Tuesday 30 September 2008

Nuwe president se onderwysdoelwitte

"Your baby has the potential to become anything",  en  "I can become anything I want...even president!"  So lui, onderskeidelik, 'n TV-advertensie asook 'n illustrasie in 'n onderwysdepartements-handleiding in die leerarea  "arts and culture".

Hierdie is roekeloos-misleidende stellings aangaande die mens en menslike potensiaal. Met só 'n hallusionêre siening van mense en menslike potensiaal , toegepas in die onderwys, is dit begryplik dat Bill Spady,  "vader" van uitkomsgebaseerde onderwys (UGO),  "geen geheim daarvan (maak)  dat dié stelsel in die land misluk het nie", soos berig in  "UGO het misluk in SA, meen wêreldkenner" (DB,10.03.2008).

Voorts word berig in  "Wiskunde-slaagsyfers in SA is 'n ramp, sê kenner" (DB,23.09.2008) dat  "In Suid-Afrika is die wiskunde-slaagsyfer...onaanvaarbaar laag"  en  "'n nasionale ramp" , met  "die probleem die ergste onder swart leerders."  Van die vele redes vir die mislukking van die onderwysstelsel tel ook die onrealistiese selfoorskatting van die eie potensiaal by baie van die  "voorheen benadeelde"  leerders wat glo : "I have the potential to become anything."

Potensiaal-differensiasie speel 'n onbeduidende rol in die heersende onderwysdenke en kinders word ondergeskik gestel aan ondoeltreffende inhoude en metodes op skool.

Die kind, en dié se unieke potensiaal en ontwikkeling, is van primêre oorweging. Inhoude en metodes moet by leerders aanpas, nie andersom nie, sodat opwaartse punteverstellings en standaardverlaging nie plaasvind nie.

In  "SA onderwys werk nie, erken ANC" (DB,18.09.2008), word berig dat die nuwe staatspresident, mnr. Kgalema Motlanthe,  "onderneem het dat onderwys verreweg die belangrikste doelwit van 'n nuwe ANC-bewind ná pres. Thabo Mbeki gaan wees" , nadat die ANC erken het dat  "die onderwysstelsel...in swart gemeenskappe...hoegenaamd nie (werk nie)." 

Mag die president se woord ook tegelyk sy eer wees in onderwysverband.

Saturday 27 September 2008

Buchan-kritiek is bloot afvalligheid

Die afbrekende kritiek teen die Buchan-byeenkomste is vermoedelik slegs één simptoom van 'n veel groter onderliggende sindroom binne die huidige Christelike geloofsgemeenskap. Ek noem dit 'n afvalligheidsindroom. Afvalligheid is geen mitiese versinsel vir hulle wat die Woord onvoorwaardelik aanvaar en glo nie. 1 Timoteus 4:1-2,  Hebreërs 6:4-6,  en 2 Petrus 2:1-3  waarsku ons profeties daarteen.

Twee  "opponerende geloofskampe"  kom as't ware teenoor mekaar te staan ; die kamp wat die  "wetenskaplik verligtes"  en  "evolusionêr-revolusionêres"  genoem kan word, wat op húl beurt weer na die ander kamp as  "fundamentaliste"  verwys en  "anti-evolusionêr en tradisioneel"  genoem kan word.

Eersgenoemde kamp blyk 'n tuiste te bied vir diegene wat 'n modernistiese en post-modernistiese godsdiens nastreef wat die spanning tussen geloof (tese) en verstand (antitese) probeer sintetiseer deur die Bybel te  "korrigeer"  op grond van  "wetenskaplike insigte"  en dusdoende gedeeltes van die Bybel vermitologiseer op 'n grondslag van  "ons weet van beter as die Bybelouteur (God) self".

