Monday 30 January 2012

ANC stel voorbeeld van sedeloosheid

Indien 'n mens die berigte, "Ondersoek kom na ANC-fees se 'defekte' kondome",  "Vroetelpa's en broekiepreneurs" (DB,30.01) en "Dit gons oor DA se kaalplakkaat"(DB,24.01) sou saamlees, kom jy tot die slotsom dat SA sigself op die vinnig afwaarts-  en agteruitvoerende glybaan van verval in sedeloosheid bevind, op weg na selfvernietiging. En dit in 'n nasionale samelewing waarvan meer as 70% te kenne gee dat hulle Christene is. Waar is dan die Christelike waardestelsel waardeur ons samelewing gekenmerk behoort te word?

Die eeufeesviering van die ANC was skynbaar net 'n rookskerm vir 'n seksfeesviering te oordeel aan die 1,3 miljoen kondome wat daarvoor beskikbaar gestel is. Wat 'n skandalige ANC-voorbeeld! Met Zuma en sy "stortkop"-reputasie op die voorpunt, openbaar die ANC duidelik géén sin vir verantwoordelikheid nie.

Amanda Gouws sê: "Op die ANC se honderdjarige vieringe was daar blykbaar hordes broekiepreneurs...'n jong vrou wat haar skamel geklede liggaam ten toon stel waar mans met politieke mag byeenkom, in die hoop dat hul seksuele gunste hulle sal laat deel in die mag en die geld wat by hierdie geleenthede vryelik beskikbaar is" (DB,30.01) En hoeveel het belastingbetalers moes bydra tot dié orgies?

Ook die DA blyk 'n speler in dié "seksliga" te wees met sy onlangse uiters onvanpaste plakkaat met twee halfnaakte figure daarop waaromtrent persone soos volg opgemerk het: "'n Politieke advertensie of een vir kondome?...dit adverteer seksuele losbandigheid en is nie 'n boodskap wat...op universiteit uitgebasuin behoort te word nie" (DB,24.01).

Met hierdie verderflike ANC-lewensingesteldheid maak ons onsself nie net bespotlik en goedkoop in die oë van die buitewêreld nie, maar staan ons beslis skuldig en strafbaar voor God.         (ngn)






Saturday 28 January 2012

ANC-onderwysideologie benadeel hele SA

Tussen die duiwel en die diepblou see. Dit is waar jy jouself bevind indien jy aanvoel wat verkeerd is, maar dit nie durf sê nie, omdat dit teen die polities-ideologiese "korrektheid" van die dag indruis. Waarmee die ANC in die onderwys besig is, is soos om 'n donkie en 'n perd te kruisteel tot 'n steriele muil, en dit teen 'n prys waarvoor die onskuldige jeug moet betaal. Dit word vir die soveelste keer gestaaf ook deur die berig, "Nóg skokke oor matriekuitslae 'Ons mislei die leerders' " (DB,28.01).

Een van die basies-foutiewe aannames waarop die ANC-skolestelsel berus, is sy ongekwalifiseerde vertrekpunt van: "We all have potential", waarmee, beginselgewys, geen fout te vind is nie, gesien dat die onderwysdoel juis die ontwikkeling van leerderpotensiaal is. Waarmee die ANC wel fouteer, is sy ontkenning van die gedifferensieerde voorkoms van potensiaal   -   almal beskik oor potensiaal, maar nie almal oor presies ewe veel nie. Potensiaal manifesteer in 'n diversiteit van aanlegte, belangstellings, intellektuele en algemene en besondere vermoëns   -   fisies, psigies, sosiaal en kultureel. Die ANC weier om hiervoor in sy skolestelsel te voorsien.

Die ANC se sosialisties-georiënteerde agenda gee voorkeur aan groepbehoeftes en verwaarloos individule behoeftes; vir talle individuele leerders tegelyk kultuurvreemd en  -vervreemdend. Die ANC se vernietiging van die gedifferensieerde skolestelsel, waarvolgens onderwys rekening hou met leerderbehoeftes volgens  -potensiaal, van voor 1994, getuig daarvan. Berus samelewingsvooruitgang op die unieke deurbrake, ontdekkings en bydraes van groepe, of veel eerder op dié van begaafde en talentvolle individue? Wat leer die geskiedenis ons hieromtrent?

Vir solank die ANC sy ideologiese aannames oor die mens en samelewing in sy skolestelsel implementeer, vir so lank sal ons die wrange vrugte daarvan pluk tot nadeel van die hele SA.




