Thursday 13 May 2010

Afrikaner se werk bevoordeel ander

In 'n onlangse uitgawe van die Uitenhage-Despatch Nuus (UD,06.05), is lesers meegedeel dat die plaaslike Engelse meisieskool   -   Riebeek College   -   vanjaar 133 jaar oud is.

Soos wat die oudste tegniese hoërskool in ons land   -   HTS Daniël Pienaar   -   weens die inisiatief van die plaaslike NGKerk tot stand gekom het, so het ook Riebeek College onder die leiding van dieselfde NG-gemeente van Uitenhage tot stand gekom.

In sy boek, Ligbaken aan die Swartkops, vertel ds. A.P.Smit die ontstaansverhaal van dié skool. Hoeveel van ons dorpsbewoners is hiermee bekend?

Tot in 1877 het onderwysgeriewe vir meisies op Uitenhage veel te wense oorgelaat. Die Rooms-Katolieke Kerk se voorneme om 'n kloosterskool vir dogters te open, het die plaaslike NGK-leraar, ds. Steytler, finaal laat besluit om tot die stigting van 'n meisieskool oor te gaan. Gebrek aan geld het dit vooraf verhoed.

Op 16 Januarie 1877 het ds. Steytler, namens die NG-gemeente van Uitenhage, "...de nieuwe School vir jonge dames (Riebeek House)..." geopen. Dié skool sou vir "degelyke verstandsontwikkeling" en "grondige godsdienstig onderwys" voorsiening maak.

Mej. G.Hearson, "...'n besonder knap dame uit Europa...", was die eerste hoof van hierdie "Eerste Klas Meisjes School". Ds.Steytler het sélf  "...onderwys gegeven in...ons zoo dierbare moedertaal, de taal onzer vaderen, de taal ook van onze Kerk."

Vanaf 1880 was dié skool 'n volwaardige kerkskool, bestuur deur die kerkraad. Mettertyd het die skool dermate verengels dat Hollands met 'n beskeie plekkie tevrede moes wees.

Weldra kon die NG Kerk nié meer die geldelike las van twee skole dra nie   -   die ambagskool die ander een. In 1886 is finansiële staatsteun aanvaar wat van Riebeek-Kollege 'n "goewermentskool" gemaak het.

Vandag pluk Engelssprekende wittes, swartes én bruines die vrugte van die inisiatief van die Afrikaner en sy kerk ; net nog 'n voorbeeld van hoe Afrikaner-inisiatiewe ander tot voordeel strek.

No comments:

Post a Comment