Kamp twee blyk 'n tuiste te bied vir diegene wat 'n onveranderlike  "vir-alle-eeue"-godsdiens nastreef op grond van die Woord van 'n God wat sélf nié verander nie. Geloof self  "evolueer"  nie, en daarom bly die Skrif in sy totaliteit onveranderlik van toepassing vir álle tye, raak dit nie uitgedien nie en kan dit nie as  "mites"  agter gelaat word nie ; gegrond op 'n kinderlik onvoorwaardelike aanvaarding van die totale Bybelinhoud.

In sy Ballade van die Bose sê Van Wyk Louw treffend : "Die veles meen hulle ken my gesig, maar ek (die Bose) skuil té glansryk, té na aan die lig (Goddelike waarheid)". In die lig van hierdie poëtiese  "stelling"  móét ons dus vra : Wie van  "dié lig"  en wie wel so  "ná aan die lig" ?  Hieromtrent moet elkeen van ons self besluit en antwoord.

Tuesday 23 September 2008

Vertrekpunte in Buchan-debat

So belangrik as wat dit is om van prof. Amanda Gouws te verneem   -   in haar artikel : "Buchan : teken van die tyd waarin ons leef?" (DB,18.09.2008)   -   dat Angus Buchan in  " 'n fundamentalistiese interpretasie van die Bybel"  sy vertrekpunt vind, so belangrik is dit ook om te probeer bepaal wat háár vertrekpunt vir kritiek op Buchan is.

Gouws se vertrekpunt is duidelik nié versoenbaar met dié van Buchan nie, tog, omdat sy nie self haar vertrekpunt uitspel nie, moet dit afgelei word, enersyds vanuit haar kritiek teen Buchan, en andersyds uit haar bewonderende verheerliking van die Grondwet.

Gouws beweer : "Buchan spreek tot die krisis van manlikheid in Suid-Afrika"  (kers opgesteek by prof. Christina Landman?)   -   'n duidelike onvermoë tot 'n diep-geestelike perspektief as voorwaarde vir begrip aangaande dít waaroor dit wérklik gaan.

Gouws sê  "dat ons deur Buchan se tipe godsdiens saamgesnoer gaan word, is 'n mite"   -   in aansluiting by kontemporêre evolusie-teoloë wat sekere Bybelgedeeltes óók as mites afmaak. Opsommend beweer sy : "Die probleem met Buchan is dat hy... deel van die probleem"  is   -   weer eens 'n onvermoë van Gouws om oorsaak en gevolg Bybel-gefundeerd te ondersoek.

Kontrasterend tot die voorafgaande beweer Gouws : "Die probleme...waarmee ons in Suid-Afrika worstel, verg 'n...meer gesofistikeerde benadering as 'n terugkeer na waardes, gegrond op interpretasies van die Bybel."  Sy stel  "waardes wat in die Grondwet beskerm word...(soos) godsdiensvryheid, diversiteit, multikulturaliteit, beraadslagende demokrasie en geslagsgelykheid"  voorop ter oplossing van ons probleme, en negeer die Skepper as Onderhouer en Voleinder ook in dié probleemverband.

Dit is duidelik : Die Bybel is ondergeskik aan die Grondwet. Verraai Gouws se slotopmerking : "Geen wonder Karel Marx het gesê godsdiens is die opium vir die massas nie!" , nie iets van háár vertrekpunt nie?

Saturday 20 September 2008

Afrikaans dartel nou wêreldwyd

Wat 'n ligpunt in die ideologies-verduisterde Afrikaanse taallandskap was Norman Silke se berig : "Duitser se noodkreet om Afrikaans te leer uit Baai beantwoord" (DB,12.09.2008) nie! Hy berig : " 'n Duitse vrou, ene Maike, is desperaat om die Afrikaanse taal aan te leer..."  'n Verwante artikel,  "Afrikaans in die buiteland", verskyn in Vrouekeur van 12.09.2008 waarin soos volg berig word : "In Nederland en België neem die belangstelling in Afrikaans as  'familielid'  toe en spreek taalkundiges én politici hul kommer uit oor (die) diskriminasie teen Afrikaans (in Suid-Afrika)."

