Tuesday, 30 December 2008

Bevry ons van wolf in skaapsklere

Piet Jacobs, ketelmaker van die Vrystaatse goudveld en geestelike leier in Woord in Aksie-geledere, vertel 'n kontemporêr toepaslike storie van die wolf wat, vanweë ouderdom, só maer en uitgeteer was dat hy nie langer meer sy prooi self kon vang nie. Hy móés dus 'n plan maak.

'n Goeie vriend van Wolf gee hom toe raad. Hy moes hom soos 'n skaap laat vermom en só toegang tot Boer se skaaptrop kry. So ontwerp 'n geleerde professor toe vir hom 'n netjiese skaapvermomming. Met dié vervalste skaapkleed aan onder die kudde, kry 'n skaap   -   ongelukkig vir Wolf   -   die wolfsreuk, raak benoud aan die blêr, en daar vlug die hele trop.

Die professor moes toe maar wéér help en so verander hy toe Wolf se reuk na dié van 'n skaap s'n. Met Wolf se volgende roofpoging herken een van die skape ongelukkig sy wolfstem, en so misluk dié poging ook.

Wéér moet die professor help, en opereer aan Wolf se stembande en doen so 'n skaapstem-oorplanting op Wolf. Nou is Wolf se voorkoms, sy reuk en sy stem volmaak aangepas by dié van sy prooi. In sy volgende roofpoging, en ongelukkig vir Wolf, sien een van die skape dat dié  "skaap"  in die skaaptrop dan die spoor van 'n wolf trap, en daar vlug almal weer.

Die les uit dié eenvoudige storie? Ek kan lyk, ruik en praat soos 'n skaap, maar die spoor wat ek nalaat, verraai my ware identiteit as vyand van die kudde.  Esegiël 22:23-31 beskryf voortreflik die wolwespektrum van regeerders, priesters, amptenare, profete en burgers in ons land. Heel gepas word dit ook gesê : Ware vrede is nie die afwesigheid van oorlog nie, maar wel die aanwesigheid van God.

Sóós in Jacobs se storie was Suid-Afrika se  "wolwe"  vanjaar dikwels bedrieglik in skaapsklere vermom. Mag 2008  die einde inlui van die wolwe-in-skaapsklere-era, en 2009 ons nader bring aan die bevryding van wolweregeerders,  -amptenare,  -burgers en  -teoloë, en ons lei na wáre vrede.

Tuesday, 23 December 2008

Boesak span sy seile na die wind

In eiebelang beoefen jy 'n beroep ; in belang van jou medemens volg jy 'n roeping   -   so lui die gesegde. In dr. Boesak se geval blyk die winsmotief voorrang bo die diensmotief te geniet ; dat hy veel eerder 'n speler in die politieke beroepsliga as in die kerklike roepingsliga wil wees. Boesak se skaamtelose gelyktydige flankering met die ANC én Cope, gedryf deur eiebelang, is baie opmerklik. Hy bied homself aan die hoogste bieër van dié twee wat hom die grootste persoonlike voordeel bied.

By uitnemendheid 'n opportunis en pragmatis, span Boesak sy seile na dié windrigting waarin die politieke winde van verandering tans die gunstigste vir hóm waai. So word daar berig in  "Boesak-betowering" (DB,17.12.2008), dat hy 'n opruiende toespraak by Cope se stigtingsvergadering gehou en 'n helde-ontvangs hom te beurt geval het, en  "Die charismatiese Boesak...die skare in beswyming gehad het met sy retoriek."

Vooraf het die ANC hom  "met verskeie aanbiedinge genader, (maar hy) Het gesê daar is te veel vervreemding tussen my en die ANC", en tog darem ook nie só 'n groot afstand dat dit hom daarvan weerhou het om die ANC te versoek om in die ambassadeurspos by die Verenigde Nasies aangestel te word nie.

Boesak is by uitstek 'n platform-soeker. As aktivis en opruiende orator wil hy gehóór word. Die beperkende ruimtes van kansel, kerk en teologie pas nie langer sy selfgewaande statuurgrootte nie. Boesak speel baie duidelik 'n dubbele rol   -  soms die verpolitiseerde geestelike ; dan weer die begeesterde politikus   -   wat kerk en teologie beslis nie ten goede kom nie. Wil hy nie maar  "die skape van Sy weiding"  finaal vaarwel toeroep, en so ook die US-kweekskool, en hom voltyds as beroepspolitikus aan die politiek wy nie?

Daar mag seker ook na die  "Boesak-fenomeen"  verwys word soos wat daar vroeër na die  "Buchan-fenomeen"  verwys is.

Wednesday, 17 December 2008

Afrikanervolk, hou Geloftedag in ere!

Het daar enigiets onuitwisbaar gegraveer oorgebly in die historiese geheue van die Afrikanervolk wat betref die verraderlike moord op Retief en sy manne op 6 Februarie 1838 as die aanleidende gebeure tot die vooraf Gelofte en die Slag van Bloedrivier van 16 Desember 1838?

Tot watter mate het ons   -   nageslag van die Voortrekker-pioniers   -   ingesuig en verstrengel geraak in 'n samelewing van alkoholmisbruikende, sportmal, TV-benewelde, statusbewuste, geldverslaafde en geloofsontspoorde individue, simptomaties van ons disintegrerende volksolidariteit?

Die nuwe politieke en staatkundige bedeling het Geloftedag gekaap vir die doeleinde van 'n (mislukkende) horisontalisties mensgesentreerde ideologie, gerig op die kwasi-versoening tussen skepsels dikwels juis van 'n onversoenbare aard (sien 2 Korintiërs 6:14-16).

Die eens geestelike lewensaar en transendentale naelstring wat 'n volk-in-wording en sy God innig aan mekaar gebind het, is afgebind, en ons   -   as nageslag   -   neem daarmee verlief. Ons staan skuldig voor God aan troubreuk teenoor Hom en die Gelofte voorafgaande tot 16 Desember 1838. Hy sê immers baie duidelik in Sy Woord vir ons : "As jy aan God 'n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie." (Prediker 5:3)  En ook verder :  "...'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom". (Matteus 5:33)  Levitikus  19:12  sê dat die aflê van 'n vals eed in Sy Naam die Naam van God ontheilig.

Wil ons 'n ligsinnige nageslag wees? Nee, beslis nie! Wil ons die Gelofte van 16 Desember 1838 tot valse eed maak? Nee, beslis nie! Wil ons die Naam van God ontheilig? Nee, beslis nie! Kom dan, Geloftevolk, laat ons Geloftedag ernstig bejeën en dit in ere hou. Slegs die God van 16 Desember 1838   -   die onveranderlike Een   -   kan ons nakomelinge in hierdie gewelds-geteisterde land laat oorleef en enduit bewaar.

Monday, 8 December 2008

Max benodig 'n Damaskus-ervaring

Murray La Vita sê in sy artikel,  "Die bevryding van Max du Preez" (DB,28.11.2008), Du Preez het  "...op die stoep van sy huis gesit. En toe begin hy huil. 'n Nag lank (oor) tonele van die volkslagting (in) Rwanda".

Die Rwandese volkslagting was die  "sneller"  vir Max se tranevloed, en toe word gebeure uit die vorige Suid-Afrikaanse bedeling summier gelyk gestel aan dié van Rwanda   -   'n uiters onvanpaste, verwronge en onbillike vergelyking.

Ironies genoeg beroep Du Preez hom op sy stoere Afrikaner-afkoms, maar hy benut tog elke moontlike geleentheid om sy wit mede-Afrikaners te verguis.

Hierteenoor sê prof. Jonathan Jansen, 'n voormalige  "struggle"-deelgenoot (Rapport,23.11.2008) : "Hy's siek en sat vir mense wat apartheid die skuld gee vir alles."  Met sy aanstelling as dekaan van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, het hy  "...gegaan om die wit kinders te transformeer. En toe transformeer die wit kinders my."  'n Wit eerstejaarstudent vra hom een oggend voor klas of sy vir hom kan bid.  "En ek huil jong, en sê maar natuurlik kan jy vir my bid, kind."

Sowel Du Preez as Jansen het gehuil, maar om uiteenlopende redes. Die verskil tussen dié twee se   "gehuil" lê opgesluit in die Damaskus-metafoor.  "Saulus"  du Preez het nog nie 'n wáre ontmoeting met sy eie mense gehad nie ; "Paulus"  Jansen, daarenteen, wel met Du Preez se mense.

Wednesday, 3 December 2008

Suiwerheid van teologie is op die spel

Suid-Afrika is tegelyk 'n multi-kulturele én multi-religieuse land, bestaande uit verskillende kultuurgemeenskappe wat dinge nié altyd eenders sien en vertolk nie. Een daarvan is die Christelike geloofsterrein.

'n Kritieke vraag is : Durf Protestants-gereformeerde Christene die kultureel-bepaalde interpretasies van die Evangelie binne individuele kultuurgemeenskappe ignoreer?

In sy boek, Dominee, Are You Listening to the Drums?, sê A.S. van Niekerk : "Theology should pay attention to cultures...(and) Communication takes place in a cultural context ; the source of the message, the message itself and the receptor are all part of a cultural framework."  Verder : "...the theologies, philosophies and problems of Africa should also be allowed to play a role in shaping a truly South African theology...(and) Africa should become a partner in...this indigenous theology (therefore)...there will have to be co-operation between White (European) and Black (African) theology."

Dit plaas prof. Piet Naudé se vroeëre opmerking in skerper fokus wanneer hy sê : "As Khayelitsha en Stellenbosch, Bloemfontein en Botshabelo, Tukkies en Alexandra nie met mekaar versoen word nie, sien hy (Naudé) nie 'n oplossing nie" (DB,08.10.2008).

Van Niekerk blameer die  "wit teologie"   -   beperk tot 'n oorwegend  "wit konteks"   -   vir  "...a Black theology (to) come into existence to reflect a Black context. This theology aims at Black liberation, it rejects Western standards and examines African tradition for an alternative theological framework and for  'a totally new social order'."  En verder : "...the desperate suffering of Blacks...are to be blamed not only on the Whites but also on  'the White man's God'."

Is dit Bybels aanvaarbaar dat daar 'n  "alternative truly indigenous South African theological framework"  vir Christengelowiges ge-"shape" sal word? Is dit waarheen die  "nuwe teologie", onder meer, met die kerk op pad is? Indien wel, plaas dit teologiese suiwerheid op die spel, en sê ek nee dankie vir kerklike eenwording op dié sinkretistiese teologiese fondament.

Tuesday, 2 December 2008

God, of Darwin?

In minder as 'n honderd jaar het die geloofsbehoeftes van Afrikaanssprekendes, deur Jacques Kriel geïmpliseer, "geëvolueer" vanaf die Bybel in Afrikaans tot "Darwin in Afrikaans, asseblief" (BY, 29.11.2008).

Kriel bepleit 'n vertaling van Darwin se Christelik-ondermynende werke, On the Origin of Species  en  The Descent of Man, in Afrikaans. Kriel oordeel misleidend dat die Christelike geloof (tese) en die evolusieleer (antitese) tot 'n sintese versoen kan word. Hy skroom nie om natuur en Skriftuur van mekaar te skei en sodoende die soewereiniteit van God as Skepper, Sy skepping en Sy Woord te verkrag nie.

