Wednesday 7 April 2010

Verbeelding sal jou dán niks help nie

Koot Pieterse se brief, "Wetenskaplikes is te besig vir drome" (DB,03.04), verwys.

Pieterse sê: "Ek sien die deerniswekkende beeld van 'n verbete dr.T.C.Breitenbach op sy getroue perd, Rosinante, en met Sancho Panza aan sy sy." Hiermee slaan Pieterse my tot ridder: Don Quixote. Dankie vir dié titel; onthou dit net.

Pieterse is beslis heldersiende. Hoe anders kon hy weet dat die Breitenbachs se familiegeskiedenis tot die 12de eeu teruggevoer kan word toe ons edelliede van die hertogdom van Hesse in Duitsland was, en ons familienaam Von Breitenbach zu Breitenfelde was?

Ek reageer kortliks op Pieterse se "getroue perd"-beeld en, volgens hom, my "...desperate stormlope op die mure van die werklikheid..."

Nee, Pieterse, jy fouteer. Ek loop nie die "mure van die werklikheid" storm nie. Nog minder is ek desperaat daaromtrent, want, jy sien, ek sê: "...die werklikheid is Christus" (Kolossense 2:17), 'n geloofswaarheid wat evolusioniste ontken.

Wat jou "getroue perd"-beeld betref: Ek lees in Openbaring 19:11-13: "Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter...het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy naam is: 'Die Woord van God'." So lees ek ook in Johannes 1:1-3: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God...Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie."

Ook hierdie geloofswaarheid word deur evolusioniste bespot.

Pieterse, ek maak nie met jou rusie indien jy nié die Bybelse skeppingsverhaal glo nie. Jy sê self: "As ek my oë toemaak, kan ek my verbeel..."

Jy is reg; ons almal gáán eendag ons oë toemaak, maar verbeelding gaan dan nie help nie.

Hierdie brief is op 07-04-2010 in Die Burger (Oos-Kaap) geplaas.

No comments:

Post a Comment