Thursday 29 April 2010

Definisies nie van pas oor Afrikaners

Stef Delport se brief, "Afrikaner wil Afrikaner wees" (DB,27.04), verwys. Hy sê : "Dit is...sinloos om ander te probeer definieer soos Breitenbach probeer doen...(en) om Afrikaners in 'n blik te wil druk met eng definisies." Dis 'n moedswillige leuen van Delport! Ek daag Delport uit om vanuit énige van my briewe   -   wat handel oor die identiteitsbehoud van die Afrikanervolk te wys waar ek met "...eng definisies..." vorendag kom.

Delport is dié man vir definisies! In sy brief van 18.08.2008, "Afrikaners het verskeie identiteite", sê hy : "...my definisie is...'n Afrikaner is iemand wat 'n Afrikaner wíl wees, en basta verder." Nóú sê Delport : "Ons Afrikaners is 'n volk of groep sonder afgebakende grense." Jammer, maar ek verskil van dié Delport-definisie. Beskou Delport homself as die standaard-definisiesteller?

Kom ons bly weg van definisies oor Afrikaners. Kom ons werk eerder met 'n tipologie van Afrikaners van 'n akkommoderende aard waarvolgens elkeen wat homself 'n Afrikaner ag, sigself   -   volgens realistiese keuse   -   binne 'n bepaalde tipe plaas.

Swart Amerikaners plaas hulself as "Afro-Americans" binne 'n Amerikaner-tipologie. Soortgelyk plaas ek myself as Euro-Afrikaner binne 'n Afrikaner-tipologie. Só besluit elkeen vir homself.

Definisiedenke vir ons situasie is futiel én gevaarlik. Tipologiedenke is, primêr, 'n beter opsie as definisiedenke wat eers intra-tipologies, sekondêr, toepaslik word.

No comments:

Post a Comment