Sunday 22 January 2017

Vrae oor SAA-vlugkansellasies

Die Brisbane-Perthvlug geskied in minder as die geskeduleerde tyd, dog net sodat ons   -   ontnugterd en gefrustreerd   -   van 'n SAA-beampte moet verneem dat ons 23:45-nagvlug na SA, vanweë 'n onklaargeraakte vliegtuig, gekanselleer is. Soos talle voor ons, sou ons dié situasie self eerstehands beleef.

Hier baat jou veg- en/of vluginstink jou niks. In lang gelid agter mekaar, tasseslepend en moeg, bereik passasiers wagtende busse om na oornag-hotelle vervoer te word. Ons oornagkamer is op die heel boonste vlak van die luukse Pan Pacific Hotel met 'n pragtige nag-  sowel as daguitsig oor 'n gedeelte van die stad, die kronkelende Swanrivier en (waarskynlik?) Waca-stadion.

Elke passasier mag ontbyt geniet tot die waarde van 50 Australiese doller (Aud/R500). Van ons gesamentlike 100 Aud bestee ek en my vrou 86 Aud   -   gedagtig dat 'n omelet 25 Aud kos. Die Rand vertoon hier beskamend swak. Die hotelkamerkoste is onbekend. Terug lughawe toe per bus waar 'n twee-uurlange toustaan op ons wag vir die SAA-inweegtoonbank om oop te maak.

Ons oorspronklike nagvlug word 'n dagvlug wat ons te laat in Johannesburg besorg vir ons vlug na P.E. Weer moet ons oornag; dié keer digby Oliver Tambo in die Southern Sun Hotel. Vir die SAA se rekening, mag passasiers die a-la-carte restaurant vir aandete besoek. Ons ete   -   slegs nagereg en vrugtesap   -   beloop die standaardprys van R474; die hotelkamerkoste buite rekening gelaat.

Ek vra myself: is daar enige verband tussen die onklaarraking van SAA-vliegtuie en die vloei van SA-breinkrag, intellektuele kapitaal en skaars vaardighede na oorsee? Kan die veiligheids-  en ongeriefsrisiko van die SAA dalk toeneem? Bied hotelrekeninge aan die SAA nie geleentheid vir finansieel selfverrykende korrupsie nie? Hoeveel miljoen Rand beloop SAA-vlugkansellasies jaarliks?

Antwoorde op dié vrae mag dalk daarop dui dat (ongekontroleerde) vlugkansellasies 'n besliste bydraende faktor daartoe is dat die SAA  verliese toon en die SA-belastingbetalers dié flou makou in die lug moet hou.






Tuesday 3 January 2017

'n Reisbonus van epidermiese proporsies

Tydens die datumbepaling van ons besoek aan ons kinders, het niemand  voorsien dat hulle gedurende ons kuier vanaf Melbourne na Brisbane sou verhuis nie. En toe gebeur dit en bring 'n  reisbonus  van epidermiese proporsies, in oom Oubaas se sepietaal,met dit mee.

Met die huishoudelike trek reeds sterk op pad, vlieg die vrouens en kinders, om praktiese oorwegings, vooruit. Ons twee mans pak die tog van byna 2 000 kilometer padlangs aan. Ons roete loop deur en langs dorpies verby met interessante name soos Wondonga, Wongaratta, Gundagai, Taminick en Mittagong. Laurika Rauch, Nana Muskourie, Abba en Queen se musiek en sang vermaak ons. Die versreël: "En Fort Wajier lê ver, lê ver...", uit een van Uys Krige se gedigte, kom by my op.

'n Besoek aan die indrukwekkende "Australian War Memorial" in Canberra, 'n uitbeelding van Anzac se deelname aan twee wêreldoorloë, beklemtoon die ontsaglike lyding, wreedheid en tragiek van oorlogvoering. 'n Vlugtige besoek aan die Sydneyse hawegebied ,tydens 'n veerbootrit, bring die wêreldbekende hawebrug en operahuis goed in sig.

Met die deelstate Victoria en Nieu-Suid Wallis agter die rug, steek ons die grens na Queensland oor en bereik ons bestemming op die derde dag. Met die gelyknamige stadsdeurkronkelend vloeiende rivier, bied Brisbane 'n verrassend groot verskeidenheid aan sowel inwoner as besoeker. Veel meer geld 'n besoek aan die "Gold Coast", nagenoeg 100 kilometer daarvandaan.

Wat 'n ontsaglike voorreg om dié onvoorsiene reis as 'n "kuierbonus" te kon meemaak. Tog verlaat die gedagtes die ouer nie oor waarom hul "diasporakinders"
 hulle in die buiteland bevind nie. Een van die vele langtermynnadele van dié verhuising is onvermydelik tragiese familieverbrokkeling. Ouers keer dus telkens terug met kosbare herinneringe van 'n weersiens,maar die kosbaarste   -  ons kinders self   -  word agtergelaat.