Die gesag van die Bybel word ontken volgens 'n prosedure waarvolgens God en werklikheid dualisties van mekaar geskei word; dan die skeiding tussen geloof en wete (kennis) en die deïstiese ontkenning van die reëele verband tussen God en werklikheid; dan die rasionalisme, empirisme en relativisme wat uitloop op 'n horisontalisme waarin die werklikheid ontgeestelik word.

Kriel is 'n goeie voorbeeld van beïnvloeding deur die leermeester; in sy geval prof. Degenaar wat sê "dat die Christendom met sy wêreldbeeld as uitgedien beskou moet word."

Kriel werp die Christelike geloof in een poel met die Judaïsme, Islam, Hinduïsme, Buddhisme en Afrika-godsdienste, want almal werk "met die begrip van 'n skepper-God (of skeppergode) en vertel almal skeppingsverhale." Dit is duidelik dat die evolusie-teorie die beoogde eenwêreld-godsdiens van die toekoms moet bevorder.

Die ruimte ontbreek om volledig op Kriel te reageer. Kriel sluit met die afdreiging dat "Sonder Darwin in Afrikaans sal Afrikaanssprekende studente...aan die agterste wetenskaplike speen moet bly suig!" Kriel, ons suig liewer aan die bors van ons geloofsmoeder, die alomvattende en gesagsvolle Woord van God.

Ons geslag word tans uittartend gekonfronteer deur die Goliats-evolusieleer en die Godloënende kampvegters daarvoor. Ons Christenjeug staan geoffer te word op die brandstapels van die evolusiegeloof terwyl ons geloofsleiers stilswyend toekyk.


Saturday, 22 November 2008

Evolusieleer moet opsioneel wees

In die berig,  "Evolusieleer in skole is realiteit wat bly  -  Hanekom" (DB,15.11.2008), sê mnr. Derek Hanekom, adjunkminister van wetenskap en tegnologie :  "Ons kan nie alternatiewe teorieë wat nie bewysbaar is, akkommodeer nie, want dit is gegrond op fanatisme...dat evolusieleer in Suid-Afrikaanse skole geleer word en daar aangehou sal word om dit te doen."

Die Bybelse sesdagskepping is, by implikasie, vir Hanekom 'n  "alternatiewe teorie wat nie bewysbaar is nie", en Christene wat dit glo, is fanatici.

In hul boek Darwin's Leap of Faith, haal Ankerberg en Weldon vir dr. Thomas Dwight van Harvard Universiteit aan wat beweer : "The tyranny in the matter of evolution is overwhelming to a degree of which the outsider has no idea. In our colleges and universities today, the Christian faith can be ridiculed, Marxism can be espoused, morality demeaned, occultism promoted, homosexuality practised   -   but the theory of evolution is somehow sacrosanct" (onaantasbaar).

Maar wat sê Darwin self? P.J.Pelser vertaal soos volg uit van Darwin se briewe : "Daar is soveel geldige en gewigtige argumente teen my idees dat...julle julself met gemak kan oortuig dat ek my totaal misgis, en ongetwyfeld is ek gedeeltelik verkeerd, moontlik in geheel, maar ek is vir my eie weë blind."

Deur hul verbondskinders aan die Bybel-bespottende evolusieleer bloot te stel, verloën Christenverbondsouers hul doopgelofte   -   en daarmee saam die sakrament van die doop   -   wat vereis :  "Beloof u...om hierdie kind...in dié (Bybelse) leer na u vermoë te onderrig of te laat onderrig?"

Beskik Christenouers en kerkleiers oor die moed en geloofsoortuiging om vir hul kinders in die bres te tree teen die on-Christelike evolusiegeloof?

Ouers moet by die onderwysowerhede daarop aandring dat die evolusieleer 'n opsionele en nie-verpligte afdeling in die Biologie-leerplan sal wees as 'n teenvoeter vir Hanekom se indoktrinerende stelling : "Biologie kan nie selektief geleer word nie."

Friday, 14 November 2008

SA Weermag wou geloof laat voortbestaan

Christo van Heerden is geregtig op sy mening soos verwoord in sy brief,  "Skrikwekkende vrug van apartheid" (DB,04.11.2008). Sy beskuldigende kritiek daarin teen die NG Kerk lyk egter oorvereenvoudigd en ondeurdag te wees.

Van Heerden sê : "Die volksteologie/ideologie wat 'n bloedbad in SA veroorsaak het, is deur die NG Kerk toegelaat om te gedy..."  en  "die leuen...dat kommunisme swart was...wat die kerk beskerm het..."  Hy eindig met : "...die boosheid wat julle (Vorsters en Breitenbachs se) teologie besig was om op ons los te laat..."

Ek verdedig nie die NG Kerk nie ; ek verdedig bloot die behoud en voortbestaan van die Christelike geloof in sy onaangetaste, suiwere vorm.

Van Heerden werk opsigtelik met 'n uiters gebrekkige kennisraamwerk van die geloofsbedreiging waarmee die Europese Protestants-Christelike beskawing oor eeue reeds in Suid-Afrika gekonfronteer is, en wat ononderbroke voortduur. Sy siening is beperk tot die bedreiging van die ateïsties-uitgesproke kommunisme alleen. Maar wat van die tipiese vermenging van die Christelike geloof met die Afrika-godsdienste tot 'n sinkretistiese  "geloof"  waarin Woord-  en geloofsuiwerheid verduister word?

Dit is ook vreemd dat Van Heerden eensydig en verwytend wys op die  "volksteologie/ideologie"  sonder om, billikheids-  en balanshalwe, ook te wys op die ideologie van die vyand. Die kern van die  "Totale Aanslag"  was juis gemik op die vernietiging van die Christelike geloof in Suid-Afrika. En moenie dink dié aanslag is verby nie ; dit verkeer tans net in 'n ander fase.

Van Heerden neig ook om die vorige SA Weermag en NG Kerk aan mekaar gelyk te stel. Het nét NG Kerk-kapelane dan deel gehad aan die SA Weermag, of ook kapelane van ánder Christelike denominasies?

Van die meervoudige motiewe waardeur SA Weermag-operasies gedryf is, was die behoud van die Christendom 'n hoofdryfveer. Net hulle wat bewus is van die vólle militêre strydomvang, sal dit weet ; die gewone  "troep"  waarskynlik nie.

Friday, 31 October 2008

Van Wyk se kritiek oortuig nie

By die lees van dr. Chris van Wyk se brief,  "Groot gebreke in Conradie se artikel" (DB,24.10.2008), is dit moeilik om sy benadering   -   waarvolgens hy vra na relevente bronne, 'n  "gesonde hermeneutiek"  (hóé gedefinieer?), teks en konteks   -   mis te kyk.

Kerkleiers en teoloë het vandag mekaar se (professionele?)  "kollegas"  en lede van 'n spesifieke teologies-wetenskaplike gemeenskap geword, en is nie, sonder meer (soos vantevore) en paradigmaties-ongekwalifiseerd,  "broers"  van mekaar nie. Dit is teen hierdie agtergrond van 'n verskuiwing in  "broederlike verhoudinge"  dat ek Van Wyk se kritiek op Conradie lees.

Van Wyk kritiseer Conradie vir sy gebruik van verouderde bronne wat nie resente NG Kerk-besluite  "verreken nie". Oordeel Van Wyk dan dat NG Kerk-besluite onfeilbaar is en die allermaatstaf vir ons kerklike en geloofslewe geword het?

Volgens Van Wyk maak Conradie die Belhar-belydenis  "verdag...deur na die beweegredes daarvoor te verwys" , en het hy nie  "deernis met die konteks van dié belydenis nie".  Waarom skei Van Wyk  "beweegredes" en  "konteks"  van mekaar asof dit nie wedersyds beïnvloedende begrippe is nie? Hy beweer Conradie werk  "met 'n eensydige fokus op die konteks".  Het Van Wyk al oor sy eie potensiële inter-paradigmatiese eensydigheid besin?

Van Wyk sê,  "Die teks van Belhar ken beide vertikale en horisontale versoening, anders as wat dr. Conradie ten onregte beweer."  Conradie verwys na die  1982-uitspraak van die algemene sinode wat die konsep-belydenis van Belhar se versoeningsleer as  "horisontalisties"  beskou. As die Belhar-belydenis dan gekenmerk word deur horisontalisme (verabsolutering van menseverhoudings), waarom verwyt Van Wyk dan vir Conradie deur te sê : "Die versoening van Christus het immers 'n kruis gekos en nie 'n paal nie"?

Versteur Van Wyk nie self die kruis-balans deur juis die dwarsbalk daarvan te wil verabsoluteer nie? ('n Geval van splinter en balk?) Ek stem saam met Conradie wat beweer : "Skrifgetroue gereformeerde teologie is verruil vir situasie-gedikteerde kontekstuele teologie."

Wednesday, 29 October 2008

Belhar-man en/of Godsman?

In Forum (DB,07.10.2008), sê prof. Anton van Niekerk, Universiteit van Stellenbosch-filosoof :  "Prof. Strauss (NG Kerk-moderator) is uitgesproke daaroor dat hy nie 'n  'Belhar-man'  is nie". Dat Strauss dié uitspraak   -   waarvoor hy verkwalik word   -   sou gemaak het, is skynbaar algemeen bekend.

Dit is te begrype dat as ek, as gewone NG Kerk-lidmaat, sou sê dat ek óók nie 'n  "Belhar-man"  is nie, dit nie naastenby dieselfde impak op lidmate sal hê as wanneer die moderator dit sê nie. Sy standpunt vind noodwendig neerslag en steun, asook teenkanting, binne 'n wyer kerklike invloedsfeer.

Die aanvoelbare klimaat in die Belhar-debat is een van : Hierdie belydenisgeskrif geniet soveel prominensie en steun van sommige senior NG Kerkleiers dat dit selfs God se teenswoordig bedreigde Woord   -   wat ons éïntlike besorgdheid verdien   -   as veel hoër prioriteit oorskadu.

Ek wil suggereer dat niemand hom daaroor moet kwel dat die NG Kerk-moderator nié 'n Belhar-man is nie. Dit verander absoluut niks aan lidmate se sieleheil nie. Waarna ons wél moet vra, is óf hy 'n ware Godsman ('n argaïese begrip vir moderne Christene?) is, en in 'n gehoorsamend-luisterende verhouding tot God Drieënig staan. Dít is wel 'n absoluut ononderhandelbare voorvereiste vir die voortbestaan van die wáre kerk van Jesus Christus.

Om 'n wáre Godsman te wees, is van 'n onmeetbaar groter geloofs-prioriteit as om 'n  "Belhar-man"  te wees. Laasgenoemde is beslis ondergeskik aan eersgenoemde. Hét ons die versekering dat alle  "Belhar-manne"  tegelyk ook wáre Godsmanne is terwyl dit algemeen bekend is dat nié alle Godsmanne ook  "Belhar-manne"  is nie?

Of jy 'n  "Belhar-man"  is of nie, is irrelevant in die lig van die radikale vraag of jy wel 'n wáre Godsman is. Antwoorde sal verskil, afhangende van die kontekstuele dampkring waarbinne  "Belhar-manne"  en  "nie-Belhar-manne"  hul onderskeie teologiese paradigmas beoefen.

Net die bedrieër wat verdeel en heers, baat by dié verskille.

