Friday 21 May 2010

Moenie dié Pandora-kissies oopmaak nie

Glynis Pieterse se brief, "Laat ons gewones ook saampraat" (DB,19.05), verwys.

Pieterse se brief wek die indruk dat sy veronreg voel, maar deur wie? Verwyt sy vir my en Martin   -   ons word direk by ons name genoem!   -   of dalk, indirek, vir Brieweblad?

Pieterse, tot betreklik onlangs het daar byna daagliks 'n brief van E.C.Botha   -   'n skrywer wie se briewe ek waardeer   -   in Brieweblad verskyn, en het daar, by geleentheid, selfs so veel as drie briewe van hom, gelyktydig, in dieselfde uitgawe van Brieweblad verskyn. Wáár was u tóé?

My telkens herhalende en beklemtonende mening oor die behoud van ons volksidentiteit en toekomstige oorlewing as volk, stel Pieterse gelyk aan 'n "verbale pingpong"-spel in 'n "geykte debat".

U negatiewe ingesteldheid teenoor wat vir my   -   en ander   -   kosbaar en beskermenswaardig is, vind duidelike weerspieëling in u brief. Maar, vanselfsprekend, is u geregtig op u mening, soos ek op myne.
Pieterse, u kla, maar dit is júís diegene soos ú wat meebring dat ek skryf in antwoord op húlle wat telkens reageer op my mening. Hiervan behoort u tog, wat "...die brieweblad as die belangrikste deel van die koerant" beskou, wel deeglik bewus te wees!

Weereens die retoriese vraag : Indien my briewe u grief, waarom dit hoegenaamd lees? Ignoreer gerus my skrywes   -   beskou dit as "vermorste ruimtes"   -   en sorg dan dat ú briewe in die vervolg dié ruimtes vul. Moet dus nie toelaat dat u nuuskierigheid, soos in die verhaal van Pandora se kissie, u oorweldig en my "briefkissies" oopmaak nie. In u eie belang, hou dus dié "kissies" toe.                                        (ngn)

No comments:

Post a Comment