Wednesday 25 February 2015

Christendom bedreig deur islamisering

Die islamisering van ons Europese stamlande   -   soos Nederland, Frankryk en Duitsland   -   neem kommerwekkende afmetings aan. Dit is veral Islam se uitwissingsaanslag op die Christendom wat ontstellend is. Die media het reeds heelwat berig, hier en oorsee, oor die wrede moorde op Christene in die buiteland.

Volgens oorsese mediaberigte skep instromende Islamimmigrante en  -asielsoekers ernstige probleme, spanning en konflik deur onredelike eise aan Europese gasheerowerhede wat maar té gewillig   -   ten koste van die eie burgery   -   daaraan toegee.

Die artikel: "Christelijke feestdagen binnenkort verboden in heel Europa!" (20.02), berig oor Islameise vir die verwydering van eeue-oue simbole, geassosieer met die Christendom   -   soos Sinterklaas, kersbome en paaseiers   -   uit die openbare domein. Om nie aan Islam aanstoot te gee nie, het Berlyn-Kreuzberg reeds alle openbare kerfeesvieringe verbied.

Voorts word vermeld dat Islam honde as "onrein diere" beskou, derhalwe moet alle honde uit Europa verdwyn. Britse bus-  en taxidrywers van die Islamgeloof weier om blindes met gidshonde te vervoer. Ter voorkoming van die "verontreiniging" van Islam-wonings en moskees, dra Britse polisiehonde sagte "leerskoene" aan hul pote.

Europeërs voel ernstig bedreig deur dié islamisering van hul geloof en nasionale tuistes. Europese politieke leiers se ekstreme politieke korrektheid bevoordeel die Islameise   -   "gaste" wat botweg weier om by die gasheerland se leefwyse aan te pas en húl gebruike op die gasheerland wil afdwing   -   ten koste van die eie bevolking. Die skrywer beweer: "Het is te krankzinnig voor woorden...Langsaam maar seker gaan wij in de tyd terug..."







Friday 20 February 2015

Slaag beskuldiging in integriteitstoets?

Ek meen Francois(DB sms'e,18.02) behoort nie sy aanvegbare standpunt nie-beswaarmakend toegelaat te word nie. Hy sê: "'n Groot vraagteken hang oor hierdie mense se integriteit as jy 'n bloedbad verkies eerder as om mense hul vryheid te gee." Duidelik het hy "ingekoop" op die "bloedbadalternatief" as enigste alternatief en opsie vir SA, 'n leuen baie ver verwyder van die waarheid.

Daar is niks verkeerd met "hierdie mense se integriteit" nie, Francois. "Hierdie mense" verkies nié 'n bloedbad nie, en nog minder ontsê hulle mense hul vryheid. Dit is net dat "hierdie mense"   -   oor eeue heen geïnspireer deur hul sterk vryheids-  en onafhanklikheidstrewe   -   teen hul wese en teen hul sin nié deel wil wees van die minderheidsversmorende nuwe (on-)"demokratiese" bedeling nie, maar binne hul eie jurisdiksiegebiede self oor hul eie toekoms wil besluit. Is dìt 'n skending van menseregte, Francois, of eerder 'n skending om hulle dit te ontsê? 

"Hierdie mense" gun elke mens in SA sy/haar vryheid   -   en, Francois, het jy al verneem van vryheid-tot-verantwoordelikheid?   -   maar kan dit regverdig word deur ander mense en minderheidsgroepe húl vryheid hulle te ontneem? Jy praat van integriteit; is dít integriteit? Jy sê, en lê "hierdie mense" bedrieglike woorde in die mond, hulle verkies 'n bloedbad. Dis absolute onsin en kwaadwillig van jou. Het jóú "integriteit" nie juis vir SA 'n bloedbad gebring met die wrede plaas-  en townshipmoorde wat die SA-moordsyfer tot die tweede hoogste ter wêreld laat styg het nie?