Monday, 27 October 2008

Sien reëloortreding oor die hoof

Naguil se brief,  "Sprinkane eet klink lekkerder" (DB,18.10.2008), herinner my aan 'n onlangse insident in 'n handelsbank. 'n Hoflike bruin bankassistent help kliënte na spesifieke toonbanke volgens elkeen se sakebehoefte. Aangekom by 'n swart kliënt met 'n selfoon in die hand, vestig die bankassistent eersgenoemde se aandag op die reël wat selfone in dié bank verbied.

'n Vriendelike versoek om dit in die broeksak te bêre, ontlok 'n heftige reaksie waartydens die selfoonman van aanval as selfverweer gebruik maak. Sy veelseggende opmerking van : "No, man, don't take your job so serious!" , het my getref. In dié uitdagende opmerking lê 'n gesindheid opgesluit van : En wie is jy nou eintlik om my tot konformering aan die bank se reëls op te roep? Kyk liewer anderpad en kondoneer só my oortreding van die reël.

Dieselfde soort gesindheid is ook te vind in die geloofslewe van sommige mense   -   "No, man, don't take your faith so serious!"  Wie is jy nogal om my te wys op hedendaagse aanslae op die Christelike geloofslewe? Sluit jou geloofsoog, en kondoneer!

Naguil versoek Die Burger om   "al die kwasi-teoloë, lekepredikers, doemprofete, ateïste, anti-  én pro-Buchans bymekaar (te) roep sodat hulle vir eens en vir altyd álles kan sê wat hulle wil sê...(en) Ek wil nooit, ooit weer hoor of lees van...die Antichris en...oor die anti-Buchan   (en) oor...Belhar...nie".

Is Naguil se reaksie soortgelyk aan dié van die selfoonman in die bank? Naguil verwys na  "daai een man in die Bybelse tye (wat) sprinkane in die woestyn gaan eet het". Dié man was Johannes die Doper   -   voorloper van die Messias   -  wat gesê het : "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom."  Naguil beweer :  "Ek (Naguil) trek al daar."

Wat beteken hierdie stelling? Identifiseer/ distansieer Naguil hom/haar met  "daai een man in die woestyn"  se oproep tot bekering? Is dit erns of bespotting ; eggo van die bankassistent of die aanvallende selfoonman? Die voordeel van dié twyfel gaan aan Naguil.

Wednesday, 22 October 2008

Doen wat God voorskryf

P.J.Pelser sê in sy boek , NG-kerk : Reformeer of...Disintegreer?, dat prof. Willie Jonker se 1990 Rustenburg-belydenis   -   dat apartheid sonde is   -   tot die verbrokkeling van sekerhede binne die Afrikanergemeenskap en sy kerk gelei het.

Die Rustenburgse inter-kerklike beraad   -   aangevra deur F.W. de Klerk   -   se program is opgestel deur die Wêreldraad van Kerke (WRK) en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Hierdie twee organisasies sou presies weet hóé om Gereformeerde kerklike invloed en gesag ná dié beraad te vernietig as 'n resultaat van die Jonker-belydenis.

Met die oog op herwinning van verlore kerklike aansien, gesag en legitimiteit   -   veral in die oë van die SARK en WRK   -   word die  "ou" (lees: sondige) teologiese weë verlaat en 'n  "nuwe"  weg betree. Laasgenoemde herinterpreteer Bybelinhoude volgens die  "nuwe tydsgees"  en  "verafgod wetenskaplike ondersoek" , terwyl geloof sélf nié  "wetenskaplik"  verklaarbaar is nie. Pelser noem prof. Sakkie Spangenberg die  "koorleier"  van dié  "nuwe teologie".

Gedurende Ou Testamentiese tyd moes wakende wagters op stadsmure die inwoners betyds waarsku teen aankomende vyande. Versaak dié wakende wagters hul plig, rus die bloed van diegene wat deur die vyand doodgemaak word, op die hoofde van die wagters. Ignoreer dié wat gewaarsku word egter die waarskuwings teen die vyand en hulle word dan gedood, rus hul bloed op hul eie hoofde.

Dit is in die lig van die voorafgaande dat ek Dirk Crous se waaksaamheidsvraag in sy brief,  "Doen hulle regtig wat God voorskryf?" (DB,16.10.2008), sien wanneer hy vra :  "Is dit 'n geval van teologiese brein teenoor teologiese brein, of regtig wat God voorskryf?"  Crous se vraag is tweeledig : Die vraag na twee teologieë wat ingrypend van mekaar verskil, en dan die kernvraag :  Watter van dié twee doen  "regtig wat God voorskryf?"

U sal nie maklik 'n antwoord hierop kry nie ; veral nie direk van kanselweë nie. Volg egter die beproefde Bybelse raad van : "Soek, en jy sal vind" , en hou nie op voordat u nie sekerheid daaromtrent gevind het nie.

Saturday, 18 October 2008

Babelse verwarring oor Skrifbeskouing

Sou NG Kerk-lidmate se paaie uiteen gaan, sal dit nié oor die Belhar-belydenis en die VGK wees nie ; dié is bloot aanvullende  "huurtroepe"  wat moet help om 'n nuwe Skrifbeskouing die NG Kerk binne te dra en daar te help vestig. Dié nuwe Skrifbeskouing sal die NG Kerk  "verlig"  met 'n moderne  Godsbeskouing, mensbeskouing en wêreldbeskouing, want, volgens prof. Anton van Niekerk, is die NG Kerk juis nié 'n  "Skrifgetroue"  kerk nie.

Hoe lyk dié nuwe Skrifbeskouing? In die jongste uitgawe van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO) se termynblad, Roeping en Riglyne, sê ds. Hanan Viljoen ons Skrifbeskouing is die kernaangeleentheid in die huidige teologiese debatvoering. Viljoen wys op navorsing van prof. R.Britz waarin hy tot die slotsom kom dat 'n  "ommekeer in die teologiese Skrifbeskouing"  van die NG Kerk plaasgevind het. Hy beweer dat dié Skrifbeskoulike ommekeer aan  "die kern van die (voort-) bestaan  "  van die NG Kerk lê.

In sy professorale intreerede het dr. P.Verhoef gesê  "dat dit in die Skrif allereers om die openbaring van God gaan".  Viljoen sê vandag gaan dit om 'n vermensliking van die Woord om dit vir die moderne mens aanvaarbaar te maak om sodoende die kerk te  "red".

Prof. J.Muller sê van dié  "aanvaarbaarmaking"  dat ewige Skrifwaarhede nou bevraagteken en selfs belaster word. Moderne teoloë sê die tradisionele teologie het  "'n plat-aarde-wêreldbeskouing waaraan die moderne mens nie meer glo nie".  Vir moderne teoloë is die Bybel nié God se geïnspireerde Woord oor Homself nie, maar  "mensewoorde oor God".  Daarmee, sê Viljoen, word die  "mat van sekerheid"  onder Christene se geloofsvoete uitgeruk.

Dit is binne dié verwarrende Skrifbeskoulike stryd dat die sterk aandrang om kerkeenheid homself opportunisties uitwoed. En, moet ons vra, wié is die  "vader"  van verwarring?

Wednesday, 15 October 2008

Is dit Skriftaal of slangtaal?

Gewoond daaraan om van ongelooflike dinge te verneem, hoor ons nou ook dat die  "NG Kerk se probleem een van klas, ras   -   nie-teologie" (DB,08.10.2008) is, volgens prof. Piet Naudé   -   'n omstrede bewering. Dit is verstommend dat tot só 'n simplistiese gevolgtrekking gekom kan word aangaande Protestants- Gereformeerde Christene se besware teen die Belhar-belydenis en eenwording met die VGK. Eersgenoemde se probleem is júís die kontemporêre teologie-beoefening.

Dit is onrusbarend hoedat hedendaagse teologiese standpunte, gegrond op humanistiese geloofsperspektiewe, op gesaghebbendheid aanspraak maak. Outentieke Protestants-reformatoriese geloofsdenke transendeer klas en ras, maar is Bybelwaarskuwend waaksaam ingestel op die subtiele misleiding van die Antichris .   1 Johannes 2:18-19 sê : "Daar is nou reeds baie Antichriste (wat) wel uit ons geledere voortgekom het." Mág ons, of móét ons, teen hulle waak?

Ons huidige teoloë weet skynbaar minder van die Bybelse profetiese boeke   -   Daniël en Openbaring   -   as wat die kerkleiers van die  15de  eeu reeds geweet het, wat húlle in staat gestel het om die Antichris tóé reeds te kon identifiseer. Moderne teoloë twyfel dan selfs aan die bestáán van Satan!

In sy gesprek met Eva konfronteer die slang (Satan) haar met sy twee oerleuens : "Hét God werklik gesê...?" en : "Julle sal nie sterf nie..."  Die eerste sataniese leuen wek twyfel ; die tweede leuen verdraai God se Woord. Nou sê Naudé : "Wie sê Boesak is nie dalk reg nie?"  Hoor ek iets van die slangtaal (twyfelsaai) in sy vraag?

Ras is duidelik voorop in Naudé se bewussyn as hy sê : "NG dominees (word) vir 'n wit wêreld opgelei."  Volgens Naudé hoor  "baie wit mense...nie die stem van Christus...(in) Belhar (nie)."  Wátter Christus se stem?

Het ons hier te make met Skriftaal of slangtaal?

Saturday, 11 October 2008

Filosofie en die kerkeenheidsdebat

Die Bybel wys ons op twee soorte wyshede : hemelse (kopvermorselende) wysheid teenoor aardse en duiwelse (hakskeenbytende) wysheid (Jakobus 3:13-18). Elkeen kan dié teenoorstaande wysheidskenmerke self gaan nalees.

As kinders van Godvresende Christen-"wysgeerouers" , toevertrou aan Christen-"wysgeer-onderwysers", het ons van hulle hul wysheidsraadgewinge ontvang, én nagevolg (dikwels teensinnig), op 'n vormingsweg wat ons uiteindelik bó onsself en eiebelang kon laat uitstyg.

In sy artikel,  "Die tragedie rondom Belhar" (DB,07.10.2008), lewer filosoof-professor Anton van Niekerk 'n vurige pleidooi vir die aanvaarding van die Belhar-belydenis, en die verlengstuk daarvan   -   eenwording tussen die NG Kerk en die VGK. Hy beskuldig die NG Kerk as die oorsaak van dié  "tragedie"  , naamlik dat die NG Kerk nié 'n   "Skrifgetroue kerk"  is nie. Teenoor dié NG Kerk-aanklag van hom skets hy 'n baie eensydig-vroom prentjie van die Belhar-belydenis.

In teenstelling met sy bewering van die NG Kerk-moderator as  "ons eie boerepous" , is dit juis die Belhar-belydenis wat éénheid verabsoluteer en verskeidenheid tot  "sonde, ideologie en dwaalleer"  verklaar   -   tipies van pouslike uitsprake   -   dienende 'n God wat teen ongeregtigheid (lees: verskeidenheid) is en by die verontregtes staan (want geregtigheid is kwansuis slegs in éénheid te vind).

Aangaande Van Niekerk se aandrang dat kerkleiers lidmate (gemeentelede) tot aanvaarding van die Belhar-belydenis moet lei, sê Paulus in  1 Timoteus 3:15b vir ons : "Die gemeente is die draer en die beskermer van die waarheid."