Monday 23 January 2012

Hieroor mág Afrikaners nie stilbly nie

Ek het Kirby van der Merwe se artikel, "Seks, dwelms en volkspele" (By,21.01), met skok en verontwaardiging gelees. Daarin rapporteer hy die walglike leuens wat Robin Binckes in sy debuut-roman, Canvas under the sky, kwytraak oor die Afrikaner-trekboere en Voortrekkers.

Binckes beweer veralgemenend ons voorvaders "het boom (dagga) gerook...en was 'n klomp rowwe, hitsige mans...met 'n hoë seksdrang...bevredig...ook by Khoi-Khoi-houvroue by wie hy dikwels 'n groot kroos verwek het." Hy sê ons volksmoeders was "wulps en sedeloos...(wat) op die katel in mekaar se arms troos gevind het...(en 'n) vrou wat tydens die Slag van Vegkop twee mans na haar wa lok vir groepswoeps." Wie, met gesonde oordeel, sal dit glo?

Binckes het duidelik 'n perverse obsessie met seks wat hy op wit Afrikaners se brood wil smeer. Waarom nie op sy eie geskiedenis nie? Gelukkig is daar die ware en betroubare historici, soos 'n George Mc Call Theal   -   asook 'n Olive Schreiner en Emily Hobhouse   -   wat van die ware karakter van ons voorouers getuig.

Binckes se boek lewer géén bydrae tot inter-volkere verhoudingsbou in ons land nie, maar beduiwel dit eerder. Hy krap moedswilliglik ou wonde tussen Boer en Brit opnuut oop en verneder ons in die oë van ons mede-landgenote. Waarom word ons Afrikanergeskiedenis aan 'n man soos Binckes, toergids by die Voortrekkermonument, toevertrou? Watter liegstories dis hy op aan alle nie-Afrikaners; veral aan buitelanders? Vorm dit deel van 'n strategie om wit Afrikaners op alle terreine te diskrediteer? Durf ons daaroor stilbly? Nee, 'n duisendmaal nee! Oor geen Suid-Afrikaner   -   wit,swart,bruin   -   se verlede mag daar so blatant gelieg word nie.



Saturday 21 January 2012

Nageslag deur Bybelkorruptering mislei

Frans Kruger (DB,20.01) reageer op my skrywe (DB,16.01) en beveel aan die lees van "Die Bybel Nuwe Vertaling-teks 2006 (eerste vertaling)", vanweë "Die mooi verstaanbare 2012-Afrikaans" daarvan. Ek respekteer Kruger se mening, dog in die Bybel kan die taalverpakking nooit voorrang geniet bo die suiwer waarheidsinhoud daarvan nie. Onderskei derhalwe tussen vertalingsvaardigheid, enersyds, en besluitneming oor watter Bybelgeskrifte vertaal sal word, andersyds. Wie, presies, neem laasgenoemde grondteksbesluit?

Elke boek het 'n skrywer/outeur. Skrywers besit outeursregte en geniet  -beskerming volgens wetgewing. Sonder toestemming van die skrywer, mag niemand daaraan verander nie. God self, in die Persoon van die Heilige Gees, is die Bybelouteur wat die outeursreg op Sy Boek besit. Sy outeurswetgewing, soos vervat in die Bybel, beskerm Sy outeursreg daarop. Dr. Theo Rabe (DB,18.01) wys juis op die verstommende numeriese kode opgesluit in die oorspronklike Bybelgeskrifte.

God se outeurswetgewing word egter geringskattend verontagsaam. Diskreditering en korruptering van Sy Boek neem toenemende afmetings aan. Voorbeelde van diskreditering: Dit word beweer die Bybel is nié God se woorde oor/vir die mens nie, maar bloot mensewoorde oor God; die Pentateuch is nie 'n Mosesgeskrif nie, maar tydens Israel se Babiloniese ballingskap geskryf; vele waarhede word as mites afgemaak; Jesus se maagdelike geboorte, kruisiging en opstanding word ontken, ens. Wanneer die oorspronklike waarheidsgetroue Bybelgeskrifte vervang word met veranderde inhoude, vind korruptering plaas. Op hierdie wyse word die Bybel verdag gemaak en sy geloofwaardigheid en gesag vernietig.

Dit is Christene se plig om dié aanslae op die Bybel teen te staan, sodat dit nie verval in 'n produk van menslike fiktiewe vertolking waardeur komende geslagte mislei sal word nie.




