Monday 5 April 2010

Ontwaak tog uit dié utopiese droom

Jonathan Lawack se brief, "Reënboognasie kán gestalte kry" (DB,31.03), verwys.

Deur emosioneel-oorspoelde taal te gebruik teenoor diegene van wie jy verskil, val ongetwyfeld in swak smaak en dien ook nie jou saak nie. Laat ons daarom verkieslik die rasionele weg volg.

So, byvoorbeeld, sê Lawack: "Breitenbach...het...die vermetelheid om rojaal (?) aan te haal uit sy rassistiese alter ego, Trotse Bruin Man, se skrywe...(en) almal kan jul vuil, rassistiese onderklere sien uithang...(terwyl) julle Sondag na Sondag baie vroom jul plekke in die kerkbanke warm sit...en hier (in jul briewe) probeer julle die bresse slaan vir daardie gehate (Ontug-)wet...Julle is politieke anachronismes..."

Lawack moet waarskuwend tot versigtigheid gemaan word dat sy roekelose bewerings nie dalk té naby aan die haatspraak-definisie beweeg nie. Vermy liewer dié semeltaal ; daaruit kan relevante afleidings gemaak word.

Die Lawack-denke is beslis nie demokraties nie. Lawack moet vir my en Trotse Bruin Man tog die Grondwet-artikels kwoteer waarvolgens ons verbied word om ons onderskeie identiteite te mag handhaaf, en ons só, volgens hom, aan rassisme skuldig maak.

Dit ontbreek Lawack baie duidelik aan die spreekwoordelike goeie begrip (wat net 'n halwe woord benodig) vanweë sy onvermoë om tussen die begrippe "volkseie" en "rassisme" te kan onderskei. Hy sê : "...onder die dekmantel van nasionalisme (volkseie) andere minder mens te laat voel..." Belaglik!

Die doodstraf is afgeskaf tot groot nadeel van die ganse samelewing, en moordenaars kan nou lewenslank teer op belastingbetalersgeld. Van die "aangeklaagde, skuldigbevinde en veroordeelde" Afrikanervolk se nageslag word verwag om, volgens Lawack-denke, "selfmoord" te pleeg. Ag nee, Lawack, ontwaak tog uit jou utopiese droom (nagmerrie)!

No comments:

Post a Comment