Nie net neem dié belangstelling toe in ons stamlande Nederland, Frankryk en Duitsland nie, maar ook in lande soos Oostenryk, Pole, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek, Finland, Rusland en die VSA. 'n Japans-Afrikaanse woordeboek is reeds beskikbaar, terwyl ook aan 'n Chinees-Afrikaanse ekwivalent gewerk word.

Ons moedertaal, met verworwe ambassadeurstatus, sprei haar vlerke ook na die buiteland   -   dié taalaspoestertjie wat so verneder word in haar eie land   -   waar sy met ope arms deur van die voorste Europese universiteite verwelkom word (wat 'n ironie en tragiek met betrekking tot ons eie tersiêre instellings). As waardevolle  "uitvoerproduk"  word dit 'n kosbare toekomsbelegging in 'n Afrikaans-vriendelike buiteland.

Met haar jeugdige, slanke Afrika-lyfie dartel Afrikaans   -   getooi in haar aangepaste stamlanddrag en versier met armbande, oorringe en hooftooisel uit Afrika, Maleisië en Indonesië   -   op die maat van 'n welmenende  "Hartelijk welkom"  en  "Herzlich Willkommen"  oorsee. Gemelde beeld sluit aan by Eugéne Marais se  "Die Dans van die Reën"  as hy sê : "O, die dans van ons suster, van ver af wink sy, haar armbande blink en haar krale skitter, haar koperringe blink."  En soos wat reën lewe (bioties) impliseer, so ook taal (psigies).

Watter van ons ander inheemse tale kan dié Afrika-taalmeisie dit nadoen? En  "ons niggie met die stywe nek", wat sou sy hieroor te sê hê?

Monday 15 September 2008

Is eiegoed dan nie meer belangrik nie?

C.J.Langenhoven, ook bekend vir sy wysheidspreuke, het gesê : "Aan 'n nuwe wa kan ons sien of dit 'n goeie skilder was ; aan 'n ou wa of dit 'n goeie wamaker was."  Met hierdie wa-beeld, analoog aan die Afrikanervolk, kan Stef Delport se opmerking   -   dat ek sowel as  "ander briefskrywers hulle vasgeverf het"   -   in sy brief,  "Afrikaner nie meer organiese geheel" (DB,10.09.2008), beter begryp word.

Dit lyk asof Delport self ook fluks aan't verf is met die teenswoordige transformasiekwas ten einde die bestaande verflaag op die volkswa onherkenbaar te bedek. Van dié twee vakmanne, wamaker en skilder, is die wamaker (volk) vir my 'n hoër prioriteit as die skilder (getransformeerde voorkoms), en wie van die wamaker of verwer se handewerk gaan die toets van die tyd die beste deurstaan?

Iets besonder aktueel het uitgekristalliseer, en dit is dat daar nié net 'n enkele Afrikanertipe bestaan nie, maar inderdaad 'n tipologie van Afrikaners, waarvan die volksgeoriënteerde Afrikaner net één so 'n tipe verteenwoordig.

Heg die deursnee-Afrikaner dan géén erg meer aan 'n gemeenskaplike volks-  en lotsverbondenheid nie? Het die transformasiedolk die volkshart reeds dermate binnegedring dat niks meer eie as kosbaar genoeg geag word om vir die nageslag te bewaar nie?

Indien laasgenoemde wel die geval is, het ons aan die einde van ons volkspad gekom. In 'n multikulturele samelewing, wat die volksgedagte verwerp, word 'n volk uiteindelik gereduseer tot die blote status van 'n kultuurgemeenskap, synde een van vele, om uiteindelik te verdwyn. Is dít ons ideaal?

Wednesday 10 September 2008

Betrokkenheid van ouers 'vernietig'

Twee vertrekpuntvrae in die onderwys was nog altyd : Aan wie behoort die kind in die onderwys, en kan ons maar maak met die kind soos ons wil? Hierop antwoord Christenouers : Kinders is geskenke van God ; toevertrou aan ouerlike alversorging. Derhalwe kan ons nié met ons kinders maak wat óns wil nie en verg hulle ons volgehoue en volledige betrokkenheid.