Thursday 19 January 2012

Predikante-reaksie op grondteksbedrog

Dr.Theo Rabe se brief, "Gebruik van korrupte grondteks kwel" (DB,18.01), in reaksie op my skrywe (DB,16.01), het betrekking. Daarin deel hy my kommer oor die teenswoordige Bybelkorrupterende grondteksverskuiwing. Teenoor Rabe se openbare standpunt, ontvang ek direkte elektroniese kommentaar  op my brief, "Bybel met grondteksbedrog aanvaar" (DB,16.01) van drie Oos-Kaapse predikante (name irrelevant) wat my eie sowel as Rabe se kommer oor grondtekskorrupsie bevestig.

Dominee 1. sê: "Eish, dis 'n oud-onderwyser van my. Het Tommie op sy kop geval? Dis baie jammer dat mense...kies om op so 'n negatiewe pad te gaan." Mag ek my oudleerling vra: Wie is werklik op die negatiewe pad?

Dominee 2. sê: "Dis sleg as mens sien watter chaos hy veral in die Uitenhage-Despatch-omgewing met sy gedurige bitsige briewe veroorsaak...(en) voer hy sy "debatte" in die koerant waar dit moeiliker is om met hom te argumenteer". Waarom moeiliker/argumenteer? En: Wat behels dié "chaos"?

Dominee 3. sê: "Ek kan nie glo dat dit 'n debat is wat nog relevant is nie..." Ai, doktor-dominee, het u dalk al vergeet dat openheid/ongeslotenheid 'n besondere kenmerk van wetenskapsbeoefening is; dat jy voortdurend voor die opgawe staan om waarheidsoekende onverpoos te bly ondersoek deur middel van volgehoue navorsing (geldende ook die Bybel/teologie), tensy u natuurlik gekant is teen verdere ondersoek, om welke rede ook al. Betreffende u verdere beskuldigings en verduidelikings wat u vra, het ek immers my inligtingsbron verskaf. Ek beveel aan dat u dit lees. Daarin sal u alles vind wat u wil weet   -   en meer.                      (ngn)




Monday 16 January 2012

Kan Bybel en grondwet dalk hieroor bots?

Soos Johannes die Doper, word ook die kop van pastoor Rieckert Botha, bekend vir sy RSG-aanbieding, "Pleisters vir die siel", geëis, omdat hy op sy Facebook-blad geskryf het: "Dis 'in' om gay te wees en die Bybel as outyds te beskou...By God is 'in' baie, baie 'uit'. Jy moet kies: 'in' by God en 'uit' by die mense of andersom." Hy motiveer dit so: "Wat ek sê, suig ek nie uit my duim nie. Ek kry dit in die Bybel."

Rapport (15.01) berig: "...verskeie teoloë, predikante en ander mense het geëis dat RSG hom van die lug verwyder" en beskuldig Botha "van fundamentalisme en haatspraak..." Bybelgetroue Christene is al gewoond daaraan om vir "fundamentaliste" deur dwaalteoloë, -predikante en -Christene beledig te word. Die aanklag van haatspraak dui egter op die grondwetlike konteks.

In 'n navraag aan Magdaleen Kruger, RSG-stasiebestuurder, het sy gesê dat Botha se RSG-betrokkenheid "nog geen rede gegee (het) om op te tree nie." Ten diepste is dit duidelik dat die beswaarmakende aanvalle nie primêr teen Botha gemik is nie, maar wel teen sy Bron, die Bybel.

Vir Botha, wat gay-wees uitwys as teenstrydig met Bybelse voorskrifte, is gays egter beslis welkom in die kerk, want, sou hulle daar onwelkom wees, sou kerke heeltemal leeg wees omdat ons almal gesondig het. Botha se "oortreding" is dat hy die Bybel letterlik en onvoorwaardelik as Woord van God aanvaar. Diesulkes word daarom as "fundamentaliste" gebrandmerk.

Die afsienbare toekoms sal leer of Botha se opponente hom van haatspraak onder die grondwet gaan vervolg en dusdoende die Bybel en die grondwet teenoor mekaar gaan afspeel om hul sin te kry.       (ngn)




Friday 13 January 2012

Waarom word met vals grondteks volgehou?