In wie setel die gesag dus volgens die Bybel : Die kerkleiers of die gemeentes? Hoedanig sou Van Niekerk se filosofiese debatsvertrekpunt wees : kopvermorselend, of hakskeenbytend?

Tuesday, 7 October 2008

Voorouers ketters, nageslag demone

Engelssprekendes beweer : "It takes a thief to catch a thief."  Sou die NG Kerk dan nie die dief (lees: demoon) wees wat gevang is nie? Wat dan omtrent die diefvanger self? Wie demone kan identifiseer, moet sekerlik self ook oor 'n eie demonologie beskik ten einde dié diaboliese manifestasie by ander te kan herken, of hoe?

Só vertolk ek dr. Allan Boesak se opmerking : "Die demoon van rassisme het die NG Kerk nog nie finaal verlaat nie." (DB,02.10.2008).

Demoon-aanwesigheid in die kerk is 'n Bybelse werklikheid. Beide Markus (1:21-28) en Lukas (4:31-37) getuig daarvan. By geleentheid leer Jesus die mense in 'n sinagoge toe 'n duiwelbesetene (demoon) hard uitroep : "Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Ek weet goed wie U is ; U is die Heilige van God!"

Vandag nog is daar diegene wat steeds só uitroep in die kerk en demonies van Christus  "getuig". As deel van God se volk en kerk   -   gesimboliseer deur die vrou in wit wat van haar agtervolger ontsnap na die woestyn (Openbaring 12)   -   moet ons ons nié laat mislei soos wat Eva deur die slang (demoniese medium van Satan) mislei is nie.  Die Hugenote-monument in Franschoek is simbolies van die Protestante se vlug voor dié godsdiensvyand. Die vrouefiguur in dié monument hou in haar een hand 'n Bybel en in haar ander hand 'n gebreekte ketting vas. Waarom wil ons ons wéér laat vasketting aan 'n valse belydenisskrif?

Om Protestantisme   -   waarvoor 'n dure prys op Europese brandstapels betaal is   -   te behou, bly weg van die valse kerk wat nog altyd die ware kerk van Christus aangekla en vervolg het. Ons voorouers is  "ketters" genoem. Vandag word hul nageslag  "fundamentaliste"  en  "demoon van rassisme" (deur Boesak) genoem.

Prediker 10:8 sê : "Wie 'n (geloofs-) muur (Protestantisme) afbreek, word deur 'n slang (Lucifer) gepik."

Tuesday, 30 September 2008

Nuwe president se onderwysdoelwitte

"Your baby has the potential to become anything",  en  "I can become anything I want...even president!"  So lui, onderskeidelik, 'n TV-advertensie asook 'n illustrasie in 'n onderwysdepartements-handleiding in die leerarea  "arts and culture".

Hierdie is roekeloos-misleidende stellings aangaande die mens en menslike potensiaal. Met só 'n hallusionêre siening van mense en menslike potensiaal , toegepas in die onderwys, is dit begryplik dat Bill Spady,  "vader" van uitkomsgebaseerde onderwys (UGO),  "geen geheim daarvan (maak)  dat dié stelsel in die land misluk het nie", soos berig in  "UGO het misluk in SA, meen wêreldkenner" (DB,10.03.2008).

Voorts word berig in  "Wiskunde-slaagsyfers in SA is 'n ramp, sê kenner" (DB,23.09.2008) dat  "In Suid-Afrika is die wiskunde-slaagsyfer...onaanvaarbaar laag"  en  "'n nasionale ramp" , met  "die probleem die ergste onder swart leerders."  Van die vele redes vir die mislukking van die onderwysstelsel tel ook die onrealistiese selfoorskatting van die eie potensiaal by baie van die  "voorheen benadeelde"  leerders wat glo : "I have the potential to become anything."

Potensiaal-differensiasie speel 'n onbeduidende rol in die heersende onderwysdenke en kinders word ondergeskik gestel aan ondoeltreffende inhoude en metodes op skool.

Die kind, en dié se unieke potensiaal en ontwikkeling, is van primêre oorweging. Inhoude en metodes moet by leerders aanpas, nie andersom nie, sodat opwaartse punteverstellings en standaardverlaging nie plaasvind nie.

In  "SA onderwys werk nie, erken ANC" (DB,18.09.2008), word berig dat die nuwe staatspresident, mnr. Kgalema Motlanthe,  "onderneem het dat onderwys verreweg die belangrikste doelwit van 'n nuwe ANC-bewind ná pres. Thabo Mbeki gaan wees" , nadat die ANC erken het dat  "die onderwysstelsel...in swart gemeenskappe...hoegenaamd nie (werk nie)." 

Mag die president se woord ook tegelyk sy eer wees in onderwysverband.

Saturday, 27 September 2008

Buchan-kritiek is bloot afvalligheid

Die afbrekende kritiek teen die Buchan-byeenkomste is vermoedelik slegs één simptoom van 'n veel groter onderliggende sindroom binne die huidige Christelike geloofsgemeenskap. Ek noem dit 'n afvalligheidsindroom. Afvalligheid is geen mitiese versinsel vir hulle wat die Woord onvoorwaardelik aanvaar en glo nie. 1 Timoteus 4:1-2,  Hebreërs 6:4-6,  en 2 Petrus 2:1-3  waarsku ons profeties daarteen.

Twee  "opponerende geloofskampe"  kom as't ware teenoor mekaar te staan ; die kamp wat die  "wetenskaplik verligtes"  en  "evolusionêr-revolusionêres"  genoem kan word, wat op húl beurt weer na die ander kamp as  "fundamentaliste"  verwys en  "anti-evolusionêr en tradisioneel"  genoem kan word.

Eersgenoemde kamp blyk 'n tuiste te bied vir diegene wat 'n modernistiese en post-modernistiese godsdiens nastreef wat die spanning tussen geloof (tese) en verstand (antitese) probeer sintetiseer deur die Bybel te  "korrigeer"  op grond van  "wetenskaplike insigte"  en dusdoende gedeeltes van die Bybel vermitologiseer op 'n grondslag van  "ons weet van beter as die Bybelouteur (God) self".

Kamp twee blyk 'n tuiste te bied vir diegene wat 'n onveranderlike  "vir-alle-eeue"-godsdiens nastreef op grond van die Woord van 'n God wat sélf nié verander nie. Geloof self  "evolueer"  nie, en daarom bly die Skrif in sy totaliteit onveranderlik van toepassing vir álle tye, raak dit nie uitgedien nie en kan dit nie as  "mites"  agter gelaat word nie ; gegrond op 'n kinderlik onvoorwaardelike aanvaarding van die totale Bybelinhoud.

In sy Ballade van die Bose sê Van Wyk Louw treffend : "Die veles meen hulle ken my gesig, maar ek (die Bose) skuil té glansryk, té na aan die lig (Goddelike waarheid)". In die lig van hierdie poëtiese  "stelling"  móét ons dus vra : Wie van  "dié lig"  en wie wel so  "ná aan die lig" ?  Hieromtrent moet elkeen van ons self besluit en antwoord.

Tuesday, 23 September 2008

Vertrekpunte in Buchan-debat

So belangrik as wat dit is om van prof. Amanda Gouws te verneem   -   in haar artikel : "Buchan : teken van die tyd waarin ons leef?" (DB,18.09.2008)   -   dat Angus Buchan in  " 'n fundamentalistiese interpretasie van die Bybel"  sy vertrekpunt vind, so belangrik is dit ook om te probeer bepaal wat háár vertrekpunt vir kritiek op Buchan is.

Gouws se vertrekpunt is duidelik nié versoenbaar met dié van Buchan nie, tog, omdat sy nie self haar vertrekpunt uitspel nie, moet dit afgelei word, enersyds vanuit haar kritiek teen Buchan, en andersyds uit haar bewonderende verheerliking van die Grondwet.

Gouws beweer : "Buchan spreek tot die krisis van manlikheid in Suid-Afrika"  (kers opgesteek by prof. Christina Landman?)   -   'n duidelike onvermoë tot 'n diep-geestelike perspektief as voorwaarde vir begrip aangaande dít waaroor dit wérklik gaan.

Gouws sê  "dat ons deur Buchan se tipe godsdiens saamgesnoer gaan word, is 'n mite"   -   in aansluiting by kontemporêre evolusie-teoloë wat sekere Bybelgedeeltes óók as mites afmaak. Opsommend beweer sy : "Die probleem met Buchan is dat hy... deel van die probleem"  is   -   weer eens 'n onvermoë van Gouws om oorsaak en gevolg Bybel-gefundeerd te ondersoek.

Kontrasterend tot die voorafgaande beweer Gouws : "Die probleme...waarmee ons in Suid-Afrika worstel, verg 'n...meer gesofistikeerde benadering as 'n terugkeer na waardes, gegrond op interpretasies van die Bybel."  Sy stel  "waardes wat in die Grondwet beskerm word...(soos) godsdiensvryheid, diversiteit, multikulturaliteit, beraadslagende demokrasie en geslagsgelykheid"  voorop ter oplossing van ons probleme, en negeer die Skepper as Onderhouer en Voleinder ook in dié probleemverband.

Dit is duidelik : Die Bybel is ondergeskik aan die Grondwet. Verraai Gouws se slotopmerking : "Geen wonder Karel Marx het gesê godsdiens is die opium vir die massas nie!" , nie iets van háár vertrekpunt nie?

Saturday, 20 September 2008

Afrikaans dartel nou wêreldwyd

Wat 'n ligpunt in die ideologies-verduisterde Afrikaanse taallandskap was Norman Silke se berig : "Duitser se noodkreet om Afrikaans te leer uit Baai beantwoord" (DB,12.09.2008) nie! Hy berig : " 'n Duitse vrou, ene Maike, is desperaat om die Afrikaanse taal aan te leer..."  'n Verwante artikel,  "Afrikaans in die buiteland", verskyn in Vrouekeur van 12.09.2008 waarin soos volg berig word : "In Nederland en België neem die belangstelling in Afrikaans as  'familielid'  toe en spreek taalkundiges én politici hul kommer uit oor (die) diskriminasie teen Afrikaans (in Suid-Afrika)."

Nie net neem dié belangstelling toe in ons stamlande Nederland, Frankryk en Duitsland nie, maar ook in lande soos Oostenryk, Pole, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek, Finland, Rusland en die VSA. 'n Japans-Afrikaanse woordeboek is reeds beskikbaar, terwyl ook aan 'n Chinees-Afrikaanse ekwivalent gewerk word.

Ons moedertaal, met verworwe ambassadeurstatus, sprei haar vlerke ook na die buiteland   -   dié taalaspoestertjie wat so verneder word in haar eie land   -   waar sy met ope arms deur van die voorste Europese universiteite verwelkom word (wat 'n ironie en tragiek met betrekking tot ons eie tersiêre instellings). As waardevolle  "uitvoerproduk"  word dit 'n kosbare toekomsbelegging in 'n Afrikaans-vriendelike buiteland.

Met haar jeugdige, slanke Afrika-lyfie dartel Afrikaans   -   getooi in haar aangepaste stamlanddrag en versier met armbande, oorringe en hooftooisel uit Afrika, Maleisië en Indonesië   -   op die maat van 'n welmenende  "Hartelijk welkom"  en  "Herzlich Willkommen"  oorsee. Gemelde beeld sluit aan by Eugéne Marais se  "Die Dans van die Reën"  as hy sê : "O, die dans van ons suster, van ver af wink sy, haar armbande blink en haar krale skitter, haar koperringe blink."  En soos wat reën lewe (bioties) impliseer, so ook taal (psigies).

