Saturday, 10 April 2010

Oorkom bitterheid en gaan vooruit

Soos Lawack, vra ek ook om vergun te word om  "'n laaste woord te spreek"  in ons briefwisseling, en te reageer op sy opmerking : "...T.C.Breitenbach se neerhalende repliek..."

Hoewel ek sy opmerking jammerlik vind, wens ek hom nietemin geluk dat hy sy vlak van debatvoering aansienlik gelig het (opreg bedoel; geen sarkasme). Die opskrif van sy jongste brief, "Só moet dinge mos nie gedoen word" (DB,08.04), pas dus sy verhoogde debatsvlak soos 'n handskoen.

Myns insiens lê die antwoord op verskille nié in beledigings, verwyte en die misgunning (en verpolitisering) van mekaar se (volks-)identiteite nie. Dit lê op 'n meta-vlak, dit wil sê op 'n vlak wat uitstyg bokant voorgemelde.

Om dus die badwater (verlede) met kind (Afrikanervolk) en al te wil uitgooi, is beslis nie die oplossing nie. Waarom wil ons die verlede vernietig terwyl ons juis uit die lesse daarvan moet leer?

Dalk het bruin mense nie eers in dieselfde mate "gely" onder wit Afrikaners (1948-1994) as wat Afrikaners "gely" het onder die Engelse (1806-1961) nie. Afrikaners kan beslis voorbeelde aanvoer van pogings om beide bruin én swart in hierdie land op te hef. Dieselfde kan egter nie van die Engelse ten opsigte van Afrikaners gesê word nie.

Die wyse waarop Afrikaners in die verlede op hul verliese en vernedering gereageer het, was nie dié van volgehoue verbittering en verwyte nie. Nee, hulle het telkens met God se hulp hul bitterheid oorkom en vooruit gegaan.

Die "fout" lê nie by die Skepper nie, maar by die skepsels. Die "reënboognasie" is so 'n voorbeeld waarvan ek nêrens in die Bybel lees nie.

Ek sien geen rede waarom die Afrikanervolk en bruin mense nie, as landgenote, kan saamwerk nie, dog sonder om mekaar se slaapkamers te wil binne "stormram".

No comments:

Post a Comment