Friday 7 May 2010

Die een se held, die ander se skurk

Prof.Jonathan Jansen se artikel, "Ouers moet só kinders emosioneel gesond hou" (DB,04.05), verwys.

Ook in hierdie artikel kan Jansen net nié die versoeking weerstaan om wit Afrikaners in 'n slegte lig te stel en 'n negatiewe beeld van hulle te projekteer nie. En na alles, wat wéét dié man, as buitestaander, van die interne wêreld van die Afrikanervolk?

Jansen sê: "Ek het die inwoners van Ventersdorp goed op die TV dopgehou ná die moord op mnr. Eugene Terre'Blanche. Dit is nie die enigste deel van die land waar 'n kombinasie van 'n lae IK en hoë testosteroon plofbare situasies skep nie. Hier dink mense (lees : wit Afrikaners) nie...In 'n gemeenskap soos hierdie...is daar 'n gebrek aan emosionele intelligensie."

Ek is nie 'n lid van die AWB nie, maar het nog altyd Eugene Terre'Blanche en sy mense as lede van dieselfde Afrikanervolk, waartoe ek ook behoort, beskou.

Waarom wy Jansen hom nie eerder, byvoorbeeld, aan die oplossing van die drank- en dwelmverwante bendegeweld onder sy eie mense, en verlig só die haglike omstandighede en lyding van vele nie? Dán is hy konstruktief besig ; nie destruktief nie. Ook ék, as wit belastingbetaler, dra by tot Jansen se salaris en sien dat hy hom eerder met verdienstelike sake besig hou as om vrot eiers in ander se nes te wil lê.

Mense wéét dat die een se held dikwels die ander se skurk is, en omgekeerd. Dit geld ook Eugene Terre'Blanche. Jansen moet egter versigtig wees dat hyself nie die oorsaak word dat sommige hóm vir 'n skurk begin aansien nie.

No comments:

Post a Comment