Watter van ons ander inheemse tale kan dié Afrika-taalmeisie dit nadoen? En  "ons niggie met die stywe nek", wat sou sy hieroor te sê hê?

Monday, 15 September 2008

Is eiegoed dan nie meer belangrik nie?

C.J.Langenhoven, ook bekend vir sy wysheidspreuke, het gesê : "Aan 'n nuwe wa kan ons sien of dit 'n goeie skilder was ; aan 'n ou wa of dit 'n goeie wamaker was."  Met hierdie wa-beeld, analoog aan die Afrikanervolk, kan Stef Delport se opmerking   -   dat ek sowel as  "ander briefskrywers hulle vasgeverf het"   -   in sy brief,  "Afrikaner nie meer organiese geheel" (DB,10.09.2008), beter begryp word.

Dit lyk asof Delport self ook fluks aan't verf is met die teenswoordige transformasiekwas ten einde die bestaande verflaag op die volkswa onherkenbaar te bedek. Van dié twee vakmanne, wamaker en skilder, is die wamaker (volk) vir my 'n hoër prioriteit as die skilder (getransformeerde voorkoms), en wie van die wamaker of verwer se handewerk gaan die toets van die tyd die beste deurstaan?

Iets besonder aktueel het uitgekristalliseer, en dit is dat daar nié net 'n enkele Afrikanertipe bestaan nie, maar inderdaad 'n tipologie van Afrikaners, waarvan die volksgeoriënteerde Afrikaner net één so 'n tipe verteenwoordig.

Heg die deursnee-Afrikaner dan géén erg meer aan 'n gemeenskaplike volks-  en lotsverbondenheid nie? Het die transformasiedolk die volkshart reeds dermate binnegedring dat niks meer eie as kosbaar genoeg geag word om vir die nageslag te bewaar nie?

Indien laasgenoemde wel die geval is, het ons aan die einde van ons volkspad gekom. In 'n multikulturele samelewing, wat die volksgedagte verwerp, word 'n volk uiteindelik gereduseer tot die blote status van 'n kultuurgemeenskap, synde een van vele, om uiteindelik te verdwyn. Is dít ons ideaal?

Wednesday, 10 September 2008

Betrokkenheid van ouers 'vernietig'

Twee vertrekpuntvrae in die onderwys was nog altyd : Aan wie behoort die kind in die onderwys, en kan ons maar maak met die kind soos ons wil? Hierop antwoord Christenouers : Kinders is geskenke van God ; toevertrou aan ouerlike alversorging. Derhalwe kan ons nié met ons kinders maak wat óns wil nie en verg hulle ons volgehoue en volledige betrokkenheid.

Vorige Christen-geslagte het besondere erns gemaak met die opvoeding en onderwys van hul kinders op grond van hul doopgelofte   -   afgelê in die kerk   -   'n sakrament wat sy oorsprong vind in die Ou Testamentiese besnydenis as teken van God se verbond met Abraham ; bindend ook vir sy nakomelinge.

Volgens die Christelike opvoedingsbeskouing is die ouer die primêre opvoeder van sy kind in 'n informele, funksionele en intuïtiewe huisopset (voor-wetenskaplik) met die onderwyser/es as die plaasvervanger-ouer (in loco parentis) en sekondêre opvoeder in 'n formele, intensionele en professionele skoolopset (na-wetenskaplik).

Ten einde aan die skool se onderwys en onderrig van gedoopte Christen-verbondskinders 'n Christelike karakter, gees en rigting te verseker, word die Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike Opvoeding en Onderwys (AOV) in 1982 te Bloemfontein gestig onder leiding van die  "vader"  daarvan   -   dr. Sarel Eloff, predikant in diens van die algemene sinode van die NG Kerk, met die opdrag, opvoeding en onderwys   -   met die oog op meer verantwoordelike ouerbetrokkenheid by die onderwys van Christenkinders.

Van al die streeksinodes van die NG Kerk het slegs die Wes-Kaapse streeksinode hom nie ten gunste van die AOV uitgespreek nie. Destydse Nasionale Party-leiers wat in dié vereniging (AOV) 'n  "bedreiging"  gesien het, het, volgens dr. Eloff, 'n standpunt gehuldig van : "Indien ons dit (die AOV) nie (polities) kan beheer nie, moet ons dit vernietig."  Dit ís vernietig!

In sy brief , "Tóé al gepleit vir ouerbetrokkenheid" (DB,01.09.2008), moet H.E.Franszen dus gelyk gegee word as hy sê : "...ons is ons eie grootste vyand!"

Saturday, 6 September 2008

Kort geheue oor voorsate se bydrae

Dit blyk dat sommige onder ons hul denk-  en penvisiere dalk veel hoër kan / wil instel as op die hoogte van die onmiddellik alledaagse en kortstondige korttermyngebeure. Die horisonne van verlede en toekoms   -   na agter en na vore   -  lê beide skynbaar in 'n denk-ondeurdringbare en ondeursigtige waas gehul ; daarom dié ongebalanseerde hedebeklemtoning.

Iemand het gesê : Indien jy nié weet waarvandaan jy kom nie, hóé kan jy dan weet waarheen jy onderweg is (toekoms)? Toekomstige navorsers wat dekades ná ons die psige van die huidige geslag wit Afrikaners sou probeer peil, mag vind dat dit nie, onder meer, ook gegaan het om tydige pogings tot volksoorlewing nie, en dit terwyl die Afrikanervolk se fondament aan't verkrummel was in huis, kerk en skool.

Baie dankie, daarom, aan Jan Rap se Maat se bemoedigende brief,  "Deel nie verminkte Afrikanerskap" (DB,22.08.2008), in antwoord op Stef Delport se definisie van Afrikaner-identiteit waarin Jan Rap se Maat sy periskoop   -   met die doel van 'n veel meer realistiese perspektief   -   bo die oppervlakkige uitlig in 'n nugtere terugblik op ons Afrikaner-verlede.

Het die laaste van die volksbewustes in die Oos-Kaap ons verlaat met die trekke van Trichardt, Van Rensburg, Potgieter, Maritz, Retief, Uys en dergelikes? Dit gaan ons nog pas om te ween soos 'n vrou omdat ons nie ons erfenis soos 'n man in ere wou  hou nie. Ons is die kortsigtige, ondankbare nageslag van 'n skandelik vergete voorgeslag.

Thursday, 21 August 2008

Briewe gaan oor volk, nie identiteit

Stef Delport se skrywe,  "Afrikaners het verskeie identiteite" (DB,18.08.2008), het betrekking. Reaksie op my brief,  "Historici moet help sê wie Afrikaner is" (DB,05.08.2008), was te wagte, omdat die briefopskrif (met die klem op Afrikaner)   -   en nie deur myself gekies nie   -   nie korreleer met die inhoud van die brief (wat handel oor die Afrikaner as 'n volk) nie.

Ek respekteer Delport se persoonlike standpunt en definisie van 'n Afrikaner, dog dit sluit hoegenaamd nie aan by die inhoud van my skrywe van 05.08.2008 waarop hy reageer nie. Lees wéér my brief van 05.08.2008 en besef dan dat dit nié daarin gaan oor Afrikaner-identiteit nie, maar wel oor die Afrikanervolk. Daar is, hoewel verwant, 'n verskil in betekenis tussen die begrippe  "identiteit"  en  "volk".

Gemelde brief van my was in antwoord op generaal Muller se vraag : "Het Afrikanervolk ooit bestaan?", (DB,02.08.2008). Muller vra dié vraag na aanleiding van my skrywe,  "Wat word van die Afrikanervolk?" (DB,29.07.2008). Die vertrekpunt én fokus van my eie, asook Muller, se skrywes, was  "volk"  en nié  "identiteit"  nie.

Friday, 8 August 2008

Is Belharbelydenis godslasterlik?

Volgens die Bybel is dit godslasterlik om te kenne te gee, of te insinueer, dat jy God is. Jesus is van godslastering beskuldig omdat Hy gesê het: "Ek en die Vader is een." (Johannes 10:30,33) en: "Mens, jou sondes is jou vergewe." (Lukas 5:20,21)

Die Belharbelydenis verklaar: "Ons glo...dat geskeidenheid...tussen mense en mensegroepe sonde is...dat 'n weiering om sigbare eenheid...na te jaag, sonde is." Johannes 17:20,23 dien as gewaande Skrifbewys hiervoor.

Ek lees niks van sónde hierin nie; wel van eenheid, maar beslis nie opportunisties-eensydig vertolk as "sigbare eenheid" nie, maar wel volgens 1 Korintiërs 6:17 wat sê: "Wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom."

Indien 'n persoon of instansie dus sê wát sonde is, moet dit tog geskied op grond van 'n sondemaatstaf. Daar bestaan slegs 'n enkele sondemaatstaf, en dit is die Woord van God. Enigeen wat sigself aanmatig tot self-geïnisieerde, insinuerende sonde-uitsprake van buite, of inlees in, die Woord, gee daarmee te kenne dat hy God-speel, en is derhalwe skuldig aan godslastering.

In die Begeleidende Brief by die Belydenis van Belhar word gesê: "Ons spreek hierdie belydenis uit teen 'n valse leer...wat die Evangelie self in ons Kerk en land bedreig...en...dat vele...daardeur gekondisioneer is" en, daarom, "halwe waarheid leer glo het as die volle waarheid."

Die ken van "volle waarheid" is uitsluitlik 'n Goddelik-unieke eienskap, want Jesus is "die weg en die waarheid en die lewe" (Johannes 14:6). Die mens ken waarheid slegs maar gedeeltelik (1 Korintiërs 13:12b). Wanneer die Belharbelydenis dus 'n "valse leer" herken, wat op 'n "halwe waarheid" gebou is, omdat hyself oor 'n "ware leer" beskik wat, by implikasie, op "volle waarheid" berus, dan is dit ongetwyfeld 'n toekenning van 'n Goddelik-unieke eienskap aan homself.

In die lig van die voorafgaande lyk die Belharbelydenis se sonde-  en waarheidsmaatstaf godslasterlik verdag.                                        (ngn)

Tuesday, 5 August 2008

Distansieer van teologie-tipe

Sonder om Angus Buchan, bekend vir die merkwaardig Christelik-geestelike herlewing wat tans onder sy leiding geskied, by die naam te noem, loods prof. Julian Müller in sy artikel, "Beleef ons 'n godsdienstige verdonkering?" (DB BY 02.08.2008), 'n subtiel-verdagmakende aanval op Buchan.

In sy slotparagraaf sê Müller skaamteloos-blatant: "Ons moet...onderskei...en die moed...hê om...goedkoop godsdienstige propaganda te verwerp en mense daarteen te waarsku." Müller is korrek met sy waarskuwende gedagte, maar dan wel dat Christene dringend teen Müller se eie bepaalde teologiese denke gewaarsku behoort te word.

Enkele voorbeelde uit sy teologiese denkraamwerk: Hy sê: "Dit gaan alles ten diepste oor die verhouding tussen geloof en verstand." Vreemd egter dat my Bybel ten diepste verwys na ons verhouding met God en Sy Seun onder die leiding van die Heilige Gees.

