Thursday 16 May 2013

Sou Naudé ANC-vergrype veroordeel het?

Wanneer 'n mens se optrede/handelinge jou (geloofs-)belydenis weerspreek, is dit tog opvallend hoe dit guns vind in die oë van die wêreld, veral wanneer dit op kompromiemaking neerkom. 'n Goeie voorbeeld hiervan is wyle dr. Beyers Naudé met sy ANC-terreurverbintenis oor wie dr. Donald Katts (DB,15.05) 'n lofrede hou. 

Katts verwys na Naudé se "vreeslose gehoorsaamheid aan God en die evangelie...(wat) chaos in die politieke en godsdienstige wêreld veroorsaak (het)...en sy manier van in die Gees van die Here dink, wat ons kan help...(om) selfs kerkstrukture, reëls en prosedures aan te pas om die nood van mense eerste te stel"   -   skepsels bo die Skepper?

Oud-genl. Johan van der Merwe, eertydse SA-polisiehoof, sê Naudé het jong swart mans gehelp om vir militêre opleiding na die Sowjetunie te vlug om daarna SA gewapend binne te sypel om dood en verwoesting te saai. Naudé het gehelp om verbode lektuur van die ANC/SAKP-alliansie te versprei met propaganda vir rewolusionêre doeleindes wat deur middel van terreur- en gruweldade bereik moes word. Die Vryheidsmanifes wat Naudé ywerig help versprei het, gee géén erkenning aan God Drieënig nie.

Ek vind dit verstommend dat sommige geestelikes, onder kerklike dekmantel, Naudé se optrede prysenswaardig kan vind. Hoe versoen 'n mens steunverlening aan dood en geweld   -   in belang van anti-Christelike magte   -   met die Evangelieboodskap? Nêrens lees ek dat Jesus komplotte gesmee het om die Jode van hul Romeinse oorheersers te bevry nie. Mahatma Gandhi, 'n Hindu geestelike wat Indië tot vryheid gelei het, is met sy satyagraha-filosofie'n navolgenswaardige voorbeeld   -   tot skande van sommige SA-kerkleiers   -   in dié opsig.

Indien Naudé vandag nog sou gelewe het, sou hy ook, soos Tutu, met reg veroordelend gestaan het teenoor ANC-vergrype? Sou sy oë, soos hopelik Tutu s'n, uiteindelik oopgegaan het?              (ngn)




1 comment:

  1. Tommie, ek het in dieselfde rigting gedink, vroeër die week, toe einste "Oom Bey" ter sprake was op RSG se "Praat saam". Hoe sê hulle? Een persoon se "vryheidsvegter" is 'n ander se "terroris"...

    ReplyDelete