My ongevraagde raad aan jou, Francois, is: Besin eer jy begin beskuldigings maak wat nié in jou eie integriteitstoets sal kan slaag nie.         (ngn)





Wednesday 18 February 2015

Die tragiese verdeeldheid van Afrikaners

Ek antwoord prof.K.Pieterse se duidelik oningelig onderlegde reaksie: "Net die bitterstes sit nog so en tob" (DB,18.02), op my skrywe (DB,16.02).  Weinig Afrikaners, waaronder Pieterse, weet van die patroon van verraad, gevleg deur ons ganse volksgeskiedenis, soos te boek gestel deur advokaat P.J.Pretorius   -   gewese lid van Nasionale Intelligensie   -   in sy werk "Volksverraad". Hierin beskryf hy hoedat vertroude Afrikanerleiers, vrymesselaars en lede van die Illuminati, beïnvloed is deur die Amerikaanse COFR, CIA, Britse Mi6 en geldmagnate soos die Bilderbergers, Rothschilds en Rockefellers om die Afrikanervolk uit te lewer aan die magsbelustheid van die Nuwe Wêreldorde. Gemelde organisasies en hul "divide and rule"-strategie is geen duimgesuigde versinsels nie.

Pieterse sal in Pretorius se boek lees dat dit Afrikanerleiers was wat, swigtend onder druk van gemelde eenwêreld-organisasies, dr.Verwoerd en die Robert Smith-egpaar vermoor het. Daarin sal hy ook lees van die verraad van verskeie hoë NP-politici, leër-generaals, die AB en selfs NG Kerk   -   te veel persone en instansies om hier te noem. Sedert die verskyning van sy boek in 1996 is, sover bekend, Pretorius nog nooit gedagvaar vir enige van sy bewerings of stellings gemaak in sy boek nie. Sê dit nie veel nie?

Daar is onweerlegbaar, deur ons ganse Afrikanerverlede, 'n verhaal van verraad deur Afrikanerleiers teenoor die eie volksgenote waarvan dit   -   vermeld in my brief   -   beslis nié in isolasie (soos Pieterse dit graag wil sien) gesien kan word nie. Soos almal nie my oortuigings deel nie, deel almal beslis ook nie Pieterse se oortuigings nie. Die tragiese is egter dat, vanweë ons verdeeldheid, ons steeds in die hande van ons volksvyand speel.








Saturday 14 February 2015

Op soek na antwoorde in die volkslied

Skole leer kinders die volkslied, as 'n gebed beskou. Ek luister hoe my kleinkinders dit sing en dié vrae kom by my op: 1. Is dit wérklik 'n outentieke simbool van nasionale eenheid, en 2. verklaar dit dalk iets van die Zuma-voorbeeld as SA se Nommer Een Groot Ontkenner?   -   "Nie een pennie gevat vir Nkandla" (Die Burger,14.02).

Op vraag 1 antwoord P.van der Kooi in sy artikel: "Nkosi sikelel' iAfrika  -  Kan ons dit saamsing?" (Die Kerkpad, Mei 2000): "Hierdie gebed aan 'n onbepaalde godheid en 'Heilige Gees' kan elkeen op sy eiesoortige en besondere wyse vertolk. Dit is in die praktyk 'n ongedefinieerde en veelvormige aanbidding van 'n goddelike mag wat bokant die bestaande werklikheid ... aanwesig is", en daarom, sinkretisties, vir alle diverse geloofsgroeperinge aanvaarbaar behoort te wees.

Betreffende vraag 2: Wie is dié oer-Nkosi tot wie gebid word? Nie God Drieënig nie, maar die godheid van die Afrikamense; die oudste seun van Mina Mamo Wê, "die vrou wat uit die boom gekom het". As oer-voorvadergees leer Nkosi Ubuntu: Ek is net mens deur ander mense. Gaan dit sleg, word ander daarvoor blameer. Oortreding is nie my skuld nie (ontkenning); wel dié van ander.

Al Zuma se volhardende ontkennings blyk voort te kom uit die Afrika-geloofstradisie van dié oer-Nkosi en wat dié hom leer   -   die norm vir Afrikamense. Vir my, daarteenoor, verteenwoordig dié oer-Nkosi nié die God (wat skuldbelydenis vra) wat ek aanbid nie.  My grondwetlike reg op geloofsvryheid veroorloof my dié verskil.

Die volkslied skyn tog lig op dié vrae te kan werp. Of dit wel 'n outentieke nasionale eenheidsimbool is, lyk twyfelagtig. Dat dit wel iets van Groot Ontkennende Zuma sê, wil beslis so voorkom.   (ngn)






Friday 13 February 2015

Bedrieër Selebi vereer as ANC-rolmodel

In sy blinde, heldevererende en korrupsie-sanksionerende verdediging van "struggle comrade" Jackie Selebi, traak dit die ANC geen duit hóé SA se integriteitsbeeld   -   plaaslik, en veral internasionaal   -  verdagmakend geskaad word nie. Dit is die soveelste simptoom van die ANC se voortwoekerend verrottende verraad teen die SA-burgery. Ranjeni Munusamy wys in haar artikel (DB,07.02) op die volgende Selebi-karaktertrekke   -   prototipe van die ANC: "omstrede figuur...gekompromitteer deur (omkoop-)geld te aanvaar...; (tydens) sy lang, morsige verhoor...in totale ontkenning; weens sy skandes nie 'n staatsbegrafnis..."

