Saturday 3 April 2010

Slaap gerus in bed wat jy self opmaak

Gerrie Kruger se brief,  "Haal die oogklappe af oor taal, ideale" (DB,01.04.2010), verwys.

Aangesien hy identifiseer met Chris se brief,  "Sê wie almal deel is van 'ons' volk" (DB, 30.03.2010), deur Chris te bedank  "...vir 'n uitstekende brief"  en byvoeg :  "Jy slaan die spyker op die kop!", verwys ek Kruger na my brief,  "Jy besluit self of jy lid van dié volk is" (DB,01.04.2010), as tegelyk ook my antwoord aan hóm.

In Engeland is die Afrikaanssprekende die vreemdeling, die buitestander, die besoekende gas   -   dis nie jóú vaderland nie, en is dit vanselfsprekend 'n kwessie van : "When in Rome, do as the Romans do."

Ek het twee seuns daar, het hulle reeds twee keer besoek en het derhalwe 'n redelike idee wat van hulle, as Afrikaanssprekendes, daar vereis word. Vir Kruger om dus te argumenteer : "...ons (moes) leer dat ons nie eksklusief is nie en om jouself te isoleer, gaan jou nêrens bring nie. Oorlewing was belangriker as taal.", is totaal irrelevant.

In die vreemde is dit vanselfsprekendhede, maar my indruk is dat Kruger die Engeland-konteks met die SA-konteks vergelyk, indien nie daaraan wil gelykstel nie.

As Afrikaanssprekende is sy dogtertjie nou Engelssprekend, waarteen hy geen beswaar het nie. Ook hierdie argument van Kruger is irrelevant. Daar is vele Afrikaanssprekendes wat presies dieselfde in hul eie vaderland doen.

Kruger is egter reg wanneer hy sê : "...die nuwe geslag Afrikaanssprekendes sal self besluit op ons ideale en toekoms, dankie, T.C.Breitenbach."

Onthou egter dat sommige besluite, omgesit in handelinge, van 'n finale onomkeerbare aard kan wees waarvoor spyt dalk te laat mag wees. Ons slaap mos maar in die bed wat ons self opgemaak het, dan nie?

No comments:

Post a Comment