Monday 13 May 2013

Ook wêreld stel eise aan NG Kerk

In aansluiting by prof. Piet Strauss se skrywe (VB,13/05/2013), die volgende kommentaar op u hoofartikel, "Eenheid kan kerk só versterk" (VB,08/05/2013). 

Ernsmakende Christengelowiges, vir wie die Bybelse waarhede vasstaande en ononderhandelbaar is, lees in 1 Joh.5:19 : "Ons weet dat...die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is." So weet hulle ook dat hulle in, maar nie van, die wêreld is nie, en dat Jesus self gesê het: "Ek bid nie vir die wêreld nie..." (Joh.17:9b).

Die wêreld wil baie graag die kerk tot "speelmaat" bevriend. Sulke gewillige "speelmaats" manifesteer dan ook in die valse kerk soos deur die Nederlandse Geloofsbelydenis (art.29) beskryf. Dit is 'n oeroue spel waarin die kerk-wêreldverhouding deur onoorbrugbare spanning gekenmerk word. In die lig hiervan mag ons vra: Waar staan die NG Kerk vandag met betrekking tot dié oerspel?

U hoofberig, soos na verwys, beklemtoon by implikasie die noodsaaklikheid van dié vraag. Hierin word beweer: "Vir die NG Kerk-familie is eenheid in hul geledere 'n kwessie van geloofwaardigheid...in die oë van die res van die gemeenskap (lees:wêreld)...(en) solank die kerke verdeeld (lees:afsonderlik) bly, moet hulle nie verwag dat mense daarbuite (lees:in die wêreld) hulle te ernstig sal opneem...nie."

Volgens prof. Stefan Joubert   -   in sy voorwoord tot prof. Nelus Niemand se boek, "Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede"   -   beweer Peet Kruger, algemene hoof van News 24 se koerante, dat tradisionele Afrikaanse kerke (soos die NG Kerk) nie meer ernstig opgeneem en as nuuswaardig beskou word nie. Hiervolgens is dit duidelik dat kerklike geloofwaardigheid, én -nuuswaardigheid, vir die wêreld in terme van die wêreldmening en -media beoordeel word, en nie meer aan getrouheid aan die Kerkhoof en Sy Woord nie.

Omdat ook die NG Kerk nie immuun teen die infiltrasie van sosio-politieke en sekulêr-humanistiese beïnvloeding is nie, mág ons daarom vra waar dié kerk staan met betrekking tot die wêreld se eise vir kerkwees. Toon dit kenmerke van 'n gewillige "wêreldspeelmaat", of nie? Lidmate is geregtig op 'n antwoord op dié oorlewingsvraag in die lig van die teenswoordige transformasie wat die hele kerklike lewe deurspoel.




No comments:

Post a Comment