Monday, 28 December 2009

Mede-Afrikaners staan voor 'n keuse

Gaum se artikel,  "Op soek na 'n volk sonder grense" (DB, 16.12.2009), verwys. Dit is verstommend dat Gaum na 'n volk-sonder-grense soek terwyl dit alreeds bestaan   -   God se volk waartoe alle Christengelowiges oor taal-  en volksgrense heen behoort.

Ek aanvaar die Bybelgesag onvoorwaardelik, daarom ook God se verbond met Abraham,  "die vader van menige nasies", en met Sara uit wie  "nasies en konings van volke"  sal voortkom (Genesis 17). Openbaring 7:9 sê dít bly ónveranderd. Ons sal as nasies, stamme, volke en tale eendag voor Sy regterstoel verskyn.

Deuteronomium 32:8 sê : "Toe die Allerhoogste...die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle grense bepaal..." Daarom waarsku Salomo dan ook in Spreuke 22:28 soos volg : "Moenie grense verlê...wat jou voorvaders al gestel het nie."

Gaum soek duidelik na 'n ander tipe grenslose volk as dié in die Bybelse model, want hy beweer : "Die tyd van wit Afrikanerdom is verby",  en hy glo aan  "...'n toekoms vir 'n nie-rassige Afrikaanse volk." Ná sy betoog vir 'n volk-sonder-grense weerspreek Gaum homself wanneer hy sê :  "...ons versoeningspogings mag nooit beteken dat die volke hul identiteit moet opsê nie." Dis wensdenkery in die lig van verdwynende grense.

Dit is kommerwekkend dat Gaum in sy betoog die Bybels-ordenende model-perspektief op volksgrense ignoreer. Is die eeue-oue histories-verworwe identiteit van die Afrikanervolk vir Gaum te verkwansel soos wat Esau sy eersgeboortereg vir 'n pot lensiesop verruil het?

As Afrikanervolksgenote moet ons vir mekaar sê : Kies dan vandag! (Josua 24:15).

Wednesday, 23 December 2009

Christene het rede tot diepe kommer

Die ware fokus van Kersfees het lankal reeds verskuif vanaf die spirituele na die materiële domein. Die kommersiële wêreld baat by dié verskuiwing in sy voorsiening in die behoeftes van feesvierendes. Die uitbuiting van Kersfees as Christenfees beweeg Christene lankal nie meer na beswaarmaking nie ; ons neem ywerig daaraan deel. Prysgawe van ons unieke Christelike erfenis dra by tot die swyende Protestantse stem.

Minder bekend dalk is die verskuiwing wat plaasvind in die Afrikaanse Bybelvertaling wat beoog voltooi te wees teen  2016. Dieselfde Christus, wie se geboorte ons eersdaags herdenk, word in die Ou Testamentiese gedeelte van die Bybel  "uitvertaal".

In 'n stuk getitel,  "Wil ons 'n Ou Testament sonder Christus hê?  'n Voorlegging in verband met die nuwe (2016) Afrikaanse Bybelvertaling", sit prof. P.W.Hoek en ds. Danie Haasbroek die gevare van die huidige Bybelvertaling duidelik uiteen. Die vertalers voer twintig argumente aan waarvolgens Christus  "wegvertaal"  moet word uit die Ou Testament.

Die Kerklike Advieskomitee, waarop alle  "meewerkende kerke en denominasies verteenwoordig is", het dit reeds goedgekeur. Dié vertaling moet ook interkonfessioneel wees. Beteken stilswye van die Protestantse stem ook hier kondonerende goedkeuring?

Christengelowiges het rede om diep bekommerd te wees oor die hedendaagse teologie-beoefening, want verkeerde teologie lei tot verkeerde verklaring wat uitmond in verkeerde vertaling.

By die bewuswording en kennisname van die aanvaarde oogmerk van die 2016 Afrikaanse Bybelvertaling, skuif daar vir my 'n verduisterende skaduwee in oor die naderende Kersgety.

Wednesday, 16 December 2009

Geen tussenganger nodig vir gebed nie

Die voorbladberig, "Damme nou net halfvol" (DB,11.12.2009), verwys. Hierin word berig : "Mnr. Barry Martin, direkteur van water en sanitasie in die metro...het sover gegaan as om die speaker se kantoor te nader sodat sy die metro se godsdiens-sektor kan nader om te bid vir reën."

Wat moet lesers hiervan dink, van die speaker as tussenganger tussen die metro en die godsdiens-sektor, en dié weer as tussenganger tussen die metro en gebed? Natuurlik is daar nie fout te vind met gebedsversoeke nie. 'n Belangrike vraag is egter of die metro Hom, van wie reën afgebid moet word, ook in voorspoedige tye ken sodat daar met vrymoedigheid in tyd van nood na Hom gegaan kan word.

Maar waarom net die "godsdiens-sektor" nader om te bid, en nie elke inwoner van die metro nie? Sou die NMBM-leierskap (Nelson Mandela-baai Metro), in samewerking met die "godsdiens-sektor", nie die voorbeeld kon stel deur self die leiding hierin te neem nie? Ons kan só maklik 'n deus ex machina-werktuig van God maak wat 'n "tussenganger" benodig om Hom te nader   -   elkeen wat Hom ken, ken ook die ware tussenganger   -   die Een wat ons graag in tyd van nood, soos nou, inspan ter oplossing van ons probleme.

Die Woord sê baie duidelik dat God soms droogtes, ook van rampafmetings, gebruik om ons te straf en na Hom te laat terugkeer in tye van afvalligheid. Waarom nie die roete-van-terugkeer volg ter oplossing van ons waternood nie?

Thursday, 10 December 2009

Desember se groot datums onthou

Die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikanervolk is gekenmerk deur besondere historiese gebeurtenisse gedurende die maand van Desember.

Op 9 Desember 1838 lê Voortrekkermans 'n gelofte af teenoor God ; dit word elke aand herhaal tot 15 Desember. Op 16 Desember 1838 behaal 464 Voortekkers, deur Goddelike ingryping, die oorwinning teen nagenoeg 15 000 Zoeloes.

Op 13 Desember 1880 beëindig Transvaalse burgers hul lydelike verset teen die Britse anneksasie van 1877, en word die ZAR-Volksraad by Paardekraal as wettige regering herstel. Transvaal wen die Eerste Vryheidsoorlog wat hierop sou volg. Om die ZAR-bewind onder Kruger omver te werp, vind die Jameson-inval op 30 Desember 1895 plaas. Dié aanslag misluk, maar dien as voorspel tot die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (ABO).

Ná die uitbreek van die ABO in Oktober 1899, behaal die Boeremagte drie agtereenvolgende oorwinnings oor die Engelse op, onderskeidelik, 10 Desember by Stormberg, 11 Desember by Magersfontein en 15 Desember by Colenso. Die Engelse het hierna as die  "Black week" verwys.

Op 17 Desember 1912 hou generaal Hertzog sy De Wildt-toespraak waartydens hy sy  "Suid-Afrika-eerste"-standpunt stel. Suid-Afrika se belange moes voorrang geniet bó Britse Imperiale belange.

Vanweë sy deelname aan die 1914-rebellie sterf kommandant Jopie Fourie op 20 Desember 1914 voor 'n vuurpeloton. Vroeër reeds het generaal C.F.Beyers op 8 Desember in die Vaalrivier verdrink. Afrikaners behoort hulself opnuut te identifiseer met, en verootmoedig voor, Jesaja se voorspelling van die geboorte van Emmanuel   -   die geboorte wat álle ander geboortes oortef   -   en wat ons weer eens op 25 Desember sal herdenk.

Saturday, 21 November 2009

Begrip vir skrywer se siening

Cas Terblanche  se skrywe,  "Perke van vryheid van spraak oorskry" (DB,14.11.2009), verwys.

Studente wou by geleentheid weet waarom daar, soms radikaal uiteenlopend, verskille in onderwysbeskouing bestaan. Ek het dié vraag probeer beantwoord aan die hand van onder meer 'n geprojekteerde transparant waarop daar 'n buitelyn-voorstelling van 'n ongedefinieerde  "ding"  was. Hulle het dié  "ding"  op uiteenlopende wyses vertolk.

Die meerderheid het in dié  "ding"  óf 'n konyn óf 'n pikkewyn gesien, terwyl dit die uitsonderinge was wat 'n fopspeen, 'n aartappel of hamer in dié  "ding"  gesien het (waarneming is uniek van aard). Met hierdie demonstrasie is aangetoon hoedat verskillende mense na presies dieselfde  "ding"  kan kyk en tog nie  "dieselfde ding"  sien nie. Dit verduidelik gedeeltelik die verskille in onderwysbeskouing, verskille wat iewers in die menslike psige opgesluit moet wees.

Dieselfde geld die verskil in reaksie by lesers van die brieweblad. Hoewel ek aangaande my brief (DB,10.11.2009) van Terblanche verskil, het ek teen die agtergrond van die voorafgaande verduideliking tog begrip vir sy siening daarvan. Hy het iets daarin gelees wat nie noodwendig deur die meerderheid gelees is nie.

Sommige hoëprofiel-mense van openbare statuur, soos 'n Zuma en 'n Boesak, is reeds vanweë hul omstredenheid deur spotprenttekenaars gekarikaturiseer. Soos wat karikaturiste humor prentgewys uitbeeld, so wou my brief humor in woordvorm verbeeld. Menings oor die toepaslike gebruik van  "walglik"  en  "skokkend"  is relatief en arbitrêr, nie eksak nie. Ek vind dit in spotprente van  "stortkop Zuma" ; tog kritiseer ek nie die spotprenttekenaar nie omdat ek staatmaak op Die Burger se joernalistieke oordeel wat humorbegrensing betref.

Thursday, 12 November 2009

Nét Afrikaners moet herdefinieer

Die berig  "Afrikaner-families moet praat oor versoening en skuld" (DB,09.11.2009), verwys. Hierin word berig dat Antjie Krog, bekende skryfster en digteres, en dr. Fanie du Toit, uitvoerende hoof van die Instituut van Geregtigheid, meen  "Afrikaners moet belê in die herdefiniëring van hulself...(en) is hierdie herdefiniëring...uiters belangrik."

Is definiëring en herdefiniëring nie in wese 'n identiteitsaangeleentheid nie? Hoe kan jy enigiets definieer sonder om die essensie van wat jy probeer definieer, te verwoord? Waarom hierdie eensydige beroep dat alleen Afrikaners hulle sal herdefinieer en nie ook al die bevolkingsgroepe in biskop Tutu se reënboognasie nie? Dit klink na 'n herdefiniërings-oefening wat diskrimineer.

Is Afrikaners dan nie reeds indirek deur die ANC gedefinieer by wyse van sy SEB- (swart ekonomiese bemagtiging) en regstellende aksie-programme wat aantoon dat ons buite hul definisie van 'n nuwe Suid-Afrika val, onwelkom is en Afrikaner-jongmense die land in hul duisendtalle verlaat nie? So sê Malema dat ons welkom is om die land te verlaat mits ons ons kennis en vaardighede hier agterlaat.

