Saturday 1 May 2010

Ware Afrikaner nie bang vir identiteit

Jan van Jeffreysbaai (JvJ) se SMS, "Breitenbach is dus nie 'n Afrikaner nie, want hy koppel homself nog aan Europa! Ek is hier gebore en wit, dus is ek 'n trotse wit African" (DB,30.04), verwys.

Mooi gedoen, JvJ, hiermee tipeer jy jouself as 'n "wit African", en ek myself as 'n Euro-Afrikaner   -   beide beslis Afrikaners, maar behorende tot verskillende Afrikanertipes. Hiermee bevestig jy ook juis dit wat ek in my vorige brief (DB,29.04) gesê het, naamlik dat ons mense wat hulself Afrikaners ag, moet toelaat om hul eie Afrikanertipe te kies; dis hul demokratiese reg! Hier het jy dit so pas gedoen.

JvJ, val dit jou ook op dat jy my Afrikanertipe aanval, maar dat ek joune nie aanval nie? Kan 'n mens tegelyk demokraties   -   dit wil sê ander hul grondwetlike vryheid van keuse gun   -   én onverdraagsaam wees?

JvJ, ek vind jou basiese vertrekpunt   -   "hy koppel homself nog aan Europa" (herinner baie aan die PAC se "settler"-gedagte, en onwelkom in SA)   -   nie net belaglik nie, maar totaal absurd. Ek verduidelik.

Indien JvJ verwag dat ek sy standpunt moet aanvaar, moet hy eers vooraf bereid wees om na die VSA te reis om daar vir álle Amerikaanse burgers wat hulself "Afro-Americans" noem, te gaan oortuig dat hulle hulself moet losmaak van Afrika as kontinent van hul herkoms indien hulle   -   volgens JvJ se absurde denke   -   as wáre VSA-burgers wil kwalifiseer.

JvJ, ek betaal jou vliegkaartjie én alle kostes ten volle indien jy die "Afro-Americans" tot die laaste man van jou sotlike siening kan oortuig.

JvJ, kom uit agter jou SMS'e en neem deel aan die Brieweblad-debat soos 'n wáre Afrikaner, soos in jou eie oë gestel, wat nie bang is om sy vólle identiteit bekend te maak nie ; ook vir sy mede-Jeffreysbaaiers.

No comments:

Post a Comment