Monday 21 October 2002

Moenie taalverraad pleeg

Die US-taaldebat verteenwoordig die embrionale begin van 'n epog midde-in 'n wankelend-steierende taalhede   -   'n taalhede wat skynbaar 'n eens selfstandige moedertaalverlede die rug toekeer en haar sonder begrafnisprotokol ter ruste kan lê.

Wat binne die mikro-taalbedieningskonteks aan die US geld, geld eweneens ook binne die makro-nasionale taalkonteks. Inteendeel, die ideologiese taalvirus wat die US tans tref, het ander tersiêre instellings reeds vroeër getref en 'n spoor van taalverwoesting agtergelaat. Die US bevind hom nou voor dieselfde taaltoets, en 'n toets word primêr of geslaag of gedruip.

Die multidimensionaliteit en multifunksionaliteit van 'n taal kan en mag nooit ontken word nie. Trouens dit word weerspieël in die diversiteit van legitieme invalshoeke van waaruit deelnemers aan dié taaldebat deelneem.

Die kernkonteks van die US, soos ook by ander hoëronderwysinstellings, behoort gedefinieer te word as 'n onderrig-leer-konteks. Die wese van die US-taaldebat behoort te sentreer rondom die primêr opvoedkundig-onderwyskundige taalbehoefte van studente. Dit is binne dié konteks waar moedertaal innig verweef is met werklikheid, waarneming, verskillende denkvorme  en denkuitkomstes, betekenisgewing, retensie, denkontwikkeling en, uiteindelik, potensiaalontwikkeling.

Tale dien as sleutels wat mensepotensiaal oopsluit, of nie oopsluit nie. In dié verband het Afrikaans hom reeds voldoende bewys as 'n sleuteltaal.

Die US durf dus nie taalverraad pleeg teenoor almal vir wie die Afrikaanse taal 'n sleuteltaal was, is en sal wees in die ontwikkeling van hul potensiaal nie. Die US-taalbeleid moet nie toelaat dat Afrikaans ooit tot taalkarkas vir die taalaasvoëls gemaak word ten koste van die potensiaalontwikkeling van die Afrikaanssprekende jeug nie.