Müller beweer "wetenskaplike teorieë...(het) mense gehelp om nie...slagoffers van godsdienstige manipuleerders te wees nie." Gedeeltelik weer korrek, dog Kolossense 2:8 waarsku ons ook om teen teorieë en argumente te waak wat ons van Hom weglei (deur misleiding soos dié van Müller).

Hy sê deur middel van navorsing is ontdek "dat verskynsels wat in die Bybelse tyd aan duiwelbesetenheid toegeskryf is...siekteverskynsels is waarvoor medikasie 'n oplossing bied." Weer eens gedeeeltelik waar, dog die Bybel word subtiel verdag gemaak en die Goddelike Almag negeer.

Müller konstateer: "Natuurrampe...is gewone natuurverskynsels en nie die straf van God nie", 'n goeie voorbeeld van hoedat hy die Skepper en die skepping dualisties van mekaar skei en die Skepper as onbetrokke by Sy skepping projekteer.

Müller ontmasker homself as evolusionêr ingestel met die stelling: "Ewolusie staan nie in kontras met die skeppingsverhale van Genesis nie"  en  "kan die gelowige nou dankbaar wees oor argeologiese ontdekkings wat nuwe lig werp op miljoene jare van ewolusionêre ontwikkeling."

Ten slotte betoog Müller: "Ons het opnuut 'n behoefte aan bevryding van bygeloof." Hy beskryf bygeloof as "naïewe, kinderlike geloof." Ek distansieer my beslis volkome van Müller se tipe van teologie.    (ngn)


Historici moet help sê wie Afrikaner is

Die vraag in generaal Muller se brief,  "Het Afrikanervolk ooit bestaan?" (DB,02.08.2008), het betrekking.

My oupa, 'n burger van die Republiek van die Oranje Vrystaat, was op kommando tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO). Hy is gevange geneem en verban na Diyatalawa in Ceylon, vandag bekend as Sri Lanka. By sy tuiskoms, saam met andere, het hy vir twee sjielings en ses pennies per dag met 'n pik en graaf aan paaie moes werk omdat plase deur die Engelse verniel was.

My pa is tussen  1902  en  1910  in die Oranjerivier-kolonie as Britse onderdaan gebore. Ek is in die Kaapprovinsie in die Unie van Suid-Afrika gebore. Vyf geslagte is gebore tydens vyf verskillende staatkundige bedelings. Waar plaas dit my, my kinders en kleinkind wat betref ons volksgenootlikheid? Is ons lede van die Boerevolk of die Afrikanervolk?

In Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog (1937), beskryf C.J.Scheepers Strydom die besondere aandeel van  "koloniale"  Afrikaners aan die ABO. In  So het hulle gesterf! Laaste ure van diegene oor wie die doodsvonnis in die Kaapkolonie uitgespreek en voltrek is gedurende die oorlog van 1899-1902 (1940), versamel deur G.Jordaan, word die verhale vertel van hulle wat in dié kolonie tereggestel is weens hul ondersteuning van hul volksgenote in die Boere-republieke.

Wyle Jopie Fourie het kort voor sy teregstelling op Sondagoggend  20 Desember 1914 gesê : "Moet my tog nie in my gesig skiet nie. Ek het 'n groot Afrikanerhart, daar is genoeg plek om my te skiet."

Alhoewel woorde en hul betekenisse geweldig belangrik is en sowel kan insluit as uitsluit, dink ek tog die begrip Afrikanervolk is meer inklusief om ook volksgenote buite die grense van die toenmalige Boere-republieke in te sluit. Wat van Boere-Afrikanervolk? Historici, help tog!

Sunday, 3 August 2008

Staan Boesak voor 'n keuse?

Die Bybel leer ons dat Judas sy Meester verraai het, maar kan 'n meester ook sy volgeling(e) verraai? Dit wil
tog voorkom asof dit die geval is wat betref dr. Boesak en sy ANC-meester(s).

In die artikel, "Boesak pak ANC oor ras" (DB,01.08.2008), verskyn 'n foto van 'n glimlaggende Boesak met gebalde vuis omhoog, die swartmagteken as saluut aan die aanwesiges. Agter dié glimlag skuil egter skerp kritiek teen sy ANC-meester(s) toe hy die Ashley Kriel-gedenklesing aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) waargeneem het en Boesak "gevra (het) dat die regering die belofte van nie-rassigheid begin gestand doen." Sy toespraak het "dikwels die grense tussen politieke vergadering en gedenklesing uitgedaag" en "Mcebisi Skwatsha, Wes-kaapse sekretaris-generaal van die ANC, het die saal verlaat tydens die toespraak."

In 'n striemende aanval op ANC-politiek, waarin hy verwys het na "siniese politiek",  "arrogansie van magshebbers"  en  "skaamtelose verwaarlosing van die massas", kom Boesak tot die belangrike gevolgtrekking dat "dit lyk of ons ons misgis het." Erken hy hiermee dat bruin mense ontnugter is en nié regtig die vrugte pluk van hul deelname aan die voor-1994 rewolusie nie?

Dit blyk 'n fase te wees in die lewe van die bruin gemeenskap waartydens hulle hul entoesiastiese steun aan "teoretiese" pre-1994 rewolusionêre slagspreuke moet beoordeel aan die hand van die "praktyk" van die post-1994 samelewing soos deur die ANC gerealiseer.

Ek twyfel of Boesak ooit die held sal word van diegene wat hom slegs doeldienlik wil manipuleer om 'n hansie-my-kneg rol te vervul. Waarom hom nie eerder skaar by sy eie mense en só na "hoër grond" streef deur hom te beywer vir hul algehele opheffing buite die politiek soos wat die Bruin Belange Inisiatief (BBI) beoog nie? Kan die ANC vertrou word met die bevordering van die belange van mense ánders as swart elitisme en nepotisme? Hierdie keuse is Boesak s'n.                (ngn)

Tuesday, 29 July 2008

Wat word van die Afrikanervolk?

Twee hoogs intelligente en selfstandig-denkende bejaarde mense (onderskeidelik 82 en 90 jaar oud) vra my onlangs in afsonderlike gesprekke op dieselfde dag (toevallig?) dieselfde komplekse vraag : Wat word van die Afrikanervolk?

Ek dink nie één van hulle het 'n sodanig beslissende en finale antwoord van my as nie-gesaghebbende verwag as wat hulle eerder hul diepe kommer en kwelvrae met 'n volksgenoot wou deel nie.

Na my oordeel is dit nie net 'n kritieke vraag gerig aan volksgenote nie, maar word dit waarskynlik ook deur meerdere vrae vooraf gegaan soos : Bestaan daar hoegenaamd nog 'n Afrikanervolk en, indien wel, wáár bevind diegene hulle wat hulself nog volksgenote ag? Met die uitsondering van die ouer Afrikanergeslag, vind ek maar weinig verwysings na die volksgedagte in hierdie omgewing. Sodanige verbintenis en / of assosiasie het vir baie 'n verleentheid en irrelevant geword.

Veler senior volkslede sal vir ons sê dat volkswording,  -wees en  -voortbestaan veel te make het met die samewerking tussen volksouers (gesin), volksonderwysers (skool) en volksleraars (kerk). Vernietig dié innige band tussen hierdie drie, en jy vernietig 'n volk.

In 1972 reeds beweer M.A.S.Grundlingh dat  "die huidige geslag jongmense die enigste in die geskiedenis van die mensdom is vir wie die lotgevalle van sy voorgeslagte grotendeels onbenullig skyn te wees."  In 1969 het dr. A.L.Kotzé, voormalige Transvaalse direkteur van onderwys, gesê : "Maak 'n kind los van sy gesin, sy kerk en sy volk en hy / sy is 'n kandidaat om enige plek gewaai te word." Profetiese woorde, nie waar nie?

Een sosastiestokkie breek maklik, maar bondel baie stokkies saam en kyk of dit nóg so maklik gebreek kan word! Die Afrikanervolk word tans  "ontbondel"  en individueel  "gebreek".

Dat ons volk wél sal voortbestaan, ongetwyfeld onderworpe aan bepaalde voorwaardes, daarvan bly ek egter oortuig. Dit is net tragies dat so vele van ons bejaarde volksgenote hul oudag wroegend met kwelvrae oor hul volk moet slyt.

Monday, 21 July 2008

Pla Afrikaner se identiteit?

In sy artikel,  "Ras is maar 'n maaksel, eerder as wet van God" (DB,15.07.2008), sê prof. Jonathan Jansen : "...ons minister van arbeid, mnr. Membathisi Mdladlana...is 'n man wat baie suksesvol deur ons rasseverlede geïndoktrineer is."

Ek dink Jansen begaan 'n oordeelsfout. As jy vir die minister self sou vra, is ek seker hy is trots daarop om 'n swart man te wees, soos wat ek trots daarop is om 'n wit man te wees, ongeag ons  "rasseverlede".

Trots op wie jy is en identiteitsvorming is blykbaar vir sommige 'n probleem. Philda Essop het juis in haar knap artikel,  "So kan bruin mense hul uitdagings self aanpak" (DB,11.06.2008), só hierna verwys : "..die probleem in die bruin gemeenskap...is 'n gebrek aan leierskap en trots op wie jy is."

Essop wys op 'n sosiologiese wetmatigheid wanneer sy sê : "Ons móét onsself ophef."  Stem Jansen hiermee saam, of meen hy dalk dat die  "onsself"  plaasvervangend gesystap kan word?

Jansen erken hy kon nie sy studente oortuig  "dat ras slegs 'n maatskaplike konstruk is eerder as 'n identiteit wat deur die natuur bestel is of, nog erger, deur God uitgevaardig is"  nie. Hy beweer  "...dat dit sedert geboorte by hulle ingedril is dat daar vier  'bevolkingsgroepe'  is",  en  "Dié vier groepe durf ook nie   -   die gruwel van alle gruwels   -   saam slaap nie."

Wie, prof. Jansen, het dit by die plante-  en diereryk  "ingedril"  dat elkeen by sy soort sal hou en só hul identiteit oor eeue behou het? Is dit nie God se skeppingswette nie? En die mens dan?

U moet asseblief nie wit Afrikaners by implikasie verwyt omdat ons identiteitsbewus en  -bewarend ingestel en dáárom nie wil  "saam slaap nie". Die Afrikaner respekteer  "saamslaap"  as 'n bestendiger van identiteit óf as vernietiger daarvan. Gun ons asseblief dié keuse-vryheid, of het u 'n probleem met Afrikaner-identiteit?

Monday, 14 July 2008

Kontemporêre AB nié historiese AB nie

'n Familiebesoek in Limpopo-provinsie het my tydelik buite bereik van etlike uitgawes van Die Burger geplaas. Sodoende gaan prof. Piérre Theron, voorsitter van die Afrikanerbond-direksie, se artikel, "Gister en Vandag se boustene" (DB,25.06.2008), voorlopig verby. Hierin word beweer: "Die Afrikanerbond het pas sy 90ste bestaansjaar gevier", asook "...hoe die bond die Afrikanergemeenskap dien" nadat dit "...homself tussen 1990 en 1993 getransformeer" het "tot 'n oop organisasie".