Word met die Afrikaner se herdefiniëring bedoel dat dit binne die raamwerk van die ANC-definisie van ons moet geskied? Durf 'n demokrasie nuwe identiteite skep en op mense afdwing ten koste van bestaande identiteite, of selfs net suggereer dat hulle via herdefiniëring 'n nuwe identiteit moet aanvaar?

Ons sou maklik aan die klugspel van ANC-geleide Afrikaner-herdefiniëring kon deelneem deur ons self met 'n sebra te vergelyk en sê : Vroeër was ons 'n wit dier met swart strepe, maar nou het ons 'n swart dier met wit strepe geword.

Christen-Afrikaners, eggo die Skepper wat së : "Ek is wat Ek is."

Tuesday, 10 November 2009

Ambassadeurspos, beeld vir Boesak

Almal van ons slaan die een of ander tyd ons naam met 'n plank, sommige net meer as ander. Net die uitsonderlikes hou dermate vol dat hulle dié plank tot splinters slaan. Dit is die beeld wat die berig  "Kollig was nie glansryk genoeg vir Allan Boesak" (DB,05.11.2009), oproep. Hiervolgens het Boesak  "gekies om te spring" . Die HAT noem 'n klugtige sprong 'n kaperjol.

'n Mens sou oor Boesak se jongste kaperjol, in 'n rits van kaperjolle, kon lag as dit nie so tragies was nie. Waarom? Hier is 'n man met uitsonderlike talent ter opheffing van sy mense, wat hy egter hoofsaaklik in eie belang aanwend.

Daar is monumente opgerig vir fiktiewe mense, soos Don Quichote en Baron von Münchhausen, wat die verbeelding minder aangegryp het as Boesak. Waarom nie ook een vir Boesak oprig nie? Tussen die Freiwillige Feuerwehr-gebou en die Passions Theater in Oberammergau is daar 'n Jesusbeeld op 'n donkie bo-op 'n rots waaruit helder waterstrome vloei. Ek dink Boesak is 'n boorling van Upington se wêreld, 'n omgewing waar 'n donkiebeeld reeds opgerig is ter erkenning van die uitnemende bydrae van dié dier tot dié kontrei.

Waarom kan Boesak, na die voorbeeld van die Meester, nie sit-gemaak word op dié donkiebeeld nie? Bied asseblief tog ook vir dié pendelaar   -   tussen kansel en politiek   -   'n ambassadeurspos aan ; aanstons ontwrig hy weer die kerklike lewe.

Thursday, 5 November 2009

Het die "dice" regtig verkeerd geval?

Dienslewering aan gemeenskappe is, vanweë swak leierskap, soos lugspieëlings   -   op 'n afstand belowend, maar ontgogelend van naderby. Mense is lank reeds sat van staar na lugspieëlings soos Eskom, SABC, SAA, ASA, die Selebi-sage ; 'n onutputlike lys van nasionale droglugspieëlings waarvoor belastingbetalers miljarde betaal.

Verlede week word vullissakke nie verwyder nie. Mens en dier skeur dit oop en mors. Ruim maar self dié onhigiëniese gemors op en betaal jou rekening met Stoïsynse berusting. Vervoer dit self na die stortingsterrein. Daar vind ek twaalf werklose, honger bruin mense. Nee, hulle het vandag nog niks geëet nie. Weggegooide mense, soos Doris Bräsch se Lappop, op die ashoop. Hoe kan ek by 'n middagete aansit met dié beeld voor my? Gaan haal kos en gee dit vir hulle in ruil vir die belofte dat hulle hul kinders gereeld skool toe sal stuur.

Ek sien ook sewe swart mans wat strepe en padtekens oorverf op straat. Terwyl een verf, sit-lê die res. Ongeag onproduktiewe arbeidsaanwending het húlle werk en 'n inkomste.

Twee tonele : Die een gekenmerk deur werkloses gedryf deur honger na 'n stortingsterrein, soekende na werk en 'n verdienste, en jy vra jouself : Is dit soos waardigheidsberoofde mense lyk, en wáár is Zuma se  500 000 beloofde werksgeleenthede? Toneel twee is dié van gemeenskapsbetaalde tyddiefstal in die vorm van niksdoen-skofte-aan-diens, en jy vra jouself af : Is dit nie korrupte dienslewering in navolging van die ANC-base nie?

Dan kom Adam Small se digterlike versreël by my op : "Die Here het gaskommel en die dice het verkeerd gaval vi' ons."

Tuesday, 3 November 2009

ANC saboteer dié versoeningspoging

Die versoeningspogings rondom die Reitz-4 word opsigtelik deur die ANC gesaboteer. Waarom? Waarskynlik om verskeie redes. Een so 'n rede is dat die ANC 'n bevrydingsbeweging is en sigself steeds ag in 'n onafgehandelde vryheidstryd betrokke te wees, 'n stryd wat in fases verloop.

Wie meen dat die stryd in 1994 beëindig is, is ewe naïef as Neville Chamberlain wat ná die München-ooreenkoms met Hitler oor Tsjeggo-Slowakye in September 1938 vir die Britte gesê het : "Peace in our time!"  'n Jaar later het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Die propagandawaarde wat die Reitz-voorval vir die ANC in sy volgehoue stryd teen die  "oorblyfsels van kolonialisme", kapitalisme, klassisme en "wit" rassisme het, moenie onderskat word nie   -   nasionaal, regionaal en internasionaal. Dit dien ook as aandagafleier van die ANC se eie interne probleme.

Dat ANC-ondersteuners   -   ten spyte daarvan dat baie steeds in uiterste armoede verkeer   -   volgehoue solidariteit betoon met 'n organisasie wat hulle in die steek laat, dui daarop dat daar steeds 'n sterk anti-wit sentiment in ANC-geledere aanwesig moet wees. Dit is geen basis vir versoening nie. Versoening is nuansryk-geskakeerd en kan kwalik sonder bemiddeling geskied. So 'n tussenganger moet vir beide partye aanvaarbaar wees. Ons regstelsel behoort so 'n legitieme en finale arbiter te wees, ingestel op versoening.

Laat die reg sy loop neem deur die Reitz-4 te verhoor, waar hulle onderworpe is aan die regsreëls van die geregshof en die ANC ontneem word van sy propaganda-winste. Só word verseker dat Jansen nie in dieselfde slaggat as Chamberlain sal trap nie.

Thursday, 22 October 2009

Mag Afrikaners eie identiteit behou?

Willem Jordaan se Brandpunt (DB, 14.10.2009) verwys. Hierin toon hy hoegenaamd geen begrip vir die eeue-oue drang na vryheid en onafhanklikheid van Afrikaners nie, en wend hy ook geen poging aan om deur die bril van die verskillende "ismes" in ons land na die "isme"-konflikte daarbinne te kyk nie.

Die liberalisme, die kommunisme, swart nasionalisme en Afrikaner-nasionalisme is vier sulke "ismes" waarvan laasgenoemde twee voorbeelde van onderskeibare nasionale aard   -   nasieskap of volkskap   -   is. In teenstelling met swart nasionalisme distansieer Afrikaner-nasionalisme sigself ten sterkste van die kommunisme en die liberalisme. Dié "ismes" kan afsonderlik op 'n kontinuum voorgestel word met ekstremisme en apatie as waarskynlike uiterstes van elke sodanige "isme"-kontinuum.

Selfondersoek bring aan die lig dat elkeen homself, eerstens, op 'n bepaalde "isme"-kontinuum en, tweedens, iewers tussen ekstremisme en apatie daarop bevind. Ek plaas Eugene Terre'Blanche aan die ekstreme kant van Afrikaner-nasionalisme. Net so plaas ek Cosatu en Julius Malema aan die ekstreme kant van swart nasionalisme.

Jordaan lê egter die lat van kritiek en verkleinering opsigtelik ongebalanseerd eerder onder die ekstremiste van Afrikaner-nasionalisme as swart nasionalisme in.

Vind Jordaan dit is orde dat die Zoeloe, Xhosa, Sotho, Tswana en Pedi in etniese en stamverband mag voortbestaan en hul identiteite behou, maar nie die Afrikaner in volksverband nie? Indien wel, is Jordaan 'n verduideliking aan die Afrikaners verskuldig.

Friday, 16 October 2009

Evolusieleer die groter gevaar

Die versoek  "Kerke moet verbruikerskultuur striem" (DB,08.10.2009), is deur 'n UWK-teoloog op 'n teologiese konferensie in Pretoria tot die kerk gerig. Dié teologiese voordrag word gekenmerk deur groot kommer oor die "koolstofvoetspoor" wat die (materiële) aarde bedreig.

Maar wat van die verwoestende effek van die Luciferiese voetspoor in ons samelewing soos tans ook ingedra in skole deur midel van evolusie-onderrig?

Pieter Pelser sê in sy boek, The Hoax of Darwinism and the African Eve   -   A Challenge to the Minister of Education : "...the aim of evolutionary teaching is pure materialism...(and) to banish God from the minds of our children." Hy vra die minister om te verduidelik waarom daar besluit is  "...to build our national system of education on a lie."

Is Pelser se vraag dan nie 'n vraag wat ons kan verwag teoloë en die kerk behoort te vra nie? Hoe verdienstelik ook al die koolstofvoetspoor-argument, kan dit nooit opweeg teen kinders se geestelike welsyn nie.  Verteenwoordig die UWK-teoloog se oproep op die kerk moontlik net 'n aardse en horisontalistiese ingesteldheid?

Saturday, 10 October 2009

Bewondering vir dié jong gelowige

As senior burger is ek daarvan bewus dat ek myself in die vertreksaal van die lewe bevind, saam met ander, wagtende op die onverpasbare vlug na die anderkant. Morbied? Nee, dit is 'n absolute werklikheid.

Ek was ook eens in die aankomssaal van die lewe waarvandaan ek op 'n lewensending vertrek het. Op dié sending was ek altyd bewus van die eie roeping en taakopdrag tussen aankoms en terugkeer. Die roeping impliseer opdrag-uitvoer waarvoor elkeen van ons volkome toegerus is (2 Timoteus 3:17).

My lewe lank was, en is, koning Dawid vir my 'n besondere Bybelfiguur. Die verhaal van sy oorwinning oor Goliat het my lewenslank bygebly en ook geïnspireer om te bly glo dat daar uit die moederskoot van my volk iemand gebore sal word wat sal sê : "Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?" (1 Samuel 1726b)

Toe ek  "Leerder begin Facebook-groep vir godsdiensonderrig by skole" (DB,07.10.2009), lees, het ek geweet dat dit wat ek glo, nie so vergesog is nie.

Dankie, Jessie Bester, vir jou manmoedige standpunt aangaande jou ywer vir die behoud van Christelike skole ter beskaming van sovele volwassenes wat, soos Petrus van ouds, ook sê dat hulle Christus nie sal verloën nie, maar vir wie die haan in ons dag dalk reeds drie maal gekraai het.

Sterkte vir die toekoms, jou jong geesgenoot, jy wat sê : "Ek baklei spesifiek vir die Christendom". Ek bewonder jou jeugdige geloofsmoed.

