Zahn van Zyl (16.12) beweer dat die "ongevoelige" doodry van 'n hond op 'n besige verkeersweg in dié dae op die motoris se "Kersfeesgesindheid" dui. Volg dit dan daaruit dat iemand wat 'n hond gedurende Paasfeestyd doodry, dit ook sal dui op sy Paasfeesgesindheid? Ek vind dit vreemd. Duidelik maak Van Zyl sekere afleidings uit mense se gedrag aangaande hul gesindhede.
Hoe dit ook al sy, Van Zyl vestig die aandag op die belangrikheid van die "regte" Kersfeesgesindheid. Manifesteer dié gesindheid sigself nie basies op een van twee wyses nie: materieel-sekulêr of kerklik-spiritueel?
Vir my vind eersgenoemde gesindheid, sonder veroordeling, uitdrukking in kersfeesadvertensies in ons posbusse, koerante en op TV; in ons dolle geskarrel met oorvol winkeltrollies gelaai met kos, drank en geskenke; kersbome, -vader, -liggies en -musiek soos "Jingle Bells", ens., myns insiens deelname aan 'n grootliks gekommersialiseerde kersfees, dog tegelyk bewus van ons in-die-wêreldwees, maar nie van-die-wêreldwees, en daarom nie noodwendig doelbewustelik aan die wêreldse meedoen nie.
Selfs ook binne kerklik-spirituele konteks mag Kersfeesgesindhede bevraagteken word. Vir my, weer eens, behels kersfees, benewens Sy koms/geboorte as vervulling van die eeue-oue Messiaanse belofte, ook Sy totale lewe van lering, lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart met 'n nuwe belofte van Sy wederkoms. Juis in laasgenoemde lê vir my die ware seën van kersfees opgesluit, en nie net in 'n fiksering op 'n stal- en kriptoneel nie.
Mense is vry om hieromtrent van my te verskil sonder dat ek hulle gaan beskuldig van 'n verkeerde Kersfeesgesindheid. Dit bly steeds moeilik, indien nie onmoontlik, om mense se hartsingesteldheid, ook teenoor kersfees, vanuit hul gedrag te probeer beoordeel. Hieromtrent het elkeen van ons 'n keuse. Laat ons ons self dus maan tot versigtigheid aangaande uitsprake oor mense se Kersfeesgesindheid.