Byna 43 jaar gelede verloor ons ons eersteling vanweë nalatigheid van die hospitaalpersoneel. Geen eis of geldelike vergoeding sou vir dié traumatiese verlies kon vergoed nie. Sedertdien besoek ons die graffie met gereelde tussenposes. Die kers- en nuwejaarseisoen is ook geleentheid daarvoor.
Weerskante van die wit marmerbogie was daar blompotjies; onder die bogie self, 'n engelbeeldjie. Eers is die blomhouers; daarna die engeltjie verwyder (eufemisme vir steel). Aangrensend aan die begraafplaas is 'n bruin woonbuurt. Tot onlangs was dit 'n deurstaproete na dié woonbuurt. Onlangs is 'n hoë muur opgerig en, volgens hoorsê, twee kameras aangebring.
Tydens ons besoek van 'n dag of twee gelede sien ons hulle - toegerus met grawe, besems en water - sit in die skadu van 'n boom. Pas aangekom by die graffie, is twee van hulle onmiddellik by en begin, ongevraag, die graffie op 'n soliede blad, "skoonmaak".
Met groot moeite kry ek hulle so ver om hul werk te staak. Ek wys hulle op die doel van ons besoek: om in stilte, en sonder steurende inmenging, 'n paar minute van respekbetoning daar deur te bring.
Duidelik ingestel op die verdien van 'n fooi, was daar geen respek vir ons grafbesoek nie. Met versteurde gemoed en bedorwe besoek, laat ons blomme sonder om te vertoef. Ek stop hulle egter 'n paar Rand in die hand, want, is dit dalk werkloosheid en honger wat jouself, op 'n respeklose wyse, laat opdring aan ander?