Thursday, 8 October 2009

Onderwyskeuse vir SA-ouers nodig

Naguil se brief,  "Breitenbach moet boeke laat staan" (DB,03.10.2009), verwys. Dit is duidelik dat Naguil nie goed begryp het wat ek in my brief, "Christelike skole vir Christenkinders" (DB, 01.10.2009), gesê het nie. Dit blyk veral uit Naguil se opmerking  "...as Christene op...'eie' skole aandring, dan het enige ander godsdiensgroep in Suid-Afrika se demokratiese bestel dieselfde reg."

Presies, dit is juis die kernpunt wat ek probeer tuisbring het met my verwysing na navorsingsbevindinge in Brittanje, Duitsland, Nederland, Australië en Amerika, waar voorsiening gemaak word vir godsdienstig-georiënteerde skole volgens ouerkeuse. Naguil kon blykbaar nie die kloutjie (dat wáre demokrasieë voorsien in die behoefte aan godsdienstig-georiënteerde skole) by die oor (dat ons in Suid-Adrika ons self ook as 'n demokrasie beskou) bring nie.

Wat godsdienstig-georiënteerde onderwysvoorsiening betref, is ons "demokrasie" dus nie "in lyn" met die vyf gemelde "ware" demokrasieë nie ; die eerste logiese afleiding om te maak. Keuse, binne perke, en nié dwanguitoefening in skole soos by ons die geval is nie, is 'n hoeksteen van 'n ware demokrasie. Soos deur die navorsingsbevindinge aangetoon, behoort ook alle Suid-Afrikaanse ouers 'n keuse te kan uitoefen oor die tipe onderwys wat hulle vir hul kinders verlang. Ons het dit nie, en dit plaas daarom 'n vraagteken agter die soort demokrasie in ons land ; 'n tweede logiese afleiding.

Eenvoudiger kan ek dit nie verduidelik nie, en ek vertrou Naguil sal nou begryp. Naguil, op jou vraag : "Namens wie praat u hier?", is my antwoord : Ek praat namens myself. Mag ek, ewe billik, ook vra : Namens wie praat Naguil?

Thursday, 1 October 2009

Christelike skole vir Christenkinders

Dankie, Joan du Toit, vir die vriendelike opmerking in jou brief,  "Leef jou geloof uit om dit sterk te hou" (DB,29.09.2009).

Is dit blote toeval dat jy in jou brief sê : "Reg oor die wêreld het 'n alliansie tussen staat en kerk...geen goeie gevolge gehad nie", en ek op dieselfde dag 'n resensie van 'n boek oor dieselfde onderwerp,  The Challenge of Pluralism : Church and State in Five Democracies, sou lees? Dié boek bevat navorsingsbevindinge oor die verhouding tussen Kerk en Staat   -   en in die besonder oor hoe die onderskeie onderwysstelsels daardeur geraak word   -   in Brittanje, Australië, Nederland, Duitsland en Amerika.

Amerika verskaf geen finansiële hulp aan godsdiensgebaseerde privaatskole nie. Hierteenoor vereis Brittanje steeds Christelike godsdiensonderrig in sowel openbare as privaatskole. Duitsland voorsien godsdiensonderrig in sowel Protestantse as Katolieke skole, maar nie vir Moslems nie.

Van dié vyf demokrasieë voorsien Nederland en Australië die beste in ouers en leerlinge se godsdienstige behoeftes deur die voorsiening van 'n verskeidenheid van godsdienstig-georiënteerde én sekulêre skole.

Wat staan in die weg van 'n gesamentlike poging deur alle Christelike kerkinstansies, gesteun deur Christelik-georiënteerde onderwysersverenigings en kultuurorganisasies, om met die owerheid in gesprek te tree met die oog op grondwetlike wysigings waarvolgens Christelike skole in ons land 'n konstitusionele werklikheid kan word?

Waarom 'n sekulêre onderwysbedeling afdwing op Christene, wat die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak? Christenkinders het géén heilsbehoefte aan kennis van nie-Christelike gelowe óf die evolusiegeloof óf dreigemente van persone soos George Claassen binne die bestaande skoolstelsel nie.

Saturday, 26 September 2009

Christenjuriste tot ouers se redding?

George Claassen se ateïstiese intimidering van Christelik-georiënteerde skole herinner aan Jan F.E.Celliers se gedig,  "Die Kampsuster", wat begin met : "Suster Anna, ek voel dis die dood wat kom." Die doodsklok het inderdaad begin lui vir Christelike godsdiens-onderrig op skool. Vérsiendes onder ons het dit sien kom.

In 1963 het dié klok vir Amerikaanse skole gelui. Die Christelike moes éérs plek maak vir die humanisme en daarná vir die evolusionisme, albei ateïsties.

Die humanis, Jeremy Rifkin, sê : "We are the architects of the universe. We are the kingdom, the power and the glory, forever and ever."

Die evolusionis Steven Jay Gould trek die lyn deur na rassisme en sê : "Biological arguments for racism may have been common before 1850, but they increased by order of magnitude following the acceptance of evolutionary theory."

Voordat die kommunisme suksesvol gevestig kan word, moet die ateïstiese evolusionisme vooraf gevestig word. Kommunisme vind nie maklik ingang in 'n samelewing wat in 'n Skeppergod glo nie.

Claassen wil hê dat Darwin vir Christus in die klaskamer vervang. Vir Christene wag daar ongetwyfeld 'n stryd om lewe en dood in die klaskamer. Wat beoog predikante en die kerklike strukture om hieromtrent te doen?

Dit is 'n stryd wat hoofsaaklik in geregshowe gevoer gaan word. Sal Christenregsgeleerdes tot ouers se redding kan kom?

Wednesday, 23 September 2009

Wees 'n denk-ros eerder as 'n handperd

In sy brief, "Skrywer skaar hom eerder by Jansen" (DB, 17.09.2009), maak Whitey van my brief, "Halwe waarheid 'n nasionale gevaar" (DB, 15.09.2009), 'n geleentheidsmes om met die Broederbond 'n appeltjie te skil wanneer hy beweer : "Breitenbach se brief herinner baie aan die destydse ou Broederbond."

Waarom, Whitey, jou Broederbondgal ook oor ander braak? Wees grootmoedig en sorteer jou probleem met die Broederbond openlik uit! Of dui die gebruik van 'n skuilnaam op 'n onvermoë daartoe?

Whitey beweer dat ek "...namens prof. Jonathan Jansen wil dink..." Dié opmerking getuig van die gebruikmaking van die inleestegniek   -   om iets moedswillig "in te lees" wat nié gesê is nie. Ook beskuldig Whitey my van "...pretensieuse hoogdrawendheid".  "Pretensieus" beteken verwaand, aanmatigend, grootpraterig en aanspraak op kundigheid. Hoewel nie 'n deskundige nie, beskik ek oor kennis van die denktipes waarna ek in my brief verwys het.

Whitey, kom ons klim van ons perdjie af en bestyg die nie-ideologiese, waarheidsoekende en selfstandigdenkende  denkperd, en beweeg op die rug van dié denk-ros deur ons samelewingslandskap eerder as om handperde op sleeptou van ander te wil wees.

Tuesday, 22 September 2009

Rassisme verg 'n neutrale kriterium

Hiermee sommer net 'n van-die-heup-af  leke-opmerking oor rassisme in 'n saamsoeke na 'n beter verstaan, en oplossingsoeke, van hierdie verhoudingsversteurende tipies-menslike verskynsel.

Dit is darem net té opvallend om bruin skrywers soos Jonathan Jansen, Henry Jeffreys, Zelda Jongbloed en Rhoda Kadalie se skrywes oor rassisme in Die Burger mis te kyk en te ignoreer.

 Sou die leser uit dié bydraes kon aflei dat rassisme 'n groter en/of belangriker bewussynsaangeleentheid vir bruin mense as vir wit en swart mense is? Indien dit wel so sou wees, kan die tentatiewe hipotese gestel word dat veral bruin mense hulself aan die ontvangkant van rassisme beskou? Maar is dit wérklik so?

Om hierdie hipotese te toets, verg 'n deeglike ontleding van die rassisme-verskynsel, tot 'n definisie daaromtrent gekom te word, asook 'n kontekstuele ondersoek presies waar rassisme sigself voordoen soos bv. by die werk, op sportterrein of op tersiêre gebied.

Binne elk van dié rassisme-gekenmerkte kontekste behoort dit ook uitgedruk te word op 'n glyskaal van die graad van voorkoms daarvan soos bv. tussen die pole van blatante, naakte rassisme en subtiele, verskuilde rassisme.

Die besondere kontekstuele spelreëls in ag genome, behoort bewerings van rassisme ondersoek te word binne die spesifieke konteks waarin dit voorkom met inagneming van die vorm en graad van intensiteit waarin dit voorkom, sodat wel deeglik onderskei kan word tussen legitieme én valse bewerings van rassisme.

Net so min as wat legitieme bewerings van rassisme geduld kan word, net so min kan valse bewerings geduld word. Dit noodsaak ons derhalwe om te vra na 'n ras-neutrale kriterium vir rassisme.

Tuesday, 15 September 2009

Halwe waarheid 'n nasionale gevaar

In sy artikel, "'n Hartsverhaal uit die hart van ons land" (DB,08.09.2009), sê prof. Jonathan Jansen : "Ek glo ten diepste dat alle mense dieselfde is." 

Behels dié aanname dat alle mense eenders is? Jansen se "geloofsaanname" wat mense betref, is wanstaltig en verteenwoordig beslis 'n halwe waarheid. Dit verbaas dat iemand van Jansen se akademiese aansien   -   en wie se mening dikwels in die media gehoor word   -   so 'n waarheidsrowende stelling kan maak.

Jansen se ongebalanseerde mensbeskouing verteenwoordig slegs die algemeen, universeel en integrasionistiese perspektief op die mens en nié, balansskeppend, ook die besonder, individueel en gedifferensieerde perspektief op die mens nie.

Ons omringend waarneembare werklikheid manifesteer sigself nié net op 'n eensydig-algemene wyse nie. Die algemene vergestalt sigself altyd óók in die besondere. Benewens die algemene mens is daar ook altyd die besóndere mens ; naas die algemene (wat ook al), is daar ook altyd die besóndere (wat ook al).

Indien ons, soos Jansen, sou glo dat alle mense dieselfde (eenders) is, dan is differensiasie-denke (nie diskriminasie-denke nie!) nie deel van ons denke nie, maar alleen integrasie-denke ; ook nie divergente denke nie, maar alleen konvergente denke wat nét op éénheid fokus en nie ook op verskeidenheid nie.

Jansen se stelling negeer duidelik die beginsel van eenheid-in-die-verskeidenheid én verskeidenheid-in-die-eenheid. Dit is juis die implementering van dié soort ongebalanseerde denke wat tot nog toe rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika gehad het. Om die nasionale huis op halwe waarheid te bou, is dwaas én gevaarlik.

Friday, 28 August 2009

Afrikaans opnuut onder druk

Prof. Koopman se artikel, "Kom ons leef dié Afrikaans" (DB, 14.08.2009), verg verdere kommentaar. Sy hoofveronderstelling daarin blyk te wees dat, indien die Afrikaanse taal transformatories "verhibridiseer" word, dit sal lei tot 'n "...vergewende, vrysprekende, versoenende, helende, regmakende, vermenslikende, vernuwende en hoopgewende" bedeling in Suid-Afrika.