Hierdie transformasie beteken, onder meer, 'n verskuiwing weg vanaf die Afrikanervolk na die "Afrikanergemeenskap" (met die begrip "Afrikaner" nou duidelik herdefinieer), en die toekoms van die Afrikanervolk verskuif het na "die toekoms van Suid-Afrika" binne 'n "nuwe republiek" ná 1994.

Op prof. Theron se bewering dat die Afrikanerbond (AB2) vanjaar 90 jaar oud is, lewer ek graag kommen- taar omdat ek daaromtrent van hom verskil.

Die Afrikaner Broederbond (AB1) wat A.N.Pelser in sy boek, "Die Afrikaner-Broederbond:Eerste 50 jaar",  beskryf, was in wese totaal anders as wat die (AB2) kontemporêr verteenwoordig. Na my beskeie oordeel is laasgenoemde in wese hoegenaamd nié 'n voortsetting van (AB1) nie.

Volgens Pelser is die verhaal van (AB1) sedert 1918, wat sigself vir volkseenheid beywer het, ook dié van 'n stryd tussen twee vorme van eenheid binne Afrikanergeledere, te wete dié van volkseenheid en politieke eenheid, wat nie altyd met mekaar te versoen was nie. In die aanloop tot die geboorte van (AB2) het Nasionale Party-politiek die oorhand oor volkseenheid gekry wat sou lei tot ontrou en verloëning van  (AB1)-ideale. Dominerende Nasionale Party-politiek sou (AB1) vernietig. Sedertdien het sowel die Nasionale Party as (AB1) in die Gilboa-swaard geval en tragies aan die eie hand gesterf.

Net so min as wat die Herstigte Nasionale Party, Konserwatiewe Party of Vryheids-front +  daarop aanspraak sal maak dat hul onderskeie ontstane terugdateer na 1914 met die stigting van die oorspronklike Nasionale Party, net so min kan die kontemporêre (AB2) daarop aanspraak maak dat sy ontstaan herlei kan word na 1918 toe (AB1) gestig is.

Moet dus asseblief nie daarop bly aanspraak maak dat dit dieselfde organisasie gebly het nie. Die (AB2) moet grootmoedig genoeg wees om te erken dat hy, vanweë sy radikale breuk met en vervreemding van (AB1), op grond van die vernietigende verpolitisering van (AB1) en die dure prysgawe van volkseenheid, nie meer dieselfde is en sy resente geboorte dus nié na 1918 teruggevoer kan word nie. Die kontemporêre (AB2) is beslis nié die historiese (AB1) nie!                           (ngn)

Saturday, 21 June 2008

Hou jou by jou lees, Landman

Ons weet dat omstredenheid 'n wyse is om 'n kompartement in 'n wa van die publisiteitstrein te bespreek. So 'n voorbeeld is prof. Christina Landman ('n vrou) wat nie te lank gelede nie na kerktorings as manlike falliese simbole verwys het.

Nou weer, in haar artikel,  "Soet jong mans nuwe toets vir kerk" , in Godsdiensperspektief (DB,18.06.2008), sit Landman haar verdagmaking van Christenmans voort. Sy neem Angus Buchan se saamtrek van  60 000  mans te Greytown as vertrekpunt daarvoor.

Landman sê : "Ek veronderstel die manne van die Greytown-sestigduisend is soet jong mans."  Sy bel 'n paar (van dié duisende) en haal dan drie van hulle aan. Is hulle verteenwoordigend van die oorblywende  59 997  Greytown-Christenmans?

Op grond van die kommentaar van dié drie kom sy tot die gevolgtrekking dat  "hier 'n nuwe manlikheid onder jong mans aan die opkom is."  Belaglik vir 'n teoloog wat as  "wetenskaplike"  gereken wil word!

Sy gaan egter voort en sê : "Laat ek eers hierdie idee van die  'nuwe manlikheid'  kontroleer met 'n groep mans wat bo  50  is."  Laasgenoemde groep sê vir haar  "maar hulle is nou so lus om 'n bietjie stout te word." Hierdie  "stout"  herlei Landman na manlike seksuele (wan-) gedrag wanneer sy daarop wys dat  "baie meer aborsies op vroue bo  40  verrig (word) as op meisies. En dis nie jong mans wat hulle swanger gemaak het nie."

Teen dié agtergrond vra Landman  "hoe die kerk gaan staan teenoor hierdie  'nuwe manlikheid'  van die jong mans." 

Liewe hemel, prof. Landman, is daar nie véél dringender kwessies waarmee die kerk homself moet besig hou as dat  "soet jong mans ('n) nuwe toets vir (die) kerk"  sal wees nie? Daar kan géén ander manlikheidsbeeld vir enige Christenman wees as dié een wat God se tydlose Woord aan hom toeken nie. Dit is beslis tyd dat Christenmans vir Landman sê : Skoenmaker, hou jou by jou lees!

Monday, 16 June 2008

Realistiese basis vir bruin uitdagings

Ek het lanklaas 'n artikel gelees wat van soveel hand-in-eie-boesem eerlikheid en nugtere objektiwiteit getuig as Philda Essop se  "Só kan bruin mense hul uitdagings self aanpak" (DB,11.06.2008). Synde van 'n uitsonderlike gehalte, onderskei dié artikel sigself in die joernalistieke sfeer.

Essop weet waarvan sy praat en doen dit in reguit taal. Haar mense  "ken die kuns van ware integrasie...word misken in die werkplek en politiek...wat weens regstellende aksie sukkel om te vorder...want ons het (kwansuis) nie hard genoeg geveg vir die politieke bevryding van die land nie."

Sy erken dat bruin mense tydens die vorige bedeling  "sementblok-huise en 'n beter onderwysstelsel as ons swart broers en susters gehad (het)."

Essop het haar vinger op die pols met haar vraag : "Wat is die probleem in die bruin gemeenskap?"  Haar antwoord is ooreenstemmend eerlik : "Dit is gebrek aan leierskap en trots op wie jy is."  Vervolgens ontbreek daar  "'n sterk gevoel van identiteit" , en, sê Essop :  "Ons móét onsself ophef."  Vir dié doel het  "ons kinders...rolmodelle nodig (sodat) vooraanstaande bruin leiers...aan bruin kinders bekend gestel word."

Essop se artikel styg uit deurdat daar geen aanvallende of kwetsende verwyt daarin te vind is nie. Sodoende skep sy 'n realistiese basis vir bruin uitdagings in 'n veelvolkige samelewing. Só 'n visie bied hoop.

Wednesday, 11 June 2008

Joubert moet besef soort soek soort

Jan-Jan Joubert, politieke redakteur van  Die Burger , hou homself baie opsigtelik besig met 'n futiele oefening waaraan hy met groot toegewydheid werk (DB,04.06.2008). Hy propageer en bemark 'n fiktiewe  "produk"  met die doel om dit aan al die lesers van  Die Burger  te verkoop. Hierdie  "produk"  staan as nie-rassigheid bekend.

Nie-rassigheid is die  "produk"  van veral die Europees-georiënteerde liberale denkingesteldheid aangaande die mens en sy samelewing ; totaal uit pas met sy Afrika-in-praktyk ekwivalent. Die nie-rassigheidsidee ontspring vanuit die evolusie-gedagte, wat rasseverskeidenheid en rassedifferensiasie verwerp. Daarvolgens is daar net één ras   -   die menslike ras.

In sy artikel,  "Wat is bruin mense se regmatige plek in SA?",  wys Joubert, op 'n beterweterige wyse, bruin mense daarop dat  "by baie van hierdie (bruin) intellektuele 'n denkfout bestaan wat 'n mens kortliks sou definieer as rasgebaseerde denke" , en waarsku dan  "rasgebaseerde denke is selfvernietigend."

Daar is sekerlik baie bruin mense wat vir Joubert sal wil sê om sy neus uit hul sake te hou en sy ongevraagde raad aan hulle ("Jy kerker jou gedagtes in op soek na 'n antwoord wat nie bestaan nie") eerder op homself van toepassing te maak en dit self te volg.

Gaan Jan-Jan Joubert dan nooit tot die insig kom dat die deursnee-mens met sy ewemens op 'n spontane en nié-gedwonge wyse identifiseer, assosieer en konformeer volgens die eenvoudige beginsel van  "soort-soek-soort"  nie?

Monday, 2 June 2008

Rektor belig nie-rassigheid

Was daar ooit 'n tyd vooraf in die alomvattende geskiedenis van die menslike bestaan waartydens eeue-oue aanvaarde waarhede aangaande die mens en sy wêreld só maklik en met soveel doeldienlikheid as "mites" afgemaak word soos wat dit wel deesdae aan't gebeur is?

Van die begrip "mite" sê die HAT: 1.oorlewering omtrent gode en godsdiens; godeverhaal   2.fabel, storie sonder grond. Binne die konteks van verklaring nommer een is dit wel so dat vele moderne teoloë, ook binne die geledere van die Protestantse Christendom, sekere gevestigde geloofswaarhede   -   soos die skeppingsverhaal, die bestaan van Abraham, Jona en die vis, Jesus se maagdelike geboorte en die bestaan van die duiwel   -   vandag op 'n skokkende wyse afmaak as sogenaamde "mites". Dit is in hoofsaak die gevolg van sulke moderne Skrifgeleerdes se aanvaarding van die Darwinistiese evolusieteorie, 'n teorie wat kontemporêr dan kwansuis die maatstaf sou wees vir alle pogings tot aanvaarbare wetenskapsbeoefening.

In verklaring nommer twee van die "mite"-begrip (fabel, storie sonder grond) verstrek die HAT drie verklarings vir die begrip "fabel" as bousteen van 'n "mite", te wete:  1.verdigte vertelling met 'n opvoedkundige doel,  2.versinsel, leuen, verdigsel  3.hoofinhoud.

Met die "fabel"-bousteen as hoofinhoud van die "mite"-begrip, met verklaring nommer twee as besondere betekenis daarvan (versinsel, leuen, verdigsel), kan dit kontemporêr binne 'n wye verskeidenheid van relevante kontekste toegepas word. Een so 'n relevante konteks is dié van nuwe begrippe waarvan die inhoud vaag en ongedefinieerd is soos die "nie-rassigheids"-begrip.

In,  "Xenofobie-aanvalle 'toets idee van nie-rassigheid' " (DB,31.05.2008), sê prof. Swartz, rektor van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit,  "...die term nie-rassigheid is in die laat 1940's en vroeg 1950's gebore, maar dat dit toe net 'n droom was (en)...is die term...steeds relatief  'leeg'. Swartz glo dat die 'mite' , dat daar verskillende rasse bestaan, eers gebreek moet word."

Swartz beweer verder: "Daar is net een ras en dit is die mensdom." (menslike ras) Vir hom is verskille tussen mense "net oppervlakkig" en is hy "sterk oortuig dat die vernietiging van dié mite die eerste steen in die fondament vir nie-rassigheid is." Van besondere betekenis is die  "Swartz glo..."-gedeelte in die laaste sin van die vorige paragraaf waarmee daar wetenskaplik net mooi niks bewys word nie.

Mense sal wel verskil van Swartz, maar tog belig hy die waarskynlik fundamenteel onderliggende aanname waarop nie-rassigheid berus, naamlik dat 'n rasse-verskeidenheid 'n (onbewese) "mite" is.       (ngn)

Tuesday, 20 May 2008

Lig wolhaarstandpunt toe

Vryburger se artikel, "Is mev.Mugabe regtig ons Prez se suster?" (DB,01.05.2008), verwys. Hierin verwys hy ook na "..die onsin oor die Nag van die Lang Messe:die uhuru as Madiba die dag sterwe." Vryburger verwys hierna as 'n wolhaarstorie (urban legend) en sê: "Dit klink dalk ingelig om die stories te versprei, maar dis onsin. Regtig. Vryburger belowe."

