Saturday 4 May 2013

Sinvoller kerkgesprek versoek

Ek verwys na G.P.D.Terblanche se skrywe, "Tree op teen kerkbrekers" (VB,22.04). Hy sê hy kruis "nie graag swaarde op die geestelike pad nie." Waarom beskik ons dan oor die swaard van die Gees as ons dit nie op dié pad gebruik nie? 

Ek "beskuldig" hom nie soos wat hy beweer nie   -   ek verskil wel van hom. Dit is nie gepas vir enige lidmaat om 'n mede-lidmaat die kerkdeur te wys en om funksies aan die kerk voor te skryf   -   soos om beskawingstandaarde te handhaaf en menseregte te beskerm   -   volgens die Terblanche-standpunt nie. 

Sy voorbeeld van Jesus se verdrywing van die duiweverkopers uit die tempel   -   Jesus het "sy voet hard neergesit"   -   oortuig nie. Jesus het hulle as "handelaars" die tempel belet; nie as "lidmate" nie.

Terblanche het dit teen "twyfelsaaiers en afbrekers...hulle wat die kerk aftakel...(en) die kerk se pilare probeer omtrek en die pap in die kerk suur maak". Hy werk nie onderskeidend nie, maar maak met dié bewering verdagtes van álle huidige NGK-lidmate. Dis onaanvaarbaar. Wie het hy eintlik in gedagte? Hy laat ons gissend in die duister deur sy gebrek aan stawende getuienis. As beswaarde   -   dat hy "beskuldig" word   -   aanvaar hy nou self die rol van voorste aanklaer en beskuldiger.

Terblanche sal weet dat duisende NGK-lidmate reeds dié kerk verlaat het   -   29 000 in die afgelope kerkjaar. Beskou hy húlle ook as "kerkbrekers"? Respekteer hy Martin Luther as historiese "kerkbreker", of veroordeel hy hom? Gee Terblanche toe dat "kerkbrekers" 'n kerksuiwerende rol in die kerkgeskiedenis gespeel het, dikwels vervolg is, en ook met hul lewens moes boet, met ons as hulle erfgename?

Ek wil aanbeveel dat Terblanche die voorkoms van "kerkbrekers" in terme van oorsaak en gevolg ondersoek, 'n gedifferensieerde benadering sal volg, sy kriteria vir die identifisering van "kerkbrekers" met ons deel, en sy bewerings met relevante voorbeelde sal toelig. Alleen só kan groter sinvolheid aan dié gesprek verleen word.




No comments:

Post a Comment