Sedert 1983 vind daar 'n kommerwekkende grondteksverskuiwing in Afrikaanse Bybelvertaling plaas. Dit is nie meer dieselfde as die 1933-vertaling wat gebaseer is op die Textus Receptus, Tradisionele Teks of Meerderheidsteks vir Nuwe Testamentiese vertaling nie. Die 1983-vertaling gaan oor ontsaglik veel meer as net 'n Bybel in kontemporêre Afrikaans.

In sy boek, Tot hiertoe en nie verder nie, verduidelik W.P.D.de Waal dié grondteksverskuiwing. Twee Britse Bybelvertalers, B.F.Westcott (1825-1901) en F.J.A.Hort (1828-1892), was die Tradisionele Teks besonder vyandiggesind en wou dit, as grondteks vir Bybelvertaling, met hul eie geamalgameerde Codex Vaticanus (CV) en Codex Sinaiticus (CS) vervang. Laasgenoemde, terugdaterend na 350 n.C., is deur Konstantin von Tischendorf in 'n vullishouer in die St Katharina-klooster by Sinaiberg ontdek.

Om in hul doel te slaag om die Meerderheidsteks te vervang, moes hulle kon "bewys" dat hul geamalgameerde CV- en CS-teks ouer as die Textus Receptus is. Laasgenoemde word sedert 1624 so genoem, dog was voorheen as die Peshitta bekend   -   die heel oudste Bybel   -   en sedert 150 n.C. op die Tradisionele Teks gebaseer.

Deur middel van 'n oneerlike slenter slaag Westcott en Hort daarin om die veel ouer Meerderheidsteks met hul eie veel jonger geamalgameerde CV- en CS-teks te vervang vir toekomstige Bybelvertalings. Met die vertalingsuitgangspunt van "ouer-is-beter/geloofwaardiger" word die eeue-oue Tradisionele Teks verwerp en met die Westcott-Hort-leuen vervang.

Dit is tegelyk onverklaarbaar én kommerwekkend dat Bybelvertalers, predikante en selfs Christene wat van hierdie grondteksbedrog behoort te weet, swyg en nuwe Bybelvertalings kritiekloos aanvaar. Liewe Christengelowige, kry 'n 1933-vertaling , gebruik dit, bewaar dit soos goud en besorg dit aan jou nageslag ter wille van waarheidsbehoud.




Tuesday 10 January 2012

Programuitsendings dien ANC-eiebelang

Waarskynlik is dit 'n gevestigde gebruik van "wennerkampe" dat hulle hulself skuldig maak aan subjektiewe geskiedskrywing. Die ANC is 'n klassieke voorbeeld hiervan. Die mees onlangse voorbeeld is dié van die ANC se weeklange selfverheerlikende en indoktrinerende TV2-beeldsending, "Have you heard from Johannesburg?"

As landsburgers is ons beslis belanghebbendes by die kontemporêre geskiedskrywing wat moet help toesien dat dit werklikheidsgetrou, ongemanipuleerd en objektief sal geskied, kriteria wat die ANC ignoreer.

Onnodig om te sê, was dit 'n skreiend eensydig-saamgestelde programaanbieding waarin die ANC as "verontregte held" met "vlekkelose hande" uit die stryd tree. Die ANC se deurgaanse swakheid en kwesbaarheid in dié stryd word versteek, dog dit blyk duidelik dat hy dié stryd nooit sou kon wen sonder die hulp en steun van 'n grootliks disinformeerde buiteland, en waarin die ANC die Koue Oorlogtoestande tussen kapitalisme en kommunisme meesterlik uitgebuit het.

Daar is hoegenaamd geen erkennende verwysing na enigiets positief wat die 1948/1994-regering vir swartes gedoen het nie. So is daar ook geen selfontmaskerende selferkenning van die onmenslike ANC-wreedhede gepleeg teen mede-landsburgers nie. In hierdie verband hoef ons maar net weer terug te dink aan die opspraakwekkende openbaringe van ANC-moordplanne tydens die Rivoniaverhoor, die talle ANC-bomplantings in S.A., sabotasie, terreurdade, vandalisme, intimidasie, halssnoermoorde en ANC-martelkampe soos dié een by Quatro in Angola. Mandela kon reeds vroeër vrygelaat gewees het indien hy ANC-geweld sou afsweer.

