Monday 17 May 2010

Mnr. Martin, is dít te veel gevra?

Christian Martin se brief, "Skrywer moet eers voor eie deur vee" (DB12.05), verwys.

Martin het gelyk dat ek eers voor die eie deur sal vee, 'n beginsel wat vir elke individu   -   dus ook vir homself   -   geld. Afrikaners word dikwels van rassisme beskuldig. Impliseer dit nie dat ons aanklaers voor òns volksdeur vee nie, Martin? Wys ook húlle tereg!

Martin, ek vind dit egter nodig om, deur my volk se oorlewingsbril, voor ons almal se gemeenskaplik-verweefde nasionale geskiedenisdeur te vee. Ons geskiedenis het tog nie in isolasie van mekaar gestalte verkry nie, maar juis deur "inter-volklike" kontak deur die eeue.

Wat ek egter deur my volksoorlewingsbril sien, nadat ek voor ons nasionale geskiedenisdeur gevee het, spel niks goed vir die voortbestaan van my volk nie; daarvoor word te veel tydens plaasaanvalle vermoor.

Martin verwys na "...die volksmoord op die Khoi en San in Suid-Afrika." Ek lees in George McCall Theal se Geschiedenis van Zuid Afrika dat, waar die Khoi en San deur Europeërs gedood is, dit nié sonder rede was nie, maar veral vanweë veediefstal en/of moord.

Theal kan van Europese vooroordeel beskuldig word, maar wáár is die oorspronklike geskrifte van Khoi- en San-outeurs om Theal te weerspreek? Bestaan daar sulke geskrifte? Synde ú geskiedenis, Martin, déél dit met ons!

Is Suid-Afrika nie tans die land met die hoogste korrupsie-, misdaad- en moordstatistiek ter wêreld nie, of baie naby aan heelbo aan so 'n lys nie? Dit was nie voorheen so nie!

Martin, elke landsburger het die reg om deur sy oorlewingsbril na ons gemeenskaplike verlede te kyk en ondersoekend voor dié deur te vee. My bril sê my volk het 'n besondere teiken vir misdadigers, verkragters en veral moordenaars geword.

Sal Martin nie asseblief voorstel hoe dié moorde   -   op alle rassegroepe   -   beëindig kan word nie, of is dit té veel gevra?

No comments:

Post a Comment