In sy artikel: "Selebi betrayed our democracy. He doesn't deserve acclaim" (05.02), sê hoofrabbi Warren Goldstein die ANC se nadoodse eerbetoon aan Selebi is 'n "moral disgrace...(who) joined the criminals...and sentenced to jail...for taking bribes from organized crime..." Hierteenoor sê die ANC Selebi se nalatenskap "will inspire generations to come to serve this nation with loyalty and steadfastness." Lofprysing vir 'n korrupte ANC-rolmodel van 'n ewe korrupte ANC.

Dat ons kontemporêr moet toesien hoedat dit wat deur voorafgaande geslagte moeitevol opgebou is binne 'n enkele geslag verwoes word, moes die voor-1994 integrasiedrywers tog sekerlik kon voorsien het? Wat vandag gebeur, maak hulle as medepligtiges beslis nie minder aandadig aan verraad teenoor SA en sy inwoners as 'n Selebi en die ANC wat deur hulle steun aan bewind gekom het nie. Dit herinner aan N.P.van Wyk Louw se; "O wye en droewe land, alleen onder die groot suidersterre...dié wat om 'n ander diens soos knegte jou verlaat." Vandag pluk ons die vrot vrugte van dié tweeledige verraad teenoor SA.




Tuesday 10 February 2015

Wil beslis deel van die nee-stem wees

Dit wil voorkom of dit A.E.van Rooyen (AEvR) (DB,10.02) redevoerend dalk aan konsekwentheid ontbreek. Waarom? Sy/Haar "doel...is nie om te verval in enige redenasie of die Belydenis van Belhar aanvaar moet word al dan nie." Dit skynbaar vergetend, sê AEvR: "Los die redenasies...en sê soos een man: ' Ja, ons aanvaar dit onomwonde'...aanvaar die Belhar-belydenis sonder dat 'n haar van jou hoof sal val...Ek wil nie deel van die nee-stem wees nie." Is dié standpunt dan nie die uitkoms van minstens vooraf selfredenering  nie?

AEvR kan dié uitkoms van sy/haar versweë intrinsieke selfredenasie verskoon word, maar   -   wat my betref   -   nié die stelling: "Ons moet Suid-Afrika red en volledig vir die Here teruggee" in terme van Belhar nie. Dit, AEvR, deur Belhar-aanvaarding, plaasvervangende vir die Bybelvoorskriftelike ware bekering, geldende ook vir SA? Dit is nié die wese en primêre doel van 'n belydenisskrif   -   met 'n transendentaal nie-sekulêre karakter   -   om horisontale menslike verhoudinge in 'n ideologies gefragmenteerde samelewing humanisties-sekulêr met mekaar te probeer versoen nie. Hoegenaamd nie! Vergewis uself van die ware doel van 'n belydenisskrif.

Ek het begrip vir AEvR se waarheidsvertroebelende Belhar-standpunt. Dis presies dieselfde gepropageerde standpunt van sommige vooraanstaande NGK-leiers van wie AEvR blyk 'n gemanipuleerd misleide slagoffer te wees. Indien AEvR bereid sou wees om objektief en onbevooroordeeld kennis te neem van die kerkleierlik-doelbewus weerhoude teologiese besware teen Belhar, mag hy/sy dalk tot ander insigte kom. Lees gerus ds.Theo Danzfuss, aktuarius van die Hoëveldsinode, se mees onlangse  artikel; "Belhar   -   hier is die teologiese besware", in Kerkbode-aanlyn (einde Jan.2015) by www.kerkbode.bybelmedia.org.za.

Anders as AEvR, wil ek beslis deel van die nee-stem wees.      (ngn)








Sunday 8 February 2015

Nog soortgelyke konfrontasies te wagte

Ongeag grondwetlike waarborge wat ook aan wit Afrikaners 'n regmatige plek in SA toeken, weet ons vanuit 20-jaarlange ANC-oorheersing dat ons toenemend onwelkom in ons vaderland word. Zuma herinner ons met sy haatsprakige "bring-my-masjiengeweer" voortdurend daaraan. Afrikaners is daarom aangewese op hulself vir oorlewing, en is Steve Biko se bekende slagspreuk: "Black man, you are on your own", omgekeerd, vandag waar van Afrikaners.

