Monday 27 May 2013

Wag méér "hoef-nie-te-glo's" in toekoms?

Na die lees van dr.Gerhard Botha (UV teologiese fakulteit) se artikel, "Belhar en die skuld wat steeds knaag" (DB,25.05), som ek dit op as skuldgevoelwekkend onder NGK-lidmate oor tye uit ons verlede wat onvergelykbaar ánders was as vandag. Wanneer hy sê: "Ek was deel van een van die onregte", dan wil ek vra: Deur te help voorkom het dat die destydse rewolusie-kookpot van sosialisme-kommunisme se deksel destyds kon afskiet met veel tragieser gevolge vir die SA-burgery as vandag? Ek wil aanvaar dat Botha reeds sy persoonlike "deel van..die onregte" voor God bely het voordat hy dit hier in die openbaar bely ter bevordering van die Belharbelydenis (BB). Ek gun Botha egter sy siening en wend my na die BB waarvoor hy so hartstogtelik aanvaarding bepleit.

Daar was 'n periode wat die VGK gesê het: aanvaar die BB, dan is ons bereid tot kerkvereniging   -   'n duidelike voorwaarde aangewend as meganisme in 'n potensieel tussenkerklike "ruiltransaksie". Ter oplossing van die BB-kwessie stel dr.Braam Hanekom (DB,01.04.09) voor dat die NGK sy belydenisskrifte moet prysgee vir dié doel   -   nog 'n potensieel tussenkerklike "ruiltransaksie". Dui dit nie daarop dat van ons belydenisskrifte verhandelbare "artikels" gemaak word waaraan onderhandelingspotensiaal  gekoppel word nie?

Die NGK-leierskap sê lidmate wat nié die BB wil aanvaar nie, hoef nie.Tydens sy 2011-sinodesitting sê dié kerk lidmate en predikante wat nie aan die bestaan van Satan glo nie, hoef nie. Die BB en Satan se bestaan word nou opsionele aangeleenthede. Hoe kan dit enigsins eensgesindheid van geloof in dié kerk bevorder? Saam met geloofsrelativering kom geestelike dissiplinelosheid wat bestem is om te eindig in chaos en selfvernietiging.               (ngn)




No comments:

Post a Comment