Ek bevraagteken egter dié veronderstelling aan die hand van, onder meer, die volgende vrae: Kan gesindhede kunsmatig verander word deur (enige) taal willekeurig te manipuleer? Werk dit nie eerder andersom in die sin dat veranderde gesindhede uitdrukking vind in die taal nie? 1 Korintiërs 13:1 se: "Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie...", is 'n bewys van die futiliteit van taalverandering sónder gesindheidsverandering.

'n Volgende vraag: Waar ter wêreld het dié "verhibridisering" van 'n taal sy "ou bagasie" afgeskud en tot versoening, harmonie en vrede gelei? Het Koopman, as akademikus, dit deeglik nagevors?

'n Verdere vraag: Kan 'n "verhibridiseerde" Afrikaans sigself op die lange duur handhaaf in die volgehoue aanslag van verengelsing? Is Koopman se "hibridiese" taalidee nie maar net 'n halfwegstasie na volslae verengelsing nie?

Vervolgens: Watter status sal "hibridiese" Afrikaans geniet in die oë van die internasionale taalgemeenskap, en veral oorsese tersiêre instellings waar ons moedertaal tans doseer word?

'n Laaste vraag: Tale dien as sleutels wat die werklikheid vir ons ontsluit in terme van kennis. Wat is die lewensvatbaarheid van "hibridiese" Afrikaans as universiteits-  en wetenskapstaal?

Dit is verbasend hoedat daar by geleentheid uit akademiese oord dinge van akademici verneem word wat, deur hul geleenthede tot ondersoek en navorsing, van veel beter behoort te weet. Waarom, anders, beklee hulle hierdie posisies? Koopman se "hibridiese" taalidee hou nie rekening met die taalwerklikheid sowel as die uiteindelike gevolge van dié idee nie. Vir die soveelste keer in sy bestaan, verkeer die Afrikaanse taal opnuut onder druk van diegene wat dit wil vernietig.                   (ngn)

Thursday, 27 August 2009

Sterf taal, dan sterf volk ook

Die Afrikanervolk en Afrikaans is onskeibaar verwant. Volk en taal het gedurende ineengestrengelde ontwikkelingsfases op Afrika-bodem gegroei totdat die volk wasdom bereik en uitdrukking daaraan gegee het in die Afrikaanse taal as amptelik erkende spreek-  en skryftaal, kanseltaal, regstaal en wetenskapstaal. Geeneen van die inheemse tale kon hom dit nadoen nie.

Vele Afrikaanse taalprestasies se grondslag is deur lede van die Afrikanervolk gelê. Met dié aanspraak word taalbydraes van buite die Afrikaner-volkskonteks geensins ontken nie. Oor etlike geslagte het die bydraes van begaafde Afrikaner-volksgenote by wyse van dagboeke, preekbundels, geskiedskrywing, prosa, poësie en dergelike meer, Afrikaans   -   volgens spelwyse, skryfstyl en idioom van die tyd   -   vir die nageslag op skrif vasgelê en as kosbare erfenis nagelaat.

Taalbedreiging word nie emosieloos en passief benader nie. Ek wil beweer dat die vurigste ywer om die behoud van Afrikaans   -   en die strewe na die behoud van taalstandaarde   -   vanuit besorgde Afrikaner-volksgeledere kom. Synde 'n volkstaal, sal Afrikaans slegs sterf indien die Afrikanervolk sterf. Hiervan is ons taalvyand terdeë bewus, daarom 'n tweeledige aanslag op taal én volk!

Vernietiging van Afrikaans   -   waarin die Afrikanervolk se geestesgoedere opgesluit is   -   moet lei tot die vernietiging van dié volk. Mede-Afrikaanssprekendes doen tans 'n beroep op die Afrikanervolk om sy volkstaal en  -karakter ondergeskik te stel aan die bedenklike transformasieproses, sodat dit kan inskakel by die grys, konformerende mensemassa.

Met die gesins- , skool-  en kerklike lewe het die transformasieproses reeds ver gevorder, maar die laaste ontbrekende spyker in die volksdoodkis   -   getransformeerde Afrikaans   -   ontbreek nog.

Op die vooraand van die Anglo-Boere-oorlog sê president Kruger : "Dis nie die stemreg wat julle wil hê nie, maar my land." Vandag sê wit Afrikaners : "Dis nie net ons taal wat julle wil vernietig nie, maar ook ons volk."

Sterf taal, sterf volk.

Wednesday, 26 August 2009

Dis niemand se reg om taal te vernietig

Khaki se brief, "Geen traan oor Afrikaans uitsterf" (DB,19.08.2009), verwys.

Ek bejammer Khaki vanweë sy gebrek aan onderskeidingsvermoë. Dit is duidelik dat hy nié onderskei tussen taal en sprekers nie, en gooi dus die kind mét die badwater uit.

Afrikaans synde my moedertaal, koester ek egter respek vir álle tale, Engels inbegrepe. Vanweë historiese taalervaringe met die Engelse   -   met hul imperialistiese taalingesteldheid   -   is baie Afrikaanssprekendes om dié rede vervreem van Engelssprekendes, maar nie noodwendig van die Engelse taal nie.

Afrikaanssprekendes is gewillig om Engels te praat, lees en skryf ; bewys van 'n teenoorgestelde taalgesindheid as dié van die taalimperialiste. Ons glo in die spreekwoord : Soveel tale as jy kan, soveel male is jy man (mens).

Indien Khaki dié land se tragiese taalgeskiedenis ken, sal hy weet dat juis die Engelse taal sedert 1806   -   tot selfs nog ná 1910   -   by geleenthede op Afrikaanstaliges afgedwing is in howe, landsadministrasie, skole en selfs Afrikaanse kerke deur middel van wetgewing, met die doel van volslae verengelsing.

Tesame met ons mense wat op slagvelde en in konsentrasiekampe onder Engelse hand gesterf het, is ook taalstemme daarmee gestil. Geen wonder dat Engels die internasionale reputasie van 'n "killer language" verwerf het nie.

Namens dié Afrikaanssprekendes wat Khaki in die verlede benadeel het, bied ek   -   ter wille van die taal-eer van Afrikaans   -   my verskoning aan hom. Ek verseker hom egter dat sy ervaring nie 'n druppel aan die emmer is van ons ervaring van die Engelse kant af nie.

My moedertaal is my geboortereg. Vernietiging van enigeen se taal is niemand se reg nie.

Saturday, 22 August 2009

Het Jongbloed mes in vir wit mense?

Zelda Jongbloed se artikel, "Ons moet deurdag oor rassisme gesprek voer" (DB,17.08.2009), verwys.

Jongbloed laat haar uit oor rassisme, maar kan kwalik haar eie rasse-vooroordeel verbloem in haar ondeurdagte rubriek. En, indien sy haarself nie van haar eie rasse-vooroordeel kan stroop nie, hoe kan sy verwag dat ander dit moet doen?

Sy kritiseer pres. Zuma wat "...dink dat debat oor rassisme (nie) nodig is nie", omdat hy "...dieper insig in die kwessie van nie-rassigheid " soek. Jongbloed bepleit 'n "nasionale debat oor rassisme" om "strategieë teen rassisme uit te werk." Dit klink baie mooi. Maar dit gee ons die kans "...om oor kwessies soos die privilegie van 'n wit vel..." te praat. Ware motief?

Waarom lê Jongbloed nie dapperheid aan die dag en noem die ding by die naam nie? Sy moet dit deeglik toelig met voldoende geldige en onbevooroordeelde voorbeelde wat oor alle rassegrense heen sny, eerder as om na die "...die privilegie van 'n wit vel..." te verwys.

Sy bevind haar in die geselskap van hulle wat worstel om vrede te maak met die feit dat die meeste mense, ongeag hul ras, hulself skuldig maak aan die verskynsel van rassisme. Watter genoegdoening put sy uit die opgrawe van ou koeie uit die rassismesloot?

Tuesday, 18 August 2009

Interne taalstryd vir Afrikaanses?

Belangstellend, dog ook met verontrusting, lees ek prof. Nico Koopman se artikel,  "Kom ons leef die Afrikaans" (DB,14.08.2009). Koopman sê : "Hy is nie bekommerd oor die toekoms van 'n vergewende, vrysprekende, versoenende, helende, regmakende, vermenslikte, vernuwende en hoopgewende Afrikaans nie..."

Geen taal beskik vanself oor sodanige eienskappe soos deur Koopman genoem nie   -   ook nie Afrikaans nie. Daarom moet die sprekers van die taal dit sodanig "transformeer" dat dit oor dié eienskappe sál beskik. Dié "transformasie-agent" noem Koopman "hibriditeit".

Koopman beweer : "Afrikaans word self ook getransformeer...sodat ons kan konformeer aan die nuwe werklikheid waarvan ons droom in ons land se Handves van Menseregte."  Hy sê verder ook : "...die Belydenis van Belhar...beskryf, oorspronklik in Afrikaans, die soort samelewing wat God deur middel van sy mense skep."

Vir dié doel van 'n  nuwe Suid-Afrika,  "...moet Afrikaans en sy sprekers...self ook getransformeer word."  Dit moet geskied deur Afrikaans  "...se inhoude (te) vernuwe...(en) bevrydende, versoenende en brugbouende woordeskatte...(asook) erkenning...aan alle vorme waarin Afrikaans gepraat word."

Hy sê : "Die idee van een Standaardafrikaans wat die gebruikswyses van (afwykendes) as minderwaardig...beskou, moet laat vaar word."

Koopman beweer : "Afrikaans dien as...dienskneg van transformasie, en...word self getransformeer...as hy 'n etos van hibriditeit omarm...Hibriditeit verwys...daarna dat Afrikaans met ander tale meng."

Koopman se "hibriditeit-transformasie-agent" herinner my aan  Son  se plakkate teen lamppale en dié se, vir my onaanvaarbare, gebruik van Afrikaans. Is dít 'n voorbeeld van dié "hibriditeit"?

'n Segspersoon van  Son  se redaksie sê dié koerant se lesers is 60% bruin, 21% wit en 19% swart, met 'n daaglikse leserstal van tussen 110 000 en 125 000, waarvan 90 000 in die PE-Uitenhage-Despatch-omgewing is. Is hierdie statistiek 'n aanduiding van presies wáár die behoefte aan die "hibriditeit" van Afrikaans lê? Is ek 'n "nie-transformis" as ek wil vashou aan Standaardafrikaans?

Wag daar dalk 'n interne taalstryd op ons?

Thursday, 13 August 2009

Taalhouding en menseverhoudinge

Prof. Jonathan Jansen se artikel,  "Taalstryde ondermyn Afrikaans se potensiaal" (DB,11.08.200), verwys. 

Ek erken ek het nie voldoende insig in die Jansendenke en  -logika nie, en volg hom derhalwe moeilik in sy redenasies   -   my tekortkomig. Hy sê : "Dit is grotendeels 'n volkseie gesprek ('n uitgediende term) met geringe gevolge vir die land of...onderwys."