Iemand wat haar vir Afrikanerbelang beywer, is Sunnette Bridges. Van haar privaat lewe weet ek weinig. By gebrek aan 'n ongefragmenteerde Afrikanereenheidsfront en  -spreekbuis, is dit indiwidue soos sy wat nie die posisie waarheen ons mense agteruitwaarts afgerangeer word, sienderoë aanvaar nie. 

Einde 2014 kom sy te staan teenoor Dennis Davis   -   met hoofregterstatus   -   tydens sy TV-program: "Judge for Yourself:White Genocide South Africa", oor die aktualiteit van plaasmoorde. Ten spyte van haar navorsingsgebaseerde argumente, statisties bewysbaar toegelig, vee hy met haar die vloer, dog, onontspoord, verdedig sy haar standpunt. Duidelik word die meriete van dié waarheids-"regstellende aksie" nie deur die ANC en sy marionette geduld nie.

Dit is onaanvaarbaar dat 'n hoë-profiel persoon soos Davis   -   met sy juridiese agtergrond van verwagte oordeelsobjektiwiteit   -   haar só bevooroordelend teisterend kasty het. Sy blatante onverdraagsaamheid teenoor Bridges se pleidooi vir geregtigheid, was allesbehalwe dié van 'n ware heer teenoor 'n dame   -   onverskoonbare gedrag. Sou hy 'n ANC-vroueligalid so durf behandel? Sekerlik nie! Waarom dié diskriminasie as regsgeleerde?

Op 'n roekelose wyse saboteer Davis só die noodsaaklike verhoudingsbou tussen grondwetlik erkende kultuur-  en volksgroepe as basis vir nasionale versoening. Hy omskep geleentheid in verleentheid. In die toekoms kan ons waarskynlik méér sulke anti-Afrikaner konfrontasies te wagte wees.     (ngn)






Monday 2 February 2015

Twee-wêrelde saambestaan is problematies

Die talryke manifestasies van die legio simptome van die ANC-siektesindroom   -   toe te skryf aan die innerlike verrotheidstoestand van dié organisasie   -   is reeds herhaaldelik breedvoerig én oorvloedig in Praat Saam beskryf. Twee minderbesoekte kwessies is dié van:  1. hoe ontkom ons aan dié ANC-impasse, en 2. waarom, grondliggend, bevind ons onsself daarin? Ons grondwet beantwoord die eerste vraag: alleenlik by wyse van demokratiese verkiesings. Daar bestaan slegs die grondwetlike ontsnappingsroete wat kiesersopvoeding dringend noodsaaklik maak, dog die ANC sal sy stemvee daarvan weerhou.

Die waarom-vraag bied 'n veelheid en kompleksiteit van antwoorde Ek wys slegs op die één fundamentele faktor van 'n kunsmatige twee-wêrelde saambestaan   -   van eerste- en derdewêreld   -   in 'n kultureel ongedifferensieerde samelewing waarbinne die dominante kultuur die minderheidskulture oorheers. Hoewel reeds wêreldwyd erken dat multikulturalisme klaaglik misluk het, is dit wat ek hier uitwys, in  die SA-konteks, polities inkorrek vir identiteitsvernietigende eenwêreld propagandiste.

Komende uit 'n derdewêreld agtergrond met die eie spelreëls, speel ANC-leiers graag saam met die eerste wêreld volgens dié se spelreëls waarvoor hulle nog nie opgewasse is nie, soos onlangs weer by Davos. Vanweë veral snel tegnologies-wetenskaplike ontwikkeling en vooruitgang in die eerste wêreld, neem derdewêreld agterstande toe. Die duisende jaarlikse gelykmakende kersgeskenkglimlaggies van swart (en wit) kinders op TV weerspieël nie 364 dae van hongerly nie. 

Geeneen sal wil beweer dat ons SA-problematiek simplisties is nie. Probleme word uitdagings, en laasgenoemde soek na oplossings. Mag ek sonder bybedoeling vra: wie in ons kunsmatige twee-wêrelde saambestaan skep, tradisioneel, probleme om in oplossings? Die kultuurvesels van dié twee wêrelde verskil aansienlik. Waarom nie dit, en ook die beginsel van verskeidenheid-in-die-eenheid, erken en in nasionale belang toepas in plaas van 'n dormante stelsel wat eerstewêreld potensiaal onderploeg nie?