Thursday 22 December 2011

Vrae aan Christene oor Kersfees

Hank Hanegraaff van die "Christian Research Institute" in die VSA stel Christene voor twee aktuele vrae aangaande Kersfeesviering. Eerstens vra hy of Kersfees 'n Christelike of heidense feesdag is, gedagtig aan die sentraalstelling van Kersvader, kersbome, geskenkuitruiling en swelgpartytjies waar drank oorvloediglik vloei.

Geen Bybelse bewysplase is te vinde dat Jesus wel op 25 Desember gebore is nie. Wat wel aanwysbaar is, is dat   -   met die vroegste instelling van Kersfees op 25 Desember   -   dié dag vroeër as 'n heidense feesdag ter ere van 'n afgod gevier is. Dit was nie die Kerk se doel om 'n heidense fees te verchristelik nie, maar wel om 'n teenvoeter daarvoor te vind. Dat Christene wel Jesus, Redder van die mensdom, se geboortedag sal gedenk, is belangriker as die presiese datum van Sy geboorte.

Tweedens vra Hanegraaff Christene na die ware betekenis van Kersfees. Volgens hom verwys mense dikwels na die "gees van Kersfees" en hul soeke na die "ware betekenis" daarvan. Hy sê dat, in ons gesekulariseerde samelewing, die soeke na beide die "gees" en "betekenis" van Kersfees hoofsaaklik in horisontale medemenslike welwillendheid gevind word.

Hanegraaff sê dat, alhoewel die menslike behoefte aan liefde, geluk, goedheid en samesyn nie ontken kan word nie, Christene wel deeglik moet besef dat die ware "gees" en "betekenis" van Kersfees nié in medemenslike welwillendheid opgesluit lê nie, maar wel in Joh.3:16: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê"   -   'n demonstrasie van God se welwillendheid teenoor die mens. Daarom is Kersfees in "gees" en "betekenis" 'n dankbaarheidsfees vir die Jesaja(9:5)-geprofeteerde "Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors." Geseënde Kersfees!                           (ngn)




Friday 16 December 2011

Afrikaner, waar was jy op Geloftedag?

Teleurstellend, onrusbarend teleurstellend, wanneer slegs nagenoeg vyftig persone   -   meestal senior burgers en verteenwoordigend van vyf NG-gemeentes op Uitenhage   -   'n Geloftedag-erediens bywoon. 'n Gepaste boodskap gee die eer vir die oorwinning aan die Held van die Slag van Bloedrivier, dié Een wat sou sorg dat geen reën of mistigheid die buskruit van die voorlaaiers kon laat nat word nie; wat gesorg het vir digte mis die voorafgaande nag sodat die Zoeloes 'n nagaanval onwenslik geag het; dat die nagenoeg 1300 trekosse en perde relatief rustig was tydens die geveg; dat, volgens Zoeloe-oorlewering, "wit ruiters" die vorige nag oor die walaer gesweef het en dat "roofvoëls" tydens die geveg op hulle neergeswiep het.

Afrikaners, waar was julle vanjaar op Geloftedag? Moenie nét die ANC en die swak leiers wat tydens die Kodesa-onderhandelinge boedel oorgegee het verantwoordelik hou vir die onbenydenswaardige posisie waarin julle julself vandag bevind nie. Steek 'n slag die hand in eie boesem. Dalk is dit deel van God se oordeel oor die Afrikanervolk wat tans, soos oud-Israel telkemale gedoen het, die rug op Hom gekeer het. Die instandhouding van Geloftedag dien as goeie voorbeeld. Die Afrikanernageslag kom nie meer hul gelofte teenoor God na nie. Opvallend veral is die afwesigheid van die jonger geslag van ouers en hul kinders.

16 Desember 1838 was 'n Sondag, dié weeksdag van Sy opstanding! Wanneer gaan God dan weer opstaan in die hart van die Afrikanervolk sodat hierdie volk in dié sonde-geteisterde land weer as getuienisvolk vir Hom kan dien? Laat ander, wat nié deur dié gelofte gebind word nie, op dié dag handel dryf en sport beoefen, maar jy, Afrikaner, wat maak jy met Geloftedag? Dit is nog nie te laat nie, gedagtig daaraan dat Hy ons in Sy Woord uitnooi wanneer Hy sê: "Kom, laat ons die saak met mekaar uitmaak".




Friday 9 December 2011

Afrikanervolk, kom jou gelofte na!