Ek frons toe ek dit lees, want presies waarvan praat Vryburger? Is ek die enigste oningeligte? Nag van Lang Messe as Madiba sterwe? Presies watter soort van inligting suggereer Vryburger hier?

Nagtelike aanvalle is histories nie 'n vreemde verkynsel nie en word veral militêr-strategies aangewend, maar dan is daar ook die onverwags-verraderlike nagaanvalle op die burgerlike bevolking. Voorbeelde hiervan is Sondagmôre, 24 Augustus 1572, om twee-uur in Parys, Frankryk, toe een van die wreedste menseslagtings deur Katolieke op die Protestante uitgevoer is; die nag tussen 16 en 17 Februarie 1838 toe die Voortrekkers deur duisende Zoeloes langs die Bloukrans-  en Boesmansriviere uitgemoor is, asook Hitler se wrede pogrom teen die Jode in die nag tussen 9 en 10 November 1938 bekend as die Kristallnacht.

By navraag oor wat Vryburger die "Nag van die Lang Messe" noem, en vinnig as onsin afmaak, vind ek die volgende: Dit word beweer dat Mandela tydens 'n besoek aan Rusland 'n uitgewerkte plan ontvang het wat ná sy dood geïmplementeer sal word. Dié plan staan onder verskillende name bekend soos "Operation White Clean Up", "Operation Uhuru", "Operation Iron Eagle" en "Night of the Long Knives". Nadere besonderhede hieromtrent is nie hier nodig nie.

Siener van Rensburg, wat korrek was betreffende sy vooraf gesig van generaal De la Rey se dood, sien in 'n visioen 'n bekende swart leier wat na dié se dood sewe dae lank in 'n glaskis in staatsie sal lê. Wat alles dan hierna sal volg, hoef ook nie hier vermeld te word nie. Ook Johanna Brand sou 'n soortgelyke visioen gehad het wat haar in een enkele nag heeltemal grys laat word het.

Die dringende vraag is dus: Is alles maar net 'n "urban legend" soos wat Vryburger te kenne gee? Of is dit 'n geval van waar 'n rokie is, is 'n vuurtjie? In die lig van die historiese aanwysbaarheid van nagaanvalle, is dit nié vergesog om te dink dat so iets wel potensieel moontlik is nie. Vryburger   -   "Regtig. Vryburger belowe."   -   moet sy wolhaarstandpunt, ter gerusstelling van ons as lesers, volledig toelig.                     (ngn)




Saturday, 17 May 2008

Handveste net leë woorde

Paul Sieberhagen se brief,  "Nuwe skole-eed lank, lomp" (DB,10.05.2008), verwys. Indirek herinner hy ons aan ons land se toekoms wat deur skole en klaskamers gestalte moet kry ook via die voorgestelde  "Eed"  of  "Verklaring van Trou"  van die minister van onderwys.

Aansluitend by Sieberhagen wys prof. J.L. van der Walt van die Noordwes Universiteit te Potchefstroom op bepaalde prinsipiële tekortkominge in die verbandhoudende voorgestelde  "Handves van Verantwoordelikhede vir Leerders."  Van der Walt verwys na die Europese historikus-joernalis, Geert Mak, wat tot die gevolgtrekking kom dat die wêreld vandag aan die  "siekte"  van waardeverwerping ly. Mak skryf dit toe aan sekularisering. Min lande se waardesisteme is nog gefundeer in godsdiens, soos die Christelike godsdiens as voorbeeld.

Norme en waardes wat samelewings beheers, is gereduseer tot inhoudlose en betekenislose  "woorde".  Van der Walt sê dit geld ook tot op groot hoogte vir ons Handves van Menseregte wat die inspirasiebron van die  "Handves van Verantwoordelikhede vir Leerders"  is. Van eersgenoemde handves sê Van der Walt dat dit  "net 'n leë en hol sisteem van woorde (is) wat vir geen persoon werklike betekenis het nie."  Van laasgenoemde handves sê hy,  "...dié ly aan presies dieselfde tekortkoming, naamlik dat dit bestaan uit 'n twaalftal leë woorde."

Vir so lank as wat woorde nie met duidelike inhoud   -   gefundeer  "in die een of ander godsdienstige of lewensbeskoulike sisteem"   -   gevul is nie, het dit weinig waarde. Vandaar Geert Mak se verwysing na  "warardeverwerping"  as gevolg van 'n toenemende anti-godsdienstige sekularisering.

Van der Walt vra : "Hang die plakkate, waarop die voorgestelde Handves van Verantwoordelikhede vir Leerders gaan verskyn, op die regte plek as hulle in kláskamers hang? Volgens die Beleid op Godsdiens in die Skole (2003), mag konfessionele godsdiensonderwys juis nié in die klaskamers gegee word nie! Die inhoud van die Handves moet dus, wat die onderwysers in die klaskamers betref, leë en hol woorde bly.

"Volgens ons huidige beleid oor godsdiens in die skole is dit die ouers en instansies soos kerke wat konfessionele inhoud aan hierdie leë woorde moet gee."  Sou die huis en kerk dus hul plig versuim, sal skoolgaande kinders met inhoudlose en betekenislose woorde gekonfronteer word,  "..en sal dié Handves   -   net so min as die Handves van Menseregte tot dusver   -   enige beduidende invloed op die gedrag van ons land se mense hê...(en) nie enige ingrypende veranderinge...meebring aan die gewelds-  en misdaadkultuur in ons land nie" , aldus Van der Walt.

Saturday, 10 May 2008

Bakhandkultuur die Weste se skuld

Liesl Louw se artikel,  "Skerp kritiek op hulp aan Afrika" (DB,05.05.2008), het betrekking. Hierin verwys sy na 'n gesprek met Robert Calderisi, 'n voormalige Wêreldbank-woordvoerder en skrywer van die boek,  The Trouble with Africa  -  Why Foreign Aid Isn't Working.

Calderisi beweer dat  "Afrika-regerings...geld misbruik, hul burgers uitbuit...(wat) armoede gelate aanvaar...Afrikane aanvaar diktatorskap en korrupte verkose amptenare as hul lot...Die meeste Afrika-regerings beskou armoede as so natuurlik as die wind en die reën, eerder as iets wat hulle kan verander."

Vir Calderisi lê die probleem opgesluit in  "beleid...eerder as 'n inherente onvermoë van Afrikane",  maar ook  "gegrond op 'n reuse-misverstand" , vanweë  "die Westerse skuldgevoel"  wat daartoe lei dat  "hulp lukraak uitgedeel (word) sonder dat dit werklik sy doel bereik om armoede uit te wis en lande ekonomies op te hef."

Calderisi stel voor dat  "hulp onder baie streng voorwaardes slegs aan die demokratiese regerings met werkbare ekonomiese stelsels uitgedeel word...(en) Afrika se heil lê   in die heropbou van die landbousektor...(met) die grootste potensiaal...vir groei, werkskepping en om afhanklikheid van hulp stop te sit."

In aansluiting by Calderisi se verwysing na  "die Westerse skuldgevoel" , wy die Duitser, dr. Bruno Bandulet, 'n volledige hoofstuk   -   "The Manipulated Conscience"   -   hieraan in sy vertaalde boek getiteld , Fool's Gold for Africa, waarin hy sê : "...development aid was intended as temporary assistance to help others help themselves, and...It is the product of the mental process of the (Western) donors, not of the recipients...causing the number of needy communities to expand rather than shrink...(who) believe that wealth is not derived from production and effort, but from redistribution and transfers...by taking money away from others. Western governments made the mistake...of forgetting to ask people in the  'developing countries'  whether they actually wanted to develop. And the West should have shown...understanding for those who did not want development programmes   -   there are (those) who see it (development) as a nuisance."

Indien Calderisi en Bandulet dit korrek het, dan is die Weste ongetwyfeld te blameer vir die vertraagde tempo van spontane ontwikkeling waarin Afrika homself tans bevind   -   veral aangehelp deur Westerse skuldgedrewe  "handouts"   -   en is die Weste te blameer dat ons, as deel van Afrika, 'n bakhandmentaliteit én bakhandkultuur ontwikkel het.

Wednesday, 30 April 2008

Is evolusie nou teologie se basis?

Dr. Jurie van den Heever se artikel,  "Mens bly soek redes vir spesiale en unieke status" (DB,26.04.2008), het betrekking. Hierin sê hy : "...daar word toenemend vanuit...die wetenskap gepoog om te verklaar wat dit eintlik beteken om 'n mens genoem te word."  Hy wys op enkele interessante wetenskaplike verklarings waarby bepaalde ooreenkomste tussen mens en dier inbegrepe is. So word beweer dat ons  "ten minste 99% van ons genetiese materiaal met sjimpansees deel."

Opsommend sê Van den Heever :  "Hoe meer ons omtrent ander diere uitvind, des te moeiliker raak dit om onsself as uniek te beskou. Die oplossing is...om eens en vir altyd ons evolusionêre verwantskap met ander organismes te erken...en...dit (is) duidelik dat waar die mens eens simbolies neffens God gestaan het, deel ons soveel kenmerke met ander werweldiere...dat ons in werklikheid neffens die sjimpansee staan."

Professor Gaylord Simpson van die Harvard Universiteit in die VSA sê dat evolusie te kenne gee dat lewe vanself ontstaan het uit lewelose nie-organiese konglomerate en daarna  "toevallig"  in 'n "oersop" ontwikkel het tot 'n eensellige amoeba. Laasgenoemde het dan oor miljoene jare ontwikkel tot álle lewensvorme   -   'n hoër vorm telkens uit 'n laere totdat ook die mens op dié wyse sy verskyning gemaak het.

P.J.Pelser beweer in sy boek,  NG Kerk : Reformeer of...Disintegreer?  dat die evolusieteorie tot kontemporêre geloof gemaak is en die sentrale plek in mense   -   en veral wetenskaplikes   -   se denke inneem. Dit het selfs al tot die teologiese denke van ons dag deurgedring.

So, byvoorbeeld, maak dr. Hennie Mouton van Denel skriftelik beswaar by prof. Julian Müller, hoof van die departement praktiese teologie van die Universiteit Pretoria, nadat hy 'n lesing van prof. Wentzel van Huyssteen   -   vroeër van die Universiteit van Port Elizabeth en nou van die Universiteit van Princeton in die VSA   -  op 1 Augustus 2005 bygewoon het :  "...wat vir my eenvoudig ontstellend is, is dat evolusie die absolute basis van die praktiese teologie departement van UP se lering is, en dat ons voornemende predikante met daardie basis opgelei word..."

Teenoor die evolusionêre wetenskap van ons dag is die Bybelse uitgangspunt dié van Goddelike skepping. Die moderne wetenskap het egter die aller-maatstaf vir / van waarheid geword ; ook kweekskole en teoloë word nie onaangeraak gelaat nie. Jesus se vraag :  "Maar sal die Seun van die mens by Sy koms nog geloof op die aarde vind?"  (Lukas 18:8b) verdien ons dringende aandag.