Thursday 9 May 2013

Kerk praat al meer sosiale evangelietaal

Daar is vandag 'n baie duidelik waarneembaar klemverskuiwende tendens in die kerklike lewe   -   vanaf die vertikale na die horisontale geloofsdimensie   -   ook in die NG Kerk. Die kruis, simbool van die Christendom, simboliseer die Christengelowige se verhouding met God (vertikale balk) en die medemens (horisontale balk).

Sensusopnames toon dat die Christelike geloof verreweg die meerderheidsgeloof in SA is. Die grondwet en handves van menseregte laat egter nie langer toe dat die Christelike geloof daarop aanspraak maak dat dit die enigste ware geloof verteenwoordig nie. Dit tas die geloofsregte van ander aan en gee aanstoot. Op dié wyse is die Christendom in SA geleidelik aan't swig voor minderheidsgelowe. Die uitweg deur kerkleiers gevolg, is toenemende geloofsrelativering en oorbeklemtoning van die horisontale kruisbalk met verskraling van die Bybelse boodskap tot 'n sosiale evangelie   - "social gospel".

Die volgende dien as voorbeelde van dié klemverskuiwende tendens. Die titel van Nico Koopman se Godsdiens Aktueel-bydrae, "Vryheid om jou naaste te kan dien" (DB,08.13), is 'n goeie aanduiding. Hy het dit hierin oor "bevryding van apartheid..(en) verontmensliking van die verlede...vry van verdeeldheid (en) onreg...vir die bou van 'n nuwe samelewing...in 'n konstitusionele demokrasie...vir eenheid en sosiale kohesie." Koopman verwys nie 'n enkele keer na Jesus Christus as ons primêre bevryder   -   gespyker vir ons aan die vertikale balk   -  as voorwaarde vir ware horisontale bevryding nie. Komende van 'n teoloog, vind ek dit vreemd, maar, nou ja, dis "social gospel"-taal.

'n Verdere voorbeeld is die Belharbelydenis wat óók die "social gospel"-taal, as bevrydingstaal, praat en inderhaas die NG Kerk ingedra moet word. 'n NG Kerklidmaat van Pretoria woon agt eredienste in verskillende NG-gemeentes by en kry by elke geleentheid dieselfde kernboodskap: "Gee meer geld vir die kerk en vir die armes." (Kerkbode Aanlyn,13.02)              (ngn)


No comments:

Post a Comment