Wednesday 29 May 2013

Skaar uself aan waarheidskant oor Belhar

Wat 'n skitterende brief van Piet Theron is sy skrywe, "Teater van absurde oor Belhar-belydenis" (VB,29/05/2013), nie! Dit bring die jeugjare-herinnering aan die ou Halleluja-liedjie, "Laat ons skyn vir Jesus met 'n helder glans, skitter soos die sterre aan die hemeltrans!", na vore. 

Sy skittersoeke na waarheid oor die Belharbelydenis het Theron vroeër reeds, saam met nog sewentien medeskrywers van die ewe skitterende boek, "Belhar Geweeg", bewys. Hierdie boek is 'n móét-lees vir elke NGK-lidmaat wat in alle opregtheid soek na die waarheid aangaande die Belharbelydenis, en nié bereid is om op 'n onverantwoordelike, oningeligte wyse kerkleiers blindelings te volg nie.

Dieselfde leesaanbeveling oor Belhar kan ook gemaak word ten opsigte van ds.Theo Danzfuss se artikel, "Evaluering van die Belharbelydenis", in drie aflewerings   -   Mei, Junie en Julie 2005   -   in die tydskrif, "Waarheid en Dwaling". 

Dankie aan Theron, en alle ander waarheidsliefhebbers en  -soekers, vir die waagmoed van jul oortuigings te midde van die wesenlike risiko van verguisende etikettering. Dankie vir jul skaamtelose skaring aan die kant van die waarheid en Waarheid.



No comments:

Post a Comment