Wednesday 19 May 2010

As Afrikanergeduld opraak, wat dan?

Die berig, "Kapsie teen 'bevarking' van E.T. by die Kasteel" (DB,13.05), verwys.

In dié berig word gesê : "Skokkende skilderye, waarin die vermoorde AWB-leier Eugéne Terre'Blanche as 'n vark uitgebeeld word, 'is maar net 'n taal'." Indien pres. Zuma of oud-pres. Mandela met Terre'Blanche  - en die swart skilder met 'n witte   -   plekke sou ruil, is die reaksie daarop beslis voorspelbaar. Dele van die land sou, letterlik én figuurlik, aan die brand gewees het.

Hierdie "vark"-voorstellings van Terre'Blanche kom van "...kunstenaars uit agtergeblewe gebiede...", ene Ayanda Mabulu. Dié kunstenaar sê van sy "kunswerk" : "Vir my is dit 'n metafoor van die varkagtige strategieë en praktyke van die vorige regime." (Word Afrikaners gevra wat húlle van die húídige regime dink?)

Waarom moet juis Terre'Blanche, nadoods, én sy familie, uitgesonder word om alleen die prys hiervoor te betaal? Die voorstelling van Terre'Blanche   -   as simbool van 'n bepaalde Afrikanertipe   -   bevat dieselfde implikasie ook vir al sy volgelinge, indien nie vir álle wit Afrikaners nie.

Ek beskou dit as 'n belediging vir die intelligensie en nugtere oordeel van mense om dié vieslike skilderye af te maak as "maar net 'n taal". Verder het dié ongevoelige "kunstenaar" nog die verwaandheid om te sê: "En die man wat die foto van my skilderye geneem het   -   ek kan hom dagvaar omdat hy dit sonder my toestemming gedoen het. Hy het geen respek nie." By wie ontbreek die nodige respek wel?

Die opraak van geduld onder anderskleuriges en die manifestasies daarvan, is nog vars in ons geheue. Trouens, die sluimerende potensiaal tot 'n herhaling daarvan, is daagliks steeds met ons. En sou wit Afrikaners óók net nie langer meer die beskuldigings en beledigings teen hulle kan duld nie, wat dan?                                                                                                                                       (ngn)

No comments:

Post a Comment