Monday 20 May 2013

Gaum se "sonde"-uitspraak lyk bra verdag

Die gelyktydige transformasie wat tans binne die ANC-beheerde SA én NG Kerk plaasvind, is nie toevallig nie. Beide kontekste word gekenmerk deur radikale transformasie. Die bestaan van raakpunte is nie uitgesluit nie.

ANC-transformasie word gedryf deur nie-Christelik ideologiese motiewe. NGK-transformasie geskied binne dié ANC-geskepte ruimte. Die kerkleierskap herposisioneer dié kerk binne die ANC-getransformeerde nasionale speelveld met die oog op 'n sleutelspelersposisie. Minimale NGK-kritiek op die ANC is opvallend.

Kerklike transformasie kom teen 'n prys. Sommige Bybelse en leerstellige oortuigings blyk as uitgediend prys gegee te word. Die drang tot kerkeenheid blyk eerder deur ekstrinsieke as intrinsieke oorwegings gedryf te word. Die vroeër gerespekteerde verskeidenheid-in-eenheid-beginsel deur dié kerk word verwerp en eenheid-in-verskeidenheid verabsoluteer.

Dr.Frits Gaum steun Die Burger se hoofberig, "Eenheid kan kerk se rol net versterk" (DB,10.05)   -   'n goeie voorbeeld van eksterne mediadruk op dié kerk   -   met sy artikel, "Eenheid ' sodat die wêreld kan glo' " (DB,16.05). Gaum impliseer dat kerklike verskeidenheid-in-eenheid "sonde" is sonder enige motivering van sy standpunt. Gaum krabbel egter terug wanneer hy sê: "..wanneer ons groter kerklike eenheid soek, moet ons volledig daarmee (verwysende na verskille in taal, kultuur en spiritualiteitsbelewenisse) rekening hou." Is dit dan nie juis die verskeidenheid-in-eenheid-beginsel in praktyk nie? Dit laat Gaum se "sonde"-uitspraak beslis verdag voorkom.

 Die strewe na kerkeenheid, hoe verdienstelik dit ook al oppervlakkig mag lyk, is nie te skei van ander gelyktydige nasionale, én internasionale, eenheidstrewes soos geïnisieer deur die Nuwe Wêreldorde   -   'n nie-ignoreerbare werklikheid   -   nie. Dit vorm deel van die vervulling van die Bybelvoorspelde toekomstige antichristelike wêreldbedeling.








No comments:

Post a Comment