Tuesday 25 May 2010

Dié gesindheid weens vooroordeel

De Lange se brief, "Dié Afrikaner het voorbeeld gestel" (DB,21.05), verwys.

In hierdie skrywe, asook in sy skrywe van 22.04, openbaar De Lange vier onderskeibare negatiewe ingesteldhede. Ek wys kortliks op dié gesindhede.

Eerstens toon hy 'n groot bewondering vir wyle Van Zyl Slabbert waarmee ek geen probleem het nie; dis sy reg. Waarmee ek wél 'n probleem het, is sy gesindheid van onverdraagsaamheid teenoor my siening   -   soos in sy slotparagraaf verwoord   -   omdat ek van hom durf verskil, asof sy siening ál is wat geld. Laat ons demokrasie ons dan nie toe om van mekaar te verskil nie, en, wanneer ons verskil, vanwaar die reg om mekaar te beledig (DB,22.04)?

Tweedens blyk De Lange se arrogansie uit sy opmerking : "Dit...sal jou bevry van al jou demone wat jou (Breitenbach) pla..." In hierdie arrogante opmerking vind ek 'n sterk geesgenootlike aansluiting by die vroeëre opmerking van dr. Boesak : "Die demoon van rassisme het die NG Kerk nog nie finaal verlaat nie" (DB,02.10.08).

In De Lange se vorige brief, "TC se omarming vals, kunsmatig" (DB,22.04), skroom hy nie om, derdens, beledigend na "...sy (Breitenbach se) diepgewortelde rassisme..." te verwys nie. Waarom sou dit hoegenaamd nodig wees om, deur beledigend te wees, jóú mening te laat seëvier?

Sy gesindhede van onverdraagsaamheid, arrogansie en belediging, dui op 'n vierde gesindheid waaruit hulle voortkom, naamlik vooroordeel.

De Lange, indien hierdie gesindhede van jou die resultaat moet wees van die "mentorskap" van wyle Van Zyl Slabbert as jou "mentor"   -   soos jy beweer   -   is ek bevrees stel jy jou "mentor" in die verleentheid. Is dit "...waarvoor Van Zyl Slabbert gestaan het (naamlik medemenslikheid, regverdigheid en geregtigheid)..." met jóú gesindhede versoenbaar?

De Lange, staak gerus jou onverdraagsaamheid, arrogansie, beledigings en vooroordeel teen diegene wat van jou verskil   -   dit versteur net alle pogings tot vreedsame naasbestaan in ons samelewing.

No comments:

Post a Comment