Tuesday 27 April 2010

Kaf word nou van die koring geskei

Johan de Lange se brief, "TC se omarming vals, kunsmatig" (DB,22.04), verwys.

Hy sê dadelik: "Ek wil nie graag met T.C.Breitenbach in 'n intellektuele bekgeveg betrokke raak nie..."  Reg so ; vir emosionele vloermoere ("tantrums") sien ék weer nie kans nie.

Ek vind De Lange   -   selfaangestelde segsman vir bruines?   -   se pleidooi vir laasgenoemde besonder interessant. Waarom nie dié mense vir hulself laat praat nie, of dink u (uit die hoogte?) hulle is onbekwaam daartoe? Waarom u net oor bruines ontferm en nie ook oor swartes nie? Dis mos diskriminasie!

Kan De Lange wérklik so naïef wees om te kenne te gee dat hy nié weet wat met "...sonder om mekaar se slaapkamers te bestorm..."  bedoel word nie?

Lees Rhona se brief, "Dis nie rassisties, dis net ras-eg" (DB, 07.04), en beskou háár goed gestelde standpunt daarin ook as myne.

De Lange beskuldig my vernederend van "...diepgewortelde rassisme..." , en sê vervolgens : "...in dié opsig verskil hy weinig van die...Dozi's en Steve Hofmeyrs..."

Met hierdie verfoeilike uitlatings is dit duidelik dat De Lange die rassekaart speel. En sou ons vra wie tradisioneel dié kaart speel, is die antwoord eenvoudig : Rassiste self ; hulle ken die rassistiese spel ten beste.

De Lange blyk, myns insiens, 'n neo-filantroop te wees. Filantrope, soos 'n dr. John Philip van die Londense Sendinggenootskap, en sy leuens en valse beskuldigings teen die grensboere by die Britse owerhede, het gedurende die vroeë 19de eeu 'n wrang smaak by ons voorgeslagte gelaat.

Gaan dié geskiedenis sigself herhaal met die potensiële verskyning van neo-filantrope in ons midde om verhoudinge met hul sogenaamde "edele bedoelinge" te beduiwel?

De Lange, jy sal nog agterkom dat ons tans 'n tyd beleef waarin die kaf gaandeweg van die koring geskei gaan word.

No comments:

Post a Comment