Wednesday 5 May 2010

Welkom aan dié 'Anglo-Afrikaner'

Bruce Woolard se brief, "Afrikaners is vir hom 'n inspirasie" (DB,03.05), verwys.

Dis Woolard se reg om te ondersteun   -   en saam te stem met   -   wie hy wil, dog sy brief word deur 'n teenstrydigheid gekenmerk. Deur sy omarming van die Delport-definisiedenke enersyds, maar met sy toepassing van my tipologiedenke andersyds, weerspreek hy homself en handel dualisties.

Woolard tipeer homself kwalifiserend as 'n Anglo-Afrikaner. Let egter ook daarop dat u selfregverdigende verweer van : "...nie as gevolg van keuse...maar...van geboorte...", nie net vir u geld nie, maar ook vir elke ander individu.

Dit val dus vreemd op om enersyds Delport se rigiede definisie : "'n Afrikaner is iemand wat 'n Afrikaner wíl wees en basta verder!", te ondersteun, en jouself dan, volgens tipologiedenke, as Anglo-Afrikaner te kwalifiseer. Dit rym mos nie. Die Delport-definisie maak nié voorsiening vir gekwalifiseerde Afrikanerskap nie. Dit sê hy tog immers duidelik met sy ontoeskietlike "...en basta verder!" Woolard gaan dus verder as wat die Delport-definisie hom toelaat deur sy implementering van my tipologiedenke.

Dit wil voorkom asof Woolard óók die tipies-menslike en spontaan-natuurlike behoefte ervaar om méér as net 'n "...en basta verder!"-Afrikaner te wil wees. Hy laat blyk, myns insiens, dat hy 'n Afrikaner is wat oor 'n unieke identiteit beskik vanweë 'n eie historiese herkoms langs die Anglo-roete.

As volkse Euro-Afrikaner lig ek my hoed vir Woolard uit respek en waardering vir sy respek en waardering, en positiewe gesindheid, teenoor my mense. Om verder ook te erken dat sy pa hom met wantroue, agterdog en vooroordeel teenoor my mense groot gemaak het, verg moed en dapperheid. Afrikaners kon, ongevraagd, kwalik 'n beter getuigskrif kry as dié van Woolard.

Welkom, van my as volkse Euro-Afrikaner, aan dié selfgetipeerde Anglo-Afrikaner.

No comments:

Post a Comment