Tuesday 25 May 2010

Liberaliste gekant teen volksgedagte

Zaaijman se brief, "Beperk skrywers met ego-probleme" (DB,22.05), verwys.

Omdat sy brief in hoofsaak na my verwys, antwoord ek dit graag. Met 'n klein bietjie moeite, word die volgende statistiek, die afgelope tyd, oor Brieweblad beskikbaar. Van die 158 briewe wat tussen 26.04 en 22.05 in Brieweblad geplaas is   -   voorbeeldgewys   -   verteenwoordig myne 10, of 6.3%, daarvan. Waarom só baie? Dit is maklik verklaarbaar; oplettende lesers wéét dit reeds.

Sedert my skrywe, "Bruines span saam teen Afrikaners" (DB,16.03), verskyn het, het die volgende briefskrywers daarop gereageer : De Lange (3x), Chris (3x), Lewack (3x), Kruger (2x), Koen (1x), Delport (1x), Strydom (1x), Martin (1x) en Trotse Bruin Man (1x).

Benewens hierdie reaksies, was daar ook die SMS'e van Jan van Jeffreysbaai, Marianne, J.Jurgens en Danie van P.E. waarin my mening telkens veroordeel is, 'n buitengewone totaal van 20 brief- en SMS-reaksies op my 16.03-skrywe. Van hierdie totaal (20) is 16 replieklewerende briewe van my geplaas in antwoord op dié  beswaarmakers van my standpunt oor die Afrikanervolk (Trotse Bruin Man uitgesluit).

De Lange en Lewack het dit selfs nodig gevind om my beledigend van rassisme te beskuldig. Was dìt nodig bloot omdat ek in mening van hulle verskil? Moet ek sulke beledigings, én ander kommentare, antwoordloos aanvaar? Is dìt wat Zaaijman bepleit   -   'n algehele repliekverbod en die stilmaak van kontra-kritiek? Indien wel, is dit inderdaad gevaarspellend!

Hierdie buitengewone reaksie die afgelope tyd skryf ek toe aan my standpunt oor die Afrikanervolk   -   sy identiteitsbehoud en sy oorlewing.

Volke sal daar beslis altyd wees; so sê die Skrif, onder meer, in Deuteronómium 32:8 (O.T.) én Openbaring 7:9 (N.T.). Hiervan verskil die sekulêr-humanistiese liberaliste   -   insluitende sodanige liberale Afrikaners   -   natuurlik heftig.                                                                                          (ngn)

No comments:

Post a Comment