Jansen se verwysing na die "volkseie" as 'n "uitgediende term" begryp ek nie. As akademikus sal hy weet dat die mens slegs "van binne-uit" behoorlik kan verstaan. Van wanneer af bevind Jansen homself binne die geledere van die Afrikaner-volkseie konteks dat hy so 'n aanmatigende uitspraak kan maak   -   'n gebrek aan insig van sy kant, of bloot klakkelose napratery?

Hy sê : "Ek hou voet by stuk dat hierdie debat fundamenteel nie 'n taaldebat is nie, maar 'n politieke een." Jansen is geregtig op sy mening, maar ek darem seker op myne ook! Vir my is dié debat nie só simplisties nie, maar veeldimensioneel, en sluit dit gevolglik ook dimensies van die Afrikaanse taal soos die historiese, linguïstiese, sosiale, ekonomiese, opvoedkundige, estetiese, juridiese, etiese en godsdienstige in. Jansen sê : "Ons het 'n taalhouding (teenoor Afrikaans) as gevolg van...die politieke spanning en dwang waarteen baie van ons in die 1970's so gestry het."

In sy oorvereenvoudiging van die taalstryd gun Jansen duidelik nie dieselfde "taalhouding" (teenoor Engels sedert 1806) aan die wit Afrikaner nie. Jansen beweer dit is "Afrikaanse chauviniste" se "...houding jeens Engels wat menseverhoudinge beduiwel."

Jansen, en wat dan van  "Ons (ook u eie)...taalhouding (teenoor Afrikaans)..."  en menseverhoudinge? 

Wednesday, 5 August 2009

Tirannie van die massa hier aanvaar

Ek staan in Markstraat, naby die ingang tot die gebou vir munisipale rekeninge. Voor my is die straat besaai met die inhoud van vullishouers. Die straat bestaan uit tweerigting-rybane, geskei deur 'n sperstreep. In die middel van albei bane lê onderskeidelik twee groot vullishouers omgekeer   -   'n swaar betonhouer wat beslis 'n ernstige verkeersgevaar inhou, en 'n groot, blou plastiekhouer.

Ek sien hoe motors verplig word om die sperstreep te oorkry   -   telkens 'n verkeersoortreding. In die agtergrond hoor ek dreunsang, waarskynlik afkomstig van die parkeerterrein voor die stadsaal. Ongeveer 10 minute lank staan ek die omgewing en inneem terwyl verskillende gedagtes by my opkom. Wat sal die reaksie wees, sou ek   -   as witte   -   probeer om die versperrings uit die straat te verwyder? En ek wonder ook of die verkeersowerheid dan geen rol hier te speel het nie. In dié mikro-omgewing sien ek die makro Suid-Afrikaanse tafereel afspeel voor die oë van die toeskouers, duidelik gekenmerk deur 'n onversteurbare nie-inmengende passifisme. Ek beskryf dié toneel vir myself as : die verlammende effek van die tirannie van die massa.

'n Polisie-vangwa ry in die rigting daarvan. Ek gaan staan en hou hom dop. Die SAPD sal sekerlik die versperrings verwyder, die straat beveilig en my massatirannie-gedagte verkeerd bewys. Die vangwa ry egter stadig óm die versperrings en ry onversteurd verder. Dit is vir my moeilik om te aanvaar wat ek sien. Hoe vertolk ek dié SAPD-gedrag   -   as willoos, magteloos, sanksionerend, of wat?

Ons regering is tegelyk 'n skepping én verlengstuk van die massa ; gyselaar van sowel die materiële as sielkundige dimensies van die massatirannie. Die hoofgevaar lê egter in die geleidelike aanvaarding van die tirannie-onaanvaarbare in ons Suid-Afrikaanse samelewing ; die aanvaarding van massatirannie tot 'n nasionale modelleefwyse.

Monday, 3 August 2009

Wié glo jy?

Op 1 April 2007 lewer George Claassen, president van Sceptic South Africa, 'n voordrag: "Geen rede om meer in 'n god te glo nie", by die KKNK (Klein-Karoo Nasionale Kunstefees). Hy sê: "...daar is geen enkele rede om vandag nog te glo of te moet glo nie. Daarvoor het die wetenskap sedert Copernicus...Galileo...(en) Darwin...vandag te verdoemend die sprokies wat in die Bybel...voorkom, finaal nek omgedraai." (Sien Lukas 18:8b)

Vir Claassen is geloof en rede onversoenbaar, en is "...wetenskaplike bevindings en rasionaliteit die enigste meganisme om te oorleef in 'n heelal...waarin God...darem te dêm stil is wanneer die mens hom of haar die nodigste het." (God dalk ook 'n "haar" volgens Claassen? Het Jesus dan nie na Hom as "Vader" verwys nie?)

Voorts beweer Claassen: "...dit is Darwin wat die skeppende godheidsgedagte in die 19de eeu sy eerste ernstige kopskoot gegee het   -   'n wond wat daarna stelselmatig deur die openbaringe van moderne genetika septies geword en uiteindelik tot die dood van die Ewige Lewe-verwagting sal lei."

Ateïsme neem internasionaal vinnig toe, veral onder natuurwetenskaplikes en "...veral toe Darwin se evolusieteorie nuwe lewe begin kry het", aldus Claassen. Vanaf 1914 tot vandag het natuurwetenskaplikes se geloof in God Drieënig vanaf 30% tot 10% gedaal.

Prof. Julian Müller, bekende teoloog, sê in 'n artikel, Jy kan wel geloof en evolusie omhels: "Dit word onmoontlik om in 'n God te glo wat in ses dae alles geskep het, én ook die evolusieteorie te aanvaar." Jy glo óf die Bybel, óf die evolusieteorie "...wat van jou 'n ateïs maak." Hy noem dit egter 'n "oorvereenvoudigde keuse" wat berus op " 'n verkeerde verstaan en interpretasie van die Bybel", want die Bybel moet ook onderwerp word aan "kritiese, wetenskaplike denke...so kan Calvinisme en Darwinisme...in dieselfde asem genoem word." Regtig?

Wie besluit jy om te glo   -   Claassen of Müller? Wat myself betref, nie een van die twee nie, maar wel vir Paulus wat vir Timoteus gesê het: "...bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo." (2 Timoteus 3:14-15)  (ngn)


Tuesday, 28 July 2009

Hoekom is niks dan gesteel nie?

Ná 'n maand lange besoek aan ons seuns in Engeland is ons weer tuis. Wat 'n voorreg om by vele geleenthede saam met ons kinders hul nuwe omgewing te kon verken en geniet ; 'n fees vir die sintuie en inspirasie vir die gees om kortstondig van ons negatief-oorheersde Suid-Afrikaanse omgewing te kon ontsnap.

'n Tydelike gemis   -   met groot dankbaarheid ervaar   -  was dié aan minibus-taxi's op die Engelse paaie, gekenmerk deur hoflikheid en geduld in druk verkeersvloei ; die opsigtelike afwesigheid van grootskaalse armoede, asook die afwesigheid van 'n bakhand-mentaliteit gekombineer met 'n gesindheid van "ek doen niks tensy ek daarvoor vergoed word nie".

Wat 'n skrille kontras om weer tuis te wees waar trots en lojaliteit van my as landsburger verwag kan word. Ek het nou groter begrip waarom ons jongmense ons land verlaat vir 'n heenkome elders. Onder die amptenare by paspoortbeheer op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg, merk ek geen bruin-, Indiër- of wit gesig nie ; so ook nie by die SAL-toonbanke vir bagasie-inlewering en instapkaarte nie. 'n Buitelander se indrukke móét dus dié wees van 'n "onverteenwoordigende alles-is-swart Suid-Afrikaanse bestel".

By die SAL-toonbank word ons een tas in 'n teenoorgestelde rigting gestuur as die ander drie, dog by navraag word ek verseker hulle kom wel weer by mekaar uit. Op die P.E.-lughawe kom net drie daar aan ; die vierde een het agtergebly. Van die drie wat daar aankom, is almal se slotte oopgebreek en verwyder en opsigtelik gepeuter met die inhoud van elke tas, dog   -   genadiglik   -   word niks daaruit vermis nie. Dit is vreemd!

Die ontbrekende tas word die volgende dag by ons huis afgelewer ; ook oopgemaak en met die inhoud gepeuter, dog niks is verwyder nie. Vreemd! Die persoon wat dit aflewer, moet ook nog tasse op Grahamstad en Port Alfred gaan besorg   -   'n ironiese interpreneurskap vertrekkende vanuit die onbekwame dienslewering van Acsa-amptenare en ten koste van betalende kliënte.

Kan iemand met meer ervaring dalk 'n antwoord verskaf vir ons oopmaak-maar-niks-is-weg-ervaring?

Friday, 26 June 2009

Moord om evolusie te bewys?

Elke mens staan voor dié vrae : Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Wat is my eindbestemming? Dit word beantwoord deur verbandhoudende filosofiese agtergrondsvrae : Wat is werklik? (Aangaande mens en wêreld.) Wat is waar? (Aangaande kennis as waarheidskennis.) Wat is goed? (Aangaande die lewenswaardevolle.)

Die is die wetenskapsfilosoof se taak om na aanleiding van dié vrae te sê wat  "wetenskap"  is. Vir die logies-positivistiese standpunt kwalifiseer wetenskap alleen wanneer dit aan die klinies-rasionele natuurwtenskaplike kriterium van verifikasie (waarheidsondersoek) kan voldoen. Die krities-rasionalistiese standpunt stel hierteenoor die kriterium van falsifikasie vir 'n wetenskaplike teorie. Hiervolgens kan 'n teorie   -   as verklaringsinstrument   -   nooit as volkome waar bewys word nie (soos wat die logies-positiviste glo), maar moet daar deur volgehoue ondersoek en navorsing gepoog word om dit te falsifieer.

Volgens die paradigma-standpunt word wetenskap binne onderskeibare paradigmatiese denkraamwerke beoefen, saamgestel uit paradigmaties-eie denkinstrumente soos konsepte, stellings, definisies, hipoteses, modelle en teorieë. Wetenskaplike paradigmas is dikwels onversoenbaar en wetenskaplikes selfs vyandig teenoor mekaar. Dit is juis die geval met evolusioniste en kreasioniste as wetenskaplikes. Dié paradigmas is onversoenbaar met mekaar. By nadere ondersoek blyk dit dat die evolusie-teorie nie aan die kriterium van verifikasie voldoen nie, en reeds deur die falsifikasie-kriterium as onwaar uitgewys is.

Hóé ver sal wetenskaplikes gaan om hul teorie te probeer bewys? Sal hulle selfs moord oorweeg? Die Australiese Aborigines is vroeër as diere beskou. In Racism in Australia : Creation ex nihilo (Maart 1996), word berig : "A...missionary was a horrified witness to the slaughter...of a group of Aboriginal men, women and children. Forty five heads were then boiled and the best skulls packed off for overseas."
Bestemming? 'n Evolusie-uitstalling in 'n Britse museum!

Thursday, 18 June 2009

Wys my wie jou vriende is geld hier

Ek reageer op Evo Lusi, Groot Karoo, se kommentaar (DB, 15.06.2009) op my brief,  "Dalk misleidende evolusie-aanspraak" (DB, 13.06.2009).

