Oudpres. Mandela se gesigsuitdrukking op die voorbladfoto van "Die Burger" (30.04), wek by my die gedagte van 'n tweërlei gemeenskaplikheid tussen hom en Charles Darwin: wêreldroem, en onsekerheid waarin hul lewens eindig.
'n Besoek aan Charles Darwin se huis, Down House te Downe Village in Engeland, bring die besoeker ook te staan voor 'n beeld van hom teen 'n vensteragtergrond aan die einde van 'n doodloopgang. Waarom lyk hy op gevorderde leeftyd so melancholies-droefgeestig? Is dit vanweë 'n deur siekte geteisterde lewe, of het sy ontkenning van die Skeppergod iets daarmee te doen? Enersyds word beweer dat Darwin 'n sterfbed-bekering ervaar het, dog andersyds ontken sy evolusie-aanhangers dit ten sterkste.
In sy "Long Walk to Freedom" sê Mandela: "My father remained aloof from Christianity and instead reserved his own faith for the great spirit of the Xhosas, Qamata, the god of his fathers." Ek hoop ek is verkeerd, maar my indruk is tog dat Mandela in dié oortuiging deel. By geleentheid sê hy skertsend dat, na sy dood met sy aankoms aan die "anderkant", hy onmiddellik na die naaste ANC-tak sal verneem en daarby aansluit. Op die gemelde foto lyk dié wêreldikoon, soos Darwin, weerloos en droefgeestig.
Kykende deur my Christelike geloofsbril na die eindkenmerke van dié twee wêreldfigure, herinner dit my aan die Bybelse waarskuwing wat sê dit help nie dat ons die hele wêreld wen, maar aan ons siel skade ly nie. Beide Mandela en Darwin se droefgeestige voorkoms stem my werklik tot hartseer. Waarom? God sê in Sy Woord dat dit nie Sy wil is dat die mens (geestelik) moet sterf nie, maar hom bekeer en bly lewe (Eseg. 18:32).
No comments:
Post a Comment