Ek vind dit besonder betekenisvol dat, sedert my brief - "Bruines span saam teen Afrikaners" (DB,16.03) - verskyn het, dit slegs mans was wat my verkwalik het vir wat ek daarin gesê het asook wat in briefwisseling daarop sou volg : Emile Koen (DB,20.03), Johan de Lange (DB,20.03), Chris (DB,30.03), Gerrie Kruger (DB,01.04;06.04), Jonathan Lawack (DB,31.03;08.04) en Jan van Jeffreysbaai (DB,09.04) - sommige wit, sommige bruin.
In kontras met dié "mansbriewe" word die briefbydraes van vroue gedurende dieselfde tydperk, myns insiens, gekenmerk deur 'n gemeenskaplik-behoudende (konserwatiewe, as u wil) gees : Isabel Jonck (DB,05.04), Rhona (DB,07.04), Karin (DB,09.04), Maria (DB,09.04), Judith (DB,10.04), Sonia (DB,10.04) en Ronel Snyman (DB,10.04).
Vir hierdie vroue se standpunte en bydraes het ek groot waardering. Hulle herinner sterk aan 'n volksgesinde pioniersvrou van Kaapstad wat 'n passie openbaar het vir haar volksgenote in die Boererepublieke tydens die ABO en haar met hulle vereenselwig het, naamlik Marie Koopmans-De Wet.
By geleentheid het 'n vername buitelandse besoeker vir haar gesê : "But, Mrs. Koopmans, you are conservative", waarop haar antwoord was : "Certainly, Sir, I am conservative, for I possess something worth conserving." Dit is dié gees van 'n Koopmans-De Wet wat ek in die gemelde vroue se bydraes lees.
Ek weet egter van nog méér vroue wie se harte óók so klop. Hoe weet ek dit? Hulle praat met my ; mans weinig, en gevolglik wil ek begin dink dat vroue lojaler aan hul volk is as mans. Kan vroue nie ook verder in die toekoms sien as mans nie?
Dus : in wie se hande lê die toekoms van die Afrikanervolk - in dié van Afrikanermans, of Afrikanervroue? Ek meen laasgenoemde.
No comments:
Post a Comment