Wednesday 19 May 2010

Gun ruimte om geesgenote te kies

Chris se brief, "Erken invloed van die geskiedenis" (DB,15.05), verwys.

Chris sê : "...Breitenbach (het) in gebreke gebly om...'n fundamentele insig te erken wat Amanda Gouws...gegee het oor hoe die geskiedenis van haar velkleur haar en haar generasie se lewens bepaal het..."

Chris, Gouws se "fundamentele insig" is niks nuuts nie en beslis geen núwe insig nie; bloot 'n reeds algemeen-bekende historiese feit.

Chris gaan voort : "Fundamenteel tot gesprekke oor die huidige...S.A. is 'n insig en erkenning van die invloed van die voor-1994-politiek en die geskiedenis van afsonderlike ontwikkeling." Natuurlik is   -   wat Chris hier noem   -   'n noodwendig-veronderstelde agtergrondsgegewene waarteen die huidige debat plaasvind, of het Chris dit dalk nóú, vir die éérste keer, "ontdek"? Waarom anders, Chris, word Afrikaners dan verguis?

Chris, vindende geesgenote in Amanda Gouws en Max du Preez, is duidelik beïndruk deur húl denkskool. Ek beslis nié ; daarom praat ek en Chris ook nie dieselfde "taal" nie.

Betreffende die Gouws-denke   -   voorbeeldgewys   -   sê sy in haar artikel, "Buchan : teken van die tyd waarin ons leef?" (DB,18.09.2008), dat Buchan met "...'n fundamentalistiese interpretasie van die Bybel..." werk, en dat ons, ter probleemoplossing, "...'n meer gesofistikeerde benadering (eerder) as 'n terugkeer na waardes, gegrond op interpretasies van die Bybel", benodig. Dié Gouws-artikel eindig met Karl Marx se stelling : "...godsdiens is die opium vir die massas..." Ek verskil skerp van dié denke!

Aangaande Max du Preez, sê ek in my brief, "Max benodig 'n Damaskus-ervaring" (DB,08.12.2008) : "Ironies genoeg beroep Du Preez hom op sy stoere Afrikaner-afkoms...(maar) "Saulus" du Preez het nog nie 'n ware ontmoeting met sy eie mense gehad nie..." Hiervan bly ek oortuig.

Chris, ek dink dit is 'n geval van: "Wys my wie jou geesgenoot-vriende is..."   -   toepaslik op ons albei. Kies jóú geesgenote, en gun my die ruimte om myne te kies.

No comments:

Post a Comment