Evo Lusi sê : "Dis anti-evolusie fundamentaliste soos dr. T.C.Breitenbach wat sorg dat die ou volkie nooit verder as feetjies en kabouters opgevoed sal word nie. Dis baie dom."

Evo Lusi, indien Christenwees en "fundamentalis" vir u sinonieme begrippe is, noem my dan gerus 'n fundamentalis. Om met  "die ou volkie"  geassosieer te word, beskou ek as 'n pluimpie.

Besef  Evo Lusi dat ook hy/sy 'n "fundamentalis" is? In sy boek, The God Delusion, sê evolusionis en selfverklaarde ateïs, Richard Dawkins,  "Fundamentalist Christians are passionately opposed to evolution and I am passionately in favour of it. Passion for passion we are evenly matched...that...means we are equally fundamentalist."

Is Evo Lusi goed ingelig aangaande die verband tussen evolusie en die Godslasterlike ateïsme? Dawkins help hiermee wanneer hy sy posisie as evolusionis stel : "I am attacking God..."  Dawkins sê duidelik :  "...I am talking only about...Yahweh, the God of the Old Testament", en vervolg dan uitdruklik : "The God of the Old Testament is arguably the most unpleasant character in all fiction : jealous and proud of it ; a petty, unjust, unforgiving control-freak ; a bloodthirsty ethnic cleanser, a homophobic, racist, genocidal, pestilential, sadomasochistic, malevolent bully."

Vir my as Christengelowige, is dit naakte Godslastering en absoluut onaanvaarbaar. Vir Dawkins kan God/'n god net die eindproduk van evolusie wees. Hy sê : "... any creative intelligence, of sufficient complexity to design anything, comes into existence only as the end product of...evolution."

Evo Lusi, die spreekwoord : "Wys my wie jou vriende is", geld ons beide. Ons het duidelik verskillende vriende.

Wednesday, 17 June 2009

ANC stry steeds hard vir sosialisme

Pieter du Toit se insigtelik-puik en kommerwekkend-realistiese artikel, "ANC wil sy woord wet hê" (DB,10.06.2009), bied stof tot diepdringende nadenke. Slegs die mees onverantwoordelike landsburger   -   leuenvoos mislei deur die ANC en geringskattende sy vryheid   -  sal dié artikel-inhoud aflag.

Du Toit skets geen uit-die-duim-gesuigde scenario nie ; inteendeel, 'n skrikwekkend realistiese een. Hy skryf oor die sogenaamde nasionale demokratiese rewolusie (NDR) en waarop dit afstuur vir Suid-Afrika. Die meeste van ons weet dat die ANC-revolusie ver van afgeloop is en dat daar verdere fases voorlê.

"Die NDR is die ANC se...meesterplan vir die radikale...transformasie van Suid-Afrika...(met) intervensie op elke denkbare vlak van die samelewing..." soos die politiek, ekonomie, onderwys, regbank en media. In sy "...vaste plan om die land te verander" volgens ANC-denke, is die NDR se vernaamste hoekstene "...die politieke en ekonomiese emansipasie van swart mense. Vir dié doel is daar in Polokwane besluit  "...die regering moet hom...by die ekonomie kan inmeng en...in staat wees om natuurlike hulpbronne namens die mense in besit te neem."

In 1988 reeds het Joe Slovo, SAKP-leier, gesê "...daar moet ná die koms van demokrasie nie te hard gepraat word oor die eintlike doelwit van die bevrydingsbeweging nie" ; 'n doelwit wat steeds springlewendig is   -   "...die stryd om sosialisme".

Met kommunisme op die rug van sosialisme, en met talle voorbeelde van bloedige gewelddadige onderdrukking van opstand teen kommunisme, dwing ons om te vra of die NDR bloedloos of bloedig in Suid-Afrika gaan verloop.

Saturday, 13 June 2009

Dalk misleidende evolusie-aanspraak

Die berig "Fossielvonds verlore skakel na die mens" (DB, 21.05.2009), verwys.

In hierdie berig neem die leser kennis van "Ida...een van die belangrikste primaat-oorgangsfossiele...aan die wortel van antropoïed-evolusie...wat na die mens gelei het (en)...wat menslike evolusie verduidelik."

Van talle vrae, is dié rondom die stelling "dat Ida se foto vir die volgende 100 jaar in handboeke sal wees", slegs een. Is dié foto ook bestem om ontmasker te word as evolusie-fantasiedenke soos vir voorstellings van die evolusie van perde, voëls, die Geologiese Kolom en Haeckel se "biogeniese wet" wat almal reeds ontmasker is? En die misterie is : Ten spyte daarvan dat dié voorstellings lankal as onwaar bewys is, leef hulle steeds voort in handboeke vir leerlinge en studente. Daar is wél 'n rede daarvoor.

Voorbeeldgewys kan daar na Haeckel se reeds ontmaskerde "biogeniese wet" verwys word. In 1859 verskyn Darwin se The Origin of Species (verkorte titel), wat in 1860 in Duits vertaal is. Die Duitse professor, Ernst Haeckel van die Universiteit van Jena, het gedink dit was 'n wonderlike teorie waarvoor hy bewyse moes help vind.

Omdat daar géén bewyse vir Darwin se teorie was nie, het Haeckel   -   embriologie-professor   -   die sketse van 'n vier maande oue hond-enbrio en 'n vier maande oue menslike embrio só verander dat hulle presies eenders lyk, en toe beweer dat hond en mens 'n gemeenskaplike voorvader het (Creation Magazine, March-May 1996, p.34).

Ook die sketse van embrio's van ander diersoorte   -   almal van vervalste kiewe voorsien   -   is vervals, en 24 sulke vervalste voorstellings is opgeneem in sy boek "Anthropogenie" (1874). (Creation ex nihilo, March-May 1998, p.51). Haeckel is vir sy waarheidsverdraaiing en onwaar voorstellings deur sy universiteit verhoor en skuldig bevind aan bedrog.

Is Ida nie net nóg 'n soortgelyke misleidende evolusie-aanspraak nie? Die tyd sal leer.

Friday, 5 June 2009

MK-vegters veel tragieser as ou vlag

Die berig "Ou vlag by Bulls se sege 'tragies' " (DB,01.06.09), verwys.

Wanneer kwalifiseer iets om regtig tragies genoem te kan word? En wanneer word die tragiese gemanipuleer om eie (politieke) gewin?

Volgens dié berig het mnr. Gert Oosthuizen, ANC-adjunkminister van sport, na die vertoning van 'n "enkele oranje-blanje-blou-vlag" by dié rugby-eindstryd verwys as "absoluut tragies" ; as " 'n klap in die gesig van die regering en pres. Jacob Zuma" ; as " iets wat die regering met alle mag wil uitroei", en wat "met minagting verwerp moet word".

Gaan die ANC elke keer kruidjie-roer-my-nie-agtig reageer wanneer burgers in 'n demokratiese bestel nie na sy pype dans nie? Indien dit 'n reël van die stadion-beheerliggaam is dat geen ou landsvlae daarbinne toegelaat word nie, dan sou dit ongetwyfeld 'n oortreding van sodanige reël wees deur dié vlag te vertoon.Maar is dit nie dié instansie se verantwoordelikheid, én prerogatief, om dié aangeleentheid te hanteer nie?

Wat anders as politieke gewin noodsaak Oosthuizen tot sy uitlatings? Soos wat de oude ANC kwak, so piepen die adjunk-minister volgens "His Master's Voice". Waarom kwak die ANC nie ook in eie huis om dienslewering te verbeter, misdaad te bekamp en korrupsie vas te vat nie? Maar, nee, kom ons intimideer eerder 'n sagte teiken, soos 'n rugby-byeenkoms, met die doel van politieke statuurbou.

Myns insiens is dit veel tragieser dat die ANC nie sy drag slae in die Wes-Kaap "soos 'n man kan vat nie", me. Zille allerlei beledigings toevoeg, en MK dreig om dié provinsie onregeerbaar te maak. Is MK-vegters in hul gekamoefleerde drag op straat nie in dieselfde "tragiese konteks" as die "enkele oranje-blanje-blou-vlag" op Loftus nie?

Watter een van die vlagswaaier of die MK-marsjerendes hou die grootste potensiële gevaar in vir ons demokrasie? Oordeel self!

Pseudomorfose of woordroof - Waarom?

Die pleknaam, Putsonderwater, kan tweeërlei betekenis hê: 'n droë put sónder water, óf 'n put bedek mét water   -   puts-onder-water.

Beide (teenoorstaande) vertolkings is ongetwyfeld nié versoenbaar met die oorspronklike betekenis wat aan dié pleknaam toegeken is nie; slegs één. 'n Scenario is nou moontlik waar puts-onder-water die korrekte betekenis van dié pleknaam is, dog in die volksmond die betekenis dra van put-sonder-water; 'n radikale betekenisverskil.

Die voorafgaande is 'n voorbeeld van 'n verskynsel bekend as pseudomorfose, woordroof of semantiese bedrog, aangesien 'n woord "beroof" word van sy oorspronklike betekenis, alhoewel die woord sélf behoue bly.

Tydens woordroof of semantiese bedrog, word die oorspronklike betekenis van woorde en begrippe, van 'n nuwe inhoud voorsien, dikwels van 'n teenoorgestelde aard. Omdat sulke woorde self egter behoue bly, is baie mense onbewus daarvan dat die betekenisinhoude daarvan verander het.

In kerklike konteks hoor lidmate steeds die bekende woorde en leef in die waan dat alles steeds pluis is. P.J.Pelser beweer: "Die ou begrippe is kwansuis vir die moderne mens ontoeganklik, en daarom moet hy die inhoud by vandag se omstandighede aanpas." Prof. Linneman sê hieromtrent "...dat God se Woord geen mengsel is van geldende Godswoorde en tydgebonde woorde wat deur mense uitgesorteer moet word nie."

Die begrip "vryheid" kry toenemend die betekenis van losbandigheid, en in die woord "grondhervorming" mag dalk die betekenis van grondroof versteek wees. Die waarheidsbegrip is 'n verdere voorbeeld van woordroof. Waarheid is der mate gerelativeer dat enigeen vir homself kan besluit wát waarheid is; selfs die leuen word tot waarheid gemaak. Absolute waarhede het verdwyn.

Waarom neem hierdie verskynsel toe? Taal (waarbinne woordroof plaasvind), denke en bewussyn is aaneengeskakel. Verander betekenisvolle inhoude van woorde, en denkverskuiwing word moontlik. Teïstiese bewussynsinhoude is nou vervangbaar met sekulêre inhoude. Kul jou hier, kul jou daar en, siedaar   -   'n gebreinspoelde bewussyn.

Monday, 1 June 2009

Skep liewer werk met 'evolusie-geld'

Die berig in "Onnies kry R16 m. om evolusie te onderrig" (DB,17.03.2009), het betrekking.

In dié berig neem die leser kennis van R160 miljoen   -   deur Nederland geskenk   -   waarvan R16 miljoen vir die Wes-Kaap "...om die evolusieleer korrek aan leerders te leer..."