Indien die ANC nie eers met die bekende verlede vertrou kan word nie, hoe kan hy met die onbekende S.A.-toekoms vertrou word? Die afgelope TV2-programuitsendings vertel nie die volle verhaal nie, maar dien slegs ANC-eiebelang.              (ngn)




Saturday 7 January 2012

Net ANC te blameer vir swak uitslae

Die onderwys van swartes kom uit 'n bedeling waartydens die ANC dit self op die slagspreukaltaar van "liberation before education" geplaas het. Sodoende skep die ANC 'n skool-  en leerkultuur van anargie en vandalisme onder leerders sowel as -kragte, en lê daarmee die grondslag vir onderwysverval en -mislukking in die toekoms.

Die goedontwikkelde westersgeoriënteerde onderwysstelsel   -   wat moes kon meeding ook met buitelandse stelsels   -   word, as "gutter education", onmiddellik in 1994 deur die ANC afgetakel en met die nasionaal-vreemde UGO-stelsel vervang, 'n eksperiment wat klaaglik misluk en ons onderwys tot nadeel gestrek het. Elke nasionale onderwysstelsel word immers ontwikkel om by die besondere aard, omstandighede en behoeftes van 'n land en sy mense te pas. Dit verstaan die ideologiesgedrewe ANC nie.

Die SA-onderwysroete sedert 1994 is een spoor van mislukte eksperimentering, vreemde onderwysadviseurs, onbekwame onderwysleiers, korrupte amptenary en tenderpreneurs, vanaf ministeriële vlak tot in die klaskamer   -   dog dit is wat ANC-ideologie toelaat. Aan vakbonde, soos SADOU, word vrye teuels gegee om die skoolstelsel selfs gyselaar te hou. Die gevolg is astronomiese geld-  en tydverkwisting, maar, veel belangriker, die onherstelbare skade berokken aan ons land en sy mense waarvoor veral die jeug die prys moet betaal.

Die ANC-skoolstelsel dien ook as agent vir grensaftakeling soos dié van professionele, dissiplinêre, geloofs-, identiteits-  en taalgrense wat kwaliteitsonderwys onmoontlik maak. Hiermee gaan saam die onontkenbare verlaging van onderwysstandaarde.

Die jongste matriekuitslae plaas opnuut ons onderwys-  en skoolstelsel in samelewingsfokus. RSG beweer dat minister Angi Motshekga steeds apartheid blameer vir dié swak uitslae. Oos-Kaapse onderwysleiers gee "historiese agterstande" (DB,06.01) die skuld daarvoor. Nee, ANC, niemand glo meer jou vals verskonings nie. Net die ANC alleen is te blameer vir 2011 se swak matriekuitslae.





Wednesday 4 January 2012

Net waarheid bevry ons van vooroordeel

Ralph Barnard se tirade, "Dié 'Christene' eintlik nes die Fariseërs" (DB,03.01), teen "fundamentalistiese" Christene wat anders glo as hy, het beslis nie die waarheidsoutentieke Bybel as vertrekpunt nie, maar neem die heersende "anderse verstaan" en "anderse interpretasie" van die kontemporêre dwaalteoloë met hul  -uitsprake van die Bybel as vertrekpunt.

Barnard se onverdraagsame, beterweterige en selfaanmatigende veroordeling van medegelowiges is verstommend. Sy brief wemel van juis dit waartoe die Bybel hom uitdruklik geen reg gee nie, naamlik om nie ander te oordeel en te veroordeel nie. Die alleenoordeel kom net God toe. Saam met die "intellektueel-verligte" en "wetenskaplik-gearriveerde" dwaal-Skrifgeleerdes van ons dag, daag ook Barnard die Skrifgesag uit met sy negering van Matteus 7:5 waar Jesus sê: "Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit..."

Alle Christene weet tog sekerlik dat ons tans tussen Christus se eerste en Sy wederkoms lewe, maar almal herken en begryp waarskynlik nie die voorspelde tekens van Sy naderende koms nie. Barnard se stellings moet in dié lig gesien word waarvolgens uitsprake gemaak word vanuit 'n "nuwe geloofsraamwerk" soos onderlê deur die menslike verstand en sy "wetenskapsbeoefening". Die verabsoluterende verstand en wetenskap is die plaasvervangergode wat vandag aanbid word.

Ons bevind ons in 'n geloofsbedeling van grootskaalse afvalligheid, doelbewuste misleiding en voortwoekering van die leuen. Vandaar ook Jesus se profetiese vraag: "Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?" (Lukas 18:8b). Veroordeling is nie 'n Bybelse opdrag nie; die waarskuwing en teregwysing van ander is wel. Barnard, los dus jou oordeel, en let op laasgenoemde twee Bybelse voorskrifte. Net waarheid bevry ons van vooroordeel.