Wednesday 22 May 2013

"Kerkbrekers" nie nét gewone lidmate nie

G.P.D.Terblanche (VB,13/05/2013) sê "duisende lidmate" deel sy kommer oor die "groot uittog" uit die kerk. In my omgewing hoor ek: "As hulle wil gaan, laat hulle gaan!" Sommige leraars het blykbaar hul herdersrol, in navolging van die Goeie Herder, laat vaar. Daar is selfs kerkleier-teoloë wat óók nie in Terblanche se kommer deel nie.

Dr.Kobus Gerber, hoofsekretaris van die NG Kerk, sê die dalende lidmaattal "kan onder meer toegeskryf word aan die feit dat die kerk nie meer rassisme duld nie" (RSG-webblad, 17/01/2013). In 'n artikel, "Die NG Kerk: van volkskerk na nasiekerk" (Waarheid en Dwaling, Nov/Des 2006), wys prof.R.M.Britz op wat wérklik aan die gebeur is.

In Rapport (19/02/2012) skryf prof. Nelus Niemand kerkverlating alleenlik aan sekularisasie toe. So eenvoudig? In Beeld (15/04/2012) sê Niemand: "Christene se beheptheid met die kerk gaan op die agtergrond skuif." Die enigste teenvoeter en hoop vir die NG Kerk, volgens proff. Nelus Niemand en Stephan Joubert (Beeld, 27/02/2012), lê in "alternatiewe vorme van kerkwees". Joubert beweer selfs dat die dalende lidmaattal nie gekeer moet word nie.

In sy voorwoord tot Niemand se boek, "Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede", skryf Joubert dat Niemand "uitgediende kerklike maskers...rondom ons almal afhaal...(en) mens stig nie kerke nie...(maar) begin net 'n nuwe movement en jy infiltreer alles wat jy kan..." Infiltrasie 'n aanvaarde kerkstrategie?

Wanneer sommige kerkleiers sê dat daar (modernisties?) "anders gedink" en (postmodernisties?) "nuut gedink" moet word, wonder 'n mens of dit ook dié predikante akkommodeer wat sê: "Ek kan nie meer bid nie...Ek lees nie meer die Bybel nie..." (Rapport, 23/10/2011), en dat "gebedsversoeke nie werk nie" (Beeld, 28/02/2011).

Hóé kan ons toegee aan 'n "anders" dink- en "nuut" dink-oproep oor 'n Wese wat self nooit verander nie? Eeue-oue denke aangaande dié Wese is saamgevat in ons ewe-oue belydenisskrifte waarvan dr.Braam Hanekom (Die Burger,01/04/2009) al gesuggereer het om dit prys te gee ter wille van die oplossing van die Belharkwessie.

Sou Terblanche kon toegee dat sy "kerkbrekers" nie nét beperk is tot gewone lidmate nie?



1 comment:

  1. Dankie dat jy so aanhou stry vir die waarheid Tommie - ek sien jou brief is in die Burger, hier: http://www.dieburger.com/opinie/2013-05-05-briewe-6-mei-2013

    ReplyDelete