Thursday 1 April 2010

Jy besluit self of jy lid van dié volk is

Chris se brief, "Sê wie almal deel is van 'ons volk' "(DB,30.03), verwys. Hierin sê hy: "...T.C.Breitenbach moet...sê wie nou eintlik die 'ons volk' is..." Ek voldoen graag aan dié versoek.

Op Glaukon se vraag : wie is die ware filosowe (lees:'ons volk'), antwoord die Griekse wysgeer, Sokrates(470-399 v.C.), soos volg : hulle wat die soeke na die waarheid (lees : van 'ons volk') liefhet.

Chris, in hierdie analoë beeld lê my antwoord aan jou opgesluit. Soos wat elke antiek-Griekse filosoof sigself vir "ware filosoofskap" moes beoordeel volgens die eie waarheidsoeke, so moet ek en jy ook self besluit oor ons lidmaatskap, al dan nie, van 'ons volk' (Afrikanervolk) aan die hand van ons eie waarheidsoeke aangaande dié volk.

Swart mense sê vir my jy kry die liefde vir die eie met moedersmelk in. Deur, onder meer, my grootmoeder se vertelling van volksverhale, het ek geleer om te identifiseer, te assosieer en te konformeer met my mense, die Afrikanervolk. Dit is aangevul deur my Vrystaatse oudstryder-oupa se deelname aan die ABO, asook my pa se vernedering tydens WO2 omdat hy, as Afrikaner, nie die "Rooi Eed" wou aflê nie.

Chris, die antwoord op jou vraag lê by niemand anders as net by jouself nie.Lees gerus in die Nuwe FAK-Sangbundel (1961) die woorde van dié liedere onder "Volk en Vaderland" (bv. lied 29 : Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra...); neem kennis van ons monumente en gedenktekens; bring besoek aan konsentrasiekampkerkhowe; lees ons gedokumenterde volksgeskiedenis; ens. ens.

Hierin sal jy die gees van 'ons volk' vind. Toets jouself hieraan, en beantwoord só self jou vraag.

No comments:

Post a Comment