Vir die Christengemeenskap in die algemeen, en vir Christen-ouers in die besonder, is dit skokkende nuus met geweldige implikasies vir die Suid-Afrikaanse samelewing.

Die R160 miljoen skenking is die vrug van die ywer van dr. Wilmot James van die AEGI (Africa Genome Education Institute). Die Wes-Kaapse persoon op die voorpunt van dié projek daar, is me. Cheryl Douglas, leerkrag aan die Bishops Diocesan College, 'n Anglikaanse kerkskool te Kaapstad. Dis duidelik hieruit dat die evolusieperd hiermee reeds die Christelike skoolarena binnegelei is.

Dr. Kent Hovind van Creation Science Evangelism beweer dat 75% van alle Christenkinders wat evolusie-gedrewe VSA-staatskole bywoon, hul geloof verwerp ná slegs een jaar van naskoolse studie.

Ons deur-brandstapel-en-martelaars-verworwe Europese geloofserfenis verkeer in groot gevaar. Suid-Afrika   -   in 'n resessie   -   benodig nié evolusie-onderrig nie. Waarom nie Nederland versoek om dié geld vir werkskepping en/of behuising te gebruik nie?

Aanbid Christene 'n evoluerende God?

In sy artikel, "Evolusie van God 'n opdraande pad" (DB,BY 30.05.2009), vra Cas van Rensburg : "Kan daar gepraat word van die evolusie van God?" Hy vra dié vraag na aanleiding van prof. Willie Esterhuyse se boek, "God en die gode van Egipte". Hierin beweer Esterhuyse: "Genesis is as...skeppingstorie...nie...'n geloofwaardige 'openbaring' soos hy (Esterhuyse)...geleer is nie."

"Die twee skeppingsverhale van Genesis is...bloot openbarings van mense...kampvuurstories wat opgeteken is." Esterhuyse beweer: "...die mees dominante skeppingstories het die son as kernsimbool gehad...(en) Summier staan die vadergod Ra van Egipte voor 'n mens op..."

Esterhuyse sê: "...'n beeldjie van die Egiptiese godin Isis wat haar seuntjie Horus borsvoed...(is) niks anders nie as die maagd Maria wat Jesus voed...'n Egiptiese simbool wat 'verchristelik' is." Esterhuyse verklaar verder: "...die storie van Osiris, Isis en Horus het my...bevry van die dogmatisme van die Christelike godsdiens, veral...dat 'óns geloof ' die alléénsaligmakende geloof is."

Volgens Esterhuyse was dit ook "...in Egipte dat die eerste stap in die geskiedenis na monoteïsme gedoen is..." Werklik? Hy verwys ook na Karin Armstrong wat beweer: "Die Jode het nie...van vroeg af in die enige God geglo nie." Armstrong beweer verder dat Abraham, Isak en Jakob "...nie noodwendig dieselfde God aanbid het nie. Dit is moontlik dat...(hulle) drie verskillende gode aanbid het." Armstrong sê ook: "...dit is moeilik om 'n enkele monoteïstiese stelling in die ganse Pentateug te vind." Esterhuyse sluit hierby aan en sê: "Met Moses en sy stories het die monoteïsme sy lang pad...begin."

Die voorafgaande "...bring 'n mens by die vrae oor die evolusie van God..." Esterhuyse wys daarop "...dat die...songodsdiens, met Ra as...vadergod, die idee van 'n wordende (evoluerende) god ingesluit het."

Christengelowiges moet hulself ernstig afvra of hulle 'n evoluerende God aanbid, al dan nie.       (ngn)

Friday, 22 May 2009

Voorsaatoorsprong - van ónder of van Bó?

Dit bly vreemd, dog ook interessant, dat sommige mense op 'n onbeskaamde wyse hulself in die openbaar lagwekkend kan voorstel, sommige op 'n merietevolle wyse; ander op 'n bejammerenswaardige wyse.

Dink hier, byvoorbeeld, aan persone soos die welbekende nar, Francesco, en ook Elsabé Brits. Francesco was gedurende sy leeftyd 'n oortuigde, en getuigende, Christengelowige wat by geleentheid van homself gesê het: "I am a fool for Christ!" Hiermee kan ek persoonlik ten sterkste identifiseer.

In haar berig, "Fossielvonds 'verlore skakel na die mens' " (DB,21.05.2009), berig Elsabé Brits aangaande die sogenaamde "menslike herkoms". Sy berig daarin oor die ontdekking van 'n "primitiewe primaat...wat sowat 47 miljoen jaar gelede...in die woude van Duitsland gesterf het...toe sy in die Messelmeer...verdrink...het." (woude? meer? meer-in-woude? onduidelike beriggewing)

Hoewel vernoem na Charles Darwin   -   Darwinius masillae   -   heet dié fossiel, Ida, in die volksmond. "Ida... is een van die belangrikste primaat-oorgangsfossiele...wat tot nog toe gevind is...(en) aan die wortel van antropoïed-evolusie...wat na die mens gelei het...(en) wat menslike evolusie verduidelik."

Die Ida-fossiel  "...toon 'n oorgang tussen die lemurs na die primaat-stamlyn, wat uiteindelik na die mens gelei het." Die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) verduidelik 'n lemur as 'n Madagaskarse nagaap, en 'n primaat as 'n soogdier wat tot ape en halfape (primate) behoort.

En nou pas Ida'tjie gerieflik tussen die lemur en die primaat-stamlyn sodat sir David Attenborough van die lank-  en veelgesoekte "vermiste skakel" sê: "Die skakel word nie meer vermis nie" ; ook dat dié gevonde "menslike familieskakel" se "foto vir die volgende 100 jaar in handboeke sal wees."

My gelukwensing aan Elsabé Brits, sou sy self persoonlik al die voorgemelde onderskryf, met dié wonderlike "deurbraak" in die genealogiese soeke na haar voorsate. Soos wat sy hulle hier ónder gesoek en gevind het, so sien ek met verwagting daarna uit om myne wel daar Bó te vind.              (ngn)

Monday, 18 May 2009

Gun Mulder ruimte in dié politiek

Dr. Pieter Mulder se aanvaarding van die adjunk-ministerspos van landbou herinner aan wat ons katalisator-politiek kan noem. In die praktyk stel dit in die vooruitsig dat, volgens Mulder, die VF+ enersyds sy outonomie as party en sy rol as kritiese opposisieparty onveranderd wil/ sal behou, en andersyds om vir 'n toeskietlik-veranderde regeringsbeleid teenoor VF-ondersteuners te beding.

Vanweë die aard van die implikasies wat dié stap inhou, is daar uiteenlopende reaksies. DA-kommentaar beweer : "Mulder plaas pensioen voor beginsel en verraai alle opposisiekiesers" (DB,12.05.2009)   -   partypolitieke opportunisme met die oog op "karkas-aas" van 'n vernietigde VF+?

Cosatu "was...baie opgewonde oor Mulder se besluit" (DB,12.05.2009). Hoewel nie 'n VF-vriend nie, weet die VF+ egter presies waar hy met Vavi staan oor grondhervorming. Is dit nie juis omdat die ANC ontsag het vir die Afrikaner   -   al behandel hy hom nie so nie   -   en hy presies weet wát hy in hom het, dat Zuma vir Mulder respekteer?

Reaksies vanuit die VF+ se geledere self is natuurlik betekenisvol. Van belang is hoe omvangryk en diepgaande die verskille in eie geledere is, en hoe waarheidsgetrou en gebalanseerd die media dit rapporteer.

Verg  die bestaansoorlewing van die volksgeoriënteerde Afrikaner nie 'n wyer visie as dié van Mulder se kritici nie? Kritici moet waak om nie 'n geleentheid in 'n verleentheid te omskep nie. Dwase hardkoppigheid dra andersoortige vrug as visioenêre insig en wysheid met beginselvastheid en onwrikbare standvastigheid as vrug daarvan.

Waarom die moedswillig-irrasionele en kontekstueel-ongeoorloofde gelykstelling van Mulder met Van Schalkwyk? Is die doel om die VF-solidariteit via kritiese solidariteit uiteindelik na skeuring te dryf? Gekenmerk deur 'n algemene gebrek aan Afrikanerleiers en  -visie, waarom nie aan Mulder die geleentheid bied om met sy visie vorentoe te beweeg nie? Sonder dié geleentheid kan hy nie homself as patriot óf verraaier bewys nie. Gun Mulder daarom dié katalisator-politieke ruimte.

Thursday, 14 May 2009

Mandela-leiding was nie Christelik nie

Volgens sensusopnames se statistieke is Suid-Afrika 'n "Christenland". Beteken dit in werklikheid 'n land met 'n meerderheid van "statistiese Christene"?

By geleentheid erken Gandhi, 'n Hindoe, Chrsitus as 'n "groot profeet", dog   -   kyk hy na Christene as Sy volgelinge   -   sien hy Christus nié in hulle nie.Verduidelik dit die begrip "statistiese Christene"?

In "Op Mandela se pad" (DB,07.05.09) word berig dat president Zuma gesê het hy "wil in die gees van oud-pres. Nelson Mandela die leier van alle Suid-Afrikaners wees."

Mag ons egter vra uit watter dieperliggende "gees" Mandela se gees put, gesien teen S.A. se "geloofstatistiek" as agtergrond?

In The Sunday Independent van 06.02.2000 verskyn 'n artikel, "African Traditional Religion promotes the right not to be a Christian". Die skrywer is 'n vrou verbonde aan die Departement Religieuse Studies aan die Universiteit van Kaapstad. Sy sê die "ou Suid-Afrika" het haar verontreg vanweë pogings tot die verchristeliking van ons land en die kerstening van sy inwoners. Die "nuwe Suid-Afrika" bied vir haar 'n bevryding van die Christendom.

Haar Christelike sendingskoolopvoeding het direk gebots met haar tradisionele opvoeding tuis. Sendelingonderwysers het haar laat doop en 'n "Christian name" aan haar besorg. Dié twee onversoenbare geloofswêrelde het haar dermate verwar dat sy 'n identeitskrisis beleef het.

In haar ontworsteling aan die bekeringsinvloed van die Christendom tot waar sy kon sé : "I belong to my indigenous religion that has been here before the missionaries", was oud-pres. Mandela haar rolmodel wat in sy boek, Long Walk to Freedom sê : "My father remained aloof from Christianity and instead reserved his own faith for the great spirit of the Xhosas, Qamata, the god of his fathers."

Beteken dié aanhaling enigiets vir die Christenmeerderheid van ons land as Zuma sê hy wil Suid-Afrika lei in die gees van oud-pres. Mandela? Niks nie?

Onderwys nié sonder voorskriftelikheid

C.Viljoen se brief, "Dankbaar hy kan rol by skool speel" (DB,11.05.2009), verwys.

Viljoen sê hy "...is dankbaar vir... opvoeders wat...nie 'n voorgeskrewe regeringsbeleid...nodig het nie." Indien hy hiermee sou suggereer dat die vorige onderwysbedeling van 'n voorskriftelike aard (Christelik-nasionaal) was en die huidige bedeling nié, begaan hy 'n oordeelsfout.

