Thursday 8 April 2010

Volkwees nie gelyk aan eksklusiwiteit

Gerrie Kruger se brief, "Eksklusiwiteit nie meer prakties in SA" (DB,06.04), verwys.

Hoedat Kruger daarby uitkom dat ek "...op eksklusiwiteit...aandring" en "isolasie" voorstaan, sal net hy kan verduidelik. Hy sê: "Die...eksklusiwiteit wat blanke Afrikaners...geniet het, is verby."

Ek daag Kruger uit om te wys waar ek in enige van my briewe 'n pleidooi lewer vir "eksklusiwiteit" en/of "isolasie". Nee, deurgaans gaan dit vir my oor my volk en sy identiteitsbehoud. Dit is dus duidelik die resultaat van Kruger se eie interpretasie.

Wanneer Kruger sê: "Om vandag nog...op eksklusiwiteit te wil aandring...", is my vraag aan hom : Indien "volkwees" vir hom "eksklusiwiteit" beteken, wat dan van die Zoeloes, die Xhosas en ander se behoudend-trotse ingesteldheid teenoor hul eie etnisiteit (volkwees)? Onthou, ook hulle is almal, soos die Afrikanervolk, minderheidsgroepe. Staan hulle ook skuldig aan "eksklusiwiteit", of net die Afrikanervolk? Wat maak ons skuldig en hulle onskuldig?

Na vier jaar se verblyf in Engeland is Kruger terug in S.A. Ek gee hom dus die voordeel van die twyfel dat hy nog nie mooi besef dat die wit Afrikaners die enigste minderheidsgroep is wie se identiteit onder geweldige druk verkeer om dit prys te gee nie.

Is dit ongrondwetlik om die eie identiteit te wil behou, en, indien jy dit wil handhaaf, "isoleer" jy jouself noodwendig soos wat Kruger te kenne gee as hy sê: "...die noodwendige gevolg sal isolasie wees"?

Nee, Kruger, dit het absoluut niks met "eksklusiwiteit" en/of "isolasie" te make nie, maar wel alles met die skeppingsbeginsels van "eenheid-in-die-verskeidenheid" én "verskeidenheid-in-die-eenheid" waarvan jy gerus kennis kan neem.

Oor jou vraag oor "taal" en "volk" : Pannevis, Hoogenhout, D.F.du Toit en S.J.du Toit sê in hul "Die Afrikaanse Volkslied" : 'n Ieder nasie (volk) het syn TAAL.

No comments:

Post a Comment