Monday 26 April 2010

Tex-laaitie, die helfte is dan myne

Hoezzit Tex, my tjommatjie van Jeffreysbaai, my brêg. Jou SMS (DB,22.04) het my in absolute ekstase gehad. Jy moet 'n besonder begaafde outjie wees wie se ouers en onderwysers met reg op trots kan wees. (Jy is mos nog 'n skoollaaitie, is jy nie?)

Oom het kennis geneem van jou briljante gedagte om die nuut-ontdekte fossiel Australopithecus teeseebreitenbachus te noem. Oom is bewus daarvan dat daar 'n prys uitgeloof is vir skoolgaande kinders (soos jy) vir die paslikste naam vir dié fossiel waarvolgens die wenner (hoop dis jy)   -   en jou skool   -   'n bedrag geld sal ontvang. So, jy is definitief nog op skool?

Ou Tex-man, ek voel werklik gevlei. Reken dat my naam dalk in die biologiese wetenskappe verewig kan word ; ook in handboeke. Fantasties! Ek moet egter met jou eerlik wees en erken dat ek taamlik ontuis en ongemaklik sal wees tussen jóú oom Charles Darwin en al sy pêlle. Solank ek en jy net pêlle bly, is alles orraait, Tex.

Tex-man, eintlik is dit net goeie maniere dat jy my vooraf sou geken het in jou voorgestelde fossiel-naamgewing. Maar Oom is nie kwaad nie, dis orraait so, maar op voorwaarde dat jy wél nog 'n skoollaaitie is   -   en nie dalk vassit in 'n grootmenslyf nie   -   en, indien jou naamvoorstel die prysgeld sou wen, die helfte myne is. Okay?

Bye, Tex, en bly so 'n nice laaitie.                               (ngn)

No comments:

Post a Comment