Die voorskriftelikheid van die vorige onderwysbedeling   -   by wyse van onderwyswetgewing   -   is bloot vervang met wetgewing wat sy voorskriftelikheid slegs in 'n ander vorm giet. Die voorskriftelikheidskarakter het nié sedert 1994 ewe skielik verdwyn nie!

Onderwys is onder staatsbeheer en, as sodanig, bepaal die staat, deur middel van onderwyswetgewing, die "spelreëls" vir staatskole, asook die reëls waarvolgens onderwysbelanghebbendes daaraan mag deelneem.

Geen onderwys ter wêreld is ooit neutraal nie. Die staat se ideologie vloei juis deur die onderwys-  en skoolstelsel na die nasionale samelewing in die vorm van 'n bepaalde tipe landsburger (nié langer Christelik-nasionaal nie!) wat deur dié staatsbeheerde skoolstelsel gelewer moet word. S.A. is geen uitsondering nie. So sorg 'n sekulêre staat vir sekulêre skole (soos sedert 1994 in S.A.) ; 'n kommunistiese staat vir kommunistiese skole en 'n Christelike staat vir Christelike skole.

Dis dwaas om te dink 'n kommunistiese skoolstelsel sal Christenlandsburgers oplewer, én ook andersom. Geen staat ter wêreld sal duld dat sy skoolstelsel ideologies-vyandige burgers sal lewer in botsing met die staats-eie ideologie nie.

Viljoen sê verder: "Ons...kan nie meer op (...die kerk) steun nie." Wil Viljoen nie vir ons in 'n opvolgbrief sê waarom Christenouers nie langer op die kerk kan steun vir die onderwys van hul Christenkinders nie? Indien Viljoen egter suggereer dat die kerk hom vrywilliglik, en ten nadele van Christenkinders, aan bemoeienis met die skoolse onderwys onttrek het, stem ek volkome met hom saam.

Die Christelike Doopsakrament maak ouers tot verbondsouers en hul kinders tot verbondskinders van God. Hieromtrent dra die kerk 'n Goddelike verantwoordelikheid.                        (ngn)

Tuesday, 12 May 2009

Sinergie tussen Zuma, Afrikaners

In 'n artikel, "Bond with Afrikaners" in die Daily Despatch van 17.04.2009, beweer Dan Roodt dat die NVG-Zuma-kwessie sodanige betekenisvolle aangeleentheid in die S.A.-politiek oorskadu het wat op die lange duur egter veel belangriker mag wees as gemelde openbare kwessie self.

Dit waarna Roodt verwys, is die toenadering van Zuma tot Afrikaners. Hy sê die afgelope tien jaar het die Afrikaner en Afrikaans onder Mbeki se bewind byna verdwyn. Roodt sê : "FW de Klerk's followers among the Afrikaners were enthusiastic participants in this process of destroying their own heritage and identity."

Volgens Roodt word beide die Afrikaners en Zuma deur die Britse sowel as die plaaslike Engelse media beswadder en verguis. Zuma verskyn soms in tradisionele kleredrag terwyl "...ethnicity has been declared dead...from Helen Zille to English Marxist academics and most mainstream political commentators."

Dit blyk dat Zuma en die Afrikaners 'n gemeenskaplike vyand mag hê en dat die spreekwoord : "Die vyand van my vyand is my vriend", dalk hier mag geld.

Benewens steun van 'n oormag Zoeloes, asook gewone swart mense, geniet Zuma weinig steun van die plaaslike en internasionale elite. Sou Zuma sy toenadering volhou, bestaan die moontlikheid dat Afrikaner-intellektueles,  -akademici en  -sakebelange hom mag steun teen die "...almost hysterical campaign waged against him by the Afro-Saxon and Anglo-Saxon elites."

As president sal Zuma waarskynlik die ondermynende teenkanting van Mbeki-ondersteuners ervaar. Dit is hieromtrent wat Roodt oordeel dat Afrikaners Zuma kan help om van korrupsie, veral op plaaslike vlak, ontslae te raak. Die Mbeki-bewind het Afrikanerboere onteien. Zuma kyk egter na hulle as voedselverbouers ; voedsel het van strategiese belang geword.

'n Sinergie tussen Zuma populariteit en Afrkaner-kennis en  -vaardighede lyk dus moontlik. Vergeet egter ook nie die uitdrukking : "Met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie."

Saturday, 9 May 2009

Kiem vir Nazisme lê in Darwin

In "Kerkbode   -   doodsklok of feesklok?" (DB,05.05.09) verwys Frits Gaum na Lorraine Braid wat sê : "Liewe magtig, mense, kan ons nie asseblief ophou met die evolusiedebat in briewe en artikels nie?"

Wat Braid egter nié besef nie, is dat dié debat waarskynlik die belangrikste, finale en mees bepalende óóit in menseheugenis gaan wees.

Wie oordeel dat die evolusiegeloof   -   gedrapeer in "wetenskapsgewaad"   -   ligtelik opgeneem kan word, begaan 'n dodelike fout. Evolusie is 'n veeldimensionele geloof en opponeer die Christelike geloof.

Dra almal kennis van die volledige titel van Darwin se veelbesproke boek? Die volledige titel lui : The Origin of Species by means of Natural Selection or The Preservation of Favoured Races in the Struggle of Life.

Dié titel dra openlik die kiem van rassemeerderwaardigheid. Nazisme was, as slegs één voorbeeld, gebou op die evolusiegeloof. Oortuig van die "waarheid" van dié geloof, het Hitler geglo dat hy die mensdom 'n guns sou bewys deur miljoene "minderwaardiges" uit te wis en sodoende die evolusieproses te versnel.

In 'n artikel in New Scientists (1999) sê Martin Brookes : "A direct line runs from Darwin, through the father of the eugenics movement   -   Darwin's cousin, Francis Galton   -   to the extermination camps of Nazi Europe."

Oningelig aangaande die sentrale rol wat die evolusiedenke in die Nazi-bedeling gespeel het, kan die "holocaust" nie begryp word nie. Mein Kampf beskou die Jode as "parasiete" binne die internasionale volkere-liggaam. Hitler wou van die "minderwaardige gene" in die globaal-menslike genepoel ontslae raak.

Vir sowel ons geslag as toekomstige geslagte, lê die Bybelsvoorspelde bedreiging van 'n Nuwe Wêreldorde (NWO)   -   óók gebou op die evolusiegeloof   -   voor. Volgens Skrifopenbaring gaan die NWO-bedeling ongekende vervolging en dood met hom meebring.

Thursday, 7 May 2009

Evolusioniste moet verwarring staak

Elsabé Brits se artikel, "Afrika, jou wonderlike moeder" (DB,02.05.09), verwys. Dit is duidelik komende vanuit die evolusie-dampkring.

Die Bybels-onversoenbare bewerings daarin is, enersyds, betreurenswaardig vanweë die (opsetlike?) verwarring wat dit onder Christengelowiges veroorsaak. Andersyds beproef dit juis Christene se geloofsterkte.

Dit is my indruk dat, soos wat ek opgewonde raak by die lees van die Bybelse waarheidsinhoude   -   waarvan 1 Timoteus 4:9 getuig : "Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word"   -   so raak Brits skynbaar óók opgewonde oor die "betroubaarheid" van die "feitlike" inhoud van die tydskrif Science (Volume 324)  waaruit haar inligting kom.

Brits beweer : "Dit is...'n feit dat ons almal...wat...op hierdie planeet leef en ons voorsate, van swart mense in Afrika afstam..." Die primêre verdagte "feit" is nie velkleur nie, maar wel die kontinent (Afrika), vermoedende dat vasteland en velkleur wel verband hou met mekaar.

Volgens Genesis 2:8-14 (OAV) het God 'n tuin, Eden, aangelê in die Ooste as tuiste vir Sy geskape beelddraer-mens. Uit Eden het 'n rivier ontspring wat in vier vertak het waarvan die Hiddékel (Tigris) en Frat (Eufraat) twee daarvan was. Soek ons dus, hiervolgens, na Eden (in die Ooste!) en dié riviere in Afrika?

Dit wat Brits glo, berus op "Die feit...dat die bewyse in elkeen van ons se selle is." Is evolusioniste se kennis van menslike selle net so onwetenskaplik onbetroubaar as hul koolstoftoetse vir ouderdomsbepaling? Hul koolstoftoetse het aangetoon dat een gedeelte van die "Vollosovitch"-mammoet 29 500 RCY's (radio-koolstof jare) is en 'n ander gedeelte van dieselfde mammoet 44 000 RCY's is.

Wil Brits, en ander evolusioniste, nie tog maar asseblief hul (strategiese?) verwarring van oningeligte Christengelowiges staak deur hul eie posisie met betrekking tot die Christelike geloof duidelik vir openbare kennisname te stel sodat Christengelowiges presies kan weet waar hulle met diesulkes staan nie?

Saturday, 2 May 2009

Mens-in-opvoeding bly 'n misterie

Die vorige grondwet van S.A. het sy onderwysinstellings vir wittes voorgeskryf om van 'n Christelik-nasionale karakter te wees, maar tog óók vir nie-Christene voorsiening gemaak.

Die huidige liberaal-humanistiese en sekulêre grondwet het dié Christelike karakter daaruit geskryf. Hiermee is die geloofsnaelstring tussen Christen-ouerhuis en staatskool, waarbinne die sinkretisme deesdae hoogty vier, afgebind.

Dit is so dat daar 'n radikale verskuiwing van 'n Christelike mens- en wêreldbeskouing na 'n sekulêr-humanistiese een in staatsonderwys plaasgevind het. Die nuwe onderwysstelsel verskil dramaties van die vorige wat deesdae landsburgers moet lewer wat nie altyd met die Christelike mensbeskouing versoenbaar is nie.

Een kritieke gevolg van dié radikale verskuiwing is die snelle erodering en wegkalwing van ons voorheen Christelike waardes en norme.

Sou ons vra of 'n kind (selfs grootmens) sy opvoeding in die steek kan laat, is die antwoord beslis,ja. Omgekeerd kan ons ook vra of opvoeding (huis veral) en onderwys (skool) die kind in die steek kan laat, en is die antwoord eweneens, ja.

Laasgenoemde is een van die mees aktuele vrae van ons dag; dit geld beslis ons huidige onderwysstelsel.

Eersgenoemde vraag hierbo sluit aan by Net 'n Ouer se brief, "Selfs 'n 'goeie' kind begaan misstappe" (DB, 23.04.09), wat, heeltemal korrek, beweer "Daar is geen waarborg dat kinders wat in goeie huise grootword...nie misstappe sal begaan nie."

Ouer en kind word aan mekaar gebind deur drie bande : bloed, liefde en geloof. Die eerste is 'n onveranderlike gegewe; die laaste twee nie.

Ouers kan dus, volgens hul persoonlike mens- en opvoedingsbeskouing, al hul liefde én geloof uitstort in hul kind se opvoeding, en tog misluk. Waarom? Omdat die mens 'n misterievolle wese is wat nie sy diepste wese sélf kan verklaar nie. Opvoeding van die Christenkind verg dáárom volgehoue geloofsvertroue.