Vorige Christen-geslagte het besondere erns gemaak met die opvoeding en onderwys van hul kinders op grond van hul doopgelofte   -   afgelê in die kerk   -   'n sakrament wat sy oorsprong vind in die Ou Testamentiese besnydenis as teken van God se verbond met Abraham ; bindend ook vir sy nakomelinge.

Volgens die Christelike opvoedingsbeskouing is die ouer die primêre opvoeder van sy kind in 'n informele, funksionele en intuïtiewe huisopset (voor-wetenskaplik) met die onderwyser/es as die plaasvervanger-ouer (in loco parentis) en sekondêre opvoeder in 'n formele, intensionele en professionele skoolopset (na-wetenskaplik).

Ten einde aan die skool se onderwys en onderrig van gedoopte Christen-verbondskinders 'n Christelike karakter, gees en rigting te verseker, word die Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike Opvoeding en Onderwys (AOV) in 1982 te Bloemfontein gestig onder leiding van die  "vader"  daarvan   -   dr. Sarel Eloff, predikant in diens van die algemene sinode van die NG Kerk, met die opdrag, opvoeding en onderwys   -   met die oog op meer verantwoordelike ouerbetrokkenheid by die onderwys van Christenkinders.

Van al die streeksinodes van die NG Kerk het slegs die Wes-Kaapse streeksinode hom nie ten gunste van die AOV uitgespreek nie. Destydse Nasionale Party-leiers wat in dié vereniging (AOV) 'n  "bedreiging"  gesien het, het, volgens dr. Eloff, 'n standpunt gehuldig van : "Indien ons dit (die AOV) nie (polities) kan beheer nie, moet ons dit vernietig."  Dit ís vernietig!

In sy brief , "Tóé al gepleit vir ouerbetrokkenheid" (DB,01.09.2008), moet H.E.Franszen dus gelyk gegee word as hy sê : "...ons is ons eie grootste vyand!"

Saturday 6 September 2008

Kort geheue oor voorsate se bydrae

Dit blyk dat sommige onder ons hul denk-  en penvisiere dalk veel hoër kan / wil instel as op die hoogte van die onmiddellik alledaagse en kortstondige korttermyngebeure. Die horisonne van verlede en toekoms   -   na agter en na vore   -  lê beide skynbaar in 'n denk-ondeurdringbare en ondeursigtige waas gehul ; daarom dié ongebalanseerde hedebeklemtoning.

Iemand het gesê : Indien jy nié weet waarvandaan jy kom nie, hóé kan jy dan weet waarheen jy onderweg is (toekoms)? Toekomstige navorsers wat dekades ná ons die psige van die huidige geslag wit Afrikaners sou probeer peil, mag vind dat dit nie, onder meer, ook gegaan het om tydige pogings tot volksoorlewing nie, en dit terwyl die Afrikanervolk se fondament aan't verkrummel was in huis, kerk en skool.

Baie dankie, daarom, aan Jan Rap se Maat se bemoedigende brief,  "Deel nie verminkte Afrikanerskap" (DB,22.08.2008), in antwoord op Stef Delport se definisie van Afrikaner-identiteit waarin Jan Rap se Maat sy periskoop   -   met die doel van 'n veel meer realistiese perspektief   -   bo die oppervlakkige uitlig in 'n nugtere terugblik op ons Afrikaner-verlede.

Het die laaste van die volksbewustes in die Oos-Kaap ons verlaat met die trekke van Trichardt, Van Rensburg, Potgieter, Maritz, Retief, Uys en dergelikes? Dit gaan ons nog pas om te ween soos 'n vrou omdat ons nie ons erfenis soos 'n man in ere wou  hou nie. Ons is die kortsigtige, ondankbare nageslag van 'n skandelik vergete voorgeslag.