Wednesday 14 April 2010

Evolusie-verhaal is dán net fantasie

Elsabé Brits se artikel, "Nuwe hoofstuk in menslike evolusie" (DB,09.04), verwys.

In dié artikel word die leser bekend gestel aan die jongste "oorgangskakel" van die aap na die mens, Australopithecus sediba. Die begrip Australopithecus beteken "suidelike aap".

Ek vind dit vreemd dat daar na dié aap-fossiele as "...'n jong vrou en kind (seun)..." verwys word, begrippe wat op die méns betrekking het; nie op ape nie. Dieselfde geld "Mev. Ples" as Australopithecus africanus ('n aap).

Australopithecus sediba is kwansuis 'n "...oorgangsfossiel tussen die ouer Australopithecus africanus en die eerste Homo-spesies wat direk tot die mens aanleiding gegee het."

Dr. Hennie Mouton reageer hierop soos volg: "...die bewerings dat hierdie aap (Australopithecus = suidelike aap) beslis regop geloop en gehardloop het, interesseer my, veral omdat hulle duidelik geen voete gevind het nie, of indien wel, ondersteun die voete beslis nie hul bewerings nie, anders sou hulle dit as rede uitgebasuin het. Dit is ook insiggewend dat hulle nóú bereid is om te erken dat Australopithecus africanus (Mev. Ples) viervoetig was. 

"Die probleme met die voriges word tipies eers deur die evolusioniste erken sodra hulle 'n volgende 'beter' een ontdek. Dit lyk of die gebrek aan of verkeerde voete (van Australopithecus sediba) hulle in die voet bly skiet."

Dat dié "fossiele" in 'n "natuurlike doodstrik" geval het, kan evolusioniste glo as hulle wil. Ek glo dat dit daar ingespoel is tydens die wêreldvloed in Noag se tyd, en dus ook nie noodwendig plaaslik van oorsprong hoef te wees nie, maar dalk van elders. Indien dit nie die geestelik-vernietigende dood van die mens in sigself omgedra het nie, kon die "evolusie-verhaal" as een van die grootste fantasie-verhale vir liggelowige kinders in menseheugenis beskou word.

Hierdie brief het in Die Burger (Oos-Kaap) van 14-04-2010 verskyn.

No comments:

Post a Comment