Die 1838-Bloedriviergebeure, voorafgegaan deur die Voortrekkers se geloftesluiting met God Drieënig, sou waarskynlik nooit plaasgevind het indien Dingaan nie verraderlik teen die Trekkers opgetree het nie. Maande ná die moord op Retief en sy manne is die geskrewe ooreenkoms tussen Retief en Dingaan in Retief se bladsak by sy beendere gevind. Dit is 'n bewys hoedat die Afrikanervoorgeslag ook met hul bloed betaal het vir die grondgebied wat hul nageslag vandag bewoon, en beskuldigings dat dit sonder meer gesteel is, is moedswillige leuens.

Dit was die Afrikanervolk, in sy embrionale stadium van volksontwikkeling, wat die Gelofte van Bloedrivier met God gesluit het. Geloftedagviering is derhalwe beperk tot die oorblywende lede van dié volk. Christina Vorster sê in haar artikel, "Die Gelofte:Wie word gebind en waartoe?", dat drie Engelse van Port Natal, hul sestig swart helpers en 'n aantal bruin agterryers hulself "daarbuite (die gelofte-aflegging) gehou" het.

Hoewel Versoeningsdag bestaansreg het, kan dit vir die Afrikanervolk   -   om geloofsredes   -   nooit Geloftedag vervang nie. Indien ons as volk wil bly voortbestaan, móét ons dié gelofte gestand doen.  Daardeur bevestig ook óns geslag ons onverbreekbare verbintenis tot dié gelofte soos wat die Transvaalse burgers op die vooraand van die Eerste Vryheidsoorlog in Desember 1880 by Paardekraal gedoen het met hul herbevestiging van die 1838-gelofte.

Indien Afrikaners Geloftedag in ere hou, sal God hulle as volk behou, dog desondanks steeds aanslae ervaar van die magte van ongeloof wat sowel dié volk as sy geloof wil vernietig. Anders as die destydse eksterne Dingaanverraad, kom verraad vandag uit die eie interne geloofsgeledere. Hierdie interne geloofsvyand binne die Afrikanervolkslewe is veel gevaarliker as die eksterne vyand wat homself as sodanig identifiseer. Dié interne geloofsverraad is listiger selfs as dié van Dingaan, met 'n geloofsongevallesyfer skrikwekkend hoër as in 1838. Afrikanervolk, kom jou gelofte na!






Sunday 4 December 2011

Postmoderne teoloë negeer Skrifgesag

Die berig, "NG Kerk sê nee vir gay vrou as predikant" (DB,30.11), het heelwat reaksie ontlok. Hierin is berig dat "'n Gay teologiestudent wat nie 'n dokument wou onderteken dat sy selibaat sal bly nie...nie toegelaat (is) om...vir die NG Kerk gelegitimeer te word nie."

Die NG Kerk-kuratorium se weiering om Lulani Vermeulen tot dié kerk se bediening toe te laat, het onrusbarende kommentaar ontlok. Dr. Coenie Burger, kuratorium-voorsitter, het gesê: "...vir predikante is daar spesifieke vereistes, soos vasgestel deur die vorige (2007) algemene sinode." Dr. Braam Hanekom, moderator van die Wes-Kaapse NG Kerk, het gesê: "Ons is in lyn met feitlik alle hoofstroom-kerke...(en) korrekte sinodale prosesse (moet) gevolg word om moontlike verandering te bewerkstellig."

Dr. Gerrit Brand, dosent aan die Stellenbosse teologiese fakulteit, sê in sy kommentaar: "Wanneer God 'n gay Christen roep, durf niemand in die weg daarvan staan nie", die volgende: "...wat in hierdie geval met 'n geroepene tot die kerklike amp gebeur het op sonde neerkom en die Here hartseer maak..." In, "Dit is nie goed genoeg nie, NG Kerk" (DB,01.12), vra Laurie Gaum: "Dr Braam Hanekom: Behoort die NG Kerk deur die duur lesse wat ons geleer het...nie méér te wil wees as net 'in lyn met' ...ander hoofstroomkerke nie? Behoort ons nie te sê ons wil nie meer instrumente van uitsluiting wees nie?"

Dr.Charlene van der Walt van Stellenbosch sê  in, "Die lewe dwing kerk om weer te besin" (DB,03.12), dat Lulani se "...situasie is die...gevolg van 'n gebrekkige, inkonsekwente standpunt" van die NG Kerk in 2007. Laurie Gaum se opvolgskrywe, "Ons wil die kerk verander", spreek vir sigself, terwyl Lulani self 'n regsmening wil inwin omdat sy voel "...my regte aangetas is." En God, het enigiemand Hom geraadpleeg, en moet Hy maar geduldig toesien hoedat postmoderne teoloë toenemend die Skrifgesag negeer?