Friday 25 April 2003

Dit gaan nie net oor kennis

IEMAND het gesê: "Die tragedie van ons wêreld is dat mense nie weet wat (en dat) hulle nie weet nie, en hoe minder hulle weet, hoe sekerder is hulle dat hulle wel alles weet."

Met die lees van Nandie Bahlmann se brief (Brieweblad, 17/4) het bogenoemde my getref: Die tragedie om, begryplikerwys, nie te weet nie; die tragiek waardeur ons almal  - ek inkluis  - gekenmerk word, want sien, daar is kennis, maar ook "kennis-as-wete".

Om oor ongetoetste kennis te beskik, beteken nie noodwendig om te weet nie; so simplisties is kennis nie. 'n Voorbeeld is die antiek-Griekse denkdwaling van: "Kennis van die goeie lei tot die doen van die goeie." Met ander woorde, vertel kinders ook alles van vreemde godsdienste en dit sal hul eie geloof nie beïnvloed nie.

Kennis is iets waarmee ons iets kan doen, maar kennis is ook iets wat met ons iets kan doen.

Elke gegenereerde kennissoort het 'n bron of oorsprong sowel as 'n doel of bestemming. Geen kennisblootstelling is neutraal en sonder 'n risiko-element nie. Daarom word daar onder meer op 'n kennisgedifferensieerde wyse met skoolgaande kinders in hul ontwikkelingsgang gehandel volgens 'n beplande kurrikulum  - synde geag as waardevolle kennis- en leerinhoud  - geweeg aan die hand van 'n bepaalde waardestelsel en voorgeskryf deur 'n besondere geloofs- of ideologiese oortuigingsraamwerk.

Kennis is daarom nie so "onskuldig en onskadelik" as wat dit vir die persoon sonder insigtelike kennis dalk mag voorkom nie.

In ons kritiek op die besware van Christene wat gekant is teen onderrig in 'n godsdiensteverskeidenheid, behoort ons te onderskei tussen wat die Christen-verbondskind met kennis van verskillende godsdienste kan doen en wat sodanige kennis aan die kind kan doen  - en albei dan volgens Skrifbeginsels, en nie sinkretisties nie, teenoor mekaar opweeg.

Wednesday 16 April 2003

SA geloofsbeeld moet val

Daar is 'n simboliese ooreenkoms tussen die Brits-Amerikaanse koalisiemagte se verowering van Irak in die tweede Golfoorlog en die transformerende koalisiemagte in ons land. Irak is verslaan, Bagdad verower en Saddam Hoesein se standbeeld omgegooi. Plaaslik is soveel reeds onomkeerbaar getransformeer.

Ook ons reformatoriese geloofsbeeld, die Christusbeeld, moet val deur middel van 'n getransformeerde godsdiensbeleid vir skole. Steek ons die hand in eie boesem, kan ons nie die gesamentlike koalisiemagte van sowel die vorige as die huidige regering in die voorbereiding van ons Christelike geloofsbeeld se val ontken nie.

In 1982 het die Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike opvoeding en onderwys (AOV) tot stand gekom. Op 22 April 1984 het die  "vader"  van dié vereniging, dr. S.J.Eloff, predikant in diens van die Algemene Sinode van die NG Kerk, met opdrag opvoeding en onderwys, my meegedeel dat die gesindheid in regeringskringe jeens die AOV een was van : "Indien ons dit nie (polities) kan beheer nie, moet ons dit vernietig."  Dit ís vernietig!

Sensusopnames toon dat die meeste landsburgers Christene is, maar die Christelike fondament van die vorige grondwet is by Kodesa deur onderhandeling vernietig. Aan die vooraand van die referendum wat op dié onderhandelinge gevolg het, het mnr. F.W. de Klerk 'n beroep op kiesers gedoen om  "ja"  te stem. Hy het daarop gewys dat die oorgrote meerderheid van die land se inwoners Christene is en dat ons derhalwe nie anders kan as om 'n Christelike regering te kry nie   -   na my mening was dit politieke uitbuiting van die Christelike geloofsentiment.

Leerlinge van die Hoërskool Despatch het nou in die strate gestap om openlik hul teenkanting teen die voorgestelde godsdiensbeleid vir skole te demonstreer (DB,11.04.2003), want die ouerhuis, skole, gemeentes en gemeenskappe swyg terwyl ons Christenjeug in 'n koalisie-oorlog gewikkel is om geloofsoorlewing.