Saturday 17 April 2010

Kreasioniste beskik oor heel beste nuus

Jurie van den Heever se artikel, "A. sediba is slegte nuus vir kreasioniste" (DB,10.04), verwys.

Arme Van den Heever, en evolusioniste soos hy, dat hulle nou hul toevlug moet neem tot die spreekwoordelike "aanval is die beste vorm van verweer".

Wat die jongste "vonds", die "...allernuutste oorgangsvorm, Australopithecus sediba..." (tussen aap en mens) betref, sê Van den Heever: "Dit is weer eens slegte nuus vir die kreasioniste." Hoe oppervlakkig, onseker en kwesbaar is die evolusiedenke tog nie om hul "anti-skeppingsgeloof" slegs op tasbare "bewyse" te wil bou nie. Christene se geloof is by uitstek veranker juis in die onsigbare, en nié slegs die sigbare waarvan evolusioniste so diep afhanklik is nie. Tot watter desperaathede gaan evolusioniste hulself nog wend om hul "anti-skeppingsgeloof" te propageer? Christengelowiges benodig geen tasbare bewyse vir dit waarin hulle glo nie, te wete die Drie-enige God as die Skepper van hemel en aarde en Sy onfeilbare Woord.

Dit wat evolusioniste glo, het geweldige nadoodse implikasies vir die mens. Evolusie bied géén hoop aan die anderkant van die graf nie. Vir Christene is daar beslis lewe ná die dood. Die aardse bestaan is slegs die deurgang daarheen. Evolusioniste gaan 'n skrikwekkende prys betaal op die oordeelsdag, ook vir hul doelbewuste misleiding van onnadenkende mense. Warom nie kennis neem van die NDE-getuienisse ("near death experiences") nie?

Nee, Van den Heever, jammer om jou teleur te stel. Kreasioniste beskik oor die heel beste nuus van alle tye ooit:  Jesus Christus het in jou en my plek gesterf, ons sondeskuld volkome betaal, ons met die Vader versoen en nooi ons om van Sy uitnodiging tot redding gebruik te maak.

Hierdie brief het in Die Burger (Oos-Kaap) van 17-04-2010 verskyn.

No comments:

Post a Comment