Monday 6 May 2013

Onderlê "verborge" rewolusie ANC se NDR?

SA verkeer in 'n staat van kontinue rewolusie. Dis nie ek wat so sê nie; dis die implikasie van die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR). Dit maak van SA 'n staat-in-rewolusie. Ek vermoed die potensiële bestaan van 'n hipoteties "verborge" parallellopend onderliggende rewolusie   -   ter bevordering van die "openlike" NDR   -   waardeur dié ANC-rewolusie volgehou gestimuleer moet word. Vir die oplettende waarnemer kan kenmerke van dié vermeende "verborge" rewolusie vooraf 'n aanduiding bied hóé die NDR self gaan verloop en eindig.

Dié hipoteties "verborge" rewolusie blyk 'n klimaatskepper vir die NDR-verloop te wees. Uiteindelik skyn daaglikse gebeure soos korrupsie, swak dienslewering, looneise, stakings, moorde en misdaad klimaatskeppende "agente" van die "verborge" rewolusie te wees. Gemelde voorbeelde is meer as net simptome van 'n mislukkende ANC-regering, maar verteenwoordig "strategiese chaos" in diens van die NDR. Benutte strategieë is uiters subtiel. Korrupsie, onrealistiese looneise en stakings kan beoordeel word as doelbewuste sabotasie (strategie) van die nasionale ekonomiese en finansiële sektore. Manipulasie (strategie) kan, vir rewolusionêre doeleindes, aangewend word in die velde van arbeid en dienslewering.

Die vermeende hipoteties "verborge" rewolusie bevat die potensiaal om die NDR-temperatuur tot kookpunt te verhit, ekwivalent aan die vooraand van die destydse Kodesa-onderhandelinge. Rewolusionêre druk het gelei tot die kapitulasie van die NP en die oorgang van die ou na die nuwe SA. Op soortgelyke wyse kan die vermeende "verborge" rewolusie die klimaat skep vir die verlangde ANC-transformasie vanaf 'n kapitulerende demokratiese, na 'n seëvierende sosialisties-kommunistiese landsbestel. Laasgenoemde oogmerk is, volgens my mening, die einddoel waarop die NDR afstuur. Demokrasie is vreemd aan Afrika, sosialistiese diktature, daarenteen, egter welbekend.              (ngn)




No comments:

Post a Comment