie.

Hierdie inhoude laat geen illusie oor waarheen die ANC met die S.A.-jeug onderweg is nie. Ouers én onderwysers wat nie hierteen gaan optree nie   -   om 'n herhaling te voorkom   -   laat die jeug in die steek. Die jeug is ons toekoms. Moenie hulle in die steek laat nie.