Sunday 9 May 2010

Moenie soos skilpad kop intrek nie

Quinten Strydom se brief, "So 'n brief moes nie geplaas word nie" (DB,06.05), verwys.

Strydom se brief getuig van 'n totale, pateties-jammerlike, werklikheidsontkennende onttrekking. Ek het al verneem van mense wat aan onttrekkingsimptome ly nadat hulle opgehou het met rook of drink, maar nog nooit gehoor van dergelike simptome van onttrekking aan ons historiese verlede waaraan Strydom duidelik ly nie.

Hy sê : "...ek betreur en bevraagteken die professionele en humanitêre objektiwiteit van die redaksie ná die publikasie van Breitenbach se skokkende brief...(en) Waarom laat u Breitenbach toe om in sielsveragtende (halfsmalende) detail breedvoerig...te vertel...?"

Strydom is ongetwyfeld 'n man vir dubbele standaarde, óf 'n baie slegte leser. Die "...afgryslike en bloeddorstige detail..." waarvan hy my beskuldig, het ek ontleen aan Lepton se brief in BY(01.05)   -   met nog méér "bloeddorstige detail" dáárin   -   wat reeds vooraf deur Die Burger geplaas is. Waarom dan net vir my uitsonder en niks oor Lepton rep nie?

Bedank eerder Die Burger dat hy bereid is om, in belang van sy lesers   -   jou ingesluit   -   ons in te lig oor wrede moorde op onskuldige landsburgers van alle rasse, in plaas daarvan om dié koerant te kritiseer. Staak jou onsinnige verwyt. Dis jyself wat besluit om jou oë vir die werklikheidsgebeure te sluit.

Strydom verwys ook na sy "...senior (delikate) jare..." Waarskynlik bedoel hy sy "kwesbare" jare. Siestog, Strydom, weet gerus dat almal van ons   -   òòk in òns "...senior (delikate) jare..."   -   vreeslik jammer voel vir jou.

Strydom is egter sélf verantwoordelik vir die vergroting van sy "delikaatheid" (kwesbaarheid) deur sy werklikheidsontkenning. Tree derhalwe soos 'n verantwoordelike volwassene op deur deeglik kennis te neem van die werklikheidsgebeure rondom jou, en nié, soos 'n skilpad, jou kop   -   werklikheidsontkenned   -   in jou dop terug te trek nie.                                                                                                  (ngn)

No comments:

Post a Comment