Monday 19 April 2010

Waardes en 'n stabiele samelewing

Jonathan Lawack se brief, "Ons dobber in see van onsekerheid" (DB,19.04), verwys. Hierin plaas hy, myns insiens, die vinger op die reeds ver-ontsteekte septiese samelewingswond wanneer hy sê : "Ons waardestelsel het in duie gestort."

Reeds vroeër sê Lawack (DB, 14.04) : "My norme en waardes word...nie bepaal deur...'n grondwet nie"   -   'n betekenisvolle opmerking waaruit ek wil aflei dat die grondwet nié ons állerbron van waardes kan wees nie.

Vanuit 'n wysgerige perspektief kom elke individuele mens, en elke vakwetenskap, te staan voor die volgende drie vrae : Wat is werklik? (vakwetenskappe: kosmologie, ontologie, antropologie); Wat is waar? (vakwetenskap: epistemologie, kenteorie of kennisleer) en: Wat is waardevol? (vakwetenskap: aksiologie of waardeleer).

Vanselfsprekend hang ons antwoorde op dié vrae met mekaar saam. Wat vir my waar(-heid) is, kom vanuit wat vir my werklik is, en is tegelyk ook vir my waardevol.

Dat ons 'n wyd-uiteenlopende antwoordgewing op dié drie vrae onder die multikultureel-saamgestelde SA-bevolking het, is 'n feit. Elke individu beskik oor 'n eie, persoonlike waardestelsel as geprioriseerde waardes, gerangskik volgens 'n rangorde van waardevoorkeure.

Die ANC probeer 'n nuwe waardestelsel vestig waarvoor hy veral die skole aanwend. Al sou alle landsburgers dieselfde waardes onderskryf, is dit géén waarborg dat almal dit tot 'n eenders-geprioriseerde waardestelsel gaan orden nie.

"Lewe" en "higiëne" is twee voorbeelde van waardes. "Lewe" is nie vir almal bó aan die waardelys nie; so ook nie higiëne nie. Mense gee te kenne dat ons almal dieselfde waardes   -   eendersgeordend   -   onderskryf. Dit is egter nie waar nie.

Daar bestaan verskillende en botsende waardestelsels in ons samelewing wat ook onversoenbaar blyk te wees. Dit kan juis 'n vonk word vir die vernietiging van die lewenswaardevolle dinge. 'n Stabiele samelewing vereis 'n menswaardige waardestelsel.

No comments:

Post a Comment