Dit is bemoedigend om S.Vermaak (DB,28.05), Anti-Belhar (DB,29.05) en J.van der Merwe (DB,30.05) se reaksie te lees op dr.Gerhard Botha, van die UV se teologiese fakulteit, se artikel "Belhar en die skuld wat steeds knaag" (DB,25.05). Hierdie artikel is geskryf met die oog op propagandamaking vir die aanvaarding van die Belharbelydenis (BB) deur die Vrystaatse streeksinode wat eersdaags gehou sal word. Destyds, net voor die sitting van die Oos-Kaapse streeksinode in Junie 2012, het prof. Piet Naudé, tot dieselfde effek, 'n brief - "NG Kerk moet stemloses stem gee" (DB,06.06.12) - in Brieweblad geskryf met presies dieselfde doel van propagandamaking vir die aanvaarding van die BB. Vooraf propaganda is blykbaar 'n geslaagde strategie om te volg. Dusver is die BB nog net deur die Wes-Transvaalse streeksinode afgekeur.
Thursday, 30 May 2013
Wednesday, 29 May 2013
Skaar uself aan waarheidskant oor Belhar
Wat 'n skitterende brief van Piet Theron is sy skrywe, "Teater van absurde oor Belhar-belydenis" (VB,29/05/2013), nie! Dit bring die jeugjare-herinnering aan die ou Halleluja-liedjie, "Laat ons skyn vir Jesus met 'n helder glans, skitter soos die sterre aan die hemeltrans!", na vore.
Sy skittersoeke na waarheid oor die Belharbelydenis het Theron vroeër reeds, saam met nog sewentien medeskrywers van die ewe skitterende boek, "Belhar Geweeg", bewys. Hierdie boek is 'n móét-lees vir elke NGK-lidmaat wat in alle opregtheid soek na die waarheid aangaande die Belharbelydenis, en nié bereid is om op 'n onverantwoordelike, oningeligte wyse kerkleiers blindelings te volg nie.
Dieselfde leesaanbeveling oor Belhar kan ook gemaak word ten opsigte van ds.Theo Danzfuss se artikel, "Evaluering van die Belharbelydenis", in drie aflewerings - Mei, Junie en Julie 2005 - in die tydskrif, "Waarheid en Dwaling".
Dankie aan Theron, en alle ander waarheidsliefhebbers en -soekers, vir die waagmoed van jul oortuigings te midde van die wesenlike risiko van verguisende etikettering. Dankie vir jul skaamtelose skaring aan die kant van die waarheid en Waarheid.
Etikette:
Kerk
Monday, 27 May 2013
Wag méér "hoef-nie-te-glo's" in toekoms?
Na die lees van dr.Gerhard Botha (UV teologiese fakulteit) se artikel, "Belhar en die skuld wat steeds knaag" (DB,25.05), som ek dit op as skuldgevoelwekkend onder NGK-lidmate oor tye uit ons verlede wat onvergelykbaar ánders was as vandag. Wanneer hy sê: "Ek was deel van een van die onregte", dan wil ek vra: Deur te help voorkom het dat die destydse rewolusie-kookpot van sosialisme-kommunisme se deksel destyds kon afskiet met veel tragieser gevolge vir die SA-burgery as vandag? Ek wil aanvaar dat Botha reeds sy persoonlike "deel van..die onregte" voor God bely het voordat hy dit hier in die openbaar bely ter bevordering van die Belharbelydenis (BB). Ek gun Botha egter sy siening en wend my na die BB waarvoor hy so hartstogtelik aanvaarding bepleit.
Daar was 'n periode wat die VGK gesê het: aanvaar die BB, dan is ons bereid tot kerkvereniging - 'n duidelike voorwaarde aangewend as meganisme in 'n potensieel tussenkerklike "ruiltransaksie". Ter oplossing van die BB-kwessie stel dr.Braam Hanekom (DB,01.04.09) voor dat die NGK sy belydenisskrifte moet prysgee vir dié doel - nog 'n potensieel tussenkerklike "ruiltransaksie". Dui dit nie daarop dat van ons belydenisskrifte verhandelbare "artikels" gemaak word waaraan onderhandelingspotensiaal gekoppel word nie?
Die NGK-leierskap sê lidmate wat nié die BB wil aanvaar nie, hoef nie.Tydens sy 2011-sinodesitting sê dié kerk lidmate en predikante wat nie aan die bestaan van Satan glo nie, hoef nie. Die BB en Satan se bestaan word nou opsionele aangeleenthede. Hoe kan dit enigsins eensgesindheid van geloof in dié kerk bevorder? Saam met geloofsrelativering kom geestelike dissiplinelosheid wat bestem is om te eindig in chaos en selfvernietiging. (ngn)
Etikette:
Kerk
Friday, 24 May 2013
Teoloog ontken Bybel as allermaatstaf
Die Stellenbosse teoloog, dr.Chris Jones, se artikel, (eros) "Liefde is geen sonde" (DB,21.05), het betrekking. My reaksie op dié misleidende stelling is om dit om te draai tot: "Sonde is geen (agápe) liefde". Waarom misleidend? As teoloog negeer Jones die Bybelverklaarde vyandskap tussen vlees en gees. 'n Vraag aan Jones: waar pas liefde vir sonde in?
Jones beywer hom vir die regte van die gay-gemeenskap en beweer dat "die gesprek oor gay-wees en gay-verbintenisse in kerke...toenemend positief beïnvloed (gaan) word deur wat internasionaal...aan die gebeur is." Hiermee verhef Jones die wêreld (internasionaal) tot maatstaf bó die Bybel. Hy verhef ook die grondwet bó die Woord wanneer hy die dag voorsien wat "die hof sekere kerke tot verantwoording (sal) roep oor hul standpunt oor gay dominees...sodat kerke kan ontdek hulle tree...nie net onmenslik en onchristelik op nie, maar ook teen (die gees van) die Grondwet." Adem ons grondwet die Gees van Christus: Ja, of Nee?
Ek vind Jones - synde 'n teoloog - se gay-propaganda tegelyk skokkend en onaanvaarbaar. Dit is slegs te verklaar in terme van 'n radikale verskuiwing in Gods- , Skrif- en mensbeskouing. Jones erken dan ook dat "morele en godsdienstige paradigmaskuiwe gekom" het. Hy verwys na die "baie goeie boek" (nie die Bybel nie!) van William Stacy Johnson wat beweer daar "is dramatiese veranderinge in mense se beskouinge van gays, gay-verbintenisse en gay-huwelike wêreldwyd aan die plaasvind." Weer eens: die mens as maatstaf, nie die Bybel nie!
Ek kan my voorstel dat, met dié denkingesteldheid, Jones geen probleem sal hê met 'n Bybel-grondwetkonfrontasie nie. Die gay-kwessie kan juis die aanloop wees tot sodanige konfrontasie. (ngn)
Etikette:
Kerk
Wednesday, 22 May 2013
"Kerkbrekers" nie nét gewone lidmate nie
G.P.D.Terblanche (VB,13/05/2013) sê "duisende lidmate" deel sy kommer oor die "groot uittog" uit die kerk. In my omgewing hoor ek: "As hulle wil gaan, laat hulle gaan!" Sommige leraars het blykbaar hul herdersrol, in navolging van die Goeie Herder, laat vaar. Daar is selfs kerkleier-teoloë wat óók nie in Terblanche se kommer deel nie.
Dr.Kobus Gerber, hoofsekretaris van die NG Kerk, sê die dalende lidmaattal "kan onder meer toegeskryf word aan die feit dat die kerk nie meer rassisme duld nie" (RSG-webblad, 17/01/2013). In 'n artikel, "Die NG Kerk: van volkskerk na nasiekerk" (Waarheid en Dwaling, Nov/Des 2006), wys prof.R.M.Britz op wat wérklik aan die gebeur is.
In Rapport (19/02/2012) skryf prof. Nelus Niemand kerkverlating alleenlik aan sekularisasie toe. So eenvoudig? In Beeld (15/04/2012) sê Niemand: "Christene se beheptheid met die kerk gaan op die agtergrond skuif." Die enigste teenvoeter en hoop vir die NG Kerk, volgens proff. Nelus Niemand en Stephan Joubert (Beeld, 27/02/2012), lê in "alternatiewe vorme van kerkwees". Joubert beweer selfs dat die dalende lidmaattal nie gekeer moet word nie.
In sy voorwoord tot Niemand se boek, "Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede", skryf Joubert dat Niemand "uitgediende kerklike maskers...rondom ons almal afhaal...(en) mens stig nie kerke nie...(maar) begin net 'n nuwe movement en jy infiltreer alles wat jy kan..." Infiltrasie 'n aanvaarde kerkstrategie?
Wanneer sommige kerkleiers sê dat daar (modernisties?) "anders gedink" en (postmodernisties?) "nuut gedink" moet word, wonder 'n mens of dit ook dié predikante akkommodeer wat sê: "Ek kan nie meer bid nie...Ek lees nie meer die Bybel nie..." (Rapport, 23/10/2011), en dat "gebedsversoeke nie werk nie" (Beeld, 28/02/2011).
Hóé kan ons toegee aan 'n "anders" dink- en "nuut" dink-oproep oor 'n Wese wat self nooit verander nie? Eeue-oue denke aangaande dié Wese is saamgevat in ons ewe-oue belydenisskrifte waarvan dr.Braam Hanekom (Die Burger,01/04/2009) al gesuggereer het om dit prys te gee ter wille van die oplossing van die Belharkwessie.
Sou Terblanche kon toegee dat sy "kerkbrekers" nie nét beperk is tot gewone lidmate nie?
Etikette:
Kerk
Monday, 20 May 2013
Gaum se "sonde"-uitspraak lyk bra verdag
Die gelyktydige transformasie wat tans binne die ANC-beheerde SA én NG Kerk plaasvind, is nie toevallig nie. Beide kontekste word gekenmerk deur radikale transformasie. Die bestaan van raakpunte is nie uitgesluit nie.
ANC-transformasie word gedryf deur nie-Christelik ideologiese motiewe. NGK-transformasie geskied binne dié ANC-geskepte ruimte. Die kerkleierskap herposisioneer dié kerk binne die ANC-getransformeerde nasionale speelveld met die oog op 'n sleutelspelersposisie. Minimale NGK-kritiek op die ANC is opvallend.
Kerklike transformasie kom teen 'n prys. Sommige Bybelse en leerstellige oortuigings blyk as uitgediend prys gegee te word. Die drang tot kerkeenheid blyk eerder deur ekstrinsieke as intrinsieke oorwegings gedryf te word. Die vroeër gerespekteerde verskeidenheid-in-eenheid-beginsel deur dié kerk word verwerp en eenheid-in-verskeidenheid verabsoluteer.
Dr.Frits Gaum steun Die Burger se hoofberig, "Eenheid kan kerk se rol net versterk" (DB,10.05) - 'n goeie voorbeeld van eksterne mediadruk op dié kerk - met sy artikel, "Eenheid ' sodat die wêreld kan glo' " (DB,16.05). Gaum impliseer dat kerklike verskeidenheid-in-eenheid "sonde" is sonder enige motivering van sy standpunt. Gaum krabbel egter terug wanneer hy sê: "..wanneer ons groter kerklike eenheid soek, moet ons volledig daarmee (verwysende na verskille in taal, kultuur en spiritualiteitsbelewenisse) rekening hou." Is dit dan nie juis die verskeidenheid-in-eenheid-beginsel in praktyk nie? Dit laat Gaum se "sonde"-uitspraak beslis verdag voorkom.
Die strewe na kerkeenheid, hoe verdienstelik dit ook al oppervlakkig mag lyk, is nie te skei van ander gelyktydige nasionale, én internasionale, eenheidstrewes soos geïnisieer deur die Nuwe Wêreldorde - 'n nie-ignoreerbare werklikheid - nie. Dit vorm deel van die vervulling van die Bybelvoorspelde toekomstige antichristelike wêreldbedeling.
Etikette:
Kerk
Thursday, 16 May 2013
Sou Naudé ANC-vergrype veroordeel het?
Wanneer 'n mens se optrede/handelinge jou (geloofs-)belydenis weerspreek, is dit tog opvallend hoe dit guns vind in die oë van die wêreld, veral wanneer dit op kompromiemaking neerkom. 'n Goeie voorbeeld hiervan is wyle dr. Beyers Naudé met sy ANC-terreurverbintenis oor wie dr. Donald Katts (DB,15.05) 'n lofrede hou.
Katts verwys na Naudé se "vreeslose gehoorsaamheid aan God en die evangelie...(wat) chaos in die politieke en godsdienstige wêreld veroorsaak (het)...en sy manier van in die Gees van die Here dink, wat ons kan help...(om) selfs kerkstrukture, reëls en prosedures aan te pas om die nood van mense eerste te stel" - skepsels bo die Skepper?
Oud-genl. Johan van der Merwe, eertydse SA-polisiehoof, sê Naudé het jong swart mans gehelp om vir militêre opleiding na die Sowjetunie te vlug om daarna SA gewapend binne te sypel om dood en verwoesting te saai. Naudé het gehelp om verbode lektuur van die ANC/SAKP-alliansie te versprei met propaganda vir rewolusionêre doeleindes wat deur middel van terreur- en gruweldade bereik moes word. Die Vryheidsmanifes wat Naudé ywerig help versprei het, gee géén erkenning aan God Drieënig nie.
Ek vind dit verstommend dat sommige geestelikes, onder kerklike dekmantel, Naudé se optrede prysenswaardig kan vind. Hoe versoen 'n mens steunverlening aan dood en geweld - in belang van anti-Christelike magte - met die Evangelieboodskap? Nêrens lees ek dat Jesus komplotte gesmee het om die Jode van hul Romeinse oorheersers te bevry nie. Mahatma Gandhi, 'n Hindu geestelike wat Indië tot vryheid gelei het, is met sy satyagraha-filosofie'n navolgenswaardige voorbeeld - tot skande van sommige SA-kerkleiers - in dié opsig.
Indien Naudé vandag nog sou gelewe het, sou hy ook, soos Tutu, met reg veroordelend gestaan het teenoor ANC-vergrype? Sou sy oë, soos hopelik Tutu s'n, uiteindelik oopgegaan het? (ngn)
Etikette:
Kerk
Monday, 13 May 2013
Ook wêreld stel eise aan NG Kerk
In aansluiting by prof. Piet Strauss se skrywe (VB,13/05/2013), die volgende kommentaar op u hoofartikel, "Eenheid kan kerk só versterk" (VB,08/05/2013).
Ernsmakende Christengelowiges, vir wie die Bybelse waarhede vasstaande en ononderhandelbaar is, lees in 1 Joh.5:19 : "Ons weet dat...die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is." So weet hulle ook dat hulle in, maar nie van, die wêreld is nie, en dat Jesus self gesê het: "Ek bid nie vir die wêreld nie..." (Joh.17:9b).
Die wêreld wil baie graag die kerk tot "speelmaat" bevriend. Sulke gewillige "speelmaats" manifesteer dan ook in die valse kerk soos deur die Nederlandse Geloofsbelydenis (art.29) beskryf. Dit is 'n oeroue spel waarin die kerk-wêreldverhouding deur onoorbrugbare spanning gekenmerk word. In die lig hiervan mag ons vra: Waar staan die NG Kerk vandag met betrekking tot dié oerspel?
U hoofberig, soos na verwys, beklemtoon by implikasie die noodsaaklikheid van dié vraag. Hierin word beweer: "Vir die NG Kerk-familie is eenheid in hul geledere 'n kwessie van geloofwaardigheid...in die oë van die res van die gemeenskap (lees:wêreld)...(en) solank die kerke verdeeld (lees:afsonderlik) bly, moet hulle nie verwag dat mense daarbuite (lees:in die wêreld) hulle te ernstig sal opneem...nie."
Volgens prof. Stefan Joubert - in sy voorwoord tot prof. Nelus Niemand se boek, "Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede" - beweer Peet Kruger, algemene hoof van News 24 se koerante, dat tradisionele Afrikaanse kerke (soos die NG Kerk) nie meer ernstig opgeneem en as nuuswaardig beskou word nie. Hiervolgens is dit duidelik dat kerklike geloofwaardigheid, én -nuuswaardigheid, vir die wêreld in terme van die wêreldmening en -media beoordeel word, en nie meer aan getrouheid aan die Kerkhoof en Sy Woord nie.
Omdat ook die NG Kerk nie immuun teen die infiltrasie van sosio-politieke en sekulêr-humanistiese beïnvloeding is nie, mág ons daarom vra waar dié kerk staan met betrekking tot die wêreld se eise vir kerkwees. Toon dit kenmerke van 'n gewillige "wêreldspeelmaat", of nie? Lidmate is geregtig op 'n antwoord op dié oorlewingsvraag in die lig van die teenswoordige transformasie wat die hele kerklike lewe deurspoel.
Etikette:
Kerk
Thursday, 9 May 2013
Kerk praat al meer sosiale evangelietaal
Daar is vandag 'n baie duidelik waarneembaar klemverskuiwende tendens in die kerklike lewe - vanaf die vertikale na die horisontale geloofsdimensie - ook in die NG Kerk. Die kruis, simbool van die Christendom, simboliseer die Christengelowige se verhouding met God (vertikale balk) en die medemens (horisontale balk).
Sensusopnames toon dat die Christelike geloof verreweg die meerderheidsgeloof in SA is. Die grondwet en handves van menseregte laat egter nie langer toe dat die Christelike geloof daarop aanspraak maak dat dit die enigste ware geloof verteenwoordig nie. Dit tas die geloofsregte van ander aan en gee aanstoot. Op dié wyse is die Christendom in SA geleidelik aan't swig voor minderheidsgelowe. Die uitweg deur kerkleiers gevolg, is toenemende geloofsrelativering en oorbeklemtoning van die horisontale kruisbalk met verskraling van die Bybelse boodskap tot 'n sosiale evangelie - "social gospel".
Die volgende dien as voorbeelde van dié klemverskuiwende tendens. Die titel van Nico Koopman se Godsdiens Aktueel-bydrae, "Vryheid om jou naaste te kan dien" (DB,08.13), is 'n goeie aanduiding. Hy het dit hierin oor "bevryding van apartheid..(en) verontmensliking van die verlede...vry van verdeeldheid (en) onreg...vir die bou van 'n nuwe samelewing...in 'n konstitusionele demokrasie...vir eenheid en sosiale kohesie." Koopman verwys nie 'n enkele keer na Jesus Christus as ons primêre bevryder - gespyker vir ons aan die vertikale balk - as voorwaarde vir ware horisontale bevryding nie. Komende van 'n teoloog, vind ek dit vreemd, maar, nou ja, dis "social gospel"-taal.
'n Verdere voorbeeld is die Belharbelydenis wat óók die "social gospel"-taal, as bevrydingstaal, praat en inderhaas die NG Kerk ingedra moet word. 'n NG Kerklidmaat van Pretoria woon agt eredienste in verskillende NG-gemeentes by en kry by elke geleentheid dieselfde kernboodskap: "Gee meer geld vir die kerk en vir die armes." (Kerkbode Aanlyn,13.02) (ngn)
Etikette:
Kerk
Monday, 6 May 2013
Onderlê "verborge" rewolusie ANC se NDR?
SA verkeer in 'n staat van kontinue rewolusie. Dis nie ek wat so sê nie; dis die implikasie van die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR). Dit maak van SA 'n staat-in-rewolusie. Ek vermoed die potensiële bestaan van 'n hipoteties "verborge" parallellopend onderliggende rewolusie - ter bevordering van die "openlike" NDR - waardeur dié ANC-rewolusie volgehou gestimuleer moet word. Vir die oplettende waarnemer kan kenmerke van dié vermeende "verborge" rewolusie vooraf 'n aanduiding bied hóé die NDR self gaan verloop en eindig.
Dié hipoteties "verborge" rewolusie blyk 'n klimaatskepper vir die NDR-verloop te wees. Uiteindelik skyn daaglikse gebeure soos korrupsie, swak dienslewering, looneise, stakings, moorde en misdaad klimaatskeppende "agente" van die "verborge" rewolusie te wees. Gemelde voorbeelde is meer as net simptome van 'n mislukkende ANC-regering, maar verteenwoordig "strategiese chaos" in diens van die NDR. Benutte strategieë is uiters subtiel. Korrupsie, onrealistiese looneise en stakings kan beoordeel word as doelbewuste sabotasie (strategie) van die nasionale ekonomiese en finansiële sektore. Manipulasie (strategie) kan, vir rewolusionêre doeleindes, aangewend word in die velde van arbeid en dienslewering.
Die vermeende hipoteties "verborge" rewolusie bevat die potensiaal om die NDR-temperatuur tot kookpunt te verhit, ekwivalent aan die vooraand van die destydse Kodesa-onderhandelinge. Rewolusionêre druk het gelei tot die kapitulasie van die NP en die oorgang van die ou na die nuwe SA. Op soortgelyke wyse kan die vermeende "verborge" rewolusie die klimaat skep vir die verlangde ANC-transformasie vanaf 'n kapitulerende demokratiese, na 'n seëvierende sosialisties-kommunistiese landsbestel. Laasgenoemde oogmerk is, volgens my mening, die einddoel waarop die NDR afstuur. Demokrasie is vreemd aan Afrika, sosialistiese diktature, daarenteen, egter welbekend. (ngn)
Etikette:
Algemeen
Saturday, 4 May 2013
Sinvoller kerkgesprek versoek
Ek verwys na G.P.D.Terblanche se skrywe, "Tree op teen kerkbrekers" (VB,22.04). Hy sê hy kruis "nie graag swaarde op die geestelike pad nie." Waarom beskik ons dan oor die swaard van die Gees as ons dit nie op dié pad gebruik nie?
Ek "beskuldig" hom nie soos wat hy beweer nie - ek verskil wel van hom. Dit is nie gepas vir enige lidmaat om 'n mede-lidmaat die kerkdeur te wys en om funksies aan die kerk voor te skryf - soos om beskawingstandaarde te handhaaf en menseregte te beskerm - volgens die Terblanche-standpunt nie.
Sy voorbeeld van Jesus se verdrywing van die duiweverkopers uit die tempel - Jesus het "sy voet hard neergesit" - oortuig nie. Jesus het hulle as "handelaars" die tempel belet; nie as "lidmate" nie.
Terblanche het dit teen "twyfelsaaiers en afbrekers...hulle wat die kerk aftakel...(en) die kerk se pilare probeer omtrek en die pap in die kerk suur maak". Hy werk nie onderskeidend nie, maar maak met dié bewering verdagtes van álle huidige NGK-lidmate. Dis onaanvaarbaar. Wie het hy eintlik in gedagte? Hy laat ons gissend in die duister deur sy gebrek aan stawende getuienis. As beswaarde - dat hy "beskuldig" word - aanvaar hy nou self die rol van voorste aanklaer en beskuldiger.
Terblanche sal weet dat duisende NGK-lidmate reeds dié kerk verlaat het - 29 000 in die afgelope kerkjaar. Beskou hy húlle ook as "kerkbrekers"? Respekteer hy Martin Luther as historiese "kerkbreker", of veroordeel hy hom? Gee Terblanche toe dat "kerkbrekers" 'n kerksuiwerende rol in die kerkgeskiedenis gespeel het, dikwels vervolg is, en ook met hul lewens moes boet, met ons as hulle erfgename?
Ek wil aanbeveel dat Terblanche die voorkoms van "kerkbrekers" in terme van oorsaak en gevolg ondersoek, 'n gedifferensieerde benadering sal volg, sy kriteria vir die identifisering van "kerkbrekers" met ons deel, en sy bewerings met relevante voorbeelde sal toelig. Alleen só kan groter sinvolheid aan dié gesprek verleen word.
Etikette:
Kerk
Wednesday, 1 May 2013
Wat Mandela en Darwin in gemeen het
Oudpres. Mandela se gesigsuitdrukking op die voorbladfoto van "Die Burger" (30.04), wek by my die gedagte van 'n tweërlei gemeenskaplikheid tussen hom en Charles Darwin: wêreldroem, en onsekerheid waarin hul lewens eindig.
'n Besoek aan Charles Darwin se huis, Down House te Downe Village in Engeland, bring die besoeker ook te staan voor 'n beeld van hom teen 'n vensteragtergrond aan die einde van 'n doodloopgang. Waarom lyk hy op gevorderde leeftyd so melancholies-droefgeestig? Is dit vanweë 'n deur siekte geteisterde lewe, of het sy ontkenning van die Skeppergod iets daarmee te doen? Enersyds word beweer dat Darwin 'n sterfbed-bekering ervaar het, dog andersyds ontken sy evolusie-aanhangers dit ten sterkste.
In sy "Long Walk to Freedom" sê Mandela: "My father remained aloof from Christianity and instead reserved his own faith for the great spirit of the Xhosas, Qamata, the god of his fathers." Ek hoop ek is verkeerd, maar my indruk is tog dat Mandela in dié oortuiging deel. By geleentheid sê hy skertsend dat, na sy dood met sy aankoms aan die "anderkant", hy onmiddellik na die naaste ANC-tak sal verneem en daarby aansluit. Op die gemelde foto lyk dié wêreldikoon, soos Darwin, weerloos en droefgeestig.
Kykende deur my Christelike geloofsbril na die eindkenmerke van dié twee wêreldfigure, herinner dit my aan die Bybelse waarskuwing wat sê dit help nie dat ons die hele wêreld wen, maar aan ons siel skade ly nie. Beide Mandela en Darwin se droefgeestige voorkoms stem my werklik tot hartseer. Waarom? God sê in Sy Woord dat dit nie Sy wil is dat die mens (geestelik) moet sterf nie, maar hom bekeer en bly lewe (Eseg. 18:32).
Etikette:
Algemeen
